|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 1 Januarie 2002
MENSEVERHOUDINGE
- DR AP TREURNICHT - 1975 - CREDO VAN 'N AFRIKANER -
Menseverhoudinge is 'n modewoord. Almal praat oor menseverhoudinge, sinvol en ook nie altyd sinvol nie. Maar sinvol of nie, die saak waarom dit gaan is aktueel en sal in toenemende mate aktueel word. Enige gedagte aan 'n enkele mens, sonder verband met 'n medemens, is eintlik 'n abstraksie. sinvolle menswees is alleen moontlik in medemenslikheid. Om waarlik mens te wees, moet jy vir iemand 'n medemens wees. Jy is mens in die verhouding tot 'n medemens, al is dit ook so dat jy mens is in jou verhoudinge tot die stoflike wêreld, die diereryk en in éérste instansie, tot God.Wat sy verhouding tot God betref, is die mens skepsel, beelddraer, dienaar van God en beklee met 'n roeping voor God. En terwyl die mens deur sy sonde van God vervreem is en in 'n wanverhouding teenoor sowel God as sy medemens en die natuur te staan gekom het, moet hy verlos word, in sy verlore funksie herstel word en moet sy wanverhoudinge teenoor die natuur, sy medemens en God weer reggestel word.
Hy word daardeur nie net 'n nederige dienskneg van God nie, maar hy oefen weer die regte heerskappy oor die natuurlike dinge uit, hy word weer 'n ware medemens vir ander mense, en wel met 'n priesterlike hart en opregte naasteliefde. Die suiwerste menseverhouding berus op aanvaarding van die medemens as beelddraer van God en medegeroepene van God, of ook mede-begenadigde deur Hom. Dit is die diepste grond vir sy menswaardigheid. Sy menswaardigheid bestaan nie nét dáárin dat hy 'n mens náás ander mense is nie, maar veral daarin dat hy mens voor God en mens van God is. Hy lewe in die dimensie van die Ewige. Hy staan in die ek-U-verhouding teenoor God.
Daarmee word tegelyk sy geringheid én sy grootheid aangedui. Gering, omdat hy 'n afhanklike skepsel is, maar groot, omdat hy beelddraer van God is. Teen hierdie agtergrond kry die gebod: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself, diepe sin. My naaste is nie net 'n natuurlike mede-afstammeling uit die eerste mensepaar nie, maar is deur God - uit wie alle dinge is - tot my medemens gemaak. En dit is waar die humanistiese siening van menseverhoudinge te kort skiet.
Die Christen dink nie aan die verskil tussen mense in terme van minder- of meerderwaardigheid nie. Hy aanvaar die gelykwaardigheid van mense as sondaars voor God. Die een het nie 'n aanspraak by God bó die ander nie. Jood én Griek, slaaf én vryman, man én vrou word sonder onderskeid in die ryk van Christus opgeneem.
Teen hierdie agtergrond is dit duidelik waarom sekere gesindhede eenvoudig voor-die hand-liggend is in ideale menseverhoudinge. onbeleefdheid en disrespek het nie plek in gesonde menseverhoudinge nie. Ook nie haat en veragting of selfs onverskilligheid oor die welsyn van ander nie. Die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan en die optrede van Christus sê vir ons dat hulpvaardigheid betoon moet word óór die kulturele, volks- en rassegrense heen.
Jy vra nie eers tot watter volk of ras 'n persoon behoort voordat jy welwillendheid, vriendelikheid, respek en hulp of bedagsaamheid aan so 'n persoon bewys nie. Jou gesindheid van vrede en goeie wil is nie gereserveer vir dié wat jou goedgesind is nie. Jou liefde gaan nie net na die beminlikes, aanvalliges en die gesiene mense uit nie. Deernis is nie net vir hulle wat die naaste aan jou staan nie. Verantwoordelikheid vir die welsyn van ander is nie beperk tot jou huisgenote of volksgenote nie. Die troos en seëninge van die evangelie is nie net vir een volk, jóú volk, bestem nie, maar vir alle nasies.
Selfbeheersing in woord en daad is nie net gebiedend vir jou meerderes of hulle van wie jy afhanklik is nie, maar voor almal - ook teenoor dié wat aan ons ondergesik is en dié wie se aard, gewoontes en optrede vreemd en irriterend is. En dit geld eweneens van sagmoedigheid, lankmoedigheid, goedheid, getrouheid. Wie dié vrug van die Gees van Christus deelagtig is, straal dit uit, ongeag die voorwerp wat daardeur bestraal word.
