Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
"Woord en Gees"

SKRIFOORDENKING:
Smag na God se teenwoordigheid Ps 42: 6 en 12

DIE NUWE PSALMBERYMING 2001 - WEGLATINGS EN AFWYKINGS VAN HEBREEUSE TEKS

FUNDAMENTALISME: Naam of Brandmerk?

CALVYN EN DIE LITURGIE

MENSEVERHOUDINGE

AKTUEEL
Verkragtings - 'n Siek gemeenskap             Kurrikulum 2005 - Kader Asmal ....

KERKLIKE JOERNAAL: 
Indrukke van die Part Sinode GKSA Noord-Transvaal. 

Vrae oor prof Fika en BDB

Ds Hennie Momberg foutief aangehaal in Geref Vroueblad

Beswaar teen deputate

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Tuisskool

Prestasies van studente van die Akademie vir CVHO

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die Afrikaanse Kerke en die oorgawe van 1994

PERSRUBRIEK: 
Lotto en dobbelary 

Loerbroer

Die toorn van God

WÊRELDFOKUS: Vernuwing met grense

TESTATEUR EN LIED BESWAAR TEEN

DR J OOSTENBRINK UIT GKSA

Kommentaar: 
Marika de Klerk
 

Die Sataniese verleidende aanslag d.m.v. die instelling van die staatlotery (LOTTO)

GESPREK MET LESERS:

MEDIESE ETIEK: 
Laat U Naam geheilig word

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 6  No 1 Januarie 2002

Aktueel

VERKRAGTING  -  DIE SWEER IN 'N SIEK GEMEENSKAP

-  RADIO PRETORIA NUUSKOMMENTAAR, DONDERDAG 8 NOVEMBER 2001  -

Die Suid-Afrikaanse gemeenskap is in die jongste tyd weer eens tot diep in sy wese geskok deur ‘n aantal van die gruwelikste verkragtings denkbaar, onder meer op babadogtertjies.

Enersyds is dit ‘n verblydende teken dat mense in ‘n land waar geweldmisdaad van elke denkbare aard hoogty vier, nog nie totaal afgestomp is nie, maar steeds geskok kan word deur geweld teen die lewe van ‘n medeskepsel.

In 1998 het die statistiek van misdaad teen kinders in Suid-Afrika soos volg gelyk –– en ons het rede om te vermoed dat dit eerder vererger as afgeneem het:

Verkragting en poging tot verkragting 19 881 voorvalle; onsedelike aanranding 3 034; moord 1 744; poging tot moord 14 486; ernstige aanranding 14 486; aanranding 18 741.

Ons weet ook dat statistiek soos hierdie nooit die volle omvang weergee nie omdat baie, dalk die meeste, gevalle van verkrag-ting en ander seksuele teistering nie aangemeld word nie want dit geskied binne gesins- en familieverband.

Misdaad teen kinders, seksuele teistering in die besonder, val in ‘n geheel eie kategorie. Dit gaan nie om finansiële gewin nie, nie om diefstal of wraak nie. En volgens kenners selfs ook nie om seksuele bevrediging nie. En moenie sê dis dierlik nie, want diere doen nie sulke dinge nie, verkrag nie hulle lammertjies en kalfies nie.

Nee, dit is ‘n manifestasie van ‘n siek gemeenskap, van duiwelse magte wat op hierdie gebied, soos op talle ander, in ons eens vreedsame en wetsgehoorsame bevolking werksaam is.

Onvermydelik kom die vraag: Watter soort gemeenskap stoot sulke opdrifsels van menselike perversiteit en geestelike verrotting op sy oewers uit?

‘n Dagblad, nogal ‘n Afrikaanse koerant, het dit ewe vroom en polities korrek ‘n nagevolg van apartheid genoem. Ons glo dis ‘n mistasting. As dit enigiets met minagting van wet en orde en verval van morele waardes te make het, moet dit liewer aan die sogenaamde struggle toegedig word.

Ons is wel oortuig dat dit ‘n aanduiding van die verval van sedelike waardes is. Godsdiensvryheid is besig om in godloosheid te verval, sogenaamde respek vir alle waardes en oortuigings is besig om tot die wegkalwing van waardes in sy geheel te lei. Daaruit word menslike wesens opgewerp wat die prooi van bygeloof, verwronge luste en die duiwel is. Hulle is die aansteeklike sweer in die liggaam van ‘n moreel vigsbesmette samelewing.

