Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die glybaan af ... òf die reformasiepad op?

AKTUEEL: Geweldskultuur in SA       

SKRIFOORDENKING:
Die enige ware God (Deut 6:4)

Die wyse manne uit die Ooste

Die vrou in die kerklike ampte?

Wat is 'n Lewenbeskouing?

Die Apostoliese Geloofsbeleidenis teenoor die Nuwe Hervorming

KERKLIKE JOERNAAL: 
Sake op die Agenda Sinode GKSA

Regeringsplan Tersiêre Onderwys

Vroue in die GKSA in ampte?

Beskrywingspunt PS Bosveld oor toekenning PU vir CHO eredoktorsgraad aan biskop Desmond Tutu

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Kommentaar op die manifes oor waardes, opvoeding en demokrasie

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Valse gelykheid

PERSRUBRIEK: 
Nog 'n parafraserende Bybel 

Kerklike besinning oor die persoon van Jesus Christus

Nie verskuilde agendas

Die "Israel-visie" - 'n verwronge Skrifbeskouing

Ewige rus in skadu van Voortrekkermonument

GESPREK MET LESERS: Evolusie en die Bybel

MEDIESE ETIEK: 
Gesondheidsrisiko en mediese fondse

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 1 Januarie 2003

DIE WYSE MANNE UIT DIE OOSTE

-  DS CAP VAN TONDER  -

Oorgeneem uit KONTEKS, glanstydskrif van die NH Kerk, Desember 2002, bl 6,7 en 13

Die verhaal oor die wyse manne uit die Ooste se besoek aan Jesus ná sy geboorte het Christene se verbeelding sedert die vroegste eeue aangegryp. Dit het selfs tot vele legendevorming gelei.

In die kuns is die wyse manne se besoek aan Jesus die mees gewilde tema van alle voorstellings wat oor die geboorte van Jesus gemaak is. Hierdie artistieke getuienis dui daarop dat die eerste Christene en die kerk gedurende die Middeleeue die besoek van die wyse manne van groot teologiese waarde geag het.

Jesus se geboorteverhaal word deur Matteüs ingeklee met verhale van drome, astrologiese tekens, geskenke, vrees en 'n vlug na Egipte. As 'n mens regtig mooi wil verstaan hoe die vroeë Christene die boodskap oor die wyse manne geïnterpre-teer het, moet hy ook na die vroeë Christelike literatuur en kuns rondom die onderwerp kyk.

Die nuwe Afrikaanse vertaling dui aan dat die wyse manne sterrekykers was wat uit die Ooste gekom het. Matteüs vertel dat die wyse manne in Jerusalem aangekom en gevra het: Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en het gekom om aan Hom hulde te bewys (Matt 2:2).

Grafkuns

Feitlik al die eerste voorstellings wat van die wyse manne gemaak is, verskyn op plekke of voorwerpe wat verband hou met die dood. Dit kom voor in grafte en op sarkofae. Die oudste fresko dateer uit die derde eeu en is aangetref teen die dak van die grafkatakombe van Priscilla in Rome. Volgens hierdie fresko is die manne ewe groot en van dieselfde ras. Elkeen dra 'n geskenk wat in die vorm van 'n krans, 'n ronde bak en 'n reghoekige kis is.

Soms word die wyse manne saam met hulle kamele voorgestel, soos byvoorbeeld in een sarkofaagreliëf wat uit die vierde eeu dateer en in die Vatikaan-museum uitgestal word.

Die eerste kunswerk van die wyse manne wat buite die ruim van die graf gemaak is, is 'n mosaïekwerk wat uit die vyfde eeu dateer.

Getal

Hoewel nie in die Bybel gesê word hoeveel wyse manne daar was nie, word in die meeste fresko's voorstellings gemaak dat hulle drie mans was. Die getal drie is moontlik afgelei in analogie van die drie geskenke wat hulle gebring het.

Van die vroeë Christelike fresko's dui nie almal die wyse manne as drie aan nie. In sommige gevalle vertoon hulle hul minder of meer in getal. In een Romeinse graf, die katakombe van Domitilla, word hulle voorgestel as vier manne, terwyl die katakombes van Petrus en Marcellinus slegs twee manne vertoon.

'n Klompie Siriese dokumente meld weer dat daar twaalf wyse manne was. Hierdie tradisie is ook deur die kerkvader Augustinus ondersteun. Hy was van mening dat hulle twaalf was en dat hulle getal in analogie van die twaalf stamme van Israel en twaalf dissipels van Jesus was.

