Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Stryd op twee fronte

AKTUEEL:
Geloofsverklaring 2000

SKRIFOORDENKING:
"Sê aan die kinders van Israel..."
Exodus 14:15

BOEKBESPREKING:
Afrikaanse Bybels en Kommentare

Die Eerste Gebod

Is sommige Teoloë dan nou Babelbouers?

God se plek vir die vrou in die gemeente

Afwysende advies oor kinderkommunie (NHK)

Kommunisme en die Skrif?

Gesange teenoor die beginsels van Dordt

Televisie: "Sleg vir ons geestelike gesondheid"

Verskil van teks en uitleg in die 1983 teenoor die 1953 Bybelvertaling

Die Tweede Vryheidsoorlog

Kultuur, volkskultuur en Koninkryk

Woord en Wetenskap

KERKLIKE JOERNAAL: 
Kuratore se gesprek met redaksie van Die Kerkpad
Geloofsverklaring 2000
Sake rakende Radio Pretoria netwerk
Lofsange en geestelike liedere
"Kerkeenheid"

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Eerste studente aan ACVHO verwerf kwalifikasies
Akademiese vryheid:  'n Misbruikte slagkreet in ons tyd

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (3)

PERSRUBRIEK: 
Feministiese teologie?

Jacob Zuma se godsonterende Kersboodskap

KOMMENTAAR: 
(1) Homoseksualisme aanvaarbaar vir die PU vir CHO?
(2)Prof Koos Vorster in die gedrang oor "menseregte"

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK: 
Die redes vir kloning

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 1  Januarie 2000

Hoofartikel

STRYD OP TWEE FRONTE

Ongetwyfeld kan vooruitskouend voorspel word dat die tyd wat ons tegemoet gaan, vir die kinders van die Here 'n toenemende stryd op twee fronte beteken. Die geloof aan die onfeilbaarheid van die Heilige Skrif as 'n ononderhandelbare saak, die vaste vertroue op die almagtige Skepper van alle dinge wat alles beheer en regeer volgens sy wil sodat niks toevallig geskied nie, raak al hoe meer in diskrediet. Dit is die een front waarop die stellings beman en die stryd gevoer moet word. Tegelykertyd staan ons voor die siste-matiese ondermyning van die skriftuurlike norme aangaande die staat en die samelewing, die propagering van 'n nuwe orde, waarin nie die Woord van die Here nie, maar 'n handves van "menseregte" die bepalende grondslag en einde van alle verskil en teëspraak is.

Hoewel dit 'n stryd op twee terreine, dié van die kerk en andersins dié van die breë samelewing raak, is dit wesenlik dieselfde. Dit betref die koningskap van Christus, die koninkryk van God, allereers in die normatiewe toepassing van die leer van die Bybel en ook andersins in die daadwerklike handhawing van die vryheid van geloofsoortuiging en die beskikking oor regte en vryhede (privilegies) wat verleen is, asook aangaande die vryheid van die kerk, om sonder staatsinmenging en sonder onderwerping aan 'n handves van "menseregte", in eie reg oor die aanvaarde leer en regering te kan besluit en dit as sodanig te realiseer.

Die Bybel leer ons dat die Here ons God die wêreld goed geskape en toegerus het om vir die mense 'n woonplek te wees. Die Here het ook die leiding geneem en norme daargestel waarvolgens die aarde bewoon en die samelewing gerig moet word. Maar vanaf die begin is Hy as beskikker en wetgewer verwerp en soek die mens om self sy bestemming te vind. Danksy God se genade was daar van die begin van die wêreld, van die sondeval (Gen 3) af ook die moontlikheid van herstel van die verhouding tussen God en mense.

Dit is van God se kant bewerk met die belofte van die komende Saligmaker, die ewige Seun van God wat deur sy soenverdienste die verlossing van die sondes en vrede op die aarde bewerk het. Nogtans is hierdie vrede nie dit wat ons graag daaronder verstaan nie. Dit behels geen mensgestigte vrede nie, dit kom nie van onder-af, van die aarde af nie. Die profesie van die komende Christus gaan gepaard met die toesegging van stryd. "Ek sal vyandskap stel tussen jou (die slang) en die vrou (die menslike geslag), en tussen jou saad (die teëstander van God, die Satan) en haar saad (die komende Christus en dié wat aan Hom toebehoort). Die Skrif leer ons dat die Satan se mag nie onderskat moet word nie. Hy het groot mag wat aan Hom verleen is om die mense te verlei en die wêreld in 'n chaos te dompel.

