Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die glybaan af ... òf die reformasiepad op?

AKTUEEL: Geweldskultuur in SA       

SKRIFOORDENKING:
Die enige ware God (Deut 6:4)

Die wyse manne uit die Ooste

Die vrou in die kerklike ampte?

Wat is 'n Lewenbeskouing?

Die Apostoliese Geloofsbeleidenis teenoor die Nuwe Hervorming

KERKLIKE JOERNAAL: 
Sake op die Agenda Sinode GKSA

Regeringsplan Tersiêre Onderwys

Vroue in die GKSA in ampte?

Beskrywingspunt PS Bosveld oor toekenning PU vir CHO eredoktorsgraad aan biskop Desmond Tutu

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Kommentaar op die manifes oor waardes, opvoeding en demokrasie

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Valse gelykheid

PERSRUBRIEK: 
Nog 'n parafraserende Bybel 

Kerklike besinning oor die persoon van Jesus Christus

Nie verskuilde agendas

Die "Israel-visie" - 'n verwronge Skrifbeskouing

Ewige rus in skadu van Voortrekkermonument

GESPREK MET LESERS: Evolusie en die Bybel

MEDIESE ETIEK: 
Gesondheidsrisiko en mediese fondse

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 1 Januarie 2003

DIE APOSTOLIESE GELOOFSBELYDENIS TEENOOR DIE NUWE HERVORMING

-  SLABBERT LE CORNU  -  POTCHEFSTROOM   -

GEPUBLISEER IN ESRA VERSLAG, SEPTEMBER-DESEMBER 2002 (BL 80 - 89)

  1. Inleiding

Elke Sondag, regoor die wêreld, ook in Suid-Afrika, word die Apostoliese Geloofsbelydenis [afkorting AGB] in baie kerke bely. Dit is die basiese belydenis wat die kerk van ons Here Jesus Christus vir die afgelope 1500 jaar saambind. Die eenheid van die kerk is egter konstant onder die aanslag van hulle wat die woord van God probeer verdraai om iets anders te sê as wat dit nog altyd gesê het. Ook die tye waarin ons lewe, is ‘n getuienis daarvan. Sommige beweer dat die Kerk van Christus in Suid-Afrika. vandag voor sy grootste uitdagings en aanslae ooit te staan kom, wat daarop uit is om die kerk te probeer vernietig of irrelevant te maak. Ou dwalinge word in nuwe baadjies aan ons voorgehou, en indien ons nie die Skrif, die kerkgeskiedenis en ons belydenisskrifte ken nie, word ons maklik slagoffers vir die nuutste sak slange wat ‘n dwaalleraar die kerke wil aanbied as evangelie.

In Beeld van Donderdag, 19 September 2002, onder die opskrif "Derde Christelike tradisie kom dalk, sê toekomskundige", lees ons die bewering dat naas die Westerse en die Oosterse-ortodokse Christelike tradisies (wat albei die AGB aanvaar), daar dalk ‘n derde Christelike tradisie kan ontstaan, waar Jesus gesien word "as ‘n buitengewone wysheidsleraar wat ‘n koninkryk van die hemel verkondig wat ‘n mens in hierdie lewe reeds kan ingaan." Daar word verder beweer dat die noodsaak daarvoor is as gevolg van:

sinkretisme tussen verskillende gelowe en dat die verskillende gelowe nou nader aan mekaar staan as 2000 jaar gelede,

die Boeddhisme wat na die Weste oorgebring is, en

die ontdekking in 1945 van die antieke geskrifte by die Nag Hammadi in Egipte, wat "nie enige besondere betekenis geheg het aan die dood van Jesus nie"

Die konklusie wat die toekomskundige. dr. Piet Muller, dan daaruit maak, is vir die onderwerp van hierdie artikel van kardinale belang: "Volgens Muller voel al meer mense dat die Apostoliese Geloofsbelydenis nie meer hul geloof uitdruk nie."

