Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die glybaan af ... òf die reformasiepad op?

AKTUEEL: Geweldskultuur in SA       

SKRIFOORDENKING:
Die enige ware God (Deut 6:4)

Die wyse manne uit die Ooste

Die vrou in die kerklike ampte?

Wat is 'n Lewenbeskouing?

Die Apostoliese Geloofsbeleidenis teenoor die Nuwe Hervorming

KERKLIKE JOERNAAL: 
Sake op die Agenda Sinode GKSA

Regeringsplan Tersiêre Onderwys

Vroue in die GKSA in ampte?

Beskrywingspunt PS Bosveld oor toekenning PU vir CHO eredoktorsgraad aan biskop Desmond Tutu

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Kommentaar op die manifes oor waardes, opvoeding en demokrasie

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Valse gelykheid

PERSRUBRIEK: 
Nog 'n parafraserende Bybel 

Kerklike besinning oor die persoon van Jesus Christus

Nie verskuilde agendas

Die "Israel-visie" - 'n verwronge Skrifbeskouing

Ewige rus in skadu van Voortrekkermonument

GESPREK MET LESERS: Evolusie en die Bybel

MEDIESE ETIEK: 
Gesondheidsrisiko en mediese fondse

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 1 Januarie 2003

DIE VROU IN DIE KERKLIKE AMPSBEDIENING ?

- DS RON CAMMENGA VSA - VERTAAL UIT OORSPRONKLIK ENGELS DEUR HANNES VAN HEERDEN -

(0ORGENEEM UIT ESRA VERSLAG, MEI-AUGUSTUS 2002, BL 42 VV)

(Tweede aflewering)

  Ondersoek na sekere argumente ten gunste van die Vrou in kerklike Ampsbediening

Ten spyte van die duidelike leer in die Skrif wat die vrou verbied om die kerklike ampte te vul, word deur voorstaanders van die vrou in die kerklike ampsbediening verskeie argumente voorgehou om hierdie leer omver te werp en hulle standpunt te ondersteun dat die kerk die ampte moet oopstel vir vroue. Ons behoort te kyk na die belangrikste daarvan.

In die eerste plek is daar die verwysing na sekere vroue in die Ou Testament wat die amp van profeet gevul het. Die Ou Testament vertel van drie profetesse: Miriam (Moses se suster), Deborah (beide profeet en rigter) en Hulda. Drie dinge moet in ag geneem word. Eerstens is dit die enigste uitsonderings van die algemene reël dat dié ampte deur mans gevul moet word, wat in die Ou Testament opgeteken is. Tweedens was dit waar in twee van die gevalle, dié van Deborah en Hulda, dat die algemene geestelike toestand van Israel baie laag was. Hulle is deur God geroep in 'n tyd van groot afvalligheid. Die rede waarom God hulle geroep en in die amp van profeet aangestel het, was eenvoudig omdat daar geen mans in Israel was wat geskik was om die amp te vul nie. Derdens is dit deur direkte openbaring van God waardeur hierdie vroue tot die ampte geroep is. Hulle was profete, dit wil sê persone aan wie God direkte, onmiddelike openbarings gegee het. As dit vandag nog steeds so was, kon ons vroue tot die ampte toegelaat het. God gee egter nie meer spesiale openbarings nie. Die gevolgtrekking is dus duidelik: Daar kan nie vroulike ampsdraers meer wees nie.

Tweedens word die argument voorgehou dat die vrou se algemene onderwerping aan die man en spesifiek haar onderwerping in die kerk, wat die vorm aanneem van nie-die-ampte-vul-nie, 'n deel van die vloek is, slegs gebasseer op die gevolge van die sonde en die val. Daar word verwys na Genesis 3:16: "Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap, met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers." Hierdie was die woorde van die vloek wat God aangekondig het teen die vrou as gevolg van die sondeval. Die volgende verse verwoord God se vloek oor die man, dat die grond om sy ontwil vervloek sal wees en dat hy met moeite daaruit 'n bestaan sal maak.

