Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 1 Januarie 2000
OPVOEDING EN ONDERWYS AKADEMIE VIR CHRISTELIK VOLKSEIE HOëR ONDERWYSEerste studente verwerf hulle kwalifikasies
Die Uitvoerende Komitee van die Akademie vir Christelik-volkseie Hoër Onderwys maak met groot dankbaarheid teenoor die Here bekend dat die eerste vyf studente van die Akademie aan die einde van 1999 hulle studie voltooi het. n Sesde student moet nog in een vak eksamen aflê en sy uitslag sal later bekendgemaak word.Die volgende studente se uitslae is deur die Uitvoerende Komitee goedgekeur:
Mejj Antjie Erasmus en Nicolene Smit het albei die vierjarige kwalifikasie Licentiatus Educationis verwerf en het reeds aanstellings as onderwyseresse aan CVO-skole ontvang. Albei verwerf die kwalifikasie met lof, met gemiddelde punte van meer as 80 persent.
Mevv P Auret, A Labuschagne en L Roode (almal van Lichtenburg) het die tweejarige kursus vir die Hoër Onderwysdiploma verwerf, aldrie in die eersteklas (gemiddeld 65-74 persent).
Prof Alkmaar Swart, die Voorsitter van die Raad van die Akademie, sê dat hierdie mylpaal van groot geskiedkundige belang is. Die Akademie is op 31 Januarie 1996 in die geloof opgerig as speerpunt om die Boere-Afrikanervolk op die vlak van hoër onderwys te help bekwaam om sy roeping uit te voer. Dat die Akademie na vier jaar stewig staan en sy eerste vrugte mag aanskou, is n genadewonder van God en bevestiging van die geloof wat die oprigters in die Here gehad het. Prof Swart spreek namens die Raad sy gelukwense aan die afstuderende studente en hulle ouers en naasbestaandes uit en bedank hulle vir hulle onwrikbare toewyding om saam met die dosente en Raad die Akademie tot hiertoe te bou. Hulle name is onvervreembaar in die annale van die Akademie en van die Boere-Afrikanervolk ingegrif omdat hulle bereid was om die nuwe onderneming te vertrou en hulle aan hom toe te vertrou. Daarmee openbaar hulle dieselfde onwrikbare gees wat die Voortrekkers getoon het. Hy wens al die afstuderendes die seën van die Here toe in hulle loopbane as opvoeders van die kinders van ons volk.
Die kwalifikasies van die afsgestudeerdes word DV op die aand van 28 Januarie 2000 aan hulle toegeken tydens die Vyfde Jaaropening en Eerste Gewone Promosiegeleentheid van die Akademie vir CVHO. Dit vind om 19:00 in die Paul Krugerkerk en -saal (die Gereformeerde Kerk Pretoria) op die hoek van Kerk- en Potgieterstraat plaas. Vriende en belangstellendes word hartlik uitgenooi om hierdie besondere geleentheid by te woon. Besonderhede oor die program en ander sake is van die ondergetekende bekombaar by telefoon 082-820-5298.
DR PE VAN DER DUSSEN
Registrateur
28 Desember 1999