|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 1 Januarie 2002
SKRIFOORDENKING
SMAG NA GOD SE TEENWOORDIGHEID - DS HLJ MOMBERG - PRETORIA-DIE KANDELAAR -Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom nog loof - die verlossing van sy aangesig!Struikrowers het die Koragiet oorval terwyl hy besig was om na die fees in Jerusalem op te trek. En terwyl hulle hom aanval, spot hulle met hom: Waar is jou God nou! Hulle los hom vir dood daar by die Hermongebergtes. En wanneer hy dan tog uit sy beswyming bykom en dit vir hom voel asof al God se golwe oor hom heengegaan het, dring dit tot hom deur dat die res van die skare al in Jerusalem aangekom het en voor die aangesig van die HERE verskyn.Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof - die verlossing van my aangesig en my God! (Psalm 42: 6 en 12)
Dit ontlok by hom hierdie skreeuende dors van 'n wildsbok, 'n takbok, na water in die barre woestynwê-reld, 'n dors nie na water nie, maar na die lafenis van die heerlike aangesig van die HERE.
Dit is die konkrete belewenis, die geloofsfeit, die merkteken van die uitverkiesing, die toetssteen van die ware geloof, die vrug van die Heilige Gees wat op so 'n lewensgetroue manier in Psalm 42 aan die orde is. Die gelowige smag na die geseënde teenwoordigheid van God.
Wat is die betekenis om voor die aangesig van die HERE te lewe en na Hom te smag?
Watter bedreiginge is daar wat ons verhinder om voor die geseën-de aangesig vandie HERE te lewe?
Watter geloofsdissipline hand-haaf die gelowige in versmagting na die geseënde aangesig van die HERE?
Watter berusting verkry die smagtende gelowige voor die geseënde aangesig van die HERE?
1. Die betekenis
Die HERE het aan Moses op die berg Sinaï 'n baie besondere opdrag gegee waar Moses vir veertig dae en veertig nagte op die berg was. In hierdie tyd het hy 'n visionêre perspektief van die heerlikheid van God en van sy heilige troongewelf gekry. En die HERE het hom die vrymoedigheid gegee om tot sy genadetroon in die hemele te kan nader en op die regte tyd gehelp te word.
Dit is ons hoogste blydskap dat daardie geseënde teenwoordigheid van God wat ons by die sondeval ontval het, weer terug is. Gaan vertroos my volk, sê aan hulle: Hier is julle God (Jes 40).
Hierdie gedagte is ook 'n baie radikale toets vir ons geloof. Vra uself die vraag af: Wat kom soek u dan hier waar ons saamkom in 'n erediens? Jong kindertjies vra dit ook baie keer: Mamma, wat gaan ons doen daar by die kerk? Dit moet ons aangryp en ons bring tot 'n belydenis: Ons gaan op om saam met die volk voor die aangesig van die HERE te verskyn.
2. Bedreigings
Nou gebeur dit dat 'n mens verhinder word om saam met die kerkvolk voor die aangesig van die HERE te verskyn. Dit is wat met die Koragiet van Psalm 42 gebeur het. Hy is as 't ware deur die toedoen van spottende aanvallers, meedoënlose deurboorders, van die aangesig van de HERE afgekeer.
As ons die pleitende en dorsende gelowige so hoor, dan is dit as 't ware asof ons die Here Jesus aan die kruis hoor pleit. Hy is immers die Een by uitnemendheid wat die skares na die huis van die HERE voortgelei het. Hy was by uitnemdheid die Een vir wie dit waar geword het dat sy spotters Hom deurboor het en Hom geslaan en met spotvrae gevra het: ''Waar is jou God! As jy die Seun van God is, verlos dan jouself''. Kyk tog, Hy roep Elia. Kom ons wag en kyk of Elia Hom gaan kom help. En Hy is weggestoot, weg van die gesëende aangesig van die HERE af. In volle omvang het Jesus gesmaak wat God bedoel het met die vervloeking van die mens wat in sonde geval het.
Maar Hy het dit om ons ontwil gesmaak. Hy is deur God verlaat sodat ons nooit meer deur God verlaat sou word nie. Wanneer die Koragiet dan soos 'n uitgespoelde drenkeling langs die walle van die strome van die Hermongebergte lê en pyn aan die wonde van sy teëstanders, of as Job op die ashoop in ontreddering sit, gestroop van alles wat aangenaam kan wees, of selfs as Daniël saam met al die gelowiges daar ver in Babilon sit, terwyl die tempel van God se teenwoordigheid verbreek en verbrand is - dan voel dit vir hulle wel asof God weg is, en dit voel vir hulle asof God sy geseënde aangesig onttrek het. Intussen is hierdie dinge God se loutering en toetse. Hy wil raaksien en ons word daardeur getroos as ons agterkom watter gewaarwordinge ons beleef as ons so ontredderd van die feesvierende menigte afgekeer word.
Sommige mense dink hulle is oulik. Hulle het 'n goeie verskoning, want hulle moet dan na hierdie of daardie plek heen reis op Sondae. Hulle moet dan glo familie gaan besoek, want daar is nie ander beskik-bare dae nie. Hulle moet kontrakte nakom, ook as dit op Sondae van hulle vereis word, anders verloor hulle die kontrakte. Hulle moet dan gaan werk, want die baas het sy vingers geklap. Of hulle mag dan maar wegbreek, want daar is geen ander tyd nie.
