Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
"Woord en Gees"

SKRIFOORDENKING:
Smag na God se teenwoordigheid Ps 42: 6 en 12

DIE NUWE PSALMBERYMING 2001 - WEGLATINGS EN AFWYKINGS VAN HEBREEUSE TEKS

FUNDAMENTALISME: Naam of Brandmerk?

CALVYN EN DIE LITURGIE

MENSEVERHOUDINGE

AKTUEEL
Verkragtings - 'n Siek gemeenskap             Kurrikulum 2005 - Kader Asmal ....

KERKLIKE JOERNAAL: 
Indrukke van die Part Sinode GKSA Noord-Transvaal. 

Vrae oor prof Fika en BDB

Ds Hennie Momberg foutief aangehaal in Geref Vroueblad

Beswaar teen deputate

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Tuisskool

Prestasies van studente van die Akademie vir CVHO

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Die Afrikaanse Kerke en die oorgawe van 1994

PERSRUBRIEK: 
Lotto en dobbelary 

Loerbroer

Die toorn van God

WÊRELDFOKUS: Vernuwing met grense

TESTATEUR EN LIED BESWAAR TEEN

DR J OOSTENBRINK UIT GKSA

Kommentaar: 
Marika de Klerk
 

Die Sataniese verleidende aanslag d.m.v. die instelling van die staatlotery (LOTTO)

GESPREK MET LESERS:

MEDIESE ETIEK: 
Laat U Naam geheilig word

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 6  No 1 Januarie 2002

Persrubriek

WêRELDFOKUS:  VERNUWING MET GRENSE

-  DR PW LIEBENBERG  -   JOHANNESBURG  -

Die gejuig en gejil rondom die nuwejaarsvieringe raak nou stil en die werklikheid van 'n nuwe jaar met sy moontlikhede en moeilikhede begin op ons neerdaal. Niemand van ons kan profeet speel en gebeure in die nuwe jaar voorspel nie. Daarvoor is ons menslike insigte té beperk. Daar bestaan egter genoeg aanduidings van wat ons internasionaal en nasionaal binne breë trekke kan verwag.

Fundamentalisme en radikalisme onder godsdienstige, etniese en kultuurgroepe sal onteenseglik toeneem. Dit sal nie slegs tot die Islam beperk bly nie maar ook na ander gelowe, etniese groepe en van mekaar verskillende volke versprei. Dit sal ook al moeiliker word om radikales en fanatici in toom te hou tensy gematigdes daarin kan slaag om vinnige en konkrete resultate te behaal.

Eise van onderhorige volke, etniese, taal- en geloofsdenominasies vir meer outonomie om hulle eie sake ooreenkomstig hul eie waardes en tradisies te reël, sal wêreldwyd aan die orde van die dag wees. Hierdie eise sal wissel van relatief gematigde versoeke aan hul regerings vir 'n groter mate van selfbeskikking op spesifieke terreine, soos onderwys of plaaslike regering tot eise vir binnelandse selfregering binne 'n deelstaat of provinsie op federale of konfederale grondslag.

Met eweveel sekerheid kan egter voorspel word dat sommige regerings wat oor 'n etniese en volkereverskeidenheid regeer, sodanige selfbeskikkingsaansprake deur volke en etniese groepe binne hul land se grense as 'n bedreiging vir hul mag sal beskou. Derhalwe sal hulle hierdie volkere en etniese verskeidenheid en die aansprake wat daar-mee gepaard gaan, probeer misken, ignoreer of deur middel van die foefie van nasiebou, ongedaan probeer maak.

Daar kan met redelike sekerheid aanvaar word dat die ANC-regime in laasgenoemde geledere sal wees, veral wat die Afrikaner se aansprake betref. Maar hoe harder regerings probeer om volke en groepe se wettige versoeke om oor hulle eie sake te beskik, in die wind slaan of onderdruk, hoe ongenaakbaarder en radikaler raak die eise. Uiteindelik verhard standpunte sodanig dat vreedsame skikkings haas onmoontlik raak. Dink met die oog hierop maar aan die Palestynse vraagstuk. Daar is dan ook al minder ruimte vir sogenaamde kulturele selfbeskikking. Selfs interne geografiese selfbeskikking binne 'n provinsie of deelstaat, raak al moeiliker haalbaar.

Uiteindelik loop hierdie onversetlikheid uit op eindelose bevrydingsoorloë van onkonvensionele aard met die oog op totale afskeiding en die vorming van 'n eie staat. Wanneer geweld en bloedvergieting eenmaal 'n aanvang geneem het, word moeilik paal en perk daaraan gestel. Dit word slegs beëindig wanneer die party wat vir sy selfbeskikking veg, totaal in sy doel geslaag of 'n totale nederlaag gely het en uitgewis is.

Weens die onkonvensionele aard van dié konflik, geld geen oorlogsreëls of konvensies nie. Godsdienstige en volksetniese bevrydingsoorloë is van die bloedigste en vernietigenste oorloë denkbaar. Daaar is in beginsel geen onderskeid tussen burgerlike en militêre teikens nie. Almal word as oorlogvoerendes beskou en derhalwe is daar weinig plek vir gematigdheid en neutraliteit.