Die argument word so gevoer. Adam en Eva is oorspronklik in volkome gelykheid voor God geskape. Die sondeval het hierdie gelykheid vernietig, sodat die onderhorigheid van die vrou aan die man deel is van God se oordeel oor haar. Deel van die werk van Christus is om die vrou te verlos van haar deel van die sonde en vloek. In die kerk se taak om die werk van Christus te vcltooi moet hy hom inspan om die vrou op te hef, haar in oorspronklike posisie van volkome gelykheid te herstel, en dit vir haar moontlik te maak om volledig in die kerk diensbaar te kan wees. Net soos ons die gevolge van die sonde teenwerk met ontsmettingsmiddels en pynverligtings tydens kraam en lugversorgde trekkers vir werk, so moet ons poog om die hoofskap van die man teen te werk, omdat dit alleen maar rus op die sondeval en die gevolge daarvan.

Let op dat hierdie argument op twee vooronderstellings rus. Eerstens dat dat daar nie 'n hoofskap van die man oor die vrou voor die sondeval in die volmaakte skeppingsorde was nie. Tweedens dat die heers van die man oor die vrou deel van die vloek is, iets wat in sigself boos is, 'n gevolg van die sonde. Twee punte moet in antwoord op hierdie argument opgemerk word. Eerstens stem ons saam dat pogings om die gevolge van die straf op die sondeval te verlig, toelaatbaar is. Daar is niks op sigself daarmee verkeerd nie. Maar ons doen dit - nie deur die feitlikhede wat in Genesis 3 genoem word te verwyder nie: geboorte skenk, werk en die onderwerping van die vrou aan die gesag van die man. Hierdie realiteite is nie self die oordeel wat oor die man en vrou aangekondig is nie. Ons doen dit deur dit te beveg wat hierdie werklikhede verwring. In die geval bvan die man se heerskappy oor die vrou, doen die apostels dit in die Nuwe Testament deur mans aan te spoor om hulle vrouens lief te hê en te eer, hulle te versorg en te koester en nie verbitterd te raak nie.

Tweedens is ons antwoord op hierdie argument dat die Skrif nêrens self vrouens oproep om aan hulle mans of in die kerk onderhorig te wees omdat dit die gevolg van die sonde en die sondeval is nie. Die Nuwe Testament is konsekwent in sy appél op die skeppingsorde - die voor-die-son-deval-orde, wat die beginsel van die vrou se onderhorigheid vestig. Die feit is dat dit God se skeppingsorde is, soos ons sien in Genesis 1 en 2, wat die vaste basis vorm vir die Nuwe Testamentiese verbod teen vroulike gesag in die ampte van die kerk of in die huwelik en gesin. Dit is 1 Korintiërs 11:8,9; 1 Timoteus 2:13 en Efesiërs 5.

'n Derde argument vir die vrou in die kerklike ampte is die volgehoue beroep op Galasiërs 3:28. In die gebruik van hierdie gedeelte herinner die voorstaanders van die vrou in die kerklike ampsbediening ons aan 'n hond wat net een blaf het. Die teks is: "Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus." Laat dit gesê word, hierdie teks het absoluut niks te doen met die vraagstuk oor die vrou in die kerklike ampsbediening nie. Dit is nie die onderwerp van die gedeelte of van die konteks nie. 'n Aanhaling van hierdie gedeelte in hierdie verband is volledig van die punt af. Die onderwerp van Galasiërs 3:28 is redding en die genieting van die verlossing deur die gawe van die geloof in Jesus Christus.

Die punt wat die apostel maak is dat verlossing en geloof nie tot een sektor van die menseras beperk is nie. Die Nuwe Testamentiese kerk van Jesus Christus is 'n katolieke, of universele kerk. Verlossing is nie alleen vir die Jode nie, maar ook vir die Grieke; nie alleen vir die vry mens nie, maar ook vir die slaaf; nie alleen vir die witmens nie, maar ook vir die swart mense; nie alleen vir mans nie, maar ook vir vroue. Net so geld dit vir die gawe van verlossing as vir die nood tot verlossing: daar is geen verskil tussen man en vrou nie.

