Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 1 Januarie 2000
SKRIFOORDENKING
"Sê AAN DIE KINDERS VAN ISREAL DAT HULLE MOET WEGTREK" (Exodus 14:15) - DS LH STAVAST (EM) - HUMANSDORP -"Toe vra die HERE vir Moses: Wat roep jy na My? Sê aan die kinders van
Israel dat hulle moet wegtrek" |
Nee, jy is op die aarde geplaas as 'n individu, 'n gesin, 'n volk, 'n gemeente, om 'n doel te dien. God het vir jou op 'n bepaalde tyd, 'n be-paalde plek, onder bepaalde omstandighede op hierdie aarde van Hom geplaas met 'n doel, met sy doel, binne die grense van sy plan met sy skepping.
Op 'n heel besondere wyse het Hy so ook die lotgevalle van die volk Israel bestuur. Uit hulle moes immers Jesus Christus voortkom. Dit is Hy wat eenmaal die wêreld, ja, die hele kosmos weer sou skoonmaak van die smet van die sonde.
Dáárom is Abram uit Ur van die Chaldeërs geroep. Dáárom is Jakob in sy worsteling met God op die heup geslaan en dáárom is Josef na Egipte verkoop en word sy nasie 'n slawevolk in dieselfde Nylland. Dáárom word Moses uit die water getrek, op die vlug gestuur na die woestynland en weer terruggeroep om Israel uit Egipte uit te lei. ...
En so word die volk van God weer uit die slawehuis uitgelei, nie maar net om nou uiteindelik vry te word as 'n nasie in 'n eie land nie, maar om God se doel te dien. Om God se beloftes te help vervul.
Oor hulle is die Naam van die HERE uitgeroep en daarom is hulle 'n geroepe volk, 'n roepingsnasie.
Maar om so 'n geroepe volk of mens te wees in 'n wêreld wat hom nie deur God of enig iemand anders láát roep nie, bring dikwels nood en stryd in die lewe.
'n Geroepe mens, volk, kerk, ondervind dikwels beproewinge en aanvegtinge. Aanvegtinge van die Satan om jou weg te lok van die roeping en beproewinge van God en om jou af te keer van die onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan God.
In die geskiedenis van Israel sien ons telkens weer dat hulle heen en weer getrek word deur Satansmag en God se krag.
So ook hier by die Skelfsee: Farao span, aangedrewe deur die Satan, sy strydwaens in en God stuit sy volk aan die oewers van 'n skuimende see!
God het sy doel met hierdie ontsettende dilemma: Hy wil sy Naam verheerlik en sy plan met Israel volvoer.
Terwyl hulle slegs aansien wat voor oë is, roep die volk Israel die HERE aan: Die Farao met al sy mag wat hulle agtervolg en die see daar vóór hulle en Moses wat hulle in hierdie gemors laat beland het.
Hulle is soos baie mense - óók kerkmense! - van vandag wat televisie kyk, na die radio luister, die koerant lees, die ellende in eie en andermans lewe raaksien sonder toekomsuitsig. Wat onder dié omstandighede voortploeter en dan nog bid en Bybellees ook, maar wat daaraan twyfel of dit sal help.
Ja, hulle roep soms só hard na die HERE, dat hulle die roepingsboodskap van die God van die verbond nie meer kan hoor en sy wolk- en vuurkolom nie meer kan sien nie!
Selfs Moses, wat vir sy mense sê: "Die HERE sal vir julle stry en julle moet stil wees", hou in sy hart maar aan om te roep" "Ag, HERE, tog!", soos God se verwyt aan hom impliseer: "Wat roep jy na My?"
Dis immers moeilik om God se roepstem te bly hoor as die lawaai en rumoer om jou daarin slaag om sy stem te oorheers en stil te maak!
Gelukkig hou die HERE aan - sy verbond staan immers op die spel - om heel konkreet steeds weer op te roep tot verbondsgehoorsaamheid: "Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet wegtrek".
So trek die HERE dwarsdeur die geskiedenis van sy heilsbemoeienis ook sy roepingslyn. Abram mog nie in Haran bly nie, Kanaän was die land van die belofte, en: "in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word".
Nie Esau nie, maar die jongste, Jakob, word die belofteman: Israel, man van God. Nie Ruben nie, maar: Juda, jy is dit".
Nie Rome nie, nie Jerusalem nie, maar Betlehem word die beginpunt van God se volmaakte heilsopenbaring in Christus.
Nie 'n heerlike feesmaal tussen die elite van kerk en staat nie, maar 'n droewige Pasga tussen verraaiers en verloënaars en 'n verskriklike worsteling in Getsémané, sluit Christus se prediking af voordat Hy nie 'n troon nie, maar 'n kruis bestyg.
God gaan vreemde, dikwels beangstigende paaie met hulle wat Hy roep in sy diens.
Van nature het ons maar dieselfde slawementaliteit as Israel in die woestyn. Egipte lyk ook vir ons beter as die golwende see en die barre Sinaï. Die jaar wat voorlê voorspel - nieteenstaande die hoera-geroep van Millenniumvierings - nie veel goeds nie.
Vir ons lyk dit dat ons afstuur op 'n steeds meer verarmende, misdadige land, asook op 'n kerk wat al hoe meer horisontalisties, mensgerig, begin dink en praktiseer; 'n groeiende getal van verbrokkelende huwelike en verstoorde gesinslewe en al meer losgeslane lewens; 'n sekulêre aanpassing van die sedelike norme vir die daaglikse bestaan; 'n see van smart en 'n woestyn van moeite, aangejaag deur die Satan, wat weet dat hy min tyd het.
Maar "tussen die duiwel en die diep blou see" hou die HERE aan met sy heel konkrete roepstem: "Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet wegtrek".
Wat sinodes dan ook al besluit, wat regimes ook al doen, 'n Verbondskind en 'n Verbondsvolk mag verstaan wat hulle Godgegewe roeping is: "Hoe salig is die volk wat luister na u Woord, hul wandel in die lig, wat van U afstraal voort! Hul sal hul in u diens waaraan hul toegewy is, die ganse dag verheug ..."
Luister en wandel, bid en werk. Dit is die HERE se verbondsopdrag ook vir die jaar van onse Here, tweeduisend, vir die nuwe millennium