Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 1 Januarie 2000
KERKLIKE JOERNAALGELOOFSVERKLARING 2000
Die Aap uit die Mou!
Dit is verrassend om die kommentaar van BEELD te verneem oor die Geloofsverklaring 2000 van die NG Kerk, soos dit op 14 Desember 1999 gepubliseer is. Dit vertoon die tiperende inslag van verwerping van die onbetwyfelde Christelike geloof van alle eeue, asook van die politieke beleid van afsonderlike ontwikkeling. In geen enkele opsig gryp dit terug op 'n binding aan die geloofswaarhede van die Skrif nie. Ons publiseer die berig net soos dit verskyn het.Die NG Kerk se Geloofsverklaring 2000 waai soos 'n vars oggendbries deur 'n be-dompige huis waarvan die vensters en gordyne lank toegestaan het. Die toneel buite die huis is nie juis rede tot opgewondenheid nie, maar net die oggendlug en lig alleen wek hoop en verwagting.
Vir te lank het die NG Kerk - die grootste van die drie Afrikaanse kerke - sy oë gesluit vir die wêreld rondom hom. Alles wat die tradisionele en dogmatiese sienings van die kerk uitgedaag het, is summier veroordeel of geïgnoreer.
Dekades lank is veral swart en bruin teoloë veroordeel vir hul "dwaalleringe" omdat hulle durf antwoorde gee het op die soort vrae waarmee die NG Kerk nou worstel. Verwysings na die kerk se plig in die stryd teen apartheid en ander sosiaal-maatskaplike ongeregtighede is byvoorbeeld afgemaak as bevrydingsteologie.
Baie van daardie sogenaamde bevrydingstandpunte sou nou net so opgeneem kon word in die geloofsverklaring, soos die frases "alle vorme van onreg en benadeling (moet) bestry word" en "alle mense menswaardige en betekenisvolle werk doen".
Dit is maar twee voorbeelde van die "nuwe" NG Kerk se ontdekking van sy (en sy lidmate se) maatskaplike verantwoordelikheid in die see van armoede en onmenswaardigheid waarin hy hom bevind.
Dit is jammer dat die insigte nou eers na vore kom. Die kerk kan gerus ook oorweeg om ook sy verskoning teenoor daardie teoloë te laat aanteken. Dit is nog nie te laat nie.
Hoewel die verklaring geen amptelike kerklike status het nie, is dit die soort dokument wat met oorgawe in elke gemeente ingedra en gedebatteer behoort te word.
Dit bied geen finale antwoorde op alle vraagstukke nie. Maar dit is duidelik 'n ernstige poging om aan lidmate eenvoudige riglyne vir hul daaglikse bestaan te gee. Dit moet net die begin wees van 'n proses.
Hiermee gooi die NG Kerk sy vensters oop. Die bedompigheid van die burgerlike nasionalistiese godsdiens wat ons voorgeslagte gevange gehou het, word verdryf.
So kom die aap uit die mou! - (red)