Natuurlik, geen belydenisskrif kan of mag langs die Skrif geplaas word nie, maar dit is nie wat hier op die spel is nie. Nee, dit gaan oor die inhoud van hierdie belydenis. Hier word na die wortel van die Christendom gegaan, naamlik die waarhede van die Skrif soos dit geformuleer is deur bloed en stryd in die eerste 500 jaar van die kerkgeskiedenis. Gerald Bray se woorde is tekenend van ons tye, as hy skryf:

At a time when Christian commitment is lower than ever before, and when all branches of the Church have admitted the need for clear, incisive evangelism, it seems that the leading theologians of our colleges and universities are engaged in a kind of competion to see which of them can deny the greatest number of central Christian doctrines without being disciplined.

In die lig van hierdie krisistye, veral in die kerk, word daar na die volgende drie aspekte aangaande die AGB gekyk:

i. die agtergrond: wanneer en hoe dit ontstaan het en deur wie, asook die rede vir die ontstaan;

ii. die inhoud van die AGB, met name die ‘twaalf artikels’ soos dit ook genoem word;

iii. die betekenis daarvan vir ons tyd.

 

2. Agtergrond

2.1. Belydenisskrifte

In die kerke van gereformeerde belydenis, word naas die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls, ook die drie ekumeniese belydenisskrifte van die vroeë kerk aanvaar, naamlik:

die Apostoliese Geloofsbelydenis

die Geloofsbelydenis van Nicéa

die Geloofsbelydenis van Athanasius

Die woord ‘belydenis’, kom van die Latynse woord credo, wat Ek glo, beteken. Volgens Schaff, is ‘n credo ‘n belydenis van geloof vir publieke gebruik, wat deur die kerk nodig geag word om te glo vir verlossing en ter wille van die gesondheid van die kerk. Die noodsaak vir belydenisskrifte is juis om teenoor die dwaling die ware leer te bevestig en duideliker uit te werk. Dr. .PJS de Klerk gee vier redes vir die noodsaaklikheid van die belydenisskrifte: 

die bestaan van die kerk,

die noodsaak van selfverdediging.

die eendrag in die leer.

die bewaring van die suiwerheid van die leer.

Die ‘positiewe’ kant van dwalinge is dat dit die kerk dwing om rekenskap van sy geloof te gee teenoor die leuen (2 Kor.10:5,6; 1 Petr.3:15, ens.). Die oorsprong en oproep tot belydenisskrifte is te vinde in die Skrif self. In die Nuwe Testament lees en kry ‘n mens sekere kort credo’s, of die oproep daartoe: Mark.9:23-24; Joh.4:42; 6:68-69; 9:38; 11:27; 16:30; Hebr.4:14. Die kerk van Christus is dus vanaf die begin ‘n belydende kerk, en wie die belydenisse aanvaar as die amen van die kerk op die Woord van God, sal ook die AGB aanvaar as ‘n belydenis van die algemene ongetwyfelde Christelike geloof. Die Heilige Skrif is God se woord aan die mens, en die belydenisskrif is die mens se antwoord op God, waarin die volk van God die waarhede van die Skrif sistematies saamvat en bely. Schaff skryf daarom:

The Bible is norma normans: the Confession the norma normata. The Bible is the rule of faith (regula fidei); the Confession the rule of doctrine (regula doctrinea). The Bible has, therefore, a divine and absolute, the Confession only an ecclesiastical and relative authority.

Die gereformeerde kerke bely in NGB, artikel 7, dat geen geskrifte gelyk aan die Heilige Skrif gestel mag word nie, en stel dit verder duidelik dat die belydenisskrifte onderskryf word omdat (quia) dit ooreenstem met die Heilige Skrif, en nie vir soverre (quatenus) dit ooreenstem met die Skrif nie. Dus, vir die gelowige wat Christus en sy kerk liefhet, geld die leuse: Credo, ergo confiteor (Ek glo, daarom bely ek).

