Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die glybaan af ... òf die reformasiepad op?

AKTUEEL: Geweldskultuur in SA       

SKRIFOORDENKING:
Die enige ware God (Deut 6:4)

Die wyse manne uit die Ooste

Die vrou in die kerklike ampte?

Wat is 'n Lewenbeskouing?

Die Apostoliese Geloofsbeleidenis teenoor die Nuwe Hervorming

KERKLIKE JOERNAAL: 
Sake op die Agenda Sinode GKSA

Regeringsplan Tersiêre Onderwys

Vroue in die GKSA in ampte?

Beskrywingspunt PS Bosveld oor toekenning PU vir CHO eredoktorsgraad aan biskop Desmond Tutu

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Kommentaar op die manifes oor waardes, opvoeding en demokrasie

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Valse gelykheid

PERSRUBRIEK: 
Nog 'n parafraserende Bybel 

Kerklike besinning oor die persoon van Jesus Christus

Nie verskuilde agendas

Die "Israel-visie" - 'n verwronge Skrifbeskouing

Ewige rus in skadu van Voortrekkermonument

GESPREK MET LESERS: Evolusie en die Bybel

MEDIESE ETIEK: 
Gesondheidsrisiko en mediese fondse

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 1 Januarie 2003

MEDIESE ETIEK

DIE STRYD TUSSEN DIE BEGEERTE EN DIE WIL

-  DR MC DURAND  -

Net voordat ek iets doen weet ek dat ek dit gaan doen en niks anders nie. Ek kom tot hierdie wete op verskillende maniere. Soms vinnig en soms na lang besinning. Maar die feit bly dat elke keer wanneer ek iets met opset doen weet ek van my onderneming of besluit om dit te doen.

Hierdie wete wat een van die talle verstandsitems is waarvan ons direk bewus kan word - word ook die wil genoem.  Die wil is onderskeibaar en noodwendig aan die opsetlike handeling verbonde. Sonder hierdie wil sal ons die handeling eerder ‘n refleks (byvoor-beeld die beweging van die onderbeen wanneer ‘n patella-hamer net onder die knie geslaan word) of ‘n ongeluk noem. Die wil verleen aan die handeling die status van opset.

Die wil (wat onlosmaaklik van die handeling is) het ‘n oorsprong. Vir die besinning van die oorsprong van die wil moet ons verskeie werkinge van die verstand oorweeg. Daar is sekulêre bronne wat die wil beperk tot die handeling. (Sommiges ontken selfs die bestaan van die wil. Hulle meen dat die bewus wees van ‘n voorneme of keuse, niks anders as die bewustelike deel van ‘n handeling is nie.)

Hierdie sieninge verskraal die morele belang van die wil. Aan die hand van hierdie mening word die morele beoordeling van die wil beperk tot die morele beoordeling van die sigbare handeling. Met hierdie benadering sal ons dan nader kom aan die Fariseêrs wat ‘n handeling slegs volgens die sigbaarheid daarvan beoordeel het. Dit sou beteken dat die betrokkenheid van die innerlike mens (naamlik daardie verstandwerking wat ons nie van buite kan waarneem nie) oor die hoof gesien word.

Die ignorering van die bydrae van die innerlike mens bring ons tot die dwaling van die behaviorisme. Duidelik is die verstandswerkinge belangrik by die beoordeling van enige opsetlike handeling. Ons kan byvoorbeeld Dawid se bevel (wat ‘n spraakhandeling is) om Uría op die voorpunt van die hewigste geveg te laat plaas, nie moreel beoordeel sonder om ook kennis te neem van sy begeerte (wat ‘n werking van die verstand is) na Bátseba. Dit geld nie net by die beoordeling van Dawid se handeling nie. ‘n Goeie daad is ‘n daad wat uit geloof, volgens die wet van God en tot sy eer gedoen word. Dit is duidelik dat die beoordeling van ‘n handeling veel meer behels as die sigbare aspekte van daardie handeling. Ons moet God immers liefhê met ons hele hart siel en verstand.

Derhalwe is ons nie verras dat die wil nie net verbind hoef te word aan die handeling nie. Die wil is ook verbind aan ‘n stryd wat in die mens se verstand woed. Naamlik die stryd waarvan Paulus in Romeine 7 spreek: (15) Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. (16) En as ek doen wat ek nie wil nie, dan stem ek die wet toe dat dit goed is. (19) Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. (20) Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon.

Hier toon Paulus aan ons dat sy wil nie afgesluit is van sy innerlike wese nie. Sy diepste self het vreugde in die wet van die Here, en haat die bose. Daarom is sy wil gerig op die goeie volgens die wet van God. Maar teenoor sy wil heers Paulus se sondige begeertes - naamlik sy begeertes wat gerig word deur die wet van die sonde.

Daar is ‘n stryd:

Enersyds die geloof en die gerigtheid, deur die werking van die Heilige Gees, op die geopenbaarde wil van God. Andersyds die inwonende sonde wat in die begeerte uitkom. Enersyds die erkenning dat God se geopenbaarde wil beide die maatstaf sowel as die inhoud van die gelowige se wil moet wees. Andersyds die gevalle aard van die mens waaruit die sondes voortdurend opborrel.

Enersyds die belydenis dat die Skrif voldoende is in alle opsigte vir die erediens sowel as vir die lewensdiens. Andersyds die mening dat die Skrif onvoldoende is vir die lewensdiens en (soms daarom!) vir die erediens. Enersyds die onderwerping aan die wil van God (naamlik die wil wat gerig is op die wet van God). Andersyds die seëviering van die eie wil (naamlik die wil wat spruit uit die sondige begeertes). Die gehoorsaamheid hef die Skrif op as ‘n lamp vir sy voet en ‘n lig vir sy pad. Maar ongehoorsaamheid dra die Skrif as ‘n las en ‘n swaar bagasie op die pad van sy begeertes.

Die stryd is in wese ‘n stryd van gehoorsaamheid. Naamlik die stryd of die persoon gehoorsaam sal wees aan die wet van God of gehoorsaam sal wees aan die wet van die vlees. Dit is die stryd van die gelowige: Hoe meer hy bewus word van die eise van heiligheid soos hy dit ken deur die wet van God, soveel meer word hy bewus van sy tekortkominge. Hoe meer hy vorder in heiligheid, hoe meer word hy bewus van sy onvolmaaktheid.

Ten spyte van dit bly Paulus steeds verantwoordelik vir die sonde - wat dit is sy vlees en nie iemand anders se vlees wat sondig. Hy bly steeds aanspreeklik. Hy kan slegs verlos word van die aanspreeklikheid en straf van sy sonde deur die velossingswerk van die Here Jesus Christus.

Nou kan ons ook verstaan waarom die sekulêre literatuur die oorsprong van die wil slegs by die begeertes soek. Dan kan ons ook verstaan waarom die ongelowige die vryheid van die wil verstaan as die vryheid om die begeertes uit te leef. Daarenteen is die gehoorsame mening oor die vryheid van die wil: naamlik die vryheid van die wil (wat op die wet van God gerig is) van die sondige begeertes van die vlees. Dit is die vryheid van die wil om God se wet na te kom.

Duidelik is daar ‘n kloof tussen die gelowige en die ongelowige sienings van die wil en die vryheid van die wil.