Spesifiek toegepas op Suid-Afrika met sy rasse-, volks- en kleurverskille, moet ons dit aan weerskante van die kleurgrens sê: Dis sonde wanneer daar haat, veragting, minagting of afsku in jou hart, in jou oë, in jou woorde en dade teenoor mense van 'n ander volk, ras of kleur is.
Andersom gestel: Verhoudinge tussen mense van verskillende rasse, kleure, tale of etniese groepe kan net verbeter wanneer hulle doodgewone ordentlikheid, wedersydse respek, bedagsaamheid, hoflikheid en hulpvaardigheid teenoor mekaar bewys. Dit het nog niemand se waardigheid aangetas wanneer hy iemand anders - ook van 'n ander ras - beleef en korrek aangespreek het nie. Dit is eenvoudig so dat sekere aanspreekvorms en benaminge van voorheen, uitgedien en kwetsend vir sekere groepe mense in ons land geword het. Ons kan nie daarmee voortgaan as ons agting en welwillendheid verwag nie.
Dit is in ons eie belang, afgesien van ons Christelike plig, om toe te sien dat ons eie mense korrek optree in hul verhouding teenoor lede van ander volksgroepe. Dit het niks te make met humanistiese verbroedering, uitwissing van grense of integrasie wanneer doodgewone ordentlikheid en beleefdheid oor die rasse en volksgrense heen betoon word nie.
Maar laat my dit pertinent stel: Beskeidenheid en vriendelikheid is nie net vir die blanke óf die nie-blanke plig nie. Sommige van my mense dink blykbaar dat diens, onderdanigheid en respek van die kant van nie-blankes vanselfsprekend is - 'n soort reg waarop ons aanspraak maak. Maar dan kom dit my óók voor asof andere wil beweer dat dit net my mense of die blankes is wat andere beledig of hul menswaardigheid misken!
Ons is bereid om ons eie mense aan te spreek, maar ons is nie bereid om by hulle 'n verkeerde skuldgevoel en 'n kruiperigheid te sugggereer nie, asof ons andere altyd net kwaad aangedoen het! Dit bevorder hoegenaamd nie goeie menseverhoudinge in Suid-Afrika wanneer alle regte of voorregte vir sommige of net vir bepaalde groepe opgeëis word nie. Maar ewe min word goeie menseverhoudinge bevorder wanneer die eis om te bieg eensydig aan die blankes gestel word.
Ons moet voorts daarop wys dat dit 'n óórvereenvoudiging en misleidend is om net van menseverhoudinge te praat. Dit kan die indruk wek dat dit bloot gaan om die verhouding tussen enkelinge, en asof die groepering van mense in groepe, volke en kultuurgemeenskappe, nie net toevallig is nie, maar ook sondig en teen die eis van Christelike eenheid. Hierby moet ons stilstaan om op verskeie basiese feite in verband met die menslike samelewing te let.
1. Die hele geskape werklikheid is 'n eenheid en vind sy eenheid in die Skepper ("Uit Hom, deur Hom en tot Hom is alle dinge" - Rom 11: 33).
2. Daar is verskeidenheid en veelvormigheid binne die skeppingseenheid. Daar is sterre, planete, aardgeweste, streke, mere, seë, mense, diere, insekte, visse, ensovoorts.
3. Die menslike geslag is één. Uit één bloed het God al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon (Hand 17: 26).
4. Daar is ook verskeidenheid binne die menslike geslag. Die verskeidenheid en die verspreiding van die mensdom het tot groter verskille en afbakening gelei. Daarbenewens het die mens se sonde die geskeidenheid en verskille vererger met haat, stryd en wrywing.
5. Die oorwinning van die sondige gesindhede van mense deur die versoening en Gees van Christus beëindig nie die natuurlike verskille en vernietig nie die onderskeidende identiteit van groepe, volke en rasse nie. Daar is eenvoudig 'n meervoudigheid van volkere, elk met 'n eie samehorigheidsgevoel, 'n gevoel van andersheid en identiteit. Die mens is nêrens 'n afgesonderde enkeling nie, maar oral lid van 'n groep, stam of volk.
Dr Abraham Kuyper sê in hierdie verband: "Aan die internasionale neiging na gemeenskap met die hele menslike geslag mag die nasionale karakter nooit ten offer gebring word nie". Hy praat voorts, na aanleiding van Handelinge 17: 26, van die "land als complement van het volk", en daarmee moet die staatsleer rekening hou. Een van die Nederlandse Evangeliese Gesange lui dan ook:
"Gij hebt, o Albestierend Koning, de plaats bestemd voor ieders woning, de kring waarin hij werken zal."
