|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 1 Januarie 2002
PersrubriekTESTATEUR EN LIEDDIE EENHEID VAN DIE GENADEVERBOND
- TG VAN WYK, IN: "DIE PSALMS AS LIED IN DIE EREDIENS". JULIE 1979 -
Deur die hele Skrif heen loop die goue draad van één genadeverbond wat 'n feitlike band tussen die HERE en die mens lê en wat die heilsbeloftes in Christus dra, toesê en skenk. Omdat die sakramente die tekens en seëls van dieselfde genadeverbond is - soos die Ou- en Nuwe Testament dit vir ons in die verskillende bedelings aangee - is dit ook geredelik te verstaan dat die sakramente in hul dieper sin 'n eenheid is. Hulle is nie "eenders" nie, maar "een" in hulle betekenis.Die Roomse leer byvoorbeeld, dat daar 'n wesenlike verskil tussen die sakramente van die Ou en van die Nuwe Testament is. Volgens hulle is die Ou-Testamentiese sakramente bloot tipes; en die heiligmaking wat daardeur gevolg het, was nie innerlik nie maar net wetties. Omdat die volle ondervinding van die genade wat die sakramente afbeeld, afhanklik van die koms van Christus was, is die gestorwe gelowiges van die Ou Testament opgeneem in die sogenaamde "voorburg van die vaders" totdat Christus hulle uitredding bewerk het, aldus Rome.
Hierdie beskouing plaas die Ou- en die Nuwe Testament teenoor mekaar, sonder om hulle innerlike eenheid te erken. Daarmee gaan ook die eenheid, die duursaamheid en die ononderbrokenheid van die genadeverbond verlore.
Op dieselfde vlak beweeg vandag feitlik al die sektariese groepe - veral ook ten opsigte van die sakramente. Vir hulle kom die Nuwe Testament met totaal ander, nuwe, vreemde sakramente wat met die Ou Testament geen verband het nie - asof dit 'n andersoortige openbaring is. Vandaar hulle Bybelsvreemde beskouing ten opsigte van die doop. Dan bly die Skrifwaarheid van die genadeverbond as 'n organiese eenheid in die slag.
Nou moet ons versigtig wees om nie so gou die vinger na Rome en die sektes te wys nie, terwyl ons as kerk met betrekking tot die lied in die erediens in dieselfde slagyster trap nie. Die Psalms word vandag so maklik afgemaak as Ou-Testamenties, dat hulle nie die Christus besing nie, dat hulle die skadubedeling besing terwyl ons tog in die volle lig staan. Daar is maar net één deurlopende genadeverbond wat dadelik ná die sondeval 'n aanvang geneem het met Jesus Christus as die MIddelaar en die Hoof.
Daar is maar net één genadeverbond, daar is maar net één Verbondshoof (Jesus Christus) , daar is maar net één Bybel, daar is maar net één liturgie en alhoewel die pasga met die nagmaal en die besnydenis met die doop deur Christus ingelei word is dit in wese dieselfde. Daar is maar net één lied, die kanonieke boek van die Psalms wat deur Christus gehandhaaf word. Indien daar sprake van 'n ander lied was, sou Christus ons dan ook nie daarin voorgegaan het nie? . . .
Alhoewel die liturgie in voorkoms by die Ou- en Nuwe Testament van mekaar verskil, bly die reëls wat deur die erfgename nagekom moet word dieselfde, naamlik gehooraamheid aan God se liturgiese eis. Ook die erfenis bly dieselfde, naamlik ons kindskap. Derdens bly ook die lied vir beide eredienste dieselfde, naamlik die Psalms.
God het in die Ou-Testamentiese kerk 'n vasgestelde liturgie vir die erediens (Ex 25: 31). In hierdie kerk vind ons ook die boek van die Psalms, bestemd vir die erediens.
By die Nuwe-Testamentiese Kerk het God ook 'n vasgestelde liturgie vir die erediens wat bestaan uit Christus wat preek (Matt 4: 17, 10: 7; 11: 1; Mark 1: 38 en Luk 8: 1). Christus wat nagmaal bedien ( Matt 26: 26 - 28; Mark 14: 12 - 25; Luk 22: 7 - 23; en 1 Kor 11: 23 - 29). Christus wat doop (Joh 3: 26) en Christus wat Psalms laat sing ( Matt 26: 30).
Nou is die vraag: Hoekom dieselfde lied in die erediens in die Ou en Nuwe Testament? Eerstens word dieselfde Verbondshoof besing. Tweedens is die skuldbelydenis en dankbaarheid by 'n wedergeborene van die ou en nuwe verbond presies dieselfde. Derdens wil die Here sy diens vrywaar van willekeur en gevoels-godsdiens, daarom word die lied bepaal deur die Testateur en nie deur die erfgename nie.