Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 1 Januarie 2000
Persrubriek "SA moet uit die lewe van Christus leer"Jacob Zuma se godsonterende Kersboodskap
Nick Bezuidenhout lewer in BEELD van 23 Desember 1999 die volgende Kersboodskap van Jacob Zuma, wat in die lig van die motiverings van dr Chris L Jordaan (Kommunisme en die Skrif?), verwerp en teengestaan moet word.
Suid-Afrikaners moet uit die lewe van Jesus Christus leer dat hulle alles in hul vermoë moet doen om 'n wêreld te skep waar die armes seëvier en nie meer arm is nie en waar die rykes hul rykdom deel en nie meer selfsugtig is nie, het adj pres Jacob Zuma in sy Kersboodskap gesê.
In die Kersgees van gee en ontvang moet Suid-Afrikaners hulle opnuut verbind tot die verbetering van die lewensgehalte van al Suid-Afrika se mense, en veral van arm en gemarginaliseerde mense.
"Die vorming van 'n enkele, verenigde nasie vereis dat ons die groot gaping oorbrug wat tans nog die armes van die rykes skei, en wat wit van swart skei".
Die fokus moet veral wees op die beëindiging van armoede, hongersnood, onveiligheid en ongeletterdheid. Dit is die laaste Kersfees van die eeu en van die millennium, "maar dit is belangrik dat dit wat ons in die laaste honderd jaar geleer het saam met ons die nuwe era ingeneem word.
"Ons het grootliks deur lyding en stryd, geleer hoe om gierigheid en selfsug te bowe te kom. Ons het dit geleer deur die waardes van mededeelsaamheid, gelykheid en vryheid aan te hang. Ons het die noodsaaklikheid van vrede, eenheid en versoening geleer. Dit is wat ons saam met ons in die volgende eeu en na elke Kersfees daarná moet neem.
"Terwyl ons die geboorte van Jesus Christus vier, wat volgens alles wat 'n mens hoor 'n groot humanis (uit eie reg) was, moet ons leer uit sy lewe, uit die ondervinding van die mensdom in die laaste 2 000 jaar, en uit ons eie tragiese en vreugdevolle Suid-Afrikaanse belewenis. Ons moet alles in ons vermoë doen om 'n gelyke, sorgsame wêreld te skep.
"Ons moet luister en sensitief wees vir die hulpkrete van dié wat ly, vir die pleidooie om vrede deur gewone vroue en mans in nasies wat oorlog voer. Ons moet luister na die stemme van dié in onderontwikkelde nasies wat steeds ekonomies afhanklik is terwyl ander die eienaarskap van die wêreldekonomie vir hulself opeis.
"Ons begrip vir dié pyn en lyding moet gekanaliseer word in doelgerigte optrede in ons organisasies van die burgerlike samelewing, in ons sakeondernemings, in ons regeringstrukture, sodat almal saam ons land en ons wêreld 'n beter plek maak deur ons gesamentlike probleme te bowe te kom, gebonde deur ons liefde vir ons medemens."