|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 1 Januarie 2002
SKRIFOORDENKING
Die gereformeerde beginsels vir PsalmberymingDIE NUWE PSALMBERYMING 2001
Weglatings en afwykings van die Hebreeuse teks
- PROF V.E. D'ASSONVILLE -
Die navorser-teoloog H Hasper het in twee kolossale boek-dele van ongeveer 1000 bladsye elk, die beginsels vir Psalmsang in die Gereformeerde kerke tot in die fynste besonderhede beskryf. Dit is sy Calvijns Beginsel voor de Zang in de Erediens (deel 1, 1955; deel 2, 1976; uitgegee in 's Gravenhage). Dié beginsels is onder andere die volgende:
die beryming moet volledig vanuit die Hebreeuse grondteks gedoen word (Hasper, 1 : 482);
die koroliet (kunseffek) van die Bybelse beelde en segswyse moet behou word (Hasper 2 : 61);
die melodieë moet waardig (nie wêrelds nie) vir die erediens wees (Hasper 1 : 481-482).
In 'n suiwer Psalmberyming gaan dit oor ons belydenis van die Skrifgesag (NGB, art 5).
Die belangrike grondbeginsel, omdat dit om die suiwerheid van die Woord gaan (volledig vanuit die Hebreeuse grondteks), het die nuwe Psalmberyming 2001 gefaal. Dit word hieronder uit die Skrif bewys. Ook van die ander beginsels soos byvoorbeeld die bewaring van die Bybelse beelde en segswyses, plek- en persoonsname, is nie nagekom nie.
Die NB (Nuwe Beryming) volg 'n nuwe beginsel
In Die Kerkblad van 23 Mei 2001 het Phia van Helden, 'n pleitbesorger van die Nuwe Beryming, dit soos volg gestel: Dit is "nie nodig om altyd al die items wat 'n Psalm in die Bybel inhou, in die omdigting op te noem nie. Deur versigtige woordkeuse kan minder woorde steeds die inhoud van die Psalm Skrifgetrou weergee".
"Items" van die Bybel word weggelaat. Sover klink dit vaag, maar by die toets van elke Psalm aan die Hebreeuse teks blyk dit dat dit nie slegs 'items' is nie, maar ook groot gedeeltes van die psalms self. Ook baie kernwaarhede soos byvoorbeeld die name van God, die wet, die verbond, verwysings na Christus, die Hebreeuse begrippe vir geregtigheid, goedertierenheid, God se wraak (byvoorbeeld die tweede beryming van Psalm 139) en nog meer, is uitgelaat.
Algemene weglatings
Dit is onmoontlik om in één artikel al die weglatings aan te toon en ons volstaan met enkele voorbeelde onder baie ander om te wys hoe ingrypend dele van die psalms weggesny is:
In Psalm 31 van die NB is 20 van die 25 verse gedeeltelik of heeltemal weggelaat en nie berym nie - ongeveer die helfte van die psalm. Hierdie verse is 4, 6, 8, 13, 14, 15, 17, 18, 21, 22, 23 en 25. Let wel: Vers 6 wat weggelaat is, bevat die laaste kruiswoord van Jesus Christus.
In Psalm 37 van die NB is 20 van die 40 verse gedeeltelik of heeltemal weggelaat en nie berym nie - ongeveer die helfte van die psalm. Hierdie verse is 6, 7, 10, 11, 12, 17, 19, 21, 22, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 34, 35, 36, 38 en 39. Let wel: Die kernbelofte aan die gelowiges dat hulle die aarde sal besit wat vyfkeer herhaal word (verse 9, 11, 22, 29 en 34) en wat ook Jesus se saligspreking in Mattheus 5 : 5 is, is heeltemal weggelaat.
Hierdie weglatings uit die Hebreeuse teks is deurgaans in die NB 'n algemene verskynsel. Lesers wat nie die psalms aan die oorspronklike kan toets nie, kan dit met 'n goeie vertaling van die Bybel wat die Hebreeuse teks korrek vertolk, vergelyk.
