Vorige Uitgawes

Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Stryd op twee fronte

AKTUEEL:
Geloofsverklaring 2000

SKRIFOORDENKING:
"Sê aan die kinders van Israel..."
Exodus 14:15

BOEKBESPREKING:
Afrikaanse Bybels en Kommentare

Die Eerste Gebod

Is sommige Teoloë dan nou Babelbouers?

God se plek vir die vrou in die gemeente

Afwysende advies oor kinderkommunie (NHK)

Kommunisme en die Skrif?

Gesange teenoor die beginsels van Dordt

Televisie: "Sleg vir ons geestelike gesondheid"

Verskil van teks en uitleg in die 1983 teenoor die 1953 Bybelvertaling

Die Tweede Vryheidsoorlog

Kultuur, volkskultuur en Koninkryk

Woord en Wetenskap

KERKLIKE JOERNAAL: 
Kuratore se gesprek met redaksie van Die Kerkpad
Geloofsverklaring 2000
Sake rakende Radio Pretoria netwerk
Lofsange en geestelike liedere
"Kerkeenheid"

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Eerste studente aan ACVHO verwerf kwalifikasies
Akademiese vryheid:  'n Misbruikte slagkreet in ons tyd

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY: Ware betekenis van die Calvinisme.   Abraham Kuyper (3)

PERSRUBRIEK: 
Feministiese teologie?

Jacob Zuma se godsonterende Kersboodskap

KOMMENTAAR: 
(1) Homoseksualisme aanvaarbaar vir die PU vir CHO?
(2)Prof Koos Vorster in die gedrang oor "menseregte"

GESPREK MET DIE LESERS

MEDIESE ETIEK: 
Die redes vir kloning

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 4  No 1  Januarie 2000

OPVOEDING EN ONDERWYS

AKADEMIESE VRYHEID

'N MISBRUIKTE SLAGKREET IN ONS TYD

DR AP TREURNICHT (1974) IN: "WAAR DIE SOEKLIG VAL"

Akademiese vryheid het 'n telkens misbruikte slagkreet in ons tyd geword. In die afgelope tyd het ons ook weer veel daarvan gehoor. Oor die algemeen is dit gebruik as 'n soort verweer teen inmenging in universiteitsaangeleenthede aan die kant van die staat. Daar word dan aanspraak gemaak op die reg om interne sake van die universiteit volgens eie opvattinge selfstandig te reël. Dit sou dan min of meer ooreen kan kom met die interne kerkreg waarvolgens die kerk sy eie sake reël en hom nie laat voorskrywe wie moet preek, hoe die Bybel uitgelê moet word of wie hy as lidmate mag aanvaar nie.

Dit kan geredelik toegegee word dat ook 'n universiteit 'n hoë mate van selfbestuur het in sake wat net die universiteit raak. Dit is byvoorbeeld nie die kerk of die staat se roeping om die doseerwerk oor te neem of die administrasie te behartig nie. Indien daar wesenlike gevaar bestaan dat die staat die onderrig en opvoeding van die begin tot end wil domineer, is ons dit eens met mense wat hulle op akademiese vryheid wil beroep.

Dit het egter nodig geword om dié vryheid, en dan veral sy perke aan te dui. Volgens sommige beteken akademiese vryheid dat die Raad, dosente en studente van 'n universiteit nog, soos in die Middeleeue, 'n onafhanklike gilde vorm wat net vir sy eie gerief 'n soort verdrag met die owerheid sluit vir beskerming wanneer dit hom pas, maar wat verder alle bemoeiing van die kant van die owerheid uitsluit. Die universiteit word dan 'n soort staat binne in 'n staat, 'n onaantasbare heiligdom wat geen inmenging duld nie. 'n Soort afgesonderde gemeenskap dus.

Daardie tyd is egter verby. Die universiteit is met sy eiendomlikheid, eie taak en vryheid en al, op baie maniere, verweef met die hele maatskappy. Hy is deel van die staatsgemeenskap en is dus onderworpe aan die landswet en die goeie verordeninge wat 'n ordelike gemeenskap waarborg. Hy kan dus nie, met 'n beroep op akademiese vryheid, homself as 'n onafhanklike samelewing gaan afsonder en in stryd met die verordeninge vir die hele gemeenskap, op universiteitsterrein maar net maak soos hy verkies nie.

Hy is nie vry om sy eie samelewingspatroon, in stryd met dié in die res van die maatskappy te skep nie. Hy is ook nie vry om sy eie sedelike gedragskodes te volg nie. Dit staan hom nie vry om gegronde uitoefening van die staatsgesag te weerstaan of sy eie vorm daarvan uit te oefen nie. Dit staan hom ook nie vry om enigiets te doseer, ongeag of dit sede-ondermynend, staatsgevaarlik of anti-christelik is nie.

Die staatsgesag as 'n instelling van God, word nie deur akademiese vryheid opgeskort nie, alhoewel dit beslis ook so is dat onderrig en wetenskapsbeoefening nie funksies is wat in die staatsgesag wortel en dus na willekeur gemanipuleer kan word nie.

Die leer van die kerk, gegrond in die Skrif, mag ook nie op akademiese vlak opgeskort word asof die universiteit 'n eie godsdiens of godsdiensloosheid daarop nahou nie. Wat egter nie beteken dat die kerk die wetenskapsbeoefening beheers of dikteer nie, maar dat sowel die kerkman as die wetenskaplike verenig staan in hul gehoorsaamheid aan die Skrif en in hul soeke na waarheid.