'n Verdere argument wat aangevoer word, een van die wat die meeste gehoor word, is dat dit 'n vermorsing is van die gawes van vroue om hulle nie tot die ampte toe te laat nie. Indien die kerk nie instem tot die toelating van die vrou in die kerklike ampsbediening nie, is hy skuldig aan die vermorsing van sy bronne en die vroue se gawes. So 'n argument is belaglik en is uiteindelik net 'n emosionele appél ten gunste van die vrou in die amp. Die saak ter sprake is nie of vrouens gawes het of nie, en of hulle dit moet gebruik of nie en of die kerk ywerig gebruik moet maak van hierdie gawes nie. Die vraag ter sprake is waar daardie gawes gebruik moet word. Dieselfde Heilige Gees wat die gawes aan die lidmate van die kerk gee, is ook die outeur van die Bybel, ook van die gedeeltes wat die vrou verbied om die ampte te beklee. Moet ons aanneem dat die Heilige Gees homself kan weerspreek?

Wat van die Amp van Diaken?

Alhoewel sommige saamstem dat vroue nie bevestig mag word in die amp van predikant of ouderling nie, gee hulle toe dat daar vroulike diakens in die kerk mag wees. Hulle argumenteer eerstens dat die diakens nie hoef te leer of regeer nie. Tweedens verwys hulle as ondersteuning vir hierdie standpunt na twee gedeeltes in die Bybel, wat, volgens hulle praat van vroue in die amp van diaken: Romeine 16:1 en 1 Timoteus 5:9 en wat daarop volg. Die standpunt dat vroue gemaklik in die amp van diaken kan dien omdat hulle nie hoef te leer of regeer nie, is foutief. Die diakens leer ook en oefen ook gesag uit oor die lidmate van die gemeente. Omdat hulle deel het aan die amp van Christus, deel hulle ook, saam met die predikant en die ouderlinge in die gesag van Christus. Om 'n amp te beklee, is uit die aard van die saak, om 'n gesagsposisie te beklee.

Dit is waarom die voorwaardes waaraan die diaken moet voldoen, soos die ouderlinge in 1 Timoteus 3, dat hulle hulle eie kinders en huishoudings goed regeer. Hierdie voorwaarde kom voort uit die feit dat die diakens moet deel in die regeer van die gemeente. Die feit van die saak is dat diakens in die uitoefening van hulle amp instruksies moet gee en amptelike onderrig namens die kerk van Jesus Christus. Hulle skryf nie net tjeks uit en betaal rekeninge nie. Die verwysing na 1 Timoteüs 5:9 en verder slaag nie daarin om die toelaatbaarheid van vroulike diakens te bewys nie. Eerstens omdat die apostel doelbewus hier nie na die vroue verwys as diakens of diakonesse nie, maar slegs as vroue. Tweedens, dit wat dit onmoontlik maak om hierdie gedeelte as bewys aan te haal in ondersteuning van die vrou in die amp as diaken, is dat die apostel verwag dat hierdie vroue weduwees moet wees en weduwees van ten minste sestig jaar oud. Diegene wat hierdie gedeelte aanhaal verlang dat die ampte oopgemaak moet word vir ALLE vroue.

Ook die voorbeeld van Fébé, in Romeine 16:1, bewys nie die toelaatbaarheid van vroulike diakens nie. Die gedeelte in die 1953 vertaling lees as volg: "Ek beveel by julle aan ons suster Fébé, wat 'n dienares is van die gemeente in Kenchréë." Die argument berus op die feit dat die woord wat met dienares vertaal is, ook met "diaken" of "diakones" vertaal sou kon word. Dit is die manier waarop dit in die nuwe (1983) vertaling vertaal is.

Daar is nie twyfel daaroor dat "diaken" ook 'n korrekte vertaling van die woord vir "dienares" is wat hier gebruik word nie. Die vraag is egter of dit in hierdie gedeelte 'n goeie vertaling is. óf is die 1953 vertaling korrek wat dit vertaal met "dienares"? Dit moet opgemerk word dat die woord "dienskneg" in die Nuwe Testament in baie verskillende verbande gebruik word. Dit verwys na diensknegte, manlik en vroulik, wat opgeroep word tot gehoorsaamheid aan hulle meesters, na diensknegte van God wat die posisie van regeerders beklee in die staat. Trouens, die woord kom in 'n hele aantal gedeeltes voor waar dit met "dienskneg" vertaal MOET word en waar dit onmoontlik is en nie sin maak om dit te vertaal met "diaken" of "diakones" nie. U kan dit vir uself toets deur van 'n goeie konkordansie gebruik te maak. Die punt is dat mens nie net van die woord self die gevolgtrekking kan maak dat Fébé 'n diaken (diakones) in die kerk was nie. En in die lig van die res van die Nuwe Testament, kon sy dit nie gewees het nie. Sy was 'n godvresende vrou wat haar medegelowiges in die gemeente Kenchréë gedien het, wat deur die apostel hoog aangeprys is, maar sy was nie 'n diaken nie.