Weglatings en verkeerde gebruik van God se name
In die Hebreeuse grondteks van die Psalms vind ons drie eiename vir God: Jahwe (HERE), Adonai (Here) en Elohim (GOD).
Jahwe (HERE): Hierdie naam gee die boodskap van verlossing uit genade (Eks 3 : 14). Dit is die HERE wat getrou bly aan sy verbond. Vir die Nuwe Testamentiese gelowige beteken hierdie naam ook die Vader van ons Here Jesus Christus (B Holwerda: Om Uwentwil getroost, Goes, 1955, pp 7-8).
Adonai (Here): In die Oosterse wêreld (Palestina) was hierdie naam die allerhoogste titel. Hy is die almagtige heerser oor alles.
El of Elohim (God): In hierdie naam word die soewereine God geopenbaar, die alleenheerser, die ewige gebieder, die hoogste regter.
Hierdie drie name van God word nie in die NB onderskei nie, maar willekeurig gebruik.Ons kan nooit agterkom wanneer die digter Jahwe of Adonai gebruik nie. Ander Psalmberymings (ook die nuwes - Nederlands 1973; Engels 1972) maak 'n duidelike onderskeid soos volg:
Nederlandse bundels: "HERE" vir Jahwe; "Here" vir Adonai; "God" vir Elohim.
1937 Afrikaanse Psalmboek: Dieselfde soos in Nederlands.
Engelse berymings: "LORD" vir Jahwe; "Lord" vir Adonai; "God" vir Elohim.
Dit is duidelik dat die NB hierin nie die Hebreeuse teks gevolg het nie, anders sou hy nie die name van God enersyds so maklik weggelaat en andersyds so verkeerd gebruik het nie. Kyk na die volgende steekproewe:
Psalm 5: In die oorspronklike teks kom die naam Jahwe (HERE) vyf keer voor en Elohim (God) drie keer.
Die NB gebruik die naam Jahwe slegs twee keer. Die naam Elohim (God) gebruik hy net een keer en dan boonop verkeerd, buite die verband van die teks. Hier, volgens die inhoud, moes hy juis die naam Jahwe gebruik het.
Psalm 6: In die oorspronklike Hebreeus kom die naam Jahwe (HERE) ses keer voor en Elohim (God) driekeer. Die NB gebruik dit slegs twee keer. Maar die NB gaan nog verder in sy afwyking van die oorspronklike teks: Elohim (God) wat glad nie in Psalm 6 staan nie, word nou twee keer hier ingevoeg.
Psalm 8: Hier is een van die duidelikste voorbeelde dat die NB geesins tussen die name Jahwe (HERE, die God van die verbond) en Adonai (Here, die Alleenheerser) onderskei nie. In verse 1 en 10 word hierdie name elke keer in die oorspronklike teks na mekaar genoem: "HERE, ons Here ...". In die NB word een van die name (ons weet nie watter een nie) in beide berymings (Cloete en Spies) weggelaat. Let wel: In die oorspronklike Hebreeus kom die naam Elohim nêrens in Psalm 8 voor nie. Die berymer Spies voeg dit sommer drie keer, op haar eie, van buite af in - 'n growwe afwyking van die Bybelteks.
Psalm 9: In hierdie psalm volgens die Hebreeus, word die naam Jahwe (HERE) nege keer gebruik. Die NB het sewe van hierdie name weggelaat. Wat nog erger is: Die NB voeg drie keer die naam Elohim (God) in die psalm in - name wat nie in die oorspronklike teks voorkom nie.Hier is dus só 'n willekeurige gebruik van Godsname wat duidelik bewys dat die NB nie die Hebreeuse Bybel gevolg het nie.
Psalm 11: In hierdie kort psalm word die naam Jahwe (HERE) vier keer in die Hebreeus gebruik. Die NB laat twee van hierdie name weg en voeg twee ander name (Elohim - God) wat nie in die teks staan nie op sy eie in. Weer eens 'n groot minagting van die oorspronklike Bybelteks.
Hierdie buitengewone weglatings en wysigings van God se name in in die oorspronklike Hebreeuse teks, kom deurgaans in die hele bundel van die NB voor. Dit word 'n onbegonne taak om al die 150 psalms se afwykings in hierdie verband in een artikel weer te gee. 'n Sprekende voorbeeld van hierdie algemene tendens van weglatings en afwykings van die grondteks vind ons in Antje Krog se Psalm 16.