Die Sinode van die Kaapse NG Kerk het hom by geleentheid soos volg uitgelaat: "Uit Deuteronomium 32: 8 . . . blyk dat die lotgevalle van volke nie buite die wil en ingryping van God om gestaan het nie: by geleentheid het Hy aan elkeen sy eie gebied toegewys, en ons mag aanneem dat hierdie proses in die voorsienige bestel van God die gang van die geskiedenis tot by sy einde toe begelei."
En so het die Gereformeerde Kerk ook daarop gewys dat gebiedskeiding tussen volkere een van die wesenlike faktore is om ongewenste vermen- ging en die bedreiging van die volks-bestaan teë te werk.
Die rede waarom ek die aandag hierop vestig, is dat menseverhoudinge soms só voorgestel word as sou daar geen grense en ook geen greintjie eksklusiwiteit ten opsigte van verskillende volkere bestaan of mag bestaan nie, aangesien die Christelike versoening alle nasies en volkere één gemaak het. Só 'n voorstelling berus nie op suiwer Bybelse grond nie.
Hierbenewens bevestig enige studie van kulture en volkere die volgende: Jy kan nie 'n gemeenskap, 'n volk of kultuurgroep, geheel en al oopgooi en dan nog verwag dat hy met eie identiteit kan voortbestaan nie.
Weaver sê: "Die gedagte dat 'n gemeenskap polities of kultureel absoluut 'oop' kan wees, is onhoudbaar. . . . Tensy 'n kultuur sy reg op sy eie keuses, sy eie insluitings en uitsluitings kan handhaaf, hou dit op om te bestaan."
Juis daarom kon C Smeenk in sy werk Christelijk Sociale Beginselen dit sê: "Alle beskawing wortel in die afsonderlike volksbestaan en elke volk moet sy nasionale kultuur tot ontwikkeling bring. Juis daardeur word die mensheid as geheel verryk.
Die volksindividualiteit moet in die geskiedenis sy roeping vir die mensheid vervul. Daarvoor moet dit kragtig ontwikkel en suiwer van karakter gehou word."
Ons moet hierdie dinge weer opnuut sê omdat daar sedert die Tweede Wêreldoorlog 'n wêreldwye reaksie teen nasionalisme was. Daar is meer van menseverhoudinge en menseregte gepraat as van volkereverhoudinge en volkereregte, om nie te sê van volkerepligte nie.
Juis omdat daar sekere flagrante voorbeelde van rassisme en moorde was, is die gelykheid van alle mense en die aanvaarbaarheid van alle enkelinge in alle situasies aan almal opgedwing. Maar sekere feite is misgekyk:
Die één mensdom bestaan uit 'n veelheid gemeenskappe - volkere. 'n Volk se wortels is 'n eie, deurleefde geskiedenis. So 'n volk het 'n eie kulturele identiteit en eenheidsgevoel. 'n Volk wil hom onderskei van ander volkere en een van sy ideale is vrye selfbeskikking. Sy eenheidsgevoel impliseer 'n soort afgrensing teenoor onaanvaarbare elemente, maar ook onderlinge verantwoordelikheid.
Wat ek hierdeur wil sê, is dat as ons van menseverhoudinge praat, dit nie net op die verhouding en gesindheid van een enkeling teenoor 'n ander enkeling dui nie. Dit óók, en daarop het ek aan die begin gewys.
Maar die enkele mens lewe in die binnekring van sy gesin wat intiemer aan hom verbind is as ander mense; die binnekring van sy taal- en kultuurgemeenskap waarbinne hy sy eie kultuurstempel ontvang; die binnekring van 'n eie volk wie se hartklop hy aanvoel, wie se verlede sy verlede is, wie se prestasies vir hom kosbaar is, wie se taal uitdrukking aan sy gedagtes en emosies gee, wie se stryd sy stryd en wie se voortbestaan vir hom groot erns is.
Ander feite ten opsigte van men-severhoudinge wat dikwels misgekyk word, is enersyds die dinge wat ons óór die volks-, kleur- en rassegrense met mekaar gemeen het; andersyds ook verskille en verdelingsfaktore soos ras, etniese groepering, nasionalistiese strewe, volksedes, godsdiens ensovoorts. Voeg by laasgenoemde verskille die feit dat mense wat so verskil nie aan mekaar opgedwing wil wees nie, dat die een nie deur die ander oorheers wil wees nie, dat waar sodanige oorheersing be-staan, dit nie permanent deur enige selfrespekterende volk geduld word nie.
Voorbeelde hiervan, ook in die moderne wêreld van krimpende afstande en groter kontak, dialoog en détente, is volop. Ek verwys na die spanning tussen negers en blankes in die VSA; Frans- en Engelssprekendes in Kanada; Britte en anders-rassiges in Brittanje; Vlaminge en Wale in België; Grieke en Turke op Ciprus; Jode en Arabiere; Ugandese en Asiate; Indiërs en Pakistani's; swart en wit in Zimbabwe, Mosambiek en Angola, ensovoorts.
