|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 1 Januarie 2002
FUNDAMENTALISME: NAAM OF BRANDMERK?- PROF DR A TH VAN DEURSEN -
Oorspronklike artikel uit die pen van prof Van Deursen (Nederland) geneem uit De Eeuw in ons Hart: Negenentwintig opstellen over geschiedschrijving en geschiedbeleving (Franeker: Van Wijnen 1991 - pp 218-221). Vertaal en van 'n inleiding voorsien deur Slabbert Le Cornu in : Esra Verslag , Jaargang 9 nr 49, November - Desember 2001, bl 71 - 74.
Inleiding (Slabbert Le Cornu):Mnr Kader Asmal, minister van onderwys, het op 7 November 2001, uitgevaar teen wat hy noem "fundamentaliste, veral Christen-fundamentaliste", wat volgens hom, waardes soos verdraagsaamheid en respek in die hersiene onderwyskurrikulum teenstaan. ... Dit wil voorkom asof woord-etikette oftewel brandmerke soos: 'fundamentalis', 'biblisis', 'wettisis', 'nasionalis', en watter iste daar ook mag wees, 'n belangrike retoriese tegniek geword het om mee vandag in debat te gaan, om sodoende die anderkant se saak aan iets sogenaamd 'skeef of gevaarlik' te koppel, en hom dan in daardie negatiewe lig te beoordeel. Vir die onkundige of lui hoorder of leser, wie se enigste bron van kennis net die TV, koerante en die Huisgenoot is, is die koppeling wat gemaak word, dan reeds genoegsame 'bewys' om niks met daardie persoon, beweging of kerk te doen te wil hê nie. Sodoende word daar baiemaal nie eers moeite gedoen met die inhoud van argumente nie, nee, die ideologies gelaaide etiket of smeulende brandmerk verseël die saak as afgehandel: ons weet nou duidelik wie vriend of vyand is! Met die publikasie van hierdie artikel van dr Van Deursen, is dit nou nie die doel om op die verskynsel van 'fundamentalisme' of enige andere isme op sigself in te gaan nie, maar om die leser se aandag te vestig op die sofistiese retoriek wat baiemaal ingespan word met die gebruik of misbruik van sekere woorde in 'n debat. Ons stel vir dr Van Deursen (vertaald in Afrikaans) aan die woord.
Nuwe woordeNuwe woorde kom meesal ongemerk ons taal binne. Jy weet nie wanneer jy dit die eerste keer gehoor het nie, maar plotseling is dit daar, die houdings, die beelde, die trendvolgers ... . Soms is die nuwe woord nodig om iets te benoem wat vroeër nie bestaan het nie, soos die 'chip' en die 'CD'. Maar dit gebeur ook wel dat so 'n woord geen nuwe begrip in die taal invoer nie, tog alleen bedoel is om ons oordeel (siening of interpretasie - SLC) oor 'n bestaande begrip te verander. ... Dan is daar ook nuwe woorde wat juis die teendeel beoog. Dit wil sê dat die saak of die begrip waarvoor daardie woord gebruik word, iets bedenkliks is, waarmee die beskaafde Nederlander hom nie mee moet inlaat nie. So 'n woord is fundamentalisme.
Ek herinner my nog wanneer ek daardie woord die eerste keer gehoor het. Dit was in 1953, op 'n internasionale kongres van Calviniste. Die enigstes wat hierdie term gebruik het, was die Amerikaanse deelnemers, en hulle het daarmee bedoel iets wat alleen in hulle land bestaan. Hulle het dit nie baie duidelik omskryf nie. Die hoofkenmerk van fundamentaliste blyk wel te wees dat hulle nie rook nie. Hulle wys ook Skrifkritiek af, maar dit kon geen ware kenmerk wees nie, want dit doen ons almal wat op die kongres was, terwyl tog niemand van die aanwesiges hulleself fundamentaliste noem nie.
Later het ek begryp dat die rokery niks en tog weer baie daarmee te maak het. Niks, omdat dit by die fundamentaliste in die eerste plek gaan om die handhawing van die Skrifgesag: baie, omdat die Amerikaanse fundamentalisme dikwels sy krag soek in bysake wat tot hoofsake gemaak word. Daarom het die woord fundamentalisme byklanke van beperktheid, van anti- intellektualisme, van twyfelagtige regsinnigheid. Daar blyk geen rede te bestaan om hierdie term oor te neem vir Nederlandse gebruik nie. Ouer woorde soos ortodoks en gereformeerd was duidelik genoeg.
