|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 1 Januarie 2002
KERKLIKE JOERNAALINDRUKKE VAN DIE PARTIKULIERE SINODE - GKSA - NOORD-TRANSVAAL, 20 EN 21 NOVEMBER 2001 - DS HLJ MOMBERG - PRETORIA-DIE KANDELAAR - Op 20 en 21 November het die Partikuliere Sinode Noord Transvaal vir die laaste keer vergader in die formaat soos dit vir baie jare vergader het. Hierna sal die kerke noord van Pretoria in hulle eie Noordelike Partikuliere Sinode vergader, en in Pretoria self is vier klassisse georganiseer wat as die Partikuliere Sinode Pretoria sal vergader. By so n laaste vergadering voel mens om introspeksie te hou oor die sake wat daar gedien het en die wyse waarop besluite geneem is.(Ook gepubliseer in Waarheid en Dwaling, Nov/Des 2001 - Red PvdK)Die Moderamen was Voorsitter: Dr Douw Breedt, Ondervoorsitter, Ds Sarel Cilliers, Skriba ds Lourens Aucamp en hulpskriba dr Klasie Heystek. Hierdie broeders het hulle op uitnemende wyse van hulle taak gekwyt. Bespreking en besluitneming kon onder hulle leiding op die punt af wees sodat die vergadering voortdurend op skedule was.
Twee broeders het hulleself vir eksaminering deur die Part Sinode aangemeld om beroepbaar gestel te word. Die eksaminering wat veral gepoog het om die gereformeerde oortuiging van die broeders te toets, toegepas in die verskillende teologiese vakke, en geïntegreer in die bedieningspraktyk, het n aangename en positiewe afloop gehad. Aan die einde met die groeteboodskap van die teologiese skool, kon ook met dankbaarheid vermeld word van die deeglike gereformeerde begrondheid waarin die broeders by die teologiese skool gevorm word. Broeders Jaco Kruger en Wilhelm Leuschner is met vrymoedigheid beroepbaar gestel.
Die Sinode moes verneem van die kerklike en bedieningsomstandighede in Zimbabwe. Ons is dankbaar vir die bediening wat onder moeilike omstandighede steeds daar voortgaan. Besluite is op so n wyse geneem dat die selfstandigheid van die kerke in Zimbabwe steeds erken word, veral ook oor die bestuur van hulle bates. Proponent Stephen Ndirande is vir die verdere termyn van n jaar beroepbaar gestel. Die hoop bly steeds dat die Here hom daar in Zimbabwe mag onderskraag terwyl hy vir n beroep wag.
Dan het die vergadering kennis geneem van die kosbare werk wat dr. Ed Gross van die Orthodox Presbyterian Church (OPC), Amerika, suid van Pretoria verrig. Hy is n spesialis in die praktyk van kerkplanting. Hy is tans behulpsaam om n multi-kulturele Gereformeerde gemeente suid van Pretoria te stig. Een van sy studente sal ook by die teologiese skool en later by die Partikuliere Sinode Pretoria vir eksaminering en beroepbaarstelling aanmeld. Ons band van hartlike geloofsgemeenskap met die OPC was so sterk dat ons die gereformeerde gees vryelik uit die woorde kon adem wat dr Gross tot die vergadering gerig het. "We wish you well" was die kort en kragtige dankwoord wat ds Petrus van Neuwenhuizen namens die vergadering tot die broeder en sy kollega gerig het.
