|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 1 Januarie 2002
OPVOEDING EN ONDERWYSTUISSKOOL
OORGENEEM UIT KONTEKS, NOVEMBER 2001 - RUBRIEK "OP DIE KERKPLEIN", GESKRYF DEUR "PARANIMF"
Suid-Afrika is met sy staatskole op dieselfde pad as Amerika. Humanisme is die nuwe geloof en alle skoolleerplanne word daaruit afgelei. Skole dien dan as proselietmakers vir die nuwe geloof waar die lewende God nie erken word nie, promeskue seks beoefen word, aborsie bevorder word, situasie-moraliteit gepropageer word, etiek relatiwisties geag word en so meer. Dwelmhandel en dwelmmisbruik word skolekultuur, moord onder leerlinge en onderwysers, selfmoord en allerlei misdaad vier hoogty. Doodsopvoeding, seksvoorligting, multikulturalisme, dwelmopvoeding, transendentale meditasie, Oosterse godsdienste en New Age, psigoterapie, evolusionisme en so meer is die leergebiede in Amerikaanse skole.Ouers wat kerkmense is, se kinders word in sulke skole onderrig, terwyl die ouers die beste opvoeders van die kinders is. Dit is 'n Godgegewe taak, die Woord vereis dit van ons, die genadeverbond verplig ons daartoe. Privaatskole, publieke skole en ander inrigtings kan as bykomende hulp vir die ouers as verlengstuk van die tuisonderrig dien. Dan moet dit die etos van die huis weerspieêl.
Dimensies in opvoeding
Die mens as geestelike wese beoefen die ontwikkeling van drie dimensies in die opvoeding van sy kinders. Die oppervlakkige dimensie is die beroepsopleiding wat eers in gevorderde stadium van onderwys van toepassing is. Dit het vroeër ook in die ouerhuis plaasgevind en seuns en dogters het gewoonlik in die voetstappe van huille ouers gevolg. Was die pa 'n skoenmaker, word die seun ook 'n skoenmaker.
Vandag is daar baie universiteite, opleidingskolleges, institute en so meer om te help met die opleiding. Hoe vroeër beroepsonderwys die oorheersende leergang word, hoe vlakker word die menswees. Dan word die mens al meer 'n tegnokraat, 'n masjien of 'n werkesel. So 'n mens is weinig méér as 'n stuk intelligente materie of denkende dier.
Die tweede of dieper dimensie van opvoeding is die kulturele dimensie. Dat die kind 'n eie taal by sy ouers aanleer, 'n spesifieke gesinsetos, gemeenskaps- en volkstradisie aanleer, gee identiteit en diepte aan die nuwe menslike wese. Ankers van die beroepsdimensie lê wel ook in hierdie dieper dimensie, maar die kulturele dimensie is veel meer as 'n mens se lewenstog. Dit is jou lewenswyse.
Wil ons as Afrikaners regtig ons lewenswyse so aanpas in die nuwe Suid-Afrika? Wil ons die oranje van die reënboognasie uitmeng met die ander kleure dat dit nie meer bestaan nie? Wil ons oor vyftig jaar kleurblind wees? Dit is 'n verarming en daarby 'n gebrek.
Die derde of diepste dimensie in die opvoeding is die godsdienstige dimensie. Hoe dieper die opvoedkundige dimensies gaan, hoe nader bly dit die taak van die ouers. Die beroepsdimensie van die opvoeding en onderwys vorm die onderbou van die mens se lewensonderhoud; die kulturele dimensie is die onderbou van die menswyse; die gosdienstige is die onderbou van die menswese.
Tyd vir beplanning
Terwyl ons dankbaar is vir elke onderwyser, ouer en kind wat in die skole van ons land nog bogenoemde drie dimensies op die oog het, kom 'n dringende vraag al hoe meer by ons op: Het dit vir Afrikaner-Christene nie meer as tyd geword om oor tuisonderrig te besin nie?
Die sogenaamde Uitkomsgebaseerde Onderwys, soos geïnstalleer in ons staatskoolopset gaan psigo-terapeutiese heroriënteringsinrigtings word om die Christendom met humanisme en die Afrikanervolk met 'n mensnasie te vervang. Privaatskole is redelik aan die gang met koördinerende liggame, adviesliggame en ander fasiliteite. Maar soos dikwels onder die Afrikaner het ons daar onnodige inherente konflikte en skeurings. Waar ons hierdie skole goed kan uitbou en handhaaf as verlengstukke van ons ouerlike opvoedings- en onderwystaak, doen dit met alle mag! Doen dit gou! Al moet sulke skole ook op ons kerkpleine kom staan.
Tog moet ons aan die een kant ons ouerlike taak in die lig van die Bybel ten opsigte van onderwys en opvoeding ondersoek en die realisering van tuisonderrig navors.
Tuisonderrigkollege
Moet daar nie 'n tuisonderrigkollege (TOK) gestig word waar die noodsaak van tuisonderrig op Bybelse grondslag, kulturele vlak en die beroepseise nagevors kan word nie? Die gebruik van hulpmiddels soos boekevoorsiening, rekenaarhulp kan vanuit TOK geïnisieer word. Touwysleiding per korrespondensie en/of tydelike kort kursusse by TOK kan ouers koers gee en in hulle volharding bystaan. Algenene organisasie en dissipline, leergange en so meer kan vanuit die kollege geloods word. So 'n kollege kan 'n verwysingsliggaam in die algemeen wees, 'n adviesbron en 'n evalueringsinstrument.
Niks wat die moeite werd is, is sonder moeite nie! Is ons kinders en kleinkinders se geloof, kultuur en toekoms dit nie werd nie/ Hulle tok aan ons deur!