In Psalm 16 word God se name ses keer in die oorspronklike Hebreeus genoem: vier keer Jahwe (HERE), een keer Elohim (God) en een keer Adonai (Here). In die hele psalm gebruik die digter slegs drie keer die naam Here, willekeurig sonder enige onderskeiding.
Weglatings van die HERE se "tora" (=wet)
Die NB begin dadelik by Psalm 1 om die wet van die Here wat twee keer genoem word, uit te skakel. Die ironie is dat die wet volgens gesaghebbende Skrifverklaarders die sentrale plek in Psalm 1 inneem omdat dit twee keer genoem word (vgl NH Ridderbos, De Psalmen, deel 1, JH Kok, Kampen, 1962, p 73).
Die HERE se tora (wet) is ook deur die NB in die volgende psalms weggelaat: Psalm 19 : 8 (Antje Krog se beryming), Psalms 40 : 9, 78 :10, 89 : 31, 94 : 12 en 105 : 45. Van Psalm 119 waar die tora (wet) 24 voorkom, het die NB 11 daarvan weggelaat.
Weglatings van die HERE se 'beriet" (verbond)
Hier kom ons by een van die grootste kernwaarhede in die Heilige Skrif en die Gereformeerde Belydenis: Die HERE se verbond met sy volk Israel (die kerk van die Ou Testament) en ons (die kerk van die Nuwe Testament). Dit beskryf die aangrypende verhouding van die HERE met sy kinders. Die verbond is die HERE se waarborg van sy beloftes in Jesus Christus en vertel ook van die eis van gehoorsaamheid (vgl die Gereformeerde Doopsformulier). Die apostel Paulus noem die verbond in Galasiërs 3 :15 die HERE se testament wat "niemand kan vernietig of daaraan kan toevoeg nie". Daarvan juig en jubel ons in die psalms wat ons elke keer in die kerk sing.
Maar wat maak ons met 'n Psalmberyming wat dikwels die verbond verswyg en die oorspronklike waarhede van die verbond weglaat? Die NB het die Hebreeuse woord beriet (verbond) in die volgende psalms nie berym nie:
Psalm 25 :10 (die eerste keer waar dit in die psalms genoem word), Psalm 55 : 21, Psalm 74 : 20, Psalm 78 :10 (opvallend dat ook die wet hier weggelaat is, juis waar verbond en wet saam genoem word), Psalms 89 : 4, 132 : 2.
Maar met verwysing na die verbond wat dikwels weggelaat word, is hier nog 'n dieperliggende probleem met die NB: Belangrike verbondswoorde (-terme) word deurgaans uit al die psalms in die NB weggelaat. Dit gebeur met die woorde geregtigheid, goedertierenheid en barmhartigheid, sleutelwoorde in Hebreeus.
Geregtigheid vertel van God se verlossende genade.
Goedertierenheid vertel dat God altyd die saak van sy verbondskind sal opneem.
Barmhartigheid is God se medelye met sy verbondskind in nood.
Hierdie woorde vorm ook 'n integrale deel van die Gereformeerde Belydenis en ons geloofslewe. Die NB het egter verkies om hierdie duidelike woorde op sy eie weg te laat of met andersseggende begrippe te vervang.
Weglating van die profesieë oor Christus
1. Reeds in Psalm 2 het die NB vers 7 wat na Jesus Christus verwys, weggelaat. Behalwe die oorspronklike Hebreeuse teks van dié psalm, is die ander Bybeltekste wat Psalm 2 aanhaal, nooit geraadpleeg nie. Vers 7 van die psalm is 'n direkte verwysing na Jesus Christus en dit word drie keer in die Nuwe Testament aangehaal en op Hom toegepas:
Handelinge 13 : 33: ''...soos ook in die tweede psalm geskrywe is: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer''.
Hebreërs 1 : 5: ''Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer?''
Hebreërs 5 : 5: ''...U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer''.
