Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
"Woord en Gees"

SKRIFOORDENKING:
Smag na God se teenwoordigheid Ps 42: 6 en 12

DIE NUWE PSALMBERYMING 2001 - WEGLATINGS EN AFWYKINGS VAN HEBREEUSE TEKS

FUNDAMENTALISME: Naam of Brandmerk?

CALVYN EN DIE LITURGIE

MENSEVERHOUDINGE

AKTUEEL
Verkragtings - 'n Siek gemeenskap             Kurrikulum 2005 - Kader Asmal ....

KERKLIKE JOERNAAL: 
Indrukke van die Part Sinode GKSA Noord-Transvaal. 

Vrae oor prof Fika en BDB

Ds Hennie Momberg foutief aangehaal in Geref Vroueblad

Beswaar teen deputate

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Tuisskool

Prestasies van studente van die Akademie vir CVHO

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die Afrikaanse Kerke en die oorgawe van 1994

PERSRUBRIEK: 
Lotto en dobbelary 

Loerbroer

Die toorn van God

WÊRELDFOKUS: Vernuwing met grense

TESTATEUR EN LIED BESWAAR TEEN

DR J OOSTENBRINK UIT GKSA

Kommentaar: 
Marika de Klerk
 

Die Sataniese verleidende aanslag d.m.v. die instelling van die staatlotery (LOTTO)

GESPREK MET LESERS:

MEDIESE ETIEK: 
Laat U Naam geheilig word

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 6  No 1 Januarie 2002

MEDIESE ETIEK

DIE EERSTE BEDE TYDENS SIEKTE EN GENESING:

LAAT U NAAM GEHEILIG WORD

-  DR MC DURAND  -

‘n Siekte mag groot lyding meebring. ‘n Siekte mag die lewe van die pasiënt ernstig bedreig. Die siekte bring bekommernis by die pasiënt. Die pyn van die wonde dryf die slaap weg. Die ernstige siekte mag die sorge van die wêreld vermeerder.
Die siekte mag ‘n versoeking wees. Die versoeking is dat die pasiënt sy aandag eerstens op homself mag rig: Sý liggaam, sý siekte, sý lyding, sý pyn, sý gesondheid word die fokus van sy gedagtes. Sy smagtinge, sy versoeke aan die arts en sy familie is gerig op een saak, en dit is: Neem die pyn en die ellende van my weg. Maar hoe staan dit in die gebed? Waarop gaan die versoeke van die pasiënt gerig wees wanneer hy in die gebed tot God nader? Die Here Jesus Christus leer die gelowige pasiënt waarop sy versoeke, ook tydens lyding, gerig moet wees. Die Here leer ons hoe om te vra en waarop ons gedagtes, woorde en handeling gerig moet wees in die eerste bede, naamlik: Laat u Naam geheilig word.

Ons moet sy heilige Naam eerstens soek.

Die Here leer sy gelowiges dat die gebed eerstens oor die heilige Naam van die Vader gaan. God wil hê dat ons hele lewe: gedagtes, woorde en handel slegs op die heiligheid van sy Naam gerig sal wees. Ons bede is dat ons hele lewe so mag wees dat die Naam van God nie om ons ontwil nie gelaster word nie, maar geëer en geprys sal word (vergelyk Ps 71:8). Die gelowige sal daarom tydens sy siekte, sy lewenseinde of tydens genesing sy gedagtes nie eerstens rig op homself, die arts, die artseny, die siekte of die genesing nie, maar hy sal die gedagtes eerstens rig op God se heilige Naam. Alles wat in die pasiënt se gedagtes gebeur behoort oorheers te wees deur die heerlikheid van God. Alles wat die pasient doen: in sy woorde tot God of tot sy medemense, en in al sy handelinge moet hy lof toebring aan die heerlikheid van God.

Daarom sal die gelowige pasiënt met mening na die Naam van God soek. Maar niemand kan God ken, indien dit nie aan hom deur God in sy Woord en deur die werking van die Heilige Gees geopenbaar word nie (vgl Matt 16:17). Die gelowige pasiënt word deur hierdie bede ook opgeroep tot die bestudering van die Woord van God, en daarom behels hierdie gebed ook die bede om wysheid. God sal wysheid gee aan die wat dit van vra en Hom aanbid.

Ons moet leer wat die Naam van God is.