Dis ongelukkig so dat hier en daar 'n dosent aan sy studente beduie dat indien hulle goeie studente wil wees, hulle hul Bybels maar moet wegpak en alles moet vergeet wat hulle in die kerk en die Sondagskool geleer het. Dit is 'n onhoudbare vervalsing van akademiese vryheid en jammerlike aanmatiging.

Dis nie alleen magsmisbruik van die kant van 'n dosent wat die student se akademiese toekoms in sy hand het nie, maar dit verraai die ware gesindheid van 'n geleerde. Dié gesindheid is nederigheid vir die waarheid en ook die besef dat die hele waarheid nie in een vakgebied opgesluit lê nie.

Akademiese vryheid beteken ook nie dat op die kampus 'n ander sedekode geld, of dat géén sedekode daar hoef te geld nie. Uit sekere kringe aan dié universiteite wat die swaarste deur studente-onluste getref is, word verneem: "Weg met die puriteinse sedes!" Die bedoeling is dan klaarblyklik nie 'n vervanging van uitgediende gebruike nie. Dit gaan nie om die reg om die snit van die klere te verander, die haarstyl te wysig, ander vorms van vermaak te hê en nuwe organisasies of klubs te stig nie. Dit gaan om die verwerping van lewenswaardes, beginsels, goddelike bepalinge vir die mens, die verwerping van die geloof van die akademikus in God self. Dit is nie akademiese vryheid nie. Dit mag 'n soort vryverklaring wees, maar dit klop nie met wesenlike vryheid nie.

Gelukkig egter dat ons so 'n groot getal dosente en studente het wat nie net weerstand bied aan onregmatige inmenging of dwang van buite nie, maar wat die ware dissipline van die wetenskap ken, nederig is voor die waarheid, en wat besef dat die akademie geen heilige skuilkelder is waarin geleerdheid teen God verskans kan word of vanwaar al wat godsdiens is, platgeskiet kan word nie.

Een van die kenmerke van menslike vryheid, ook akademiese vryheid is afhanklikheid. Ons is afhanklik van alles wat ons vir ons bestaan nodig het - soos lug, warmte, voedsel ensovoorts. Daarsonder is ons nie vry nie. Wie hom van dié gegewe dinge wil vrymaak, verval in die onvryheid van selfvernietiging.

Die wetenskaplike is afhanklik van 'n geordende werklikheid. Hy is afhanklik van die wetsorde waaraan God sy skepping onderwerp en wat Hy in stand hou; anders sou wetenskaplike navorsing sinloos wees.

Ook akademiese vryheid is aan pligte onderworpe. En dit is méér as dié pligte wat 'n mens jouself oplê. Dit hang saam met die wette of norme wat God aan die menslike lewe stel: die Tien Gebooie, die reëls vir die sedelikheid, die kuns, die verhouding tot die medemens. Die eis dat 'n mens die Here moet liefhê met jou hele hart, jou hele gemoed, jou hele verstand en al jou kragte, is 'n totale eis. Dit laat geen ruimte daarvoor dat die verstand wat die oorwegende rol in ons wetenskapsbeoefening speel, verskoon kan word van die plig van liefde tot God nie. En net so min as wat die menslike rede 'n skuilkelder teen Gods aansprake kan wees, kan die geordende wetenskaplike arbeid of die hele universiteit as inrigting dit wees.

Ook die universiteit staan voor die keuse van geloof in God of die ateïsme. Daar kan geen neutrale posisie wees wat dan die naam akademiese vryheid waardig sou wees nie. Ons het nêrens die vryheid van geloofloosheid of ongeloof nie. Indien ons dit tog wel probeer handhaaf, beland ons al dadelik in meer as een moeilikheid. Die een daarvan is dat niemand êrens in die wêreld van kennnis kan kom sonder 'n vorm van geloof of aanvaarding nie. Ons glo baie dinge om elke hoek en draai. Die ander moeilikheid is dat vryheid as ongeloof eintlik beteken 'n verankerdheid van die vrye mens in homself. En selfs dan is dit 'n vorm van geloof. Maar dan geloof in 'n afgod.

En dit lê ongelukkig aan die wortel van baie aansprake op akademiese vryheid. Die een verafgod die inrigting as 'n instelling wat sy eie gesag in homself omdra en aan niemand onderworpe is nie. Die ander verafgod die intellek en sy kritiese vermoë, sonder erkenning van 'n onderworpenheid aan God en sy openbaring. En dit moet dan daartoe lei dat die Universiteit se opvoedingstaak en plig tot karakterbou misken word. Die riglyne van die Bybel vir die wetenskap, en veral vir die wetenskaplike, bestaan dan prakties nie.

Maar wie hierdie vryheid sien as vryheid in afhanklikheid, vryheid in vertroue, vryheid in verantwoordelikheid teenoor God en die suiwerste belange van sy medemens, is in sy bindinge tog werklik vry. Hy is in sy diensbaarheid aan God en sy medemens tog inderdaad 'n heerser. In die begrensing van sy eie vryheid uit eerbied vir die vryheid van ander, geniet hy die vrug van die liefde waarsonder geen mens, ook nie die akademikus, kan lewe nie.

Treurnicht AP. 1974. Waar die Soeklig val.
Kaapstad: NG Kerk-Uitgewers (bl 117 - 120)