Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 1 Januarie 2000
PERSRUBRIEK FEMINISTIESE TEOLOGIE? Onder die bogenoemde opskrif skryf Ari Korver van Zuurfontein in die uitgawe van DIE HERVORMER van 1 Desember 1999 (bl 2 en 3) as volg, wat ons graag onder aandag van ons lesers bring.Na aanleiding van twee skrywes van dr Yolanda Dreyer, ... wil ek graag die volgende sê:
Soos ek dit sien, poog dr Dreyer in beide artikels om die leser daarop attend te maak dat deur die jare die vrou 'n tweedeklas burger in die samelewing was/is. Anders gestel en ek haal aan ...: Vanaf die vroegste geskiedenis bepaal mans hoe vroue moet wees, lyk en optree.
Sonder om op enige spesifieke stelling wat dr Dreyer maak, in te gaan, is die hoofrigting wat in beide artikels grondslag vind, vir my kommerwekkend. Dit is duidelik dat dr Dreyer die vrou se ervaring om hierdie wêreld as slaaf en minderwaardige persoon sien. Die vrou word nie net as die slagoffer beskryf nie, maar in die proses word die man as die oorheerser bestempel. Verder word die man as die oorsaak aangedui vir die vrou se posisie asook dat deur sy toedoen die vrou nie 'n identiteit het nie, ofte wel nie 'n eie self ontwikkel nie.
In die proses word daar by wyse van rasionalisering gekyk wie kan geblameer word behalwe ekself (dit laat my so tuisvoel in die nuwe Suid-Afrika). God se wonderlike benadering tot die vrou word heeltemal ontken.
Die voorreg wat 'n vrou het om nuwe lewe te kan dra en in die wêreld te bring, word geminag. Die rol van die vrou in haar omgewing moet verander?! Dat ons Here van die begin af die vrou gebruik het en nog steeds gebruik, word nie vermeld nie.
Dit wil vir my voorkom of dr Dreyer dit wil hê dat ons almal dieselfde is, miskien word die vrou in 'n bietjie beter lig gestel om op te maak vir al die jare van ontkenning?, soos wat 'n slagter nou 'n motorhawe sal kan bedryf en 'n onderwyser skielik siekes kan opereer. Die New Age sal definitief graag wil sien dat dié benadering inslag vind. Dalk moet die Hervormde Kerk ook nou begin kyk na erkenning van homoseksualiteit? Laat ons nou eerlik wees, die Woord is immers gebaseer op wat die mans daarvan gemaak het? God se leiding hierin kan mos nie gesien/erken word nie.
Ek hoop en vertrou dat dr Dreyer as tydelik-deeltydse dosent die Woord van die Here voorophou en nie die pad van beskuldiginge nie. Jesus het op meer as een manier aan ons getoon dat vergewing die pad is. Van daar af kan daar saam 'n pad geloop word.
Dié skrywe is nie 'n poging van my kant af om 'n tweegeveg aan die gang te sit nie. Wat ek wel poog, is dat ons, as kinders van die Here, almal saam voor Hom die pad wat Hy hier op aarde vir elkeen van ons gegee het om te loop, nie sal ontken nie. Dat ons Hom sal loof en eer vir die voorreg wat Hy ons gegee het. Dat ons in die proses ons medebroers en -susters as sy kinders sal sien en so sal behandel. Ons moenie kyk waar ons mekaar kan verkleineer of kan slegmaak nie. Dit is die maklikste ding onder die son. Is ons nie maar almal sondaars voor God nie? Nee, laat ons ons daarvoor beywer om God se boodskap saam uit te dra - elkeen op die manier waarop die Here dit vir ons moontlik maak.
In die artikel wys dr Dreyer na die vorming van spiritualiteit en dat die aksent moet skuif van wat ons glo na wie ons is. Nou weet ek nie of ek dit moet verstaan as moenie na God kyk nie, maar kyk na wie jy self is nie.
Ons kan mos net glo in dit wat die Vader vir ons gee! Hoe kan ons dit durf waag om die klem op onsself te plaas? Ons lewe hier op aarde is tydelik, ons is bywoners op die aarde. Die ewige lewe is by God ons Vader en dit is waarop ons ons hele lewe behoort te rig. Nooit, maar nooit op onsself nie. Ek hoop dat ons Heiland ons almal die krag en genade sal gee om dit raak te sien en dat ons almal sal poog om so te lewe.