|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 1 Januarie 2002
Hoofartikel
WOORD EN GEES
Nadat ons pas weer opnuut die vleeswording van die Woord, die geboorte van die ewige Seun van God herdenk het, is dit 'n gepaste geleentheid om te besin oor die verband van Woord en Gees in die omstandighede van ons daaglikse bestaan. Dit raak die strewe na die globalistiese multi-kulturele en multi-religieuse eenheid, wat in ons land van regeringskant gehuldig word. Die vraag is of Woord en Gees geskei mag word in die verstaan, oordrag en prediking van die Goddelike boodskap van verlossing van sondes, herskepping en lewensherstel soos dit deur Jesus Christus versoen en bewerkstellig is.Ons wil in die eerste plek skerp en onherroeplik onderkei tussen religies en geloofsgemeenskappe wat die God van die Bybel erken en aanbid en dié wat ander (af-) gode huldig en aanvaar. Laasgenoemdes het geen deel aan die Goddelike heerlikheid, soos dit in die Woord van die Here geopenbaar is nie. Ons rig ons visier derhalwe op die waarheid en dwalings wat in die verskeidenheid denominasies en aanbiedinge van die Christelike geloof voorgestaan, ervaar, asook verwerp en bestry moet word.
In die Geloofsbelydenis van Atanasius word die Skriftuurlike leer teenoor die dwalings van Arius in die vierde eeu nC uiteengesit. Die Arianisme loën die ewige Godheid van Jesus Christus. Dit beredeneer dat die Seun van God wel reeds daar was voordat die wêreld geskape is, maar dat Hy nie van ewigheid (soos die Vader) daar was nie.Wel was die Seun die vernaaamste skepsel van die Vader, maar die name "Seun van God" en "Logos" is feitlik ten onregte aan Hom toegeken. Gevolglik staan die Heilige Gees in die werk wat Hy verrig, los van die Seun. Met verwysing daarna beskryf die Belydenis, wat aan Atanasius toegeskryf word, in artikels 21 tot 23, die generasie van die Seun van God en die werking van die Heilige Gees: ''Die Vader is deur niemand gemaak of geskep of gegenereer nie; die Seun is deur die Vader alleen nie gemaak of geskep nie maar gegenereer; die Heilige Gees is deur die Vader en die Seun nie gemaak of geskep of gegenereer nie maar gaan van Hulle uit''. Genereer is 'n woord wat voortbring beteken. In die Christelike dogmatiek verwys dit na die personele eienskap en persoonlike relasie tussen die Vader en die Seun. Hierdie eienskap en relasie is van ewigheid, ewigdurend, sonder begin en sonder einde.
Hierdie geskil in die Christelike Kerk van die eerste eeue na Christus moet nie onderskat word nie. Dit het betekenis tot vandag toe. Die Oosterse kerke (Grieks- en Russiese Ortodokse Kerke) steun nog op die dwaling dat die Heilige Gees slegs uitgaan van die Vader en nie van die ewige Seun van God nie. Dis 'n kettery met groot gevolge. Wie die Heilige Gees losmaak van die vleesgeworde Woord, maak Hom óók los van die Skrifgeworde Woord. En dan staan die kerkdeur wawyd oop vir die mistiek, dis 'n poging om buite die geopenbaarde Woord van die Here om, in regstreekse kontak met God te kom en sy wil te verstaan. Só ontstaan daar 'n gewaande eenheid van die Gees met sogenaamde charismatiese geestelike leiers wat ''openbarings'' ontvang wat aan Goddelike inspirasie gelykgestel word. Sodoende word geestelike leiding verskaf en aanvaar wat bo die Woord van God uitgaan en ook in stryd daarmee is.
'n Ingrypende gevolg van die skeiding van Woord en Gees is die geringskatting van die prediking in die kerk. Die preekstoel word vervang met 'n podium om daarop morele praatjies te kan lewer, en die podium met 'n verhoog vir liturgiese toneelopvoerings, ensovoorts. Die liturgie word die oorheersende element, belangriker as die Woordverkondiging. Dit alles dien om die harte in 'n bepaalde staat van mistieke vroomheid en sielsverrukking of opwindende ekstase te kan bring. Voortspruitend word 'n verskeidenheid vorme van askese voorgestaan, om by te dra tot selfverlossing en om die vroomheid en sielsverrukking in 'n nog hoër mate te ervaar.
