|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 1 Januarie 2003
Hoofartikel
DIE GLYBAAN AF ...
OF DIE REFORMASIEPAD OP?
Wat is die rigting waarheen die Afrikaanse kerke beweeg? Na links, na regs, die glybaan af of die reformasiepad op? Die afgelope paar jaar het menings en oortuigings al hoe wyer verskil en die paaie kerklik en individueel begin skei. Die oënskynlike oorheersende rigting is na links, die glybaan af. Dis die kerklike en sekulêre pers waarin al hoe meer afwykende kerklike praktyke en leerstellings gepubliseer, uiteengesit en aanbeveel word. Dit vind navolging in besluitneming van kerklike vergaderings op plaaslike, regionale en nasionale vlakke. Kerklike tug is nie meer ter sprake wanneer afwykings voorgestaan en independentisties gedoseer, gepredik of toegepas word nie. Wat staan ons te doen om die afdwalende, deformatoriese tendense te stuit? Ekumeniese betrekkinge word, ondanks ingrypende leer- en lewenspraktykgerigte geskille, voorgestaan en hegter gemaak. Waaroor gaan dit alles? Waarom wil mense verander en aanpas? Waarom wil hulle 'n valse kerklike eenheid bevorder en aan die kerk 'n voorgewel verskaf wat in stryd met die boodskap van die ware eenheid waarvoor Jesus gebid het (Joh 17) is?
Prof Sakkie Spangenberg verwys in sy rubriek Godsdiens Aktueel in BEELD, Maandag 15 Julie 2002, na twee teenoormekaar staande groepe, lidmate van Christelike kerke. "Die een groep benadruk die tradisionele Christelike dogmas. Die ander groep benadruk die nuwere feite wat drie eeue se intensiewe Bybelnavorsing aan die lig gebring het". Is die een òf die ander groep reformatories gerig òf geen een van dié twee nie?
"Lidmate wil saamdink en deelneem aan die vormgewing van hul gemeentelike lewe op 'n bepaalde plek. Hulle wil op grondvlak hul geloof beleef saam met mense wat dieselfde behoeftes as hulle het. Of dit kerkregtelik verantwoord is of nie, ons sit met 'n gegewe werklikheid in ons kerke dat lidmate eenvoudig nie meer tradisionele stylvorme as die enigste, asof deur God ingestelde, styl vir sy kerk gaan aanvaar nie. Die feit dat ons Gereformeerde styl vir jare almal bevredig het, beteken nie dat almal ook in die toekoms daarmee tevrede moet wees nie. ... Veral in die stede het elke gemeente homself binne die verskuiwinge geposisioneer deur homself met sy styl en aksente met 'n unieke karakter en etos te stempel. Die een gemeente staan bekend as uiters konserwatief, en 'n ander as 'n vernuwende gemeente. Elke gemeente het in sy gestaltegewing van kerk-wees sekere grense neergelê waarbinne hy sy Gereformeerdheid wil uitleef. Kan 'n lidmaat hom nie hiermee vereenselwig nie, moet hy toegelaat word om self elders in 'n ander Gereformeerde gemeente 'n tuiste te vind", aldus dr Jan Venter, leraar van die Gereformeerde Kerk Pretoria-Annlin (Die Kerkblad, 4 Desember 2002, bl 27, 28).
Dit is duidelik dat daar by lidmate van Christelike, en by name van Gereformeerde Kerke, onrus bestaan oor die leer en regering van hul kerk(e). Hierdie onrus sal weerklink in die Sinodesaal te Potchefstroom, waar die Nasionale Sinode van die GKSA, vanaf 6 Januarie byeen gaan wees om sake uit te sorteer en daaroor te besluit. Die ingrypendste van alle geskille is die saak van Skrifkritiek wat die grond van talle deformatoriese afwykings is.
Ds Hennie Momberg van die Gereformeerde Kerk Pretoria-Die Kandelaar, loods in 'n studiestuk "Skrifgesag en Reformasie" 'n poging om Skrifkritiek gedefinieer te kry. "Die herkenningstekenns van die motiewe wat verborge lê agter die Skrifkritiek kan kortliks gestel word: Pleks van met 'n houding van gehoorsaamheid na die Skrif te gaan en oop-ontvanklik vra: Wat wil U hê, Here, moet ek doen, word dit omgedraai: Ek wil graag iets doen, ek het my agenda, en hoe kan ek die Woord manipuleer totdat ek geregverdig het dat ek maar kan doen wat ek wil?
"Die vertrekpunt van argumentasie by die Skrifkritiek is (pro of kontra) ons menslike kontekste. Dan vind die navorsers dit moeilik om hulle waarneming van die kontekste te rym met die Woord van God. En eindelik ontwikkel hulle uit die Skrif een of ander humanitêre teologiese denksisteem wat (hetsy om te handhaaf, hetsy om te verander) niks anders is as 'n refleksie van hulle eie aspirasies nie.
