|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 1 Januarie 2002
KOMMENTAARFOKUS OP MOORDE . . . . MARIKE DE KLERK
Die wrede vermoording van mev Marike de Klerk, voormalige vrou van mnr FW de Klerk, is ongetwyfeld as 'n skok ook deur die lesers van ons blad verneem. Ewenwel het ons met leedwese maar ook met gemengde gevoelens kennis daarvan geneem. Die voorheen in die Gereformeerde Kerke gerespekteerde familie het, ten aansien van hulle leer en lewe, wrange vrugte opgelewer waarmee hulle openbare opspraak verwek het en wat in kerklike verband tugwaardig is. Hierdie Nuuskommentaar van Radio Pretoria vertolk op 'n bepaalde wyse die gevoelens van ons redaksie.- RADIO PRETORIA SE NUUSKOMMENTAAR, DINSDAG 11 DESEMBER 2001 -
As Suid-Afrika dit die dag regkry om die internasionale media te haal, is dit meesal in negatiewe verband. Die moord op mev Marike de Klerk was in daardie opsig geen uitsondering nie. Die wêreld het deeglik kennis geneem van hierdie walglike daad, en verskeie internasionale koerante het die voorval gebruik om by herhaling te wys op die gevaarlike land waarin ons woon. Dat dit n uitwerking op ons ekonomiese vertroue en toerisme gaan hê, hoef nie betwyfel te word nie.Of n mens met iemand saamstem of nie, en of iemand, soos wyle mev De Klerk haar nou vir die nuwe ANC-bedeling beywer het of nie: moord kan eenvoudig nie goedgepraat word nie, en Radio Pretoria het ook met afsku kennis geneem van die moord op n sagte teiken.
Omdat mev De Klerk in haar lewe n hoë openbare profiel gehandhaaf het, trek haar moord ook meer openbare aandag. Ongelukkig is sy egter deel van n hele lang lys van moorde wat eenvoudig toegeneem het sedert 1994, en wat al hoe meer lyk na n rassistiese veldtog teen die witman.
n Mens kan verstaan dat by n grudaad soos dié, emosies hoog kan loop, en dat naasbestaandes bepaalde uitsprake kan maak. Ongelukkig is dit nodig om sekere sake met die nodige nugterheid in perspektief te stel.
Wyle mev De Klerk se voormalige man, wat haar vir n ander vrou verlaat het, het ná die moord verklaar dat hy hoop dat die wêreld kennis neem van die hoë misdaadvlakke in die land, en dat hy hoop dat dit nou die mense kan mobiliseer om hulle misnoeë met die misdaad in die land te betoon.
Dit is ironies dat juis mnr FW de Klerk so n uitspraak moet maak. n Mens sou tog van n ervare politikus kon verwag het om die gevolge van sy beleid en dade te voorsien. Hy moes daaraan gedink het dat die land in n misdaadnes omskep kan word as tronkdeure oopgemaak word om talle veroordeelde terroriste vry te laat. Daardie terroriste het lank gelede al sagte teikens aangeval, deur motorbomme in die land se stede en deur die plant van landmyne op plaaspaaie waar moeders hulle kinders skool toe en terug moet vervoer. Wat nog erger is, is die feit dat daardie terroriste vóór hulle vrylating, en selfs tydens die onderhandelings met FW de Klerk en sy gemagtigdes, nooit geweld afgesweer het nie. Die ANC het as organisasie geweier om hom van geweld te distansieer, en het n "struggle"-beweging gebly en so selfs die verkiesing ingegaan.
Dit was ook die De Klerk-regering wat ingegee het voor die terroriste se druk om n moratorium op die doodstraf te plaas, n stap wat dit vir die ANC-opvolgers moontlik gemaak het om die doodstraf finaal af te skaf. En uiteindelik gooi hy handdoek in vir sy eie politieke Frankenstein wat hy help skep het, bedank uit die regering van sogenaamde nasionale eenheid, en reis die wêreld vol saam met sy nuwe vrou én n lyfwag, nogal na die Nobelprys verjaardag, terwyl daar van vrede in sy eie land niks te sien is nie!
Mnr De Klerk moet nie nou vingers wys na die stelsel nie. Hy het daardie stelsel help skep. Inderwaarheid moet hy die volle verantwoordelikheid vir mev De Klerk se dood aanvaar.