Betreffende die gebruik van kelkies naas die gebruik van die gesamentlike drinkbeker by die Nagmaal, was daar twee appélle wat gedien het teen die Klassis Noordelike Pretoria. Wat die behandeling van hierdie appèlle so betekenisvol maak, is die feit dat die Sinode gedwing was om die besluit van die Nasionale Sinode 2000 oor die gebruike by die nagmaal te interpreteer voordat uitspraak gegee kon word. Die Nasionale Sinode het naamlik n prinsipiële raamwerk daargestel vir die prominensie van die gemeenskaplike drinkbeker en het daarby die eis gestel dat wanneer kerke hiervan afwyk hulle hulleself uit die Skrif moet verantwoord. Die interpretasie het naamlik daarby ingekom dat die Sinode wel die moontlikheid voorsien het dat Kerke sou kon afwyk van die gemeenskaplike drinkbeker(s), maar dan die voorwaarde gestel dat hulle hulleself uit die skrif daaroor moet verantwoord - moet hulle die wyse waarop hulle afwyk (kelkies of strooitjies of wat ookal) uit die Skrif verantwoord, of moet hulle in terme van die beginsels van die noodetiek hulle oor die gewigtige redes waarom hulle afwyk, verantwoord? Die Sinode het kennis geneem dat dit nie moontlik is om enige afwykings van die gemeenskaplike drinkbeker uit die Skrif te kan bewys nie, en dat in die geval die sinodebesluit onuitvoerbaar en daarom de jure nie regsgeldig kan wees nie. Om tog enigsins aan die sinodebesluit uitvoering te kan gee is gekies vir die laaste interpretasie-moontlikheid, dat die gewigtige redes waarom afgewyk word, deur die kerk (bedoel kerkraad) uit die Skrif verantwoord moet word. En binne hierdie betekenisraam het die Partikuliere Sinode die appèlle laat slaag aangesien nòg die kerke wat in die geval afgewyk het, nòg die Klassis wat appèlle hier teen behandel het, die noodsaaklikheid van n selfstandige kerklike verantwoording uit die Skrif as uitvoering van die Sinodebesluit nodig geag het nie. Die betekenis van hierdie besluit is veelseggend in die sin dat kerke weereens daardeur opgeskerp word om hulle aan sinodebesluite te hou op die voorwaardes daarvan soos in artikel 31 van die kerkorde en die openlike verklaring dit verwoord.Dan is daar verskeie deputategroepe wat groot hoeveelhede werk ten dienste van die gemeentes verrig. Ons dink veral aan die deputate vir Christelike Onderwys en die deputate Jeugsorg. Daar word oorwoë die besondere nut van hierdie deputategroepe erken en waardeer. Beoordeling en samewerking met verskillende privaat inisiatiewe om die onderwys in die bane van die Skrif te stuur. Andersyds word toerustingskampe en ontspanningsgeleenthede vir ons jeug gereël van dat hulle uit die kleuterskool na die laerskool gaan totdat hulle uit die universiteite uitgaan. Steng kerkregtelik gesproke kan hierdie kosbare deputatewerk die effek hê dat plaaslike gemeentes nie meer hulle verantwoordelikheid op wie hierdie dinge eintlik eerste tuishoort, nakom nie, en dat ons onafwendbaar afstuur op n kerkegemeenskap met kolleges en sinodale strukture met swaargelaaide sinodale besture om ons kerkwees te reël.
Die kuratorerapport en die groeteboodskap vanaf die teologiese skool was ook vir ons kerke betekenisryk. Prof JJJ (Fika) van Rensburg het die Sinode as adviseur namens die TSP bygewoon en het ook die groeteboodskap oorgedra. Daar is in die groeteboodskap verduidelik dat daar in die komende jare waarskynlik n tekort aan teologiese studente en predikante vir ons kerke gaan ontstaan, en die kerke is opgeroep om broeders vir die studies te identifiseer en te stuur. Daar is melding gemaak van die jongste struktuur van die akademiese baan en die verskillende grade wat studente in die teologie kan verwerf. Verder is opnuut beklemtoon dat die teologiese skool eerste die skool van en vir die kerke wil wees. Daarom is met ontsteltenis kennis geneem daarvan dat die kuratorium nie sy weg oopgesien het om die oproep van die senaaat van die universiteit op te volg om n broeder vir die dosering van Semitiese tale te beroep nie. Die gevolg hiervan is dat die Universiteit self iemand wat aan sy vereistes voldoen sal aanstel. Die vergadering het ook n besluit geneem om die kuratorium dringend te versoek om sy besluit in heroorweging te neem.
Die rapport van die kuratore het die vergadering verbly. Die kuratore is met n indringende plan besig om hulle toesighouding oor doseerwerk, die leer en lewe van studente en personeel te verskerp. Daar is ook op die vele korrespondensiestukke van die kerkrade ingegaan en waar nodig toepaslik opgetree. Daar was egter die dringende versoek gerig dat wanneer kerke korrespondensiestukke aan die kuratore voorlê wat klagtes bevat, die kerke versoek word om die nodige substansie aan daardie klagtes te verleen deur feitemateriaal saam te gee wat die klagtes staaf. So kan die kuratore in hulle taak gehelp word om hulle taak waardig te verrig.
By die laaste vergadering waar die kerke van die destydse Noord Transvaal in n Partikuliere Sinode byeen was, kon ons met dankbaarheid terugkyk na jare van geseënde saamwerk om die taak van die voortdurende reformasie van die kerke te bedien. Volgende jaar sal dieselfde kerke in twee afsonderlike partikuliere sinodes vergader. Mag die Here ons steeds die nodige gawes van wysheid en insig gee om terwyl ons die Woord reg sny, sy kerke wat ook ons dierbare kerke is in die eenheid van die ware geloof, diens en tug te bedien. Aan Hom kom die eer toe.
(Ook gepubliseer in Waarheid en Dwaling, Nov/Des 2001 - Red PvdK)