|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 1 Januarie 2003
WAT IS 'N LEWENSBESKOUING?
AP TREURNICHT DR- IN: 1974: "WAAR DIE SOEKLIG VAL" (BL 97 - 82)
Ons praat dikwels van ons Christelike lewens- en węreldbeskouing Maar wat verstaan ons onder 'n lewens- en węreldbeskouing? Feit is dat wanneer ons sinvol wil nadink oor ons eie lewe of die węreld rondom ons, ons eintlik ook, of allereers, die vraag na ons geloof in God ter sprake moet bring.Prof HG Stoker sę in sy boek: Beginsels en Metodes in die Wetenskap, dat ons die volgende met 'n lewens- en węreldbeskouing bedoel: Dis "die geheel van antwoorde of oortuigings van die mens aangaande fundamentele vrae betreffende die oorsprong, sin, bestemming, doel en waarde van mens en węreld en van hul verhouding tot God (of iets wat afgodies in die plek van God gestel word)."
Feit is dat sodanige beskouing uit elke faset van ons lewe spreek, al bedoel ons dit ook nie bewustelik nie. Ons godsdiens en sedelike lewe, ons insig teen handelinge op die gebied van die ekonomie en die regswese, ons skepping čn ons waardering van kuns, ons wetenskapsbeoefening, ons siening aangaande die betekenis van die huisgesin, die volk en die staat, ons kerklike en maatskaplike lewe, ja, ons hele geskiedenis, weerspieël en wortel in 'n lewens- en węreldbeskouing.
Dit beteken dat daar 'n sentrale waarheid of waarhede is wat in ons siening van dinge oorheersend is. 'n Mens sien moontlik nie al die implikasies van jou uitgangspunt nie. Jy mag selfs onbewus in botsende węrelde lewe. Maar dan is dit 'n leemte in jou siening. Immers, dit kan nie innerlike botsings huisves nie, want die waarheid is self 'n eenheid. Dis om hierdie rede dat jy 'n opponent eintlik buite aksie stel as jy kan aantoon dat sy beskouing innerlik teenstrydighede bevat of ook gevaarlike gevolge inhou.
Mense se lewens- en węreldbeskouings verskil na gelang die uitgangspunte of sentrale waarhede daarin verskil. Daar is diegene onder ons wat sę die Drieënige God, soos Hy Hom in die Bybel, in Christus en in die geskiedenis en die natuur openbaar, staan in die middelpunt van ons lewens- en węreldbeskouing. Maar daar is ook diegene wat eintlik die kerk, of die mens, die enkeling, die volk, die staat, die arbeidersklas, die menslike verstand, die stoflike węreld, of selfs die wetenskap en die kuns tot beheersende middelpunt het. Dit is dan die sentrum waaruit die waarde en die sin van die lewe bepaal word.
Ter illustrasie wil ek verwys na wat iemand 'n ruk gelede in 'n brief aan 'n koerant gesę het oor die verantwoordelikheid van die kunstenaar teenoor God en die kuns. Daaruit blyk 'n bepaalde lewens- en wëreldbeskouing. Om die bestaan van God van denkbeeldigheid te red, aldus sę die skrywer, moet ons eerder aanvaar dat die goddelikheid in ons is, in die individu, en derhalwe ook in die gemeenskap. Die kunstenaar se soewereiniteit of opperheerskappy moet dan gepaard gaan met 'n verantwoordelikheid teenoor homself en dus ook teenoor die gemeenskap. As die kunstenaar voor 'n keuse te staan kom van die twee begrippe"kuns om die kuns" of "kuns tot verheerliking van God", sal die kunstenaar - volgens hom - telkens die kuns om die kuns kies. Uit hierdie siening spreek 'n lewensbeskouing. En daarvolgens is God eintlik nie die Almagtige, bo en buite die mens nie, maar 'n soort verhewe beginsel of kennnis wat in die mens beliggaam word.