Vers 7 van Psalm 2 wat só duidelik deur die Nuwe Testament op drie plekke op Jesus Christus toegepas word, is heeltemal deur die NB weggelaat!
2. Psalm 8 : 3 (Spies se beryming): Die Hebreeuse woord vir suigelinge is weggelaat. Christus se toepassing van hierdie vers in Matt 21 : 16 kry in die psalm dus geen betekenis nie.
3. Psalm 22 : 2: Die NB het Psalm 22 : 2 nie korrek volgens die Hebreeus aangehaal nie en daarom is Jesus se kruiswoord: ''My God, my God, waarom het U my verlaat?'' ook nie korrek weergegee nie.
Psalm 22 : 8 (bespotting en skud stof van die hoof): is 'n profesie van die kruisiging van Jesus en is letterlik in Mattheus 27 : 39 aangehaal. Die NB het dit weggelaat.
Psalm 22 : 17b (hande en voete deurgrawe): is 'n profesie op die spykers wat deur Jesus se hande en voete aan die kruis geslaan is (vgl Calvyn se kommentaar). Die NB het dit egter nie berym nie.
Psalm 22 : 23: Die ''broers'' van Dawid in hierdie vers word in Hereërs 2 : 12 toegepas op die geestelike broers van Jesus. Die NB het hierdie belangrike vers weggelaat.
Psalm 22 : 24: Die nageslag van Jakob. Dit sien op die verbond in Christus. Die NB het dit weggelaat.
4. Psalm 31 : 6: ''In u hand gee ek my gees oor''. Dit is 'n profesie op Jesus se laaste kruiswoord in Lukas 23 : 46. Die diaken Stéfanus het ook dieselfde sterwenswoord uitgespreek (Hand 7 : 59). Calvyn sê van Psalm 31 : 6: ''Dit is een van die belangrikste plekke van die Heilige Skrif''. Die NB het dit egter weggelaat.
5. Psalm 37 : 11: Die ootmoediges sal die aarde besit. Hierdie belofte aan aan die gelowiges dat hulle die aarde sal besit, kom vyf keer in Psalm 37 voor (verse 9, 11, 22, 29 en 34). Dit dui op Jesus se saligspreking in Mattheus 5 : 5: ''Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe''. Die NB het dit heeltemal weggelaat.
6. Psalm 41 : 10: Jesus se verraaier, Judas Iskariot. Johannes 13 : 18 haal Psalm 41 : 10 presies aan en dat dit op Judas van toepassing is. En nou het die NB hierdie uiters belangrike Skrifwoord weggelaat.
7. Psalm 45 : 7: ''U troon o Elohim (God) is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is 'n regverdige septer''.
Hebreërs 1 : 8 haal dit presies só aan en maak dit op Jesus Christus van toepassing. Dieselfde geld ook van Psalm 45 : 8 en weer eens word Hebreërs 1 : 9 aangehaal en op Christus toegepas. Verstommend: Die NB het altwee hierdie belangrike verse van Psalm 45 weggelaat.
8. Psalm 47 : 6: ''God vaar op met gejuig, die HERE met basuingeklank''. Dit is onder andere 'n profesie op Christus se hemelvaart (vgl Calvyn se kommentaar op hierdie vers). Die NB het dit heeltemal weggelaat.
9. Psalm 67 : 3: die heil (redding) van die nasies. Hierdie psalm is in die lofsang van Simeon (Luk 2 : 30-32) op Jesus Christus toegepas. Die NB het dit weggelaat.
10. Psalm 68 : 19: Dit dui op die hemelvaart van Jesus Christus. Só verklaar Efesiërs 4 : 8-10 hierdie psalmvers. Het die NB dit nooit raakgesien nie? Die woorde: ''U het opgeklim na die hoogte ...'' het hy weggelaat!
11. Psalm 69 : 10: ''Die ywer vir u huis het my verteer ...''. Die NB het nie in ag geneem dat hierdie woorde uit die psalm direk op Jesus deur sy dissipels in Johannes 2 : 17 toegepas is nie en het dit weggelaat. Die NB het ook nie raakgesien dat die tweede deel van Psalm 69 :10 (die smaadhede) deur die apostel Paulus in Romeine 15 : 3 direk op Jesus toegepas is nie. Christus is in Psalm 69 : 10 wegberym.