2.2. Ontstaan van die Apostoliese Geloofsbelydenis

In die Rooms-Katolieke Kerk het daar ‘n tradisie ontstaan wat beweer dat die AGB deur die apostels opgestel is, onder die inspirasie van die Heilige Gees. Elke dissipel sou ‘n artikel byvoeg. Daar is egter geen bewyse daarvoor nie, en hierdie bewering is al genoegsaam weerlê in die geskiedenis.  Daarteenoor het kerkhistorici daarop gewys dat die AGB ontstaan het as noodsaak vir ‘n belydenis wat by die doop van volwassenes benodig is. Volgens die getuienis van Justinus, Irenaeus en Tertulianus, het daar in die middel van die 2de eeu bepaalde formules ontstaan wat afgelê moes word by die doop, wat basies ‘n kort belydenis was aangaande God die Vader, Seun en Heilige Gees. Deur die verloop van die eerste paar eeue, het dit verder ontwikkel totdat dit sy finale beslag gekry het in die 4de eeu, soos ons dit vandag ook ken. Wat die naam betref, is die term ‘apostolies’ gebruik om daarmee aan te dui dat dit in lyn is met die leer van die apostels, soos hul dit ontvang het van God deur Christus en die profete (Joh.16:13; 17:17; Ef.2:20; Hebr.1:1,2).

3. Onderwerp en inhoud van die Apostoliese Geloofsbelydenis

In die Heidelbergse Kategismus, Sondag 7, vr.&antw.23 word die AGB gegee as antwoord op vraag 22, nl. ‘Wat moet ‘n Christen glo?’. In artikel 9 van die NGB, lees ons verder:

Hierdie leer van die heilige Drie-eenheid is in die ware kerk van die tyd van die apostels af tot nou toe altyd onderhou en gehandhaaf teenoor die Jode, Mohammedane en sommige vals Christene en ketters soos Marcion, Mani, Praxeas, Sabellius, Samosatenus, Anus en dergelike, wat tereg deur die regsinnige vaders veroordeel is. Daarom aanvaar ons in hierdie opsig graag die drie belydenisse, naamlik die van die Apostels (Apostoliese Geloofsbelydenis – red.), Nicéa en Atanasius, en ook wat die vaders in ooreenstemming hiermee besluit het."

In hierdie belydenis word aan ons gesê wat die inhoud en onderwerp is van die AGB: ‘n belydenis aangaande God Drie-enig. Die AGB word in drie groot dele ingedeel, waaronder 12 afsonderlike leerstellinge sorteer. Die drie hoofdele is as volg:

deel 1: God die Vader en ons skepping,

deel 2: God die Seun en ons verlossing,

deel 3: God die Heilige Gees en ons heiligmaking.

Vervolgens sal ons, na aanleiding van die Heidelbergse Kategismus se behandeling in Sondag 9-22, die inhoud van die AGB kortliks behandel, volgens die 12 artikels waarin dit verdeel is:

3.1. Deel 1: God die Vader en ons skepping

Artikel 1: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde. Wat die teks betref, word dit algemeen aanvaar dat die gedeelte ‘die Skepper van hemel en aarde’, nie deel van die oorspronklike Apostolicum Romanum was nie, soos dit eers bekend gestaan het in sy ontstaansjare, en is dit eers later bygevoeg. ‘n Mens moet egter dadelik byvoeg dat die belydenisskrifte van die Ooste reeds van vroeg af God bely het as die Skepper van alle dinge. In hierdie artikel vind die gelowige ook die troos van God se troue sorg en dat alle dinge wat oor sy lewe kom, God dit tot sy beswil sal laat geskied. Die leer van die voorsienigheid van God word ook hierdeur bevestig. Met hierdie artikel het die vroeë kerk lynreg teenoor die dwalinge van Marcion en die Gnostiek gaan staan. Laasgenoemde het onder andere beweer dat die Ou en Nuwe Testament elkeen sy eie god het, en dat die Vader van Jesus en die Skepper Vader verskillende gode was. Die vroeë kerk (asook die een, heilige, algemene Christelike kerk daarna) handhaaf daarteenoor, ook teenoor die neiging vandag om die Ou en Nuwe Testament teenoor mekaar te probeer afspeel, die eenheid tussen die Ou en Nuwe Testament.