Die saak word vererger deurdat die regime wat die verset probeer onderdruk, die opstandelinge gewoon as rebelle, verraaiërs en kriminele misdadigers beskou. Hierdie regeringsoptrede spoor die opstandelinge tot nog meer fanatiese verset aan omdat hulle en hul ondersteuners min genade kan verwag as hulle die onderspit sou delf.

Hierdie radikale soort oorlogvoering waarin alle denkbare metodes van terreur in al sy vorme gebruik gemaak word, sal ongetwyfeld 'n kenmerk van die komende jaar en toekomstige dekades wees.

Dié konflik in die wêreld sal voortaan nog breër en dieper word omdat dit uiteindelik gaan om 'n veel groter stryd as net dié van volke en etniese groepe om hul reg tot self-beskikking. Primêr gaan dit oor 'n stryd tussen heidense religieë en ideologieë wat die wêreld na hul model aan die een kant wil omvorm, en die evangelie van die Lig aan die ander kant. Dit is 'n stryd om die ordes waarin niemand neutraal kan staan nie en waarby niemand onbetrokke kan wees nie.

Daar vind tans reeds oor 'n wye front 'n herontdekking plaas van geestelike en kulturele wortels as 'n verskansing en verweer teen die eenwording en kleinwording van die wêreld deur middel van die tegnologie.

Globalisering is enersyds 'n onstuitbare krag, maar andersyds veroorsaak dit juis 'n terugkeer na die bekende, die tradisionele en die beproefde. Hoe sterker sekere begrippe en materialisties onderlegde waardes en beskouings deur die elektroniese media versprei, gepopulariseer en geglobaliseer word, hoe groter is die terugkeer by spesifieke volke, geloofs- en kultuurgroepe na na hul tradisionele geestelike wortels en waardes. Dit werk dikwels 'n verdere fundamentalistiese onverdraagsaamheid jeens ander gelowe en waardestelsels in die hand. As sodanig verhoog dit die potensiaal vir religieuse en ideologiese konflik in die omstandighede van die huidige wêreld.

Dit is asof die terugkeer na die tradisionele, die bekende en beproefde waardes en waarhede, 'n gevoel van geborgenheid verskaf in 'n snelveranderende wêreld wat daagliks met nuwe begrippe en nuwe mensgefabriseerde waardes gebombardeer en gekonfronteer word. Hierdie herontdekking van en terugkeer tot die eie wortels gaan toenemend 'n kenmerk van ons tyd word.

Ongelukkig egter, verhoog dit soos genoem, ook die moontlikheid van toenemende konflik. Daaraan kan weinig ge-doen word. Die vraag is net of die westerse volke ook na hulle veronderstelde Christelike wortels gaan terugkeer en of humanisme en materialisme al die Christelike onderbou van die weste sodanig vervang, vervlak en vervals het, dat die blanke westerling in die toekomstige stryd tussen die ordes, die mins weerbare van almal gaan wees.

In Suid-Afrika woed hierdie stryd tussen die heidendom en die Lig reeds geruime tyd in al sy felheid op alle lewensterreine. As sodanig is ons land die res van die wêreld eintlik voor. Ongelukkig ken baie van ons volksgenote hierdie stryd tussen Lig en duisternis nog nie vir wat dit werd is nie. Hulle probeer nog om die huidige staatkundige, ekonomiese, onderwys-, maatskaplike en fisiese onveilige bedeling met lap en stopwerk reg te dokter. Hulle besef nog nie dat jy nie iets wat inherent boos is, nie met oppervlakkige poleerwerk 'n ligglans kan gee nie.

Die deel van die volk wat hul Christelike grondslag herontdek en in opregtheid daarheen terugkeer, moet fundamenteel breek met 'n bestel waaraan jy nie maar net oppervlakkige salf kan smeer nie. Hulle is Christen-Boere-Afrikaners, noem hulle maar fundamentaliste as jy wil, wat nie bereid is om ter wille van tydelike skyngewin allerlei kompromieë met maghebbers wat uiteindelik die totale vernietiging van hulle Christelike lewens- en wêreldbeskouing in die oog het, aan te gaan nie.

Dit beteken egter nie dat hulle outyds en verstard is en alle vernuwing teenstaan nie. Hulle gebruik óók die tegnologie om hul saak te motiveer en wêreldkundig te maak. Hulle wil óók aanpas en vernuwe ten einde nuwe uitdagings die hoof te kan bied. Hulle vernuwing en aanpassing is egter 'n geloofs- en beginselverantwoorde vernuwing binne die volks- en ander grense wat God in sy skepping en onderhouding van die wêreld daargestel het. Dis nie soos ons vyande 'n poging om dit te misken en te vernietig nie. Die Christen-Afrikaner hervorm en moderniseer binne die grense van sy geloofs- en volksverband tot eer van sy Skepper. Sodoende word hy die weerbaarste van alle mense.

Mag dit ons doel en strewe in hierdie jaar en die volgende dekades wees.

Hierdie kommentaar is ook uitgesaai op die senders

van Radio Pretoria op Donderdag 3 Januarie 2002