Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 1 Januarie 2000
KERKLIKE JOERNAAL KURATORE SE GESPREK MET REDAKSIE VAN DIE KERKPAD Die agenda van die Sinode GKSA, Januarie 1999 vermeld in die verslag van die Kuratorium Teologiese Skool te Potchefstroom (TSP) ten aansien van die redaksie van ons blad die volgende (2.3.9, bl 272):"Gesprek met die redaksie van Die Kerkpad
"Die Kuratore het na aanleiding van voortdurende negatiewe beriggewing oor die TSP en professore in Die Kerkpad 'n gesprek gevoer met die redaksie oor onder andere die joernalistieke styl van die redaksie. Die gesprek is deur die Kuratore versoek, omdat die redaksie van Die Kerkpad nie reaksie van die professore op die berigte publiseer en nie debat daaroor in Die Kerkpad toelaat nie. Die gesprek tussen die lede van die Redaksie van Die Kerkpad en die lede van die Breë Dagbestuur het op 22 Maart 1999 te Potchefstroom plaasgevind onder voorsitterskap van dr J Visser. In die gesprek is die redaksielede weer eens versoek om die goeie naam van die TSP en sy personeel te bevorder. Aangesien dit uit die eersvolgende uitgawe van die blad duidelik geblyk het dat die gesprek nie die gewenste uitwerking gehad het nie, het die Kuratorium besluit om by sy gesprek te volstaan. Die Kuratorium laat dit aan die betrokke professore oor om self volgens eie oordeel (indien nodig) die weg van Matt 18 met die redaksielede op te gaan."
In verskeie uitgawes van ons blad (spesifiek dié van Maart 1999, bl 17, en Mei 1999, bl 1 en 23) is daarna verwys. Die notule van dié byeenkoms vermeld onder andere wat nie in die bogenoemde verslag vermeld word nie, naamlik dat dr Visser afgesluit het met die slotwoord dat die Redaksie van Die Kerkpad moet voortgaan met die goeie werk wat hulle doen, letterlik: "Gaan voort met die goeie werk wat julle doen. Blaas die basuin. Moenie ophou om die basuin te blaas nie."
Ter wille van 'n ewewigtige beoordeling van dié saak, beantwoord ons die weergawe van Kuratore soos dit van die kant van ons redaksie as amendement op die voorlopige notule van die betrokke gesprek gedien het. Dit lui aldus:
"Die redaksie van Die Kerkpad voer polemiek oor aktuele strydpunte wat in die openbaar gepubliseer word.Sodoende poog hy om lidmate aan te spoor om die amp van die gelowige in alle erns uit te leef en om vas te staan en die kerk, waar nodig, terug te bring na Dordt. Die Kerkpad spreek die neiging om af te wyk van die Gereformeerde leer aan. Daar is verskillende onderstrominge in die GKSA wat nie ontken kan word nie. Die redaksie van Die Kerkpad het die kerk lief en wil nie sien dat daar afwykings van die Gereformeerde leer voorgestaan, geleer of in die praktyk toegepas word nie. Daarom stel hulle hul ten doel om lidmate toerusting te gee om behoudend te wees.
Die Kerkpad wil uiteraard nie artikels publiseer wat prinsipiëel verwerp word nie. Die Kerkpad is nie 'n forum vir die uitdra van onsuiwere standpunte waarvan verskil word nie. Gevolglik word nie ruimte in Die Kerkpad afgestaan aan artikels en briewe wat in stryd met die bovermelde redaksionele beleid is nie. Sodanige briewe en artikels sal, indien nodig, wel met deurlopende toeligting en leiding aan die lesers in ons blad behandel word.
Die werkswyse van die redaksie is so, dat niks in Die Kerkpad gepubliseer word wat nie eers deur al die redaksielede goedgekeur is nie. Die Redaksie van Die Kerkpad is ook nie 'n instansie vir beswaarskrifte nie, maar 'n pers wat joernalistiek bedryf oor dit wat openbaar is. Die redaksie beaam dat heimlike sondes langs die kerklike weg hanteer moet word. Die doel van Die Kerkpad is, onder andere, om kritiek aangaande openbare sake te polemiseer. Dit kan nie as verdagmakery getipeer word nie. Die Kerkpad siteer wat in die media of in kerklike organe en offisiële stukke op skrif gestel is en gryp nie iets uit die lug lug nie. Die bron sowel as die raamwerk waarbinne iets geskryf is, word as dit oor betwiste aangeleenthede handel, genoem. Die redaksie poog om hulle lesers te lei om in die kerklike lewe die gereformeerde standpunte te kan onderskei en dit te handhaaf. Die redaksie staan nie die kerklike weg teë nie, inteendeel, Die Kerkpad stimuleer juis sy lesers om die kerklike weg te volg.
Waar feite betreffende openbare sake waaroor verskil word bekend is, word die betreffende persone, kerkrade of instansies se name genoem as dit die saak dien. Dit word gedoen om saakgerig en belydenisgebonde te wees en die aandag aktueel te vestig op afwykings wat openlik gehuldig en bedryf word. Dit gaan in die eerste plek oor die eer van God en die behoud van sy Kerk. ®