Die Christelike beskawing, wat deur ons voorvaders na hierdie land gebring is, loop gevaar om deur die magte van barbaarsheid, ongeloof, wangeloof en die verdwyning van waardes ondergeploeg te word,

Ons glo nie dit sal gebeur nie. As Christene glo ons dat God steeds in beheer is. En ons glo dit is die plig van die Boere-Afrikaner om die vaandel van Christelike geloof en waardes hoog te hou ten aanskoue van diegene wat die oplossings vir misdaad en wetteloosheid vergeefs langs ander weë soek.

 

KURRIKULUM 2005

KADER ASMAL SE PLANNE MET GODSDIENSONDERRIG IN SKOLE

BEELD berig in sy uitgawe van Woensdag 14 November 2001 (bl 6), oor die leerarea "Lewensoriëntering", soos volg:

Lewensoriëntering is een van die agt leerareas in die nuwe kurrikulum en word vir leerlinge van gr 0 tot gr 9 voorgeskryf. Van seksuele tot geloof word in dié leerarea gedek.

In die aanvangsfase (gr 0 tot gr 3) en in die intermediêre fase (gr 4 tot gr 6) word verwag dat vier leeruitkomste bereik moet word. Dit is:

dat die leerling ingeligte besluite moet neem oor persoonlike, gemeenskaps- en omgewingsgesondheid;

dat hy sy aktiewe verbintenis tot grondwetlike regte en maatskaplike verantwoordelikhede moet kan demonstreer en sensiwiteit toon teenoor diverse kulture en geloofsoortuigings;

dat hy lewensvaardighede bemeester om sy volle potensiaal te ontwikkel en doeltreffend op uitdagings in sy wêreld te reageer; en

dat hy verstaan en deelneem aan aktiwiteite wat beweging en fisiieke ontwikkeling bevorder.

Om dié uitkomste te kan bereik, word van leerlinge verwag om aan sekere evalueringstandaarde te voldoen. In die aanvangstadium van gr 1 tot gr 3 moet 'n leerling byvoorbeeld:

sy liggaamsdele kan identifiseer en aandui watter privaat is; hy moet ook ontoepaslike aanraking kan identifiseer;

minstens drie simbole identifiseer wat met geloofsoortuigings van sy gesin verbind word, asook die simbole van minstens drie ander gelowe.

basiese voorsorgmaatreëls demonstreer wanneer hy bloed of ander liggaamsvloeistowwe hanteer;

die oorsake en voorkoming van minstens twee aansteeklike siektes, insluitende MIV, kan verduidelik;

die morele waardes kan bespreek van stories uit vier Suid-Afrikaanse kulture; en

minstens drie verskillende wyses van aanbidding kan beskryf.

In die middelfase van gr 4 tot gr 6 moet leerlinge byvoorbeeld:

minstens drie verskillende kinderregte kan identifiseer en hoe om dit te gebruik;

drie verskillende soorte mishandeling kan identifiseer en kan voorstel hoe dit gehanteer kan word;

voorkomingstrategieë vir minstens twee aansteeklike en oordraagbare siektes, insluitende MIV, kan verduidelik;

twee waardes van minstens vier geloofsoortuigings in die land kan beskryf; en

die plaaslike viering van minstens een nasionale dag kan beplan en daaraan deelnem.

In die senior fase (gr 7 tot gr 9) moet leerlinge vyf uitkomste bereik. Hulle moet onder meer:

kan verduidelik hoe seksueel oordraagbare siektes , insluitende MIV, voorkom kan word in minstens drie situasies, soos geleentheidsafsprake, vaste verhoudings en verkragting;

een probleem kan identifiseer wat met geweld verband hou en minstens drie maniere kan beskryf om die gevolge te hanteer;

minstens ses gevolge van seksisme, geslagsdiskriminasie en mishandeling op persoonlike verhoudings kan bespreek;

minstenns tien waardes van vier geloofsoortuigings in die land kan identifiseer;

nasiebou in minstens twee verskillende situasies kan bespreek en verslag doen oor nasiebouprogramme; en

oor minstens drie basiese menseregte kan debatteer, soos die reg op lewe én aborsie, vryheid én mag, gelykheid én regstellende aksie.

REDAKSIONELE KOMMENTAAR:

Die bogenoemde uiteensetting bevestig die beleid van die ANC oorheerste SA Regering om 'n integrale onderwys te bevorder wat ook ons kinders gaan inskakel in die derde-wêreldse (gewelds-)kultuur en lewensomstandighede. Die Bybelse benadering van dié omstandighede waarin ons ongelukkig verkeer, word nie in ag geneem nie. Hierdie "Lewensoriëntering" word bloot met die oog op praktiese en intergeloofsbenadering aangebied.