Die onderliggende saak in die debat oor die vrou in die kerklike ampsbediening

Dit bring ons by die laaste argument van diegene wat die vrou in die kerklike ampsbediening voorstaan. Terselfdertyd kom die onderliggende motief daaragter na die voorgrond. Wat is hierdie onderliggende saak? Die Bybel verbied in duidelike taal vroue om in die kerk te leer of te regeer. Mens kan eenvoudig in die Skrif geen ondersteuning vir vroulike ampsdraers kry nie. Wat doen diegene dan wat die vroue in die ampte voorstaan? Hulle ontken dat hierdie Skrifgedeeltes in ons tyd binne ons omstandighede nog van toepassing is. Ons moet verstaan, so word geargumenteer, dat die Skrif tydsgebonde  en kultureel bepaald is. Wat die apostel geskryf het, is van toepassing op sy tyd binne sy omstandighede, maar geld nie vir ons vandag in ons tyd en kultuur nie. Die onderliggende saak is dus die Skrif en die belydenis van die inspirasie, onfeilbaarheid en gesag van die Heilige Skrif.

Ander sien dit ook so. In 'n artikel in "Christianity Today" tydskrif (9 April 1976), oor die saak van die vrou in die amp, skryf George W Knight III as volg: "Maar ek is bevrees dit lyk asof sommige wat oor die onderwerp skryf, die onfeilbaarheid van die Skrif en die gesag van sy onder-wysing verwerp. Selfs sommige wat aanspraak maak daarop dat hulle Skrifgetroue Christene is wat hulle onderwerp aan die gesag van God en sy Woord, blyk gewillig te wees om die gedeeltes in die Skrif wat lyk of dit hulle standpunt ondersteun uit te lig en ander gedeeltes te verswyg of om dit as verkeerd af te wys of as kultuurbepaald en nie normatief nie. Selfs wanneer hierdie Skrifgedeeltes self daarop aanspraak maak om normatief te wees en nie kultuur bepaald nie."

Dit is presies wat Paul K Jewettt doen in sy boek "The ordination of Woman". Jewett is professor in Sistematiese Teologie by die "Fuller Theological Seminary" in Californiê. In sy boek deins hy nie daarvan terug om Paulus se leer eenvoudig as 'n toepassing van 'n foutiewe rabbinistiese gesigspunt af te maak nie. Hy skroom ook nie om Paulus se verstaan van Genesis 1 en 2 as verkeerd te bestempel nie. Hy gaan verder en stel dat Paulus se leer eenvoudig deur die kultuur waarbinne hy geleef het gevorm is waarom dit vandag nie meer nagevolg hoef te word nie. In 'n onlangse artikel in "The Banner" het die redakteur Andrew Kuyvenhoven 'n soortgelyke standpunt ingeneem:

Daar is geen twyfel in my gemoed dat Paulus vir vroue 'n beperkte rol in die erediens voorgeskryf het toe hy 1 Korintiërs 14:34 en 1 Timoteus 2:12 geskryf het nie. Die redes vir hierdie beperking was egter plaaslik, kultureel en derhalwe tydelik. Paulus kon hom beroep op dit wat in sy tyd 'n algemene morele oordeel was: 'n vrou wat in die gemeente praat lyk "lelik" (1 Kor 14:35). Maar wanneer so 'n beroep nie meer gedoen kan word nie, word die spesiale apostoliese voorskrif ook verwyder (The Banner, 23 Januarie 1984).