Verder het die kerk ook deur hierdie artikel bely dat die skepping ook ‘goed’ was en het hul ook daardeur die dwaling van Manicheïsme verwerp, wat ook die moontlike rede kon wees vir die latere toevoeging van die gedeelte: ‘Skepper van hemel en aarde". Hierdie artikel, is dus nie net die fondament van die AGB nie maar ook van die Skrif en die geloof self. Die feit dat God die Skepper van alles is, bevestig dat Hy ook die wetgewer, bepaler en onderhouer daarvan, asook van die geskiedenis, is. Alles moet dus aan Hom onderwerpe wees en na Hom luister, want sonder Hom kan ons niks doen nie (Joh.15:5). Daarom skryf Philip Schaff tereg:

Without a correct doctrine of creation there can be no true doctrine of redemption, as all the Gnostic systems show.

Die toegewing deur baie goedbedoelde Christene, om die skeppingsverhale af te maak as "simbolies", en dus nie werklike geskiedenis nie (teïstiese evolusie, naamlik God het deur evolusie geskep deur miljoene jare, ensovoorts), het dus ‘n baie groot prys om te betaal: die aantasting van die Evangelie self! 

3.2. Deel II: God die Seun en ons Verlossing

Artikel 2: en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

Artikel 3: wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;

Artikel 4: wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel;

Artikel 5: wat op die derde dag opgestaan het uit die dood;

Artikel 6: opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader;

Artikel 7: vanwaar Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel.

Die tweede deel van die AGB bevat die meeste inhoud. Die rede daarvoor is dat dit juis die vraag aangaande die wese, persoon en werke van Jesus Christus van Nasaret was, wat in die midde gestaan het van die stryd teen die dwalinge in die eerste paar eeue van die kerk. Die belydenis van Nicea, Athanasius en Chalcedon het almal ten doel om die leer aangaande Christus verder uiteen te sit en te verdedig teenoor verskillende dwalinge. In artikel 2 en 3 word die goddelikheid én menslikheid van Christus bely, en deur artikel 4 word vir ons bevestig dat Hy ‘n historiese persoon was wat geleef, gesterf, begrawe is en opgestaan het, onder die Romeinse goewerneur, Pontius Pilatus. Artikels 2 tot 6 staan loodreg teenoor die dwalinge van Arius, wat geglo het dat Christus nie ook God is nie, maar net ‘n goeie mens. Christus is uit ‘n maagd gebore, deur die werking van die Heilige Gees, waardeur Hy tegelyk die ware nakomeling van Dawid is, aan alles aan Sy broers gelyk, ‘behalwe die sonde’. Daar is al baie besin oor die woorde ‘en neergedaal het na die hel’. Volgens van Rensburg en Cornelius, is hierdie woorde ‘n laat invoeging, en moet dit ook eerder vertaal word as ‘en neergedaal na die doderyk’. wat ook beter in lyn is met die dogmatiese interpretasie en verklaring van die Heidelbergse Kategismus, vraag en antwoord 44. Artikels 5 tot 7 handel oor die opstanding, hemelvaart en wederkoms van Jesus Christus, soos die Skrifte geprofeteer het (Ps.110), en vervul is in Christus, volgens die Skrifte in die Nuwe Testament. Christus se opstanding, bevestig daardeur ook sy kinders se opstanding, terwyl die AGB deur die artikel van die hemelvaart ook daarop wil wys dat Christus weer sal kom, wat veral ‘n groot troos vir die gelowiges was wat so erg vervolg is in die eerste eeue van die vroeë kerk. Gelowiges wat dus vashou aan die AGB, is dus mense wat vanuit die verlede, in die hede lewe, met hul oog gevestig op Hom wat weer kom in die toekoms.

3.3. Deel III: God die Heilige Gees en ons heiligmaking

Artikel 8: Ek glo in die Heilige Gees;

Artikel 9: ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeen-skap van die heiliges;

Artikel 10: die vergewing van sondes;

Artikel 11: die opstanding van die liggaam

Artikel 12: en ’n ewige lewe.

