Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 1 Januarie 2000
MEDIESE ETIEK DIE REDES VIR KLONING- DR MC DURAND -
In hierdie rubriek het reeds twee artikels oor kloning verskyn In die eerste artikel is aangetoon dat aangesien kloning nie onvrugbaarheid genees of verbeter nie, dit nie deel van die geneeskunde kan uitmaak nie. In die tweede artikel is beredeneer dat kloning vermeerdering van mense buite om die skeppingsgegewe van geslagtelikheid en die skeppingsverband van die huwelik behels. Daarom is kloning teen die skeppingsorde van God en daarom pervert. Die doel van hierdie aflewering is om die motiewe vir kloning te ondersoek.Onderliggend tot die sonde van kloning vind ons die hart van die verdorwe mens. Die verdorwe wil buig nie voor God se bevele nie. Die ongelowige draai weg van God. Die bedorwe wil soek nie na die die wil van God nie en streef nie na die gehoorsaamheid aan God nie.
As gelowiges moet ons in elke saak eerstens God se wil daaroor ondersoek aleer ons daarvoor kan buig. Die menslike vermeerdering is geen uitsondering ten opsigte daarvan nie. Derhalwe is dit noodsaaklik dat ons in gehoorsaamheid sal aanhoor wat God oor hierdie saak openbaar. Dit vind ons in Genesis 1 : 28. Hier gee God aan die mens die opdrag om te vermeerder: En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Hierdie opdrag word ook na die sondeval aan die mens herhaal, naamlik in Genesis 9 : 1.
Let op die wyse waarop God hierdie bevel om vrugbaar te wees gee: God gee hierdie bevel aan albei, Adam en Eva. Die beeld van God behels nie 'n geslagtelose mensheid nie. Die beeld van God onderskei in die algemeen die ge-slagtelike onderskeid van man en vrou (Gen 1 : 27). Hierbenewens raak die geslagtelike onderskeid by Adam en Eva in besonder die huwelik (Gen 2 : 22 tot 24).
Dit is duidelik dat die opdrag van vermeerdering tot die adres van die heteroseksuele huwelik gerig word. God spesifiseer die wyse en die middel tot die vermeerdering. Dié middel is volgens God se skepping en sy Woord die vrugbaarheid. Volgens die mens se aard vermeerder die mens nie buite die vrugbaarheid nie. Die vrug van 'n plant of 'n dier en, ook in ons geval, die mens betref nie 'n replikasie nie. Die vrug beteken die ontstaan van 'n geheel ander individu, 'n nuweling na liggaam en siel.
Die bevel wat God aan die mens rig, is nie 'n bevel waaraan die mens (vóór die sondeval) net gehoorsaam moes wees nie. Dit gaan hier nie om die toets van die mens se vermoë om die bevele van God na te kom nie.
Die bevel van vermeerdering is 'n seënende bevel. Dit beteken dat die vermeerdering nie net van die gehoorsaamheid van die mens afhanklik is nie. Die vermeerdering van die mens is eerstens afhanklik van die krag van God. Die krag tot voortplanting kom nie van die mens nie, maar van die seënende krag van God.
Die verdorwe mens wil soms wel vermeerder, maar dan nie volgens die wyse en die middel wat God vir die vermeerdering bedoel het nie. Vermeerdering deur die middel van kloning geskied nie deur die middel van die geskape vrugbaarheid nie. Derhalwe is kloning 'n vorm van vermeerdering wat teen die geopenbaarde wil van God ingaan.
Kloning veronderstel geen heteroseksualiteit nie. Alhoewel kloning vermeerdering tot stand bring, is dit geen vrugbaarheid nie, Want die produk van kloning is slegs 'n kopie van die oorspronklike. Die meeste wat ons van 'n kloon kan sê, is dat dit 'n identiese tweelingbroer is. En my broer kan tog nie terselfdertyd ook my kind wees nie?
By kloning staan die krag van die mens voorop. Kloning is eerder 'n skouspel van menslike vermoë as wat dit 'n blyk van menslike gehoorsaamheid aan God is. Kloning word gesien as 'n triomf (alhoewel tydelik) van die menslike wil, in plaas van die vrug van die nakoming van God se saak van sy welbehae.
Kortliks, kloning is 'n eiewillige daad tot vermeerdering wat buite die skeppingsorde en die seënende hand van God val. Die tegnologie van vandag maak dit vir die mens wel moontlik om sigself te kloon. Alhoewel die mens die bevel tot vermeerdering gekry het, waaraan hul gehoorsaam moet wees, mag hulle dit slegs binne die perke wat God aan hul gestel het wees. God is die Skepper van die mens en van die menslike vermoëns, asook van die aarde en die potensiale wat daarin opgesluit lê. God is die gever van oorvloed maar hy straf ook die menslike vergrype daaraan. (vergelyk Numeri 11 : 34, naamlik Kibroth-Hattaäwa). Nieteenstaande die mens die opdrag om al sy vermoëns te gebruik gekry het, is dit geen absolute opdrag wat sonder enige verwysing na die Gewer van die vermoë bestaan nie. Die mens mag dus slegs sy vermoëns gebruik om God te eer, dit wil sê om God te dien soos wat Hy dit beveel. Die tegnologiese vermoëns van die mens stel hom in staat om 'n klomp dinge te kan doen. Maar omdat God die gewer van alle vermoëns is, mag die mens nie alles doen wat hy kán nie.
Volgens die etiek wat sommige van die diereryk aflei, mag alles wat gedoen kán word gevolglik ook gedoen word. Dit druis egter in met die bybelse etiek, met die prinsipiële uitgangspunt dat slegs dit wat die Here bepaal en aan die mens as opdrag gestel het, gedoen mag word.
Kloning is 'n moontlikheid, dit kán. Maar omdat dit strydig teen die geopenbaarde wil van God is, mag dit nie as wyse en middel van vermeerdering dien nie. Daarmee het ons na die twee onderliggende motiewe van kloning gekyk: Eerstens die eiewillige vergryp en tweedens die dierlike vergryp aan God se gawes. Albei motiewe pas nie by die bekeerde mens nie en is vir die gelowige verwerplik.