|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 6 No 1 Januarie 2002
PersrubriekVERKLARING OOR MY ROEPING OM N SOEKERGERIGTE GEMEENTE TE PLANT- DR JOHAN OOSTENBRINK - BERGBRON-JOHANNESBURG -
Ek kan aan niks mooiers dink as om die evangelie van God se liefde en verlossing aan verlore en soekende mense te bring nie. Om te sien hoe die Here mense se lewens aanraak en transformeer, is iets wat woorde nie kan beskryf nie. En waar Geesvervulde kerke en gelowiges uit gehoorsaamheid aan die groot gebod (Matt 28:18-20) op Bybelse én eietydse wyse kerk in die wêreld vir die wêreld is, is hulle in lyn met die hartklop van God en sy evangelie (Joh 3:16) - God wat sy Seun vir n verlore wêreld oorgegee het.
Vir elf jaar was ek as sondige, gebroke, maar ook verloste mens deel van n opwindende avontuur om saam met die Bergbrongemeente te groei om hierdie roeping ernstig op te neem. Ek het gelowiges se lewens sien verander: mense het God se genade begin verstaan en al meer daaruit begin lewe, passiewes het aktief geword, preke het lewens verander, eredienste het eietyds en relevant geword, koinonia (geloofsgemeenskap) het van belydenis tot praktyk gegroei. Maar ek kon ook sien hoe buitekerklikes deur die getuienis van lidmate Christus as Verlosser leer ken en in Hom begin groei, en hoe ons n gemeenskap begin beïnvloed en dis die "kersie op die koek". Maar ek het realisties ook besef dat kerke binne tradisionele denominasies sterk remmende faktore het om sy roeping na buite uit te leef. Deel daarvan is n mentaliteit van na-binne-gerigtheid en ongesonde kerkpolitiek en polemiek.
Die Here roep gelowiges op om optimaal volgens ons potensiaal tot sy eer te lewe in lyn met ons roeping en passie, gawes en talente, asook persoonlike styl (Matt 6:33; Ef 4; 1 Kor 12). Na n preekreeks hieroor deur my en ds Leon van Niekerk, het ek besef dat ek dit nie optimaal doen nie. Ek het nugter, biddend en prakties God se wil gesoek en gebid en begin rondkyk.
My navorsing en omgewingstudies het getoon dat daar n groot klomp soekende mense in die Kaap is en dat daar n oes op n besondere wyse gereed is vir die Here se koninkryk. Daar, soos op baie plekke, is baie mense wat God soek, maar nie deur tradisionele kerke met hulle tipiese tradisonele gebruike, taal en strukture bereik word nie. Die Here het op verskeie maniere, deur mense, alledaagse en selfs bonatuurlike gebeure die pad soontoe aangewys en oopgemaak. My roeping en doel is om daar deur die Here se genade n onafhanklike soekergerigte gemeente te plant, wat juis hierdie mense kan bereik.
Ek is baie lief vir die Bergbron-gemeente en dank-baar vir die opwindende en geseënde pad wat ons saam kon loop. Klassis Johannesburg lê my na aan die hart. Ek het hoë waardering vir die GKSA en die Telogiese Skool op Potchefstroom se respek vir Skrifgesag en verantwoordelike hermeneuse. En ek is baie dankbaar vir professore, kollegas en lidmate in die GKSA met wie ek n geloofspad kon loop mense en gemeentes wat in my lewe belê het en in wie se lewe ek kon belê.
My stap is n geloofstap en nie een van rebelsheid, frustrasie of moedeloosheid nie. Kerkordelik en formeel sê ek miskien gemeenskap op met die GKSA maar geestelik beslis nie, want ek is lief vir julle en breek nie van my kant ons geloofsband nie. Ek doen dit ook nie vir eie gewin of prestasiesug nie. In die proses gee ek en my gesin ons inkomste, baie kosbare sekuriteite en gemaksones prys, maar in die geloof waag ons dit in afhanklikheid saam met die Here. Bid asseblief vir ons.
Ek bid dat die Here die GKSA sal aanhou reformeer en vernuwe om werklik Bybelgetrou en eietyds in die wêreld soutende sout en ligtende ligte vir Hom te wees. En dat elkeen wat hier lees aan Hom meer getrou sal wees as aan mense.
Met liefde in ons Here
Ons sal DV in die volgende uitgawe van ons blad kommentaar hierop lewer - (Red PvdK)