Wie oor menseverhoudinge in Suid-Afrika praat asof ons één nasie van 25 miljoen mense is of tot een nasie gemaak moet word, is algeheel uit voeling met die werklikheid. So 'n persoon besef nie dat só 'n eenheid alleen bereik sou kon word oor die dooie liggaam van hele volkere heen nie. En een van daardie volkere is die Afrikanervolk. Net so min as wat Spanjaarde, Italiane, Duitsers, Engelse, ensovoorts - tot één volk versmelt of deur revolusie gekook kan word, kan die volkere in Suid-Afrika - Afrikaners, Zoeloes, Kôsas, Boesmans, Kleurlinge, Engelssprekendes, ensovoorts - tot een Suid-Afrikaanse volk versmelt of gekook word nie.
Klem op menseverhoudinge in Suid-Afrika moet dus nie tot oogmerk hê om die Afrikaner minder van 'n Afrikaner, of die Zoeloe minder van 'n Zoeloe te maak nie; ook nie om elke vorm van kleur-, ras- of volksbewussyn te besweer asof dit wedersydse respek, hulpverlening of samewerking onmoontlik maak nie.
Laat ons dit maar duidelik sê: Kleur of ras bepaal nie iemand se waarde as mens nie. Die lede van 'n ander kleurgroep, ras of taalgroep kan voortrefliker Christelike en sedelike deugde hê as die lede van jou eie groep. Maar kleur-, rasse- en taalverskille is natuurlike verskille onder mense en dit bring natuurlike groeperinge mee, wat weer besondere verbintenisse, voorkeure en lojaliteite meebring. Ignoreer hierdie verskille en jy skep onsekerheid, spanning, wrywing en baie ongelukkigheid, soos oral in die wêreld te sien is.
Dis dus verkeerd en 'n misken-ning van die werklikheid om te beweer dat die Afrikaner se siening van volkereverhoudinge of menseverhoudinge faktore soos ras en kleur uitsluit.
Laat my verder só vra: Indien jy glo, soos prof G van Leeuw sê, Dat God vir daardie eienaardige indiwidue wat ons volke noem, 'n taak het; indien jy glo dat jy as identifiseerbare volk moet voortbestaan om jou spesifieke roeping te vervul, is dit reg om jou volk se onderskeidende kenmerke, sy eenheidsgevoel, sy nasionalisme, sy identiteit, te verwaarloos?
Eén volk kan nie die aard, temperament, gevoel, kultuur of taal van alle volke beliggaam nie, en almal kan ook nie tot één sodanige volk versmelt word nie. Soos Zimmerli dit stel: "Dit is 'n verryking van die wêreld dat elke volk en elke geslag sy eie aard het."
Juis dáárom - omdat ek glo dat God die verskillende volke positief gewil het, dat Hy dus ook die Afrikanervolk se bestaan en roepingsvervulling gewil het - dáárom is ek onbeskaamd Afrikaner! Daarom sien ek die vermaning tot beter menseverhoudinge aan die adres van my volk nie as 'n vermaning om te verslap in die ywer tot handhawing van identiteit, of om die grense neer te haal, om die Ontugwet of die Wet op Gemengde Huwelike te herroep, of groepsgebiede of tuislande af te skaf nie.
Ek kan nie anders as om 'n ongekwalifiseerde openheid teen te staan as iets gevaarliks nie. Wie gooi sy taal oop vir die instroming van alle vreemde woorde? Wie stel sy huislike kring oop vir gelyke aansprake van enige persoon van buite? Watter land gooi sy poorte oop vir enige immigrant? Wie wil ons skole opgooi vir alle rasse- en volksgroepe sonder onderskeid of skeiding? Kan 'n volk sy kultuurorganisasies oopgooi om deur vreemdelinge oorheers te word en nog sy kultuuridentiteit behou? Kan 'n gemeenskap sy woonbuurt oopgooi vir groot getalle nie-assimileerbare mense en nog 'n gelukkige gemeenskap en buurt vir sy inwoners wees? Kan 'n boer sy plaas deur ander laat beset en nog sy vryheid uitlewe en sy plaas se potensiaal self ontgin?
Wat ek hierdeur wil aantoon, is dat binne die breë raamwerk van gesonde menseverhoudinge daar intiemer binnekringverhoudinge van mense in hul gesin, breër familie, volk, ras, taalgemeenskap, kerk, ensovoorts bestaan.
Slotgedeelte DV in die volgende uitgawe.
LW Hierdie artikel uit die pen van dr AP Treurnicht is gepubliseer in 1975