Die oorsaak van die krisis van ons bestaan moet dáár gesoek word. Dáár waar die Satan daarin slaag om die harte van die mense afvallig van die Here te maak. Die kerklike terrein is sy belangrikste teiken. Net soos hy gepoog het om Jesus Christus tot driemaal toe te verlei om na hom te luister en sy aanbiedings te aanvaar, so rig hy sy aanval op die waarheid van die Bybel wat deur die Christelike kerk bely word. Dié waarheid is geformuleer in die belydenisskrifte wat deur die kerke as eenheid in die geloof aanvaar is, vandaar die benaming "Die Drie Formuliere van Eenheid". Al die jare van die begin van die menslike bestaan probeer die Satan om die kinders van God afvallig te maak van die waaragtige diens aan die Here. Sy vorderinge - die geskiedenis lewer die bewys - is formidabel. Die stryd van die kerk en die lyding van die martelare bevestig dit. Tog dien die bloed van die martelare ook as die saad van die kerk.

Die gesag van die Bybel word tans allereers aangetas deur 'n Skrifkritiese vertolking daarvan. Die Skrif word verklaar as God se woord in menslike verpakking. Die historisiteit van die Ou Testament word betwyfel en veral die boeke wat aan Moses toegeskryf word, naamlik Genesis tot Deuteronomium, word "wetenskaplik" uit diverse oorlewerings en bronne verklaar en sy ontstaan gedateer tydens die Babeloniese ballingskap van die volk Israel. Die Messiaanse profesie wat dwarsdeur die Ou Testament vanaf die "moederbelofte" in Gen 3 weerklink, is in die 1983 Bybelvertaling wegvertaal. Dit bring die geloof aan die Goddelike inspirasie van die Bybel in die gedrang. Was die Heilige Gees nie altyd deur bewus van die heilsopenbaring nie? Op bladsy 13 in hierdie uitgawe is dit by wyse van vergelyking beskryf.

Veral in die NG en NH kerke, maar ook in die Gereformeerde Kerke bestaan daar ruimte vir leervryheid wat teoloë die geleentheid bied om afwykende leerstellings voor te staan en te leer. As bewys hiervan dien byvoorbeeld die publikasies soos "Die Bybel in Praktyk" en "Bybellennium". Albei kommentare vertolk die Skrif in terme van basiese kultuurverskille tussen die rolspelers van die Ou en Nuwe Testament teenoor die kultuur van ons huidige samelewing. As gevolg van die betwyfeling van die historiese betroubaarheid word 'n evolusionistiese ontwikkeling aan die Ou Testament toegeskryf. Dit betref die ontstaan van die aarde, maar ook in dié betekenis dat die monoteïsme, die geloof aan een God teenoor die veelgodendom, nie as gevolg van die Goddelike openbaringe aan die aartsvaders en later met die wetgewing op die berg Horeb, ensovoorts, die volk Israel onderskei het van die volke rondom hom nie, maar dat dit eers later deur die aksie van die profete bewerkstellig is. So word die Bybel gerelativeer tot 'n verhaal met 'n boodskap vir die leser. Hy/sy kan dit dus verklaar en toepas volgens 'n eie beskouing met die gevolg dat die Bybel nie meer voorskriftelik vir die etiek van vandag is nie, soos 'n Nederlandse teoloog dit uitgedruk het, dat die Bybel wel aanvaarbaar is vir sy verhaal, maar "niet voor het moraal". Dit is die een front waarop die stryd gevoer moet word, om opnuut die ware kerk van Christus te reformeer van dwalings wat openlik geleer en geduld word.

As gevolg van relativering van Skrifgesag raak dit die tradisionele fondament van die samelewing wat ondergrawe is. Die rasionele wysbegeerte staan op 'n gewaande gelyke vlak as die wysheid in God se Woord en is só brutaal om laasgenoemde te verdring. So het ons 'n revolusionêre staatsbestel gekry in die plaas van die Christelik-nasionale van die verlede. Die Afrikanervolk is nou gedwing om die geografiese gebied van Suid-Afrika te deel met almal wat binne die grense van ons land woonagtig is. Geen territoriale verdeling van ons land en afsonderlike ontwikkeling meer nie, maar 'n nuwe nasie saamgeflans volgens die idee van een volk, een taal, een nasie en ten slotte godsdiensgelykheid, wat in werklikheid een godsdiens in verskeidenheid beteken. Die onlangse wêreldparlement van godsdienste in Kaapstad dien as 'n skittervertoning daarvan. Dis die ander front waarop die stryd gevoer moet word, dié van die vryheid vir en behoud en uitlewing van die geloof volgens die Heilige Skrif soos dit in die belydenisskrifte geformuleer en tradisioneel aanvaar is. ®