12. Psalm 82 : 6: ''Ek self het gesê: Julle is gode, en julle almal seuns van die Allerhoogste''. In Johannes 10 : 34 haal Christus teenoor die Jode hierdie vers aan. Die NB het dit weggelaat.
13. Psalm 89 : 13: '' Ek het Dawid my kneg gevind, met my heilige olie hom gesalf ''. Nou kom Paulus en in sy rede in die sinagoge in Psidië haal hy dit in Handelinge 13 : 22 aan en pas dit op Jesus Christus toe. Hierdie verkiesing van Dawid as koning dui oop die koningskap van Christus. Die NB het Psalm 89 : 3 heeltemal weggelaat.
14. Psalm 91 : 11 en 12: Hierdie verse word deur Satan in Lukas 4 : 10 aangehaal en op Jesus toegepas. Jesus se antwoord hierop (Luk 4 : 12) is buitengewoon belangrik. Die NB het egter hierdie verse só verskraal en ingekort dat die eintlike punt, God se bevel aangaande die engele weggelaat is.
15. Psalm 110 : 1. Hierdie psalmvers is dié een wat die meeste deur die Nuwe Testament aangehaal word (ten minste twaalf keer) en op Christus toegepas word. Jesus haal dit self aan (Matt 22 : 44; Mark 12 : 36; Luk 20 : 42). Ons haal dit hier volgens die oorspronklike Hebreeus aan en daarnaas die NB se vertolking om dit te toets:
1937-beryming
''Die Jahwe (HERE) het tot
my Adonai (Here) gesê: Sit
aan my regterhand, totdat
Ek u vyande as 'n voetbank
van u voete gestel het.''
NB 2001-beryming
Dit het die Heer belowe vir
my koning: ''Sit aan my
regterhand'', het Hy gespreek,
'' en in die stryd behaal jy die
oorwinning; Ek sal jou vyande
se mag verbreek.''
Die NB het radikaal van die oorspronklike Hebreeeus afgewyk:
(1) Adonai (Here) - die Godsnaam, is vervang met ''my koning'', wat nie in die psalm voorkom nie;
(2) ''vyande as 'n voetbank van u voete'' wat deur Jesus in Mattheus 22 : 44, Markus 12 : 36 en Lukas 20 : 42 letterlik aangehaal word, is deur die NB 'n nuwe vertolking gegee, anders as die apostels in Handelinge 2 : 35, 1 Kor 15 : 25, Efesiërs 1 : 22, Hebreërs 1 : 13 en 2 : 8.
LET WEL: Die digter TT Cloete het in die pers op 4 November 2001 erken dat hy ''die Messiaanse verwysings'' op grond van nuwe teologiese navorsing uit die psalms ''verwyder'' het. Waar het hy hierdie ''nuwe navorsing'' gekry? Hoe kon die deputate van die GKSA dit goedkeur? (Vgl hulle brief in Mei 2001 ''aan alle kerkrade, predikante en professore'').
Slotopmerking: Jesus Christus vemeld die feit dat die Ou Testament waaronder ook die psalms na Hom heenwys. Dit sê Hyself ná sy opstanding in Lukas 24 : 44:
''Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms (met ander woorde: die hele Ou Testament - VE d'A) vervul moet word.''
En wat vra die HERE nou van ons? Ons moet die psalms ''wat oor Jesus Christus geskrywe is'', sing. Daarvoor gebruik ons die Psalmberyming wat Hom volgens die Heilige Skrif vertolk. Dit gaan om die waarheid van die Woord! Ook daarvan sing en jubel ons - in ons huise en in die kerke:
HEER, u woord is my 'n fakkel
wat sy ligglans voor my dra,
voor my voet die duisternisse
van my lewenspad verja.
'k Het gesweer, deur u ontferming
dit bevestig, dat ek my,
van 'n wêreldnag omgewe,
deur dié ligglans wil laat lei.
(Psalm 119 : 39 - 1937-beryming)