Ek wil daarop wys dat hierdie siening ook aan 'n ander vereiste vir 'n lewens- en węreldbeskouing beantwoord en dit is dat dit 'n religieuse grondmotief het. Ook die nie-Christen se siening van die lewe en die węreld het 'n religieuse grondmotief. Die verskil met dié van die Christen kom hierop neer: Vir die laasgenoemde gaan dit om die geloof in God, die Here, die Vader van onse Here Jesus Christus, en die konsekwente gehoorsaamheid aan Hom. Vir die nie-Christen gaan dit om iets uit die geskape węreld wat hy op 'n afgodiese wyse in die plek van God tot beheersende middelpunt maak. Of dit dus God of afgod is, die siening is religieus bepaald. Wie die mens of sy gawes en vermoëns vergoddelik, moet in sy lewens- en węreldbeskouing noodwendig God en sy wet degradeer tot faktore waaroor die mens self kan beskik.
'n Ander kenmerk van 'n lewens- en węreldbeskouing is dat dit saamval met 'n besef van geroepenheid. Dit gaan vir ons nie net daarom dat ons gees voortdurend gewaarwordings, ervarings, menings en kennis verwerk in 'n eenheid van beskouings nie. Juis omdat die geskape werklikheid diepe sin het, openbaar dit aan ons ons moontlikhede en ons verpligtinge. En as dit reeds so is dat 'n mens deur sy kennis van die natuur of die gebeurde rondom hom aangegryp en in beweging gebring word, dan is dit veel meer die geval met die mens wat sy kennis, dryfkrag, daadkrag en onderskeidingsvermoë ontvang uit sy geloof in God en gehoorsaamheid aan Hom.
Hierdie geloofskennis is 'n greep op die hart van die mens. Daarmee ken en dien die mens nie alleen God nie, maar word sy kennis en dade so gelei en geďnspireer dat dit van hom 'n profeet maak - iemand wat selfs sy lewe vir dié geloof sal aflę. Dit is die dinamiese in ons lewens- en węreldbeskouing.
Vir die Protestantse Christen is verder ook die volgende van deurslaggewende betekenis: Voorop staan die geloof in God soos Hy Hom in sy Woord en in Christus geopenbaar het. Die Bybel is ons kenbron van God en sy wet vir ons lewe. En die sentrale gedagte van die Bybel is op sy beurt die skepping, sondeval, verlossing en vernuwing.
Die Bybel is nie 'n presiese handboek vir die wetenskap, landbou, tegnologie of kuns nie, maar dit werp lig op die hele węreld, die hele mens in al sy uitinge. Die God van die Bybel is nie slegs God van die kerk of wetgewer vir ons sedelike lewe nie, maar die Skepper van hemel en aarde. Dit wil sę, Hy kan ook uit die skepping of uit die natuur geken word. En so is dit ons taak om Hom in sy gedagte, soos in die natuur uitgedruk, denkend te volg en daarop te reageer.
Waarmee die Christen egter in sy siening rekening hou - en dit ongeag aanleg, talente en roeping - is die sondeval waardeur ons ware begrip van die werklikheid so verduister is, en die koers of gerigtheid van ons lewe en werk so verlę is - weg van die verheerliking van God - dat die lig van die Bybel en die verlossing en herskepping deur Christus onontbeerlik geword het.
Die Christen, as beskouer van die lewe in die węreld, hou dus daarmee rekening dat hy na 'n węreld kyk wat gebroke is, en dat hy self, as hy die węreld en die lewe reg wil beoordeel, met die oë van die nuwe herskape mens daarna moet kyk.
Hy sal verder bely dat alle dinge aan die oppergesag van God onderworpe is - dus nie net die kerk nie, maar ook die maaatskappy, die staat, die kuns, ekonomie en wetenskap en kultuur. Wie dus van die soewereiniteit van die kuns praat deur dit te grond op die goddelikheid in ons, verafgood die kuns en huldig nie die Christelike siening oor die kuns nie.
In aansluiting hierby erken die Christen egter die ryke verskeidenheid. Daar is onderskeid tussen stof, plant, dier en mens; onderskeid tussen die logiese, die juridiese, die estetiese en die etiese aspekte van die werklikheid. Veel misverstand sou voorkom gewees het indien ons byvoorbeeld godsdiens, kuns en sedelikheid helderder van mekaar onderskei het enersyds, en hulle tog elk in sy onderworpenheid aan Gods wet gehandhaaf het, andersyds - die verskeidenheid waarin daar tog ook nie teenstrydighede mag wees nie.