Ons antwoord op hierdie argument is eenvoudig: Ons ontken dit! Dit is verkeerd en 'n finale aantasting van die leer van die Heilige Skrif. As hierdie argument toegelaat word om in die kerk stand te hou, het die kerk alles verloor. Die saak ter sprake is nou nie die vrou in die amp nie. Dit is 'n rand aangeleentheid, 'n klein saak. Wat op die spel is, is die onfeilbaarheid en daarmee saam die gesag van die Skrif. Die posisie van die vrou in die ampte is maar net nog 'n aanval, tussen soveel ander vandag, teen die Skrif self. Op die ou end, as die standpunt dat die Skrif kultuurbepaald en tydsgebonde is, gehandhaaf word, sal dit moontlik wees om enige leerstelling en elke wet van die Skrif tersyde te stel. Hierdie aanspraak dat die apostel se onderrig deur die kultuur en die tyd waarin hy geleef het bepaal is, staan direk teenoor die apostel se eie aanspraak dat dit wat hy leer die wil van God is, 'n aanspraak wat die apostel maak in dieselfde gedeeltes waar hy die vroue verbied om in die ampte van die kerke te dien. In 1 Timoteus 2 stel die apostel dat die verbod op die vrou in die ampte op God se wil gebaseer is, soos dit in die skeppingsorde geopenbaar word. Reeds in vers 7 van die hoofstuk het hy in verband met die instruksies wat hy op die punt was om te gee, uitdruklik gesê: "Ek sê die waarheid in Christus, ek lieg nie." In 1 Korintiërs 1:34 sê die apostel dat sy instruksies hulle fundering in die Wet vind. in die wil van God soos dit reeds in die Ou Testamentiese wette geopenbaar is: "Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê. " Die apostel sê hier presies die teenoorgestelde wat die mense vandag beweer, dat sy onderrig op die blywende wil van God, soos geopenbaar in die Wet, gebaseer is.

Ek vra u, veronderstel vir een oomblik dat die Here Jesus sou toelaat dat Hy gedruk word deur die kultuursituasie van sy dag? Het Hy ooit geswig voor die vooroordele en verkeerdhede? Moet ons werklik veronderstel dat die Een wat egbrekers vergewe het, saam met tollenaars en sondaars geëet het, wat nie bang was om die foute en skynheiligheid van die kerkleiers van sy dag uit te wys nie, dat Hy bang was om die kultuur van sy dag aanstoot te gee? Was dit die rede waarom Hy nie vroulike dissipels aangestel het nie? Deur dit te vra is om dit te antwoord.

Dit laat mens wonder! Mens wonder werklik oor hierdie kultuurvraag. Wie is eintlik die produk van hulle kultuur? Jesus? Die apostels? Of diégene vandag wat hulle vir die aanvaarding van vrouens in die kerklike ampsbediening beywer? Die vraag kom op of - na alles - dit nie vandag se voorstaanders van die vrou in die ampte is wat voor 'n godlose, antichristelike kultuur waaruit die hele moderne vroue-beweging verrys het, geswig het nie. Mens wonder!

In elk geval - laat ons dit duidelik besef - indien die moderne standpunt die stryd wen, is eerstens die hele leer oor die onfeilbaarheid en gesag van die Skrif by die venster uit.  En tweedens is die duidelikheid en verstaanbaarheid van die Skrif daarmee heen en geen gewone Christen sal in staat wees om die Bybel meer te lees en te verstaan nie. Hy sal moet vertrou op die kundiges wat insig het in die linguïstiese, filosofiese en historiese oorwegings wat die skrywers van die Bybel beïnvloed het. Soos in die Roomse kerk van vóór die reformasie gebeur het, sal die Bybel uit die hande van die gewone mense geneem word en weer beperk word tot 'n hiërargie van kundiges. God bewaar ons van so 'n ramp!

Ons roeping om te staan teenoor hierdie beweging

Die kerk vandag en die individuele lidmaat moet standpunt innneem teenoor die beweging om vrouens in die kerklike ampsbediening te aanvaar. Wat ookal die koste, watter offers ookal gevra word, watter persoonlike onreg ookal verdra moet word, ons moet vasstaan! Ons moet die Skrif se standpunt handhaaf, sonder kompromieë. Martin Luther het eenmaal aan die bontpraters van sy dag gesê:  "As ek met die hardste stem en die duidelikste uitleg elke deel van die waarheid van God bely, behalwe vir daardie een klein puntjie wat die wêreld en die duiwel op daardie oomblik aanval, is ek nie besig om Christus te bely nie. Waar die geveg woed, dáár word die lojaliteit van die soldaat beproef, en om standvastig te wees op al die gevegsfronte aan die kant, is alleen maar ontvlugting en 'n skande as hy op dáárdie punt terugdeins.

