|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 1 Januarie 2002
PersrubriekLOTTO EN DOBBELARY
Onder bogenoemde opskrif skryf G Kok in DIE KERKBODE van 16 November 2001 "insake onduidelike en selfs teenstrydige uitsprake deur die Algemene Sinodale Kommissie (ASK)" as volg:
In 'n vroeëre uitgawe van Die Kerkbode is die indruk geskep dat as lidmate net klein bedraggies geld op die lotto verwed, dit nie sonde is nie, dis maar net speel-speel.
In die uitgawe van 4 Mei 2001, onder die opskrif "Geen Groen Lig om te Dobbel" word lidmate nog verder verwar. Volgens dié berig is die ASK deur die media en lidmate gevra of die koop van Lotto-kaartjies as sonde beskou moet word. Hierop het die ASK, en ek haal aan, "'n verklaring uitgereik waarin gesê word dat daar nie Bybelse gronde is om te sê dat so 'n behandeling as sodanig sondig is nie". Hierteen het ek veral twee besware.
Efesiërs 5 : 5 sê dat die volgende mense nie deel het aan die koninkryk van God nie: "Iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe, of 'n gierigaard is". Mag ek dit verklaar as dat die Bybel sê dat bogenoemde sonde is? Hierop is my verdere vraag: Koop mense nie Lotto-kaartjies met die oog op die wen van geld nie en in die meeste gevalle met die oog op die miljoene van die Boerpot nie? Is die motief om "liefdadigheid te ondersteun" of is dit gierigheid na die miljoene?
Die Bybel is uitgesproke oor "gierigheid" soos by 1 Korintiërs 5 : 10 (waar geldgieriges in dieselfde asem met onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars genoem word.) en in vers 11 word omgang verbied met iemand wat geldgierig is. Paulus skryf aan Timoteus voor dat 'n geldgierige nie as ouderling mag dien nie (1 Tim 3 : 3) en in hoofstuk 6 : 10 sê hy "geldgierigheid is die wortel van alle kwaad". In 2 Timoteus 3 : 2 word die "swaar tye" gekenmerk deur spesifieke sondes en hier staan geldgierigheid tweede na "selfsugtig". Hebreërs 13 : 5 waarsku ook: "Hou julle lewe vry van geldgierigheid". In kort, lyk dit vir my, teer Lotto op geldgierigheid.
Verstaan ek die bedoeling van ons Christelike Etiek verkeerd as dit (die Etiek) dob-belary en lotery sien as oortreding van die derde gebod? Ek staan steeds by wat ek in Etiek geleer het, onder andere uit die pen van prof dr W Geesink: "By de positieve behandeling van het derde gebod hebben we het lot en bepaaldelik de sors divisoria gesubsumeerd onder de godvruchtige aanroeping van Gods Naam, by de negatieve behandeling subsumeeren we daarom het misbruik van het lot onder de ongodvruchtige aanroeping. We hebben hier ook op het oog het kaartspel, dobbelspel en de lotery. De Gereformeerde ethiek veroordeelt ze als zedelijk slecht, want volgens haar is het abusus Divini Nominis, zonde tegen het derde gebod".
Geesink sê verder: "Hij die speelt, speelt om te winnen, zelfs al speelt men niet om geld. Men hoopt een gelukkige uitslag. Een geloovige verwacht dien niet van de fortuin, noch minder van den duivel, neen hij weet , dat de macht ook over het contingente bij den levenden God is. By kaart- en dobbelspel en loterij speelt juist dit contingente een rol. Bij het lot gebruikt men een middel om in voor ons contingente zaken de door God behaalde uitkomst te krijgen ; maar nu is het Gereformeerd bewustzijn gemis aan eerbied, aan godsvrucht om zulk een bepaling Gods te gaan vragen alleen uit tijdverdrijf, fallendi temporis causa, bij het spel. Het heilige word verlaagd tot spel" (Gereformeerde Ethiek. Deel 1, pp 340-341).
Die vraag van "die media en talle lidmate" word verder (diplomaties) beantwoord met: "... nie iets waarmee die NG Kerk genoeë neem nie". Sou die beste antwoord nie gewees het nie: "Die NG Kerk vra dat sy lidmate hulle nie moet skuldig maak aan enige vorm van dobbelary en/of lotery nie". En dan: "Dit blyk dat die regering die meeste van die geld gaan gebruik om noodsaaklike dienste soos hospitale, skole, asook die versorging van bejaardes en kinders te bekostig". Ook hier, in genoemde artikel, lyk dit al te veel asof die kerk wil sê dat die doel darem die middel so 'n bietjie heilig. Kan ons nou maar deelneem omdat dit so 'n mooi saak dien - net so 'n bietjie deelneem?
Die berig lui ook verder dat "die kerk toenemend bewus van die verskynsel dobbelary/lotery-verslawing" is. Moet die kerk nie DIEP ONTSTELD daaroor wees nie aangesien dit ons lidmate is waaroor daar gepraat word? Verder haal die berig dr Theron aan wat waarsku teen die "toenemende gevare wat lotery en dobbelary vir enige persoon inhou". Die tragedie is dat dobbelary gedebatteer word eerder as dat die kerk dit totaal afwys. In plaas van teen die gevare waarsku, moet dobbelary en lotery as sodanig as sonde afgewys word. Selfs al sou die kerk teen die staat moet standpunt inneem.