Die Rooms-Katolieke Kerk aanvaar ook 'n waarheid wat gelykstaan aan of wat bo die Woord van God uitgaan. Dit is die dogma van onfeilbaarheid wat in 1870 bindingskrag ontvang het. Dit verskaf die Roomse pous gesag om ex cathedra uitsprake te lewer waaraan dieselfde geldingskrag (of selfs meer) as die Godsopenbaring van die Heilige Skrif toegeken moet word. Dis ook 'n vorm van vergeesteliking van die mens wat waargeneem kan word. Daarbenewens is die bediening van die mis en ander sakramente vir die Rooms-Katoliekes belangriker as die prediking van die Woord. Die sakramente en die verering van die pous dien as voertuie van genade. Die ewige saligheid is daarvan afhanklik. Ook in hierdie geval is daar 'n duidelike skeiding van Woord en Gees.
Die ergste vorme van geesdrywery kom voor by die wederdopers of Anabaptiste, aanvanklik in Europa (Nederland en Duitsland, later ook in Amerika). Die Nederlandse Geloofsbelydenis beskryf in artikel 7, ''dat die Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie - ja, al was dit ook 'n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal 1:8)''.
Prof J van Bruggen sien in sy werk, Het Amen der Kerk, hierdie artikel gerig teen beide, die Roomses en die Anabaptiste. Hy skryf:
"Anabaptiste en ander fanatici het herhaaldelik God se Woord geringgeskat. Vir hulle was dit niks meer as 'n dooie letter nie. Dit is die gees wat lewend maak, het hulle gesê. Die Gees sal lei deur middel van direkte werkinge of openbaringe aan die gewete, 'n innerlike lig (lumen internum). Tot 'n mindere mate kon sulke fanaticisme ook gesien word in verskeie van die kleingroep-byeenkomste waarin die gelowiges, in tye van kerkdeformasie, gepoog het om mekaar op te bou in die geloof.
In baie gevalle is in sulke kringe groter waarde geheg aan wat verligte gelowiges te sê gehad het as aan wat die Skrif te sê gehad het. Ook in daardie kringe is die geskrifte van die antieke Godvresende skrywers hoog aangeslaan. Aan die begin van die derde deel van artikel 7 van die NGB word dit alles verwerp as 'n ontkenning van die genoegsaamheid van die Skrif''.
In Charismatiese geloofsbewegings asook in die Pinksterkerke en sektariese denominasies word nie gebind aan belydenisskrifte wat op die Skrif gefundeer is nie. Daar bestaan die gevaar wat reëel is en ervaar kan word dat daar dwalings verkondig en aanvaar word, wat óók die Gees bo die Woord verhef. Maar selfs binne die Gereformeerde Kerke (dit betref ook die NG en NH Kerke) ontwikkel die neiging om mistieke ervaring belangriker as die suiwere prediking van die Woord te beskou. Die ontwikkeling van selgroepe wat dien om ingebeelde geestelike verryking te ervaar is een van die voorbeelde wat genoem kan word. Die neiging om spiritualiteit, los van die Woordopenbaring, in semi-kerklike byeenkomste te beoefen is nóg een daarvan. Laat ons tog asseblief vashou aan die Gereformeerde belydenis van die absolute gesag van God se Woord teenoor vroomheidsneigings en valse verwagtinge.
Die saak waarop dit aankom, is of ons geloofsgemeenskap het en kan beoefen met diegene, buite en binne Gereformeerde kerkverband(e), wat die Heilige Gees losmaak van die ewige Seun van God in die bediening van die Woord wat vlees geword het?! Is daar 'n ekumeniese band met alles en almal, sowel persone as al die sektes en valse denominasies wat hulle ten onregte die naam kerk toeëien? (NGB, art 29) Glo ons nog aan die isolement ter wille van die waarheid van God se onbetwyfelbare Woord?