'n Ongevraagde geskenk van die wetenskap Tog het die woord ook hier in die sestiger jare opgeduik, as 'n ongevraagde geskenk van die wetenskap. Wetenskap besorg ons wel gereeld met sulke verrassings. Veral die teologie is goed daarin, en hulle dra ook baiemaal die eerste verantwoordelikheid daarvoor. In die (sinodaal) Gereformeerde Kerke in Nederland kry die teoloë nuwe opvattings oor die gesag van die Skrif. So 'n opvatting moet dan 'n naam hê, en jy het natuurlik die duidelikheid die beste deur 'n geheel nuwe naam uit te dink. Dit doen hierdie teoloë nie. Hulle bly hulself gereformeerd noem, asof daar geen verskil was met Bavinck of met Calvyn nie. Maar vir hulle wat nie van mening verander het nie, en werklik eens met Bavinck en Calvyn gebly het, voer hulle 'n nuwe naam in: hulle is nou die fundamentaliste.Dit is nie die eerste keer in die geskiedenis dat so 'n kunsgreep toegepas word nie. Ook in die agttiende eeu het 'n nuwe teologie in die kerke opgekom, en ook hulle kies 'n naam uit vir hulle wat aan die ou teologie vashou: dit was die dwepers. Dit klink heelwat onvriendeliker as fundamentaliste, en roep nog direkter die gedagte van fanatisme en bekrompenheid na vore. Maar die woorde is van dieselfde familie en het ook dieselfde bedoeling. Dit wil wys op 'n gebrek aan kwaliteit. Dit etiketteer nie net nie, maar spreek veral ook 'n veroordeling uit. Het ons dit nou nie oor so iets ernstigs nie, sou ek sê dat ons hier met 'n skeldnaam te doen het: jy noem iemand anders 'n naam wat wat hyself nie gekies het nie, om daardeur te wil aanwys wat aan hom makeer. Dit is nie te erg om met 'n skeldnaam saam te leef nie. Dit is ook seker geen skande om te staan op die Fondament nie. Die smaad van die naam is nie te swaar om te dra nie. Maar dit is ook nie ongevaarlik nie, Die geskiedenis kan ons vertel hoe dit die dwepers vergaan het. Toe dit in die Afskeiding van 1834 (in Nederland) tot 'n volslae breuk tussen die ou en die nuwe teologie gekom het, moes die dwepers nie maar net die Hervormde Kerk verlaat het nie, maar van hulle het ook die gevangenisse ingegaan. Dit is onder andere te wyte aan die etiket wat hulle gedra het. Ons moet ons nie vergis oor 1834 nie! Wat daar plaasgevind het is ongelooflik. In 'n beskaafde land, wat al eeue lank trots op sy verdraagsaamheid was, het mense gevangenis toegegaan vir so iets onskuldigs soos om godsdiensoefeninge te hou.
Onverdraagsaamheid van die "verdraagsames"Hoe kon dit nou gebeur? Dit kon, omdat mense jarelank dwepers genoem is. Alleen die woord al gee dan duidelik aan dat hulle nie deug nie. Mense wys dit af, sien dit as iets agterliks en gevaarlik. Daar was geen belangriker bewys nodig nie, die stigma was genoeg. Met die vervolging van sulke dwepers het die publieke opinie geen moeite nie. Kan ons in hierdie tyd dieselfde ten aansien van die fundamentalisme sê? Is dié se posisie vergelykbaar met dié van die dwepers aan die begin van die 19de eeu? Daar is ooreenkomste en verskille.
Die ooreenkoms is dat in beide gevalle dit die teoloë was wat die aanval geloods het. Moderne teologie is bereid om alles te verdra. Verskille tussen kerke het geen betekenis meer nie, en selfs verskille tussen godsdienste is nie meer van wesenlike belang nie. Jupiter, Wodan en Baäl is name van een en dieselfde Opperwese. Maar onverdraagsaam is die sogenaaamde fundamentalisme. Fundamentalisme, soos ek eens in 'n boek van 'n Nederlandse (sinodaal) gereformeerde predikante lees, gee 'n valse getuienis oor die Heilige Skrif, en is dus sonde teen die negende gebod. So 'n uitspraak vind ek skrikwekkend, tog is dit wel kenmerkend vir die afkeer wat die term fundamentalisme by die moderne teoloë wek. In koerante wat hierdie teologie ondersteun, word die fundamentalisme ook week vir week bestry. Die sogenaamde fundamentalisme mag daarin nie meer eers self aan die woord kom nie, behalwe in betaalde familie-advertensies.
