Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 4 No 1 Januarie 2000
REDAKSIONEEL Hierdie eerste uitgawe van ons blad in die jaar van ons Here, 2000, begin met 'n verskerpte polemiek op die Skrifkritiek wat subtiel en ook openlik tot uitdrukking kom in geskrifte en propaganda wat gevoer word om dit aan niksvermoedende en goed gelowige Christene aan te bied. Skrifkritiek is soos 'n kanker wat die gesonde liggaam stilweg verwoes terwyl die pasiënt nie daarvan bewus is nie. So ver-woes die Skrifkritiek die kinderlike geloof in die heilswerk van die Drieënige God wat Hy verrig tot verheerliking van Homself en tot heil van sy kerk en die kinders wat Hy uitverkies het tot sy ewige heerlikheid.Skrifkritiek steek nou op verskeie wyses sy sataniese kop (Gen 3:15) uit om die kinders van die Here afvallig te maak van die ware geloof, soos geopenbaar in die Bybel en saamgetrek in die diverse belydenisskrifte van die kerk. Dit word gerelativeer deur die "Geloofsverklaring 2000" van die NG Kerkbode en in die bemarking van talle boeke en geskrifte wat as bybelse verklarings en kommentare dien.
Nog is het einde niet! Daar bestaan binne die verbande van die Afrikaanse (suster-) kerke 'n toenemende neiging tot sekularisasie en uitbeweeg na buite tot skade van die Gereformeerde geloof soos dit beskryf en uitgeleef is deur die voorgeslag in die voetspore van die Dordtse vaders. Die neiging tot destruktiewe vernuwing is orals tasbaar aanwesig.
Dit is die redaksionele beleid om dit, in die jaar wat voorlê, met meer klem as tevore in ons blad beskrywend aan die lesers te informeer en dit polemies te betwis. ®