Die Naam van God dui op God self - die allerheiligste. Sy heilige Naam dui op sy heilige kenmerke: Sy almag, alwysheid, alomteenwoordigheid, barmhartigheid, getrouheid, goedheid, regverdigheid en genade. Dit is sy heerlikheid. En sy heerlikheid vervul die hele aarde (vgl Jes 6:3). Die Here maak sy heerlikheid nie net kenbaar in sy Woord aan die pasiënt nie. Die Here maak sy heerlikheid aan die pasiënt ook kenbaar in sy werke aan hom: die siekte, die lewenseinde as dit sy wil is, sowel as die genesing. In hierdie werke laat God sy almag, wysheid, goedheid, getrouheid en regverdigheid aan die gelowige pasiënt deur genade skyn (vgl Jer 9:24). Die Here gebruik ook die lyding van die siekbed en die sterfbed om sy kinders na Hom te bring. God bring sy dwalende gelowige terug na sy Woord om dit te leer en te onderhou (Psalm 119: 71: Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer.). God verlos sy gelowige kinders van alle versoekinge in hierdie wêreld deur die afster-wing. God onderhou en bewaar sy gelowige kinders deur die verloop van die siekte en Hy rig hulle weer op om terug te keer tot ‘n taak wat hulle nog eers moet voltooi.

Die Naam van God egter is ook jaloers (Eks 34:14). Hy duld geen ander god voor sy aangesig nie. Die pasiënt mag derhalwe nie sy siekte eerstens toeskryf aan omstandighede en dinge vanuit die skepping nie. Die pasiënt mag derhalwe nie sy genesing eerstens toeskryf aan die arts en die artseny nie. Die pasiënt sal sy siekte sowel as die genesing eerstens aan God toeskryf. Die eer moet aan die Skepper gegee word en nie aan die skepsel nie.

Ons moet sy Naam heilig.

God se Naam word geheilig wanneer ons aan Hom en daarmee saam ook aan sy kenmerke dink, soos Hy dit ons in sy Woord beveel het. Dit beteken dat ons al ons kennis, gebede, woorde en handeling sal rig op die doel wat God daarmee het. God se Naam word geheilig wanneer ons die siekte en die verloop van die siekte (die verergering, die heengaan, sowel as die genesing) erken en huldig as die werke van sy hande, en sy heerlikheid daarin sal sien skitter. God se Naam word geheilig wanneer ons hierdie erkenning uitleef deur ons woorde, handelinge en die reinheid van ons lewe. God se Naam word geheilig wanneer die gelowige antwoord op God se roep na bekering. Wanneer hy hom laat waarsku met die aanskouing van God se toorn. Wanneer die gelowige erken dat die sonde van die mens die rede was dat God die dood toegelaat het, asook deur die erkenning dat die genesing hom tot verdere arbeid tot die verheerliking van sy Naam oproep.

Die Naam van God sal geheilig word wanneer die getroue Vader die dood oor sy gelowige bring, dat die gelowige die dood as sulks uit sy Vader se hand neem. Die gelowige sal nie paniekbevange en verbitterd daaroor wees nie. Die gelowige sal weet dat om by die Here te wees is verreweg die beste. Hy sal uitsien na die ewige feesmaal van die Here. Hy sal nederig besef dat nie almal uitgenooi is na die ewige feesmaal nie.

 

 

God laat sy Naam geheilig word.

Daarom sal die gelowige pasiënt God om insig en krag smeek sodat hy die Naam van God reg kan ken in sy Woord en in sy skepping. Die gelowige sal God smeek om hom ook die krag te gee om Hom reg lief te hê, en deur die woorde (gebed, lied, gesprekke met medepasiënte en die geneesheer) en dade die Naam van God sal heilig. Want nie in die genesing nie, maar in die kennis van God, om Hom by sy Naam te roep, is daar troos - naamlik om te weet dat Hy sy kinders se ongeregtigheid vergewe en nie meer aan hul sondes meer sal dink nie (Jer 31:33-34). Want nie in die genesing nie, maar in die verlossing van ons skuld is die gelowiges se hoogste vreugde (Joh 17:3). Die gelowige pasiënt word deur die eerste bede geroep tot die heiliging van God se Naam ook by die siekbed sodat sy heilige Naam nie deur sy woorde en handel gelaster sal word nie, maar verhoog sal word.