In hierdie afdeling word daar nie ingegaan op die wese van die Heilige Gees nie, maar op die werk van die Heilige Gees. Hy - wat saam met die Vader en die Seun - ware en ewige God is, laat die gelowige deel kry aan Christus en al Sy weldade. Hy is die ‘instrument’ (‘deur Sy Gees en Woord’) wat die Seun van God gebruik om sy kerk regdeur die geskiedenis te versamel, te bewaar en te onderhou. Dit is deur die Gees wat Christus gelowiges bymekaarbring om die kerk van Christus te vorm, en dit is deur die Gees wat die liggaam weer gaan opstaan en vir ewig gaan lewe. In die vroeë kerk, en ook in die tyd van die Hervorming, wil dit blyk dat die leer van Heilige Gees nie soveel aandag geniet het as die ander twee Persone van die Drieëenheid nie. Dit kan wees omdat die leer nog nie soveel deur dwaalleraars aangetas is nie, maar dit het wel met die skeuring tussen die Westerse en die Oosters-ortodokse kerke in die 11de eeu meer op die voorgrond getree. Met die opkoms van die charismatiese en pentakostalistiese bewegings in die twintigste eeu, het die leer meer aandag begin kry, en kan dit wees dat in die 21 ste eeu, veral in die konteks van die herlewing van mistieke bewegings binne en buite die kerk, dit meer aandag mag vra van die kerk van Christus, ook in die belydenisskrifte wat hy produseer.

4. Vandag

In die koerantberig wat hierbo aangehaal is, skryf Muller ook dat die "ontdekking in 1945 van antieke geskrifte by Nag Hammadi in Egipte het ‘n nuwe blik gewerp op ‘n vroeë Christendom". Dit is hierdie ‘nuwe blik’ wat vandag die aanslag teen die kerk van Christus lei deur die aanhangers van die sogenaamde Jesus Seminaar beweging, en wat in Suid-Afrika bekendstaan onder die naam ‘Die Nuwe Hervorming’. Alhoewel baie van mening is dat hierdie aanslag alreeds aan die verbygaan is, moet die erns daarvan nie misken word nie, want hierdie aanslag is slegs ‘n onderafdeling van ‘n groter aanslag is, om nie net die geloofsbelydenis van die kerk te probeer verander nie, maar ook die Godsbeskouing van die Christendom. Peter Jones wys in sy belangrike werk, Spirit Wars: Pagan Revival in Christian America, hoe die aanslag van die neo-gnostici nie net daarop gemik is om die tradisionele Bybelse Christelike geloof te dekonstruksioneer nie, maar om dit ook weer te rekonstrueer, terug na wat hy noem: neo paganistiese monisme. Grondliggend aan hierdie strategie is juis die herontdekking van die gnostiese geskrifte en die herlewing van gnostiese bewegings vandag regoor die wêreld. Jones wys daarop dat agter die sogenaamde pro-keuse kultuur, waar ons wellus vir vryheid en verdraagsaamheid hoogty vier en vrugte dra soos aborsie, die homoseksuele agenda, radikale feminisme, new age, godin-aanbidding en heksery, die paganistiese spiritualiteit van die neo-gnostiek, wat al hoe meer onverdraagsaam raak vir die idee van ‘absolute waarheid’ wat deur ortodokse gelowiges bely word in die AGB. Hy noem verskillende rewolusies deur die eeue, en dan wys dan, myns insiens tereg, daarop dat die hedendaagse revolusie gemik is teen die bybelse patriargale sisteem asook die Skepper en Gewer daarvan. Die samelewing moet vervroulik word en die beste manier om dit reg te kry, is om die godsbeskouing te verander na ‘n feministiese godinbeskouing. Daarom is die AGB so steen des aanstoots vir die ‘Nuwe Hervorming’, want dit begin juis met die fundamentele stelling, waarop die Christelike geloof gebou is: Ek glo in God die Vader, die Skepper van hemel en aarde ...