Daar is so baie verskonings omdat dit nie hulle brandende en hoogste prioriteit is nie. Dit is nie hulle hoogste blydskap in die lewe om saam met die skare op te trek en voor die aangesig van God te verskyn nie.
Hierdie Psalm lê meteens die toetssteen van die uitverkiesing aan. Want dié wat uitverkies is, word deur God so bewerk dat hulle 'n brandende begeerte het en die hoogste prioriteit gee aan hierdie heerlike voorreg om in te gaan in die voorhowe van die HERE en voor sy aangesig te verskyn.
Indien die gelowige reeds op pad is na die huis van die HERE, reeds in voorbereiding om die aangesig van God te ontmoet, en hy word verhinder - dan is daar nie blydskap nie. Dan is daar geen verligting nie. ook is daar geen verskoning nie. Nee, daar is dors na die lewende God, 'n diepe en innige spyt, 'n pleitrede, 'n dorstige versugting. O my siel, ek stort my siel uit binne in my. Wanneer sal ek tog ingaan en God se aangesig aanskou?!
3. Geloofsdissipline
Maar dit beteken dat die gelowige bepaald gedissiplineerd is. So leer ons die sanger-Koragiet ken wat optrek na die huis van die HERE. Hy was gewoond daaraan om die feesvierende menigte na die voorhowe van die HERE te lei. Dit is ook wat Hy bewerkstellig in gelowige harte. Hy laat hulle nie aan hulself oor om maar te doen wat goed is in hul eie oë nie. Hy leer hulle nie om allerlei nuwe verskonings uit te dink waarom hulle sy aangesig maar mag verpas nie.
Nee, dis die duiwel wat hierdie verskonings in ons koppe plant. Die HERE leer ons liefde en ywer vir sy huis. Sy Gees maak ons harte brandende. Dan kom in ons gebedsversugtinge gedurig die bede en verlange om saam met die kerkvolk voor sy aangesig te verskyn. En sy Woord leer ons om getrou te wees.
Ons lees in hierdie Psalm die gelowige se eie en persoonlike verlange na God, maar ook sy versugting om saam met die gemeente voor God te kom. Dis belangrik wat ons hier leer, dat die gelowige nie hom of haar afsonder en dink hulle kan die HERE maar elkeen op sy eie manier, afgesonder van mekaar en as eenlinge, bly dien nie.
Die sanger-Koragiet luister in sy hart, en sy hart resoneer op die klank van die feesvierende menigte. Ons kom saam voor die aangesig van die HERE.
Een van die belangrike redes waarom ons so met verlange na die huis van die HERE optrek en waarom ons so diep ontroerd is as ons daarin verhinder word, is ons visie en perspektief op die ewige lewe. Want saam met Johannes op Patmos sien ons klaar reeds 'n menigte van mense, tienduisende van tienduisende, ontelbaar, wat voor die troon van God en die Lam verskyn. Dan weet ons dat dit wat ons hier nou reeds in die kleine ervaar, maar 'n voorsmakie is van die ewige luister van die ontelbare skare wat die nuwe lied gaan toesing aan die Lam van God.
Dit is meteens juis die punt. Waarom verlang so baie mense om eendag in die heerlike teenwoordigheid van God op 'n nuwe aarde te lewe as hulle so dikwels op hierdie aarde geen oomblik skroom om te kerm as hulle vir 'n enkele uur of twee voor die aangesig van die HERE kom verkeer nie?
4. Berusting
Laat ons dan die troosboodskap van hierdie Psalm hoor vir dié wat soos 'n hert dors na die aangesig van die lewende God. Dit kom veral uit in die herhaling van die refrein in die verse 6 en 12. Die gelowige tree in berading met homself. Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my. Hoop op God, want ek sal Hom nog sien, die verlossing van sy aangesig.
Om op God te hoop, is geen hopelose hoop nie. Ons prestasies is baie keer hopelose prestasies. Ons gesondheid is dikwels 'n hopelose gesondheid. Maar die hoop op God is selfs vaster en lewend, veel meer nog as die verwagting van 'n swanger vrou. Daar sit lewende substansie in waaraan geboorte gegee moet word. Dit is gewis en seker. Dit sal gebeur.
Hoop op God is geen leë hoop nie. Dis 'n vaste hoop. Deur die opstanding van Christus uit die dood het ons 'n nuwe en lewende hoop ontvang. Daarom kan die gelowige getroos wees, en die persoon wat honger en dors na die geregtigheid van God, mag die saligspreking hoor, dat hulle dors geles sal word en dat hulle honger gestil sal word.
Dié wat dors na die aangesig van die lewende God, en net hulle, mag die troosryke versugting uitspreek: God sal oornag sy guns gebied, ja ek lofsing in die nag want ek bly die HEER verwag. My gebed sal opwaarts strewe, na die bronwel van my lewe. Hoop op Hom, want ek sal Hom nog prys, die verlossing van sy aangesig.