|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 1 Januarie 2002
'N NUWE JAAR By die aanvang van die jaar van ons Here, 2002, gaan in die eerste plek ons dank uit tot Hom wat alle dinge bestuur en beskik volgens sy wil. Dit is Hy wat tot hiertoe ons gelei het. Die afgelope jare was nie van die maklikste nie. Die staatkundige omwenteling in ons land het baie ontwrigting veroorsaak. En in die kerklike bestaan is daar sterke verdeeldheid oor prinsipiële sake, wat die eenheid van die geloof in die gedrang bring.
Ons land verkeer in 'n staat van oorlog. Die slagveld is die platteland waar boere, veral ou mense, koelbloedig vermoor word. Dit is ook in die dorpe, stede en op ons paaie waar motors gekaap en onskuldige insittendes beroof, aangerand en selfs vermoor word. Gesag, wet en orde is woorde wat slegs in woordeboeke geskryf staan maar in die praktyk nie gehandhaaf word nie. Dit wat tans in ons land gebeur is geen misdaad sonder meer nie maar dit be-tref 'n georganiseerde sisteem om die blankes te ontmoedig en te laat padgee, soos elders in Afrika reeds die geval is.
Temidde van al hierdie dinge vra die H
ERE van ons om vas te staan in die geloof en nie te wanhoop nie. Tog is daar ook van ons eie mense wat onder die terreuraanslae deurgeloop het. Dit betref ook van die lesers van ons blad. Ons spreek ons innige meegevoel uit teenoor almal, maar in die besonder hulle wat in ons kerkverbande en lewenskringe verkeer, wat van hul dierbares moes afstaan en teenoor diegene wat vermink geraak of materiële verliese gely het.Ons wens hulle in die besonder die nabyheid van ons troue Verbondsgod toe, dat Hy hulle mag vertroos in dié sorgwekkende omstandighede.
DIE KOSTEFAKTOR
Wat ons tydens die voorbereiding en versending van die November 2001 uitgawe nie kon voorsien het nie, het gebeur. Dis die Rand wat op die internasionale geldmarkte skerp getuimel het. 'n Gevolg daarvan is dat onder andere die papierpryse skerp gaan styg.
Dit beïnvloed die prys van die drukwerk wat betaal moet word. Alhoewel ons nie van plan was om die intekengeld te verhoog nie, is ons nou helaas genoodsaak om dit te doen. Dié wat reeds vir die huidige (sesde) jaargang ingeteken het, mag daarmee volstaan.
Intekenaar/lesers wat nog nie heringeteken het nie, word versoek om van nou-af R90-00 vir hierdie jaargang te betaal. Uiteraard is donasies baie welkom, want van tyd tot tyd is daar on-voorsiene onkoste, soos nou, dat die tegniese apparatuur reparasie nodig het. Baie dankie vir dié intekenaars wat ons tot nou toe ruim voorsien het van finansiële bydraes vir die voort-gang met die publikasie van ons blad.
REDAKSIONEEL
Daar is talle sake wat in ons blad aan die orde gestel word. Daar is sekere prioriteite, waaronder tans die TT Cloete-Psalmomdigting. Die redaksie van ons blad staan vas by die konkordante 1953 Bybelvertaling teenoor die dinamies-ekwivalente 1983 vertaling.
Ook skenk ons aandag aan die behoudende aksies en briewe wat ons aantref in die kerklike blaaie van die AP, NG en NH Kerke.Binne die verband van die Gereformeerde Kerke rig ons die visier op dit wat afwyk van die Gereformeerde belydenisskrifte en Kerkorde. Andersyds beskryf ons ook wat behoudend daarteenoor staan. Dit alles maak van ons blad nie net 'n beskrywende opinieblad nie, maar ook 'n voorligtende nuusblad. Dit is waarna gestrewe word om vir die lesers 'n perspektief te verskaf oor wat in die kerklike en geestelik-maatskaplike lewe van die Afrikanervolk (Boere-Afrikaners) aangaan. Die terugvoering wat ons tot dusver ontvang, is baie positief en dit blyk ook uit die groei van ons blad.
Die onderwys is vir ons 'n belangrike saak. Met die oog daarop ondersteun ons die Gereformeerde sowel as die Christelik-volkseie onderwys. Ten behoewe hiervan ontvang ons graag redaksionele bydraes vir publisering.
Op die valreep van die verskyning van hierdie uitgawe het ons verneem dat dr Johan Oostenbrink van die gemeente Bergbron (Johannesburg) sy amp en bediening beëindig binne die verband van die GKSA . Op ons versoek het hy 'n verklaring uitgereik waarin hy dit verantwoord en motiveer. Sy verklaring verskyn hierin net soos hy dit aangebied het. Ons lewer ons kommentaar hierop, DV, in die volgende uitgawe van ons blad.