Maar bestryding is nie die ergste nie. Dit is selfs nuttig, as dit help om die verskille duideliker aan die kaak te stel. Dit word bedenklik wanneer daar, omdat ons gearriveer het, daar nie meer sprake van bestryding is nie. Dat fundamentalisme nie deug nie, so word geredeneer, kan elkeen langsamerhand uitvind. Waar dit nou op neerkom is om die fundamentaliste op te voed. Laat my 'n kontemporêre teoloog as getuie inroep. "In 'n moderne beskawing moet ook godsdienste wat profetiese ideale verkondig, van fanatisme en fundamentalisme bewaar word", aldus Walter Goddijn in die (Nederlandse) NRC/Handelsblad van 8 Maart 1989. Goddijn praat hier van godsdienste in die meervoud, want sy woorde het ook betrekking op die Jodedom en die Islam. Hiermee kom ons dan by die groot verskil tussen die negentiende-eeuse dwepers en twintigste-eeuse fundamentaliste. Die eerste was uitsluitend 'n variasie van die Christendom, die tweede kom in alle godsdienste voor, of selfs ook in alle politieke strominge. Hierdie woordgebruik is taamlik nuut, nie ouer as die jare tagtig van hierdie eeu (die twintigste eeu) nie, maar dit het onuitroeibaar geword.
BetekenisveranderingDie woord fundamentalisme het daarmee 'n ander betekenis gekry. Dit verwys nie alleen na 'n klassiek gereformeerde Skrifbeskouing mie, maar dit het betrekking op alle moontlike godsdienstige en politieke oortuigings. Daar is protestante en Rooms-Katolieke, maar ook Isalmitiese en Marxistiese fundamentaliste. Wat hul met mekaar in gemeen het, is hul onverdraagsaamheid. Fundamentalisme is dan niks meer as 'n ander woord vir fanatisme nie. Dit is woorde wat gebruik word vir vliegtuigkapers, vir bomplanters, vir alle moontlike soorte van terrorisme; en ook vir Christene wat sê dat die Bybel die Woord van God is en wat dus sê dat ons volgens die Bybelse gebod moet lewe. Noem jy al hierdie mense fundamentaliste, dan is die beroep op God se gebod by voorbaat van sy krag ontneem. Na fundamentaliste hoef jy nie te luister nie. Sê Walter Goddijn dan nie dat alle godsdienste van fundamentalisme bewaar moet word nie? Die fundamentalis mag aan die diskussie nie meedoen nie. Dié naam het sy brandmerk geword.
Daarom is die gebruik van die woord meer as onsuiwer en onnoukeurig. Natuurlik kan so 'n woord nie deug, as dit geen onderskeid tref tussen Khomeini en (die Nederlandse reformator van die Afskeiding) Hendrik de Cock nie, en wanneer dit net so goed gebruik kan word vir Libanese terroriste en vir Nederlandse Calviniste [... en byvoorbeeld vir fariseërs en teonomiste ... vir anabaptistiese individualisme én vir gereformeerde tuisskolers ... vir wettisisme/legalisme én vir gereformeerde voorstanders van die regulerende beginsel ... vir nazi's/Israelvisie én vir gereformeerde Afrikaners ... vir Hitler én vir Totius, ensovoorts - SLC].
So 'n woord is daarom ontoereikend, dat dit om daardie rede uit die taal moet verdwyn. Word dit wel gehandhaaf, dan is dit nie ongevaarlik nie. Dan sal die gelykstelling van hierdie vorme van 'fundamentalisme' veroordeling en verwerping kragtig bevorder. Wie dit wil, moet dit maar duidelik sê, en dan liewers in onbedekte terme. Wie dit nie wil nie, moet die woord daarenteen ongebruik uitlos. 'n Naam behoort geen etiket of brandmerk te wees nie.