|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 1 Januarie 2002
KOMMENTAARDIE SATANIESE VERLEIDENDE AANSLAG DEUR MIDDEL VAN DIE INSTELLING VAN DIE STAATSLOTERY (LOTTO)
Ses miljoen neem elke week aan lotery deel
'n Berig in BEELD (21 November 2001) vermeld die ontstellende getal van deelname aan die staatslotery en syfers van geld wat daaraan bestee word. Daarby kan sonder twyfel aanvaar word dat die grootste aantal deelnemers aan die klas behoort wat dit die minste kan bekostig.Volgens dié berig het die staatslotery in die eerste volle boekjaar van sy bestaan tot die einde van Maart laasjaar sowat R2 709 miljard se kaartjies verkoop. Daarvan is R1 328 miljard aan wenners uitbetaal en R418.3 miljoen na die trustfonds vir welsyn-uitbetalings oorgedra.
Uit die jaarverslag van die staats-loteryraad wat in die parlement ter tafel gelê is, blyk dit ook dat gemiddeld ses miljoen Suid-Afrikaners elke week loterykaartjies koop, met R105 miljoen die hoogste verkope tot nog toe in 'n week.
Daar was in die afgelope boekjaar 3 308 miljoen wenners wat pryse van R15 tot etlike miljoene ontvang het.
Uit die jaarverslag van die nasionale dobbelraad, wat terselfdertyd in die parlement gedien het, blyk dit dat daar op 31 Maart 2001 ook 24 casino's in die land in bedryf was. Daar is voorsiening gemaak vir die toekenning van 40 casino-lisensies. Altesame R11.7 miljard is in nuwe casino's in Suid-Afrika belê nadat die eerste lisensies ingevolge die nuwe bedeling toegeken is.
Die lokstem van die geluksgodin is vir baie te verleidelik om dit te kan weerstaan. En Satan lag vir hierdie slag!