Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 1 Januarie 2000
KOMMENTAAR PROF KOOS VORSTER IN DIE GEDRANG OOR "MENSEREGTE" Repliek in DIE KERKBLAD, 8 Desember 1999 (bl 35) na aanleiding van 'n kommentaar van br Marius Coertze van Pretoria op Vorster se artikel in Brandpunt - DiE KERKBLAD van 28 Julie 1999. (Vergelyk ook DIE KERKPAD, September 1999, bl 22 en 23 wat oor dieselfde materie handel)Nieteenstaande alles wat van behoudende kant aangevoer word, bly prof Vorster van mening dat "dit in beginsel goed is dat ons 'n hoofstuk oor menseregte in die grondwet het. Dit verhoed dat die owerheid sy mag kan misbruik om mense te verontreg. Maar dat dit geskrywe staan, is nie genoeg nie. So 'n belangrike dokument moet gedra word deur 'n kultuur van respek vir mekaar, reg en geregtigheid en daartoe moet die kerk op 'n kerklike wyse bydra." Hier-die beginsel doseer ek met vrymoedigheid aan die Teologiese Skool in die lig van uitsprake van die Sinode oor menseregte. Trouens, ons ag dit so belangrik
dat ons 'n groot deel van ons nagraadse navorsing daaraan wy, aldus prof Vorster.V
erstaan prof Vorster ooit die prinsipiële beswaar teen die "hoofstuk van menseregte in die grondwet" soos dit tans in ons samelewing dien? Pla dit hom nie, al die goddeloosheid asook die liberale rasionalistiese, sosialistiese en anti-christelike karakter daarvan, wat bowendien gepaard gaan met 'n kommunisties gedomineerde staatsbestel, waarby die oorspronklike instansies en figure wat wet en orde in ons land gehandhaaf het, vervang is en word deur hoofsaaklik ANC-ondersteunende instellings en beamptes?!"Die juridiese konsep van menseregte impliseer nie regte teenoor God nie (is dit nie 'n hoogmoedige aanname nie? - P vd K), maar oor etiese beginsels wat juridies geïmplementeer moet word", sê Vorster. Alles goed en wel dat ons nou 'n verklaring van menseregte ken wat nie slegs "'n hoofstuk in die grondwet" is nie, maar waaraan die hele wetgewende en uitvoerende gesag van ons land onderworpe is. Die probleem is egter dat hierdie verbindende handves juis dien om wat die Skrif as gruwelike goddelooshede tipeer daardeur gelegitimeer word, byvoorbeeld die praktyk van godsdiensgelykheid, aborsie, eutanasie, homoseksualisme, "rehabilitasie" van misdadigers in plaas van bediening van regverdige straf, die afskaffing van die doodstraf, die aantasting van die onafhanklikheid van die regbank. Daar is baie wat bygevoeg kan word. Dit spruit alles voort uit die horisontalistiese benadering van "naasteliefde", wat nie gebaseer is in die liefde tot die almagtige skepper en onderhouer van hemel en aarde nie en wat nie die opperste soewerein en wetgewer, die Drieënige God van die Bybel, in die aanhef van die grondwet erken en huldig nie.
Dit is onverstaanbaar dat 'n professor van die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke toegelaat word om studente in die heilige Godgeleerdheid in die aanvaar-ding van 'n rasionalistiese en kommunisties-belaaide ideo-logie van die verhouding owerheid-onderdaan en andersom in die samelewing, te onderrig.
My Gereformeerde voelhorings leer my op grond van die Goddelike Woord en die etiek vir die samelewing wat daarin vervat is, dat toekomstige predikante opgelei moet word om aan en teenoor die humanisties-sekulêre samelewing die antitetiese boodskap van die heerskappy van Christus te verkondig. Geen kompromis nie, maar die antitese! As sodanig sou die saak van menseregte wel krities gedoseer kan word. Dit is egter nie die konteks van prof Vorster se benadering nie. Is dit dan wel "so belangrik" dat prof Vorster soos hy dit self noem, "'n groot deel van ons nagraadse navorsing daaraan wy." ?
Dit is opmerklik dat talle rasionalisties gemotiveerde filosowe en teoloë hulle beroep op Calvyn. Dit geld ten aansien van byvoorbeeld Max Weber (1864 - 1920), Karl Barth (1886 - 1968) en Martin Heidegger (1889 - 1976). In dieselfde gees beroep prof Vorster hom ook op Calvyn, dat hy laasgenoemde betrek om sy idee van 'n liberale konsep van "goed doen" daarmee te regverdig. "Calvyn is van oordeel dat die beeldskap van God in die mens wel geskend is, maar nie opgehef is nie", sê Vorster. Hy verwys na Calvyn se Institusie I:XV:4:179 en III:VI:2:179.
Die verwysing na Calvyn is egter misleidend omdat verbygegaan word dááraan dat ondubbelsinnig daarby ver-meld is dat die herstelde beeldskap "nou deels in sy uitverkorenes waargeneem word, in soverre as wat hulle na die gees wedergebore is. Maar sy volle glans sal dit eers in die hemel kry" (I:XV:4:55 - Simpson). Ook heel opmerklik in die ander paragraaf waarna Vorster verwys, dat Calvyn teenoor Vorster se liberaal getinte siening sê dat "'n mens mag nie so met God handel dat jy 'n deel van die dinge wat deur sy Woord aan jou voorgeskryf word, onderneem en 'n deel na jou goeddunke verbygaan nie". Om die liefdesgebod los te maak van die vertikale verbintenis met die hoogste Wetgewer en Beskikker van die menslike lotgevalle, druis in teen die aard van dié gebod en maak dit in 'n christelik- etiese opsig betekenisloos.
"'n Mens kan weliswaar wys op hoog aangeskrewe moderne geleerdes soos Otto Gierke, ... en natuurlik Max Weber, wat die aandag gevestig het op die groot belang van die hervorming, en van Johannes Calvyn in die besonder, vir die kulturele ontwikkeling van die Weste oor die algemeen en veral vir bepaalde ontwikkelingsterreine soos die ekonomie, die politiek en so meer. Maar op die een of ander wyse stel hulle almal dit ten doel om aan te toon dat die denke en handeling van die hervorming belangrik is slegs omdat dit die weg gebaan het vir die ontwikkeling van die moderne gees en lewenspraktyk. ... Na hul mening moet die gees van die hervorming die gees van die moderne humanisme wees, en omgekeerd" (Brouwer P. 1981. In: Fourie AM ea. DIE WESTERSE POLITIEKE TRADISIE: Hoofstuk 10, Johannes Calvyn (1509 - !564). Pretoria: Academica (bl 165)).
Op grond van die bogenoemde onderskryf ons Marius Coertze se oortuiging dat "die sondige, gevalle mens nie beelddraer van God is nie, maar slegs die wedergebore 'nuwe' gelowige mens ... Alle mense is derhalwe nie beelddraers van God nie en daarom is die grondslag van die leerstuk van menseregte vals". Ook stem ons saam dat "Die stelling van prof Vorster dat die leerstuk van menseregte reeds in die Gereformeerde Etiek aanvaar word, tekenend is van die assimilasie van hierdie humanistiese en onbybelse leerstuk wat 'n mens baie onrustig stem. Dit is die pad van deformasie in plaas van reformasie. Prof Vorster se oproep - 'Ons het nou die roeping en die geleentheid om ons denke om te keer' - wek groot kommer, veral daar hy aan die teologiese skool verbonde is en hierdie oortuiging ook daar weerklank vind." ®