"Iemand pleeg die misdaad van Skrifkritiek wanneer:
a) Op enige wyse gepoog word om te misken dat enige deel van die Bybel tesame met die hele res van die Bybel - en dit alleen - in die wesensaard en oorsprong daarvan - God se Woord en daarom Goddelik gesagvol is.
b) Op enige wyse gepoog word om die wyse waarop God van mense en menslike omstandighede gebruik gemaak het by die optekening van sy Woord, die Goddelikheid van sy Woord ongedaan te probeer maak, En
c) Op enige wyse gepoog word om die geldigheid van God se Woord vir alle mense van alle tye te misken", tot hiertoe ds Momberg.
Kom, luister bietjie na Spangenberg se standpunt: "Bybelwetenskaplikes het oor die afgelope driehonderd jaar Genesis, Psalms, Romeine en al die ander Bybelboeke intensief bestudeer. Dié studies het uitgewys dat die tradisionele leerstuk oor die sonde op interpretasie berus wat nie steek hou nie. ... mense is nie sondaars omdat hulle só gebore word nie, maar omdat hulle verkeerd kies en handel. Ons is nie sondaars weens die misstap van 'n oervoorouer nie, maar ons kan daagliks sondaars word." Volgens hom is daar twee skeppingsverhale, Genesis 1 en Genesis 2 en 3. "Nie een van hierdie verhale kan as geskiedenis geklassifiseer word nie. Daar was dus nie regtig 'n Adam en 'n Eva nie. Hulle is slegs verhaalkarakters. Genesis 2 en 3 vertel nie die verhaal van hoe sonde in die wêreld ingekom het nie, maar hoe die mens die kans om vir ewig te kan lewe verbeur het. Daar was immers 'n tweede boom in die middel van die tuin - die boom van (die ewige lewe)! Die slang het Eva van daardie boom weggelok en haar vrugte van die boom van kennis aangebied. Die slang is nie die Satan nie. Latere vertellings en dogmatiese leerstellings het hom met die Satan gelykgestel. Maar volgens hierdie verhaal is hy dit nie. Die slang is ook 'n verhaalkarakter en soos ander dierekarakters kan hy praat", aldus prof Spangenberg.
Dit beantwoord onweerlegbaar aan die kriteria van Skrifkritiek wat ds Momberg hierbo gedefinieer het. So lank dit geduld word in 'n kerk van Christus, solank hieroor geen kerklike sensuur uitgeoefen word nie, dan beantwoord dié kerk aan die kentekens van die valse kerk (vgl die ondertekeningsformulier en NGB, artikels 3, 5, 7 en 29).
Ds Momberg se voordrag is toegespits op die heersende Skrifkritiek rond-om die plek en taak van die vrou in die kerk. Hy besluit sy werk met die volgende reformatoriese oproep: "Met die komende sitting van die Nasionale Sinode van die GKSA, in Januarie 2003, het ons met 'n besondere opdrag te doen. ... Daar is duidelik kentekens dat die krisis van ten minste twee denkrigtings in die GKSA hom by die komende sinode in 'n verskeidenheid van temas gaan uitwoed ... . "Maar daar is 'n besondere gewetensvraag op ons, naamlik - hoe sal ons seker maak dat ons in kerkverband die suiwer pad van die HERE die toekoms binne loop. In die eerste plek ver-eis die Here dit van elke individu en elke kerkraad as geheel om vir hulleself die grense van toleransie vas te stel. En die korrekte werkswyse is dat die kerke dit coram Deo moet gaan uitmaak in watter gevalle hulle die kenmerke van die ware kerk verruil vir dié van die valse kerk, volgens art 28 - 29 KO. Op hierdie stadium lyk dit my hoofsaaklik af te stuur op die volgende temas:
Die Kerke van Christus wil in gehoorsaamheid aan Hom die Nagmaal vier, seremonieel-presies soos wat Christus ons beveel het.
Die Kerke van Christus wil in gehoorsaamheid aan Hom die Skriflied in die eredienste sing wat die Skrif self Skrifgetrou en getoets aandien.
Die Kerke van Christus wil in gehoorsaamheid aan Hom alleen diegene in die besondere ampte laat dien wat die Skrif self daartoe aanwys.
Die Kerk van Christus wil in gehoorsaamheid aan Hom sy eie predikante deur sy eie geroepe en bevestigde afgesonderde doktore laat oplei, soos die Skrif ons beveel, onafhanklik en vry van enige finansiële, politieke of internasionaal-akademiese druk of aspirasies.
Die Kerk van Christus wil in gehoorsaamheid aan Hom in gemeenskap leef met almal wat Hom gehoorsaam volgens sy Woord wil dien, en nie gedwing word om gemeenskap te moet beoefen met dié wat in terme van art 29 KO nie onder Christus se juk wil buig nie.
Bogenoemde vyf punte kan as 'n vertrekpunt of agendapunte van besondere vermelding dien wat as voorbehoude gestel word vir die gewetensvrye beoefening van kerklike gemeenskap", sê ds Momberg.