|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 1 Januarie 2003
Aktueel
GEWELDSKULTUUR IN SUID-AFRIKA
- GKSA SE DEPUTATE VIR SKAKELING MET DIE OWERHEID _
Oorgeneem uit die agenda Eertse Partikuliere Sinode Pretoria, 19 en 20 November 2002
Reeds vir 'n lang tyd is geweld deel van die Suid-Afrikaanse samelewing. Na die demokratiese verkiesings in 1994 was daar by baie die hoop dat 'n vreedsame samelewing sal volg. Die euforie van vryheid het egter losbandigheid meegebring. Wantroue en geweld het toegeneem. Daar word selfs van 'n geweldskultuur gepraat. Dis moord, plaasmoorde, verkragtings, motorkapings, roof, huisbraak, geweldsmisdade en bendegeweld (wat sodanig gevestig geraak het dat na "bendekultuur" verwys word).Tydens 'n steekproef wat tussen senior sekondêre leerlinge van verskillende lande gehou was, is gevind dat Suid-Afrikaanse leerlinge die meer aggressiewe probleem-oplossingsmetodes aangehang het. Daar is ook 'n algemene gevoel dat die regering die verantwoordelikheid het om 'n veilige omgewing te skep waarin sy landsburgers kan leef. Ten spyte van 'n afname in mis-daadsyfers wat deur die nasionale minister van Polisie aangekondig was, is daar tog die gevoel dat die regering die stryd teen geweld verloor of dat hulle nie in staat is om die situasie te bestuur nie. Landsburgers reageer daarom ook op verskillende maniere op die gevoel van onsekerheid en onveiligheid.
Die gespanne gemeenskappe is nou baie meer bewapen. Individualisme is baie sterker vanweë die afgesonderdheid van huise (wat gepantserde veiligheidsvestings geword het). Emigrasie is aan die orde van die dag. Dit beroof Suid-Afrika van breinkrag en van die investering in sy eie landsburgers wat 'n bydrae tot die land kon maak. Ander soek beskerming deur deel te word van bendegroepe. Nog ander vorm vigilante groepe wat reeds die dood van verskeie misdadigers tot gevolg gehad het.
Van die grootste faktore wat tot misdaad aanleiding gee, is armoede en die beskikbaarheid van wapens. Honger mense moet daagliks 'n manier vind om te oorleef. Misdaad en die gepaardgaande geweld is in baie gevalle hierdie mense se enigste uitweg vir oorlewing. Daar is egter ook baie wat deur middel van misdaad voorspoed beleef - sonder dat die gemeenskap sien dat hulle vervolg word. Dit maak misdaad vir hierdie mense aantreklik. Mense in arm gemeenskappe word in baie gevalle ook deur bendes en sindikate uitgebuit.
'n Vorige minister van veiligheid en sekuriteit in die Wes-Kaap het aan kerkleiers genoem dat bendes die grootste gemeenskapsorganisasie (industrie) is. Indien die munisipaliteit mense uit hulle huise sit as gevolg van agterstallige betalings, is dit die bendes wat hulle skuld betaal het en hierdie mense teruggeplaas in hulle huise. Daarmee koop hulle lojaliteit. Diegene wat aan bendes behoort, het ook geen begeerte om hulle bande met bendes te breek nie. Baie van die mense wat nie geskool is nie (en met 'n CV-gevangenisrekord) het geen vooruitsig om ooit 'n werk te kan hê nie, terwyl hulle in bendes sekere range beklee wat aan hulle ver-sorging en voorregte verseker.
Gevangenisvonnis is nie 'n voldoende afskrikmiddel nie en wel om die volgende redes:
Daar is geen motivering vir rehabilitasie as daar geen vooruitsig vir 'n werk is nie.
Indien die gevangenisowerheid die gevangenes aan onmenslike toestande vir lang periodes onderwerp, kan jy sekerlik nie van sodanige persoon verwag om by 'n normale gemeenskap in en aan te pas nie. Indien die menswaardigheid van die gevangenes probeer herstel word deur hulle verblyf in die gevangenis te normaliseer, word die gevangenis-omgewing vir die gevangene die normale en die toestande van waar hy kom, die abnormale.
'n Vorige minister van veiligheid en sekuriteit van die Wes-Kaap het aan kerkleiers genoem dat gevangenisse soos Pollsmoor bloot 'n vrugbare teelaarde en werwingsplek vir bendes geword het.
Dit is hierdie deputate se oortuiging dat die gewelds- en wetteloosheidkultuur nie net deur die regering hanteer kan word nie. Die kerk, die samelewing en die owerheid het die gesamentlike plig en verantwoordelikheid om die probleem aan te spreek.