Hierdie standpuntinname van die kerk en die gelowige moet 'n volgehoue en konsekwente posisie wees Dit moet 'n standpuntinname wees teen die vrou in die amp van leraar, ouderling of diaken. Vrouens moet ook nie katkisasie gee nie. Die gereformeerde standpunt is dat kategetiese onderrig net soveel amptelike onderrig is soos die verkondiging van die Woord op Sondag. Vroue moet ook nie stemreg gegee word tydens gemeentebyeenkomste van die kerk nie. Gemeentevergaderings is amptelike vergaderings van die gemeente. Vir 'n vrou om te stem by dié vergaderings is vir haar om gesag uit te oefen om sodoende in te kom in die regering van die kerk. Dit is verbode. Daar is 'n ou spreuk in die Verre Ooste wat lui dat die tyd om 'n kameel uit jou tent te hou is wanneer hy sy neus in jou tent indruk. As jy sy neus inlaat, kan jy verseker wees dat die res van sy lyf sal volg. Gereformeerde kerke doen goed as hulle verhoed dat die neus van hierdie kameel hulle tente binnedring.

Die positiewe roeping van vroue

Hierdie standpuntinname van die kerk wat vroue verbied om in die besondere kerklike ampte te dien, moet 'n standpunt wees wat andersins ook duidelik aan die vrou voor-hou wat haar positiewe roeping in die gemeente is. Daardie rol word saamgevat in 1 Timoteus 2:15: "Maar sy sal gered word deur kinders te baar, as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking met ingetoënheid." Die gekla van die moderne Vrouebeweging vind sy oorsprong in die verwaarlosing en minagting van die positiewe roeping wat God aan hulle gee. Die Bybel roep vroue tot die taak van kinders baar. Hierdie is die unieke en heerlike roeping wat God aan die vroue van die kerk gee. In die uitoefening hiervan vind hulle selfverwesenliking. God gee aan die vroue ruim geleentheid om hulle kinders te onderrig en te regeer in die vrees van sy Naam. Met die oog hierop het God die vrou met vele gawes geseën: fisies, emosioneel, geestelik; gawes wat God aan die man nie gegee het nie. Deur hierdie roeping te vervul word God se kerk in die wêreld gebore en bymekaar gemaak. Op hierdie manier het Christus in die wêreld gekom, volgens die Bybel gebore uit 'n vrou, en God het nie 'n man nodig gehad en te gebruik nie. Hoe nodig is dit nie om hierdie roeping van die vrou vandag te beklemtoon nie! Hoe weier vroue nie vandag om hierdie Godgegewe roeping uit te leef nie, deur middel van geboortebeperking, of erger, deur die koelbloedige moord van aborsie. Watter verskriklike oordeel van God rus sodoende nie op hulle nie!

Die apostel gaan so ver in 1 Timoteus 2:15 om te sê: "...sy sal gered word deur kinders te baar." Natuurlik word vroue, net soos mans, gered deur die bloed van Jesus Christus. Maar hulle word gered in die proses van kinders baar. Hulle word nie gered in die proses van prediking nie, ook nie in die proses van regeer nie, ook nie in die proses van die bediening van die genadegawes van Christus in die kerk nie. Hulle word gered in die proses van kinders baar.

Wat van vroue wat die tyd van kinders in die wêreld bring verby is, of vir wie die Here nie die voorreg van kinders te hê gegee het nie? Het hulle dan nie plek in die kerk nie? Hulle het maar alte seker! Laat hulle bekend wees soos Dorkas vir haar goeie werke en aalmoese. Laat hulle die vaderloses, die weduwees, die siekes en die ou mense besoek in hul beproewing. Laat hulle die plek vul van die ouer in die Christelike skool. Laat hulle die armes bystaan en betrokke wees op al die maniere waarop hulle betrokke kan wees om lidmate van God se Kerk te help. Hulle mag egter nie leraars, ouderlinge of diakens wees nie. Dit is wat die Woord ons leer.