Tradisioneel word die wyse manne voorgestel as een met lang bruin hare en 'n baard, die tweede een as 'n gladgeskeerde jongman en die derde as 'n bejaarde man met grys hare. Volgens oorlewering het hulle bekend gestaan as Balthassar, Melkior en Gaspar (soms ook gespel as Caspar). Die name is afgelei van die Griekse woorde vir die geskenke wat die manne gebring het: goud, wierook en mirre.

In die Oosterse tradisie word die drie wyse manne voorgehou as drie konings, maar met verskillende nasionaliteite. Een is 'n koning van Persië (Melkom), die tweede 'n koning van Indië (Gaspar) en die derde 'n koning van Arabië (Balthassar).

Swart magie

Nêrens in die Nuwe Testament word wyse manne as goeie mense voorgestel nie. Deurgaans word hulle voorgehou as mense wat hulleself besig gehou het met toordery en swart magie. In Handelinge 13:10 word hulle selfs voorgestel as die aartsvyande van Petrus en Paulus. Paulus het na een van sulke mense gekyk en gesê: Duiwelskind! Deurtrapte skelm en bedieër! Vyand van alles wat reg is! Sal jy ophou om in die pad van die Here te staan!

Dit is ondenkbaar dat Matteüs sou poog om heiliges te maak van mense wat hulle met toordery en sterrewiggelary besig gehou het. Die geskenke en hulde wat die wyse manne vir Jesus gebring het, was nie werklik onskuldige huldigingsgeskenke nie en allermins koninklike geskenke.

Die geskenke van die wyse manne was in werklikheid geskenke wat verband gehou het met die dood, toordery en afgodery. Mirre was as bestanddeel gebruik by die balsem van lyke. Wierook is gebrand by die afsterwe van mense en het ook as reukoffer vir gode gedien. En goud was as die hoogste vorm van betaalmiddel gebruik.

Justinus die Martelaar, wat in 156 nC dood is, het by geleentheid aan 'n Jood met die naam van Trypho, verduidelik dat die wyse manne priesters van 'n Oosterse kultus was wat hulle besig gehou het met magie en astrologie. Volgens hom was dit hulle bedoeling om Jesus tot verheerliking van hulle gode vir die dood te koop.

Hierdie interpretasie is later nog verder uitgebrei deur die kerkvader Tertullianus. Hy was van mening dat die wyse manne na aanleiding van hulle droom met 'n ander pad na hulle land teruggegaan het (Matt 2:12). In werklikheid beteken dit dat die manne van hulle afgodiese praktyke afstand gedoen het. Hierdie interpretasie word ook duidelik gereflekteer in kunstenaarsvoorstellings van die vroeë kerk. Die manne word meestal uitgebeeld met die tipiese kleredrag waarmee die Romeine Persiese besoekers sou assosieer: kort, knielengte drag met 'n mantel wat op die een skouer vasgeknoop is, sagte gepunte skoeisel en gepunte hoofbedekkings.

Van priesters tot konings

Teen die derde eeu is die mannne na aanleiding van Psalm 72:10-11 as die konings van Tarsis, Skeba en Seba beskou. Mag die konings van Tarsis en die kuslande geskenke bring, die konings van Skeba en Seba aan hom belasting betaal. Mag allle konings voor hom buig en al die nasies hom dien.

Aanvanklik was die manne gereken as mense wat van dieselfde streek afkomstig was. Teen die agtste eeu en onder Anglo-Saksiese invloed het die tradisie begin gestalte kry dat die manne kosmopolities verteenwoordigend was en van Afrika, Asië en Europa afkomstig was. Ook hierdie opvat-ting is sterk in die kuns weergegee.

In die vroeë kerk was die kerkvaders dit eens dat die wyse manne mense was wat hulleself besig gehou het met verkeerde dinge. Die noodsaak van hulle teenwoordigheid was dus belangrik. Matteüs wou beklemtoon dat sondaars 'n plek by die geboorte van Jesus gehad het.

Die wyse manne het as afgodedienaars getuies geword van Jesus. Hierdie boodskap is uiteindelik ook in die kuns vasgevang: die heilswonder van God se onbeskryflike liefde vir die wêreld met al sy sondaars. Volgens Origenes was die wyse manne nie net mense wat magie beoefen het nie, maar hulle was ook van die eerste besoekers wat Jesus as Messias vereer het.