5. Slot

In die lig van bogenoemde aanslag, moet die kerk van Christus, ‘almal saam en elkeen afsonderlik’ opnuut die rykdom, genoegsaamheid en duidelikheid van die Heilige Skrif ontdek, dit hul eie maak en bely en uitleef op elke terrein van lewe en denke. En dit begin by die vaders wat - in gehoorsaamheid aan die Vader, Skepper van hemel en aarde - sy gesin, vrou en kinders lei in woord in daad, in die ware leer wat aan ons oorgelewer is. Die AGB en die ander ortodokse belydenisskrifte staan totaal uniek teenoor ander gelowe, filosofieë en mistieke bewegings. Valse godsdienste bied ‘n lys van idees oor die werklikheid, die AGB is ‘n belydenis aangaande die geskiedenis; ‘n God wat geskape het, wat verlossing bring deur sy Seun wat die geskiedenis betree deur sy geboorte, sterwe, opstanding en hemelvaart, en wat nou as Koning regeer en sal terugkeer om regverdig te oordeel, alles in die geskiedenis. Rushdoony skryf daarom tereg, ook vir ons tyd:

Nothing then can be more alien to the creed, and to Biblical faith, than the dialectical seperation of faith and history. To contrast the Jesus of faith and the Jesus of history is to talk the language of paganism, not of Christianity. To affirm the inspiration of the Bible but to deny its historical infallibility is to renounce the Bible for dialecticism. 

Die AGB gee ons nie net ‘n teologie van die verlede en die hede nie, maar ook ‘n eskatologie vir die toekoms. Die geskiedenis behoort aan God en nie aan sy vyande nie. God is besig om deur Christus sy vyande ‘n voetbank van sy voete te maak (Ps.110; 1 Kor.15:25). Hy kom weer terug om sy kinders te kom haal en regverdig te oordeel. Gelowiges moet mekaar dus opnuut "vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is". Ons moet medegelowiges wat begin twyfel daarin en baie vrae het, in liefde en geduld bemoedig en versterk en opnuut terugwys na die Skrifte. Ons mag egter nie toelaat dat ‘n valse evangelie in ons belydenisskrifte geakkomodeeer word nie, want dit is liefdeloos (Gal.1:6-10). Maar wat beteken die AGB nou prakties, vir ons allerdaagse lewens? Volgens Rushdoony is die AGB ‘n passiewe belydenis van God wat geskape het, wat verlossing bring en wat alles regeer en weer kom om te oordeel. Dit is egter juis hierdie passiwiteit wat die grondslag vorm van ware bybelse aktiwiteit vir die hele lewe: ... man under God moves now in terms of the canon of Scripture to excercise dominion over the earth in the name of the truine God. Christian creedialism is thus basic to Western activism, constitutionalism, and hope concerning history.

Op grond van die inhoud van hierdie belydenis, kan die kerk van Christus, waarlik ‘n sout en ‘n lig wees in ‘n verlore wêreld (Matt.5:13-16), ook hier in die Nuwe Suid-Afrika, wie se grondslae ook nie nuut is nie maar gebaseer is op die ou antieke dwalinge van ‘n humanistiese utopiese messiaanse idee . Maar as die fondamente, soos bely in die AGB, verwoes word, dan kan die regverdige en dus die kerk niks doen nie (Ps.11:3). Dus, die aantasting van die gesag, genoegsaamheid en duidelikheid van die Skrif, asook die verwerping van die AGB, beteken nie net die vernietiging van die Christelik-westerse beskawing nie, maar ook van die kerk van Christus, soos dit behoort te wees. Natuurlik hou Christus sy kerk op aarde altyd in stand, maar die lampstaanders kan wel weggeneem word op daardie plekke wat Hom nie meer wil dien soos wat Hy in sy Woord Hom aan ons geopenbaar het nie, en Hom ook nie meer wil aanbid en gehoorsaam wees soos wat Hy beveel het in sy Woord nie. Mag die kerk van Christus wêreldwyd, ook hier in Suid Afrika, opnuut haar verlede betrag, en opnuut vra hoe die stryd in die verlede, ons kan help om vandag en in die toekoms die goeie stryd te stry, sodat: "... elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader."

'n Omvattende bronverwysing is in die oorspronklike weergawe (in Esra Verslag) gepubliseer.

Dit is op aanvraag beskikbaar (Red PvdK).