|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 1 Januarie 2003
OPVOEDING EN ONDERWYSKOMMENTAAR OP DIE MANIFES OOR WAARDES, OPVOEDING EN DEMOKRASIE(Manifesto on Values, Education and Democracy, Ministry of Education, August 2001)
Deputate vir Christelike Onderwys
van die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, November 2001.
Die Minister van Onderwys, mnr Kader Asmal, lei die voorwoord van hierdie manifes in met die woorde: "Demokratiese Suid-Afrika se geboorte spruit voort uit n leierskap met n visie om volke wat van mekaar geskei was, te verenig in strome van demokrasie en nasiebou". Die gedagte wat hiermee gebore is, beteken om volke van uiteenlopende agtergrond, kulturele praktyke en tale te verenig binne n demokratiese raamwerk waardeur konflikte en teenstrydige belange geabsorbeer, tegemoet gekom en versoen word sonder onderdrukking en onreg. Hierdie dokument is dan ook n poging om aan hierdie "Suid-Afrikaanse" visie gestalte te gee deur die onderwys.
Die Minister stel verder dat die nuwe lewe wat Suid-Afrikaners besig is om vir hulle self daar te stel, eiesoortige uitdagings het, verskillend van dié van die verlede. Hierdie uitdagings sluit in bekamping van misdaad, HIV/VIGS en werkloosheid, globalisering en die handhawing van nasionale eenheid. Dit is sy oortuiging dat opvoeding hierin n wesentlike bydrae het om te lewer. Daarvoor het die Minister n "Werksgroep op Waardes in Onderwys" in Februarie 2000 saamgestel met prof Wilmot James as voorsitter. Die resultaat was die dokument "Values, Education and Democracy", met die volgende ses kwaliteite of kenmerke vir skoolonderwys: gelykheid, verdraagsaamheid, veeltaligheid, oopheid, toerekenbaarheid en sosiale eerbaarheid. Volgens die dokument is hierdie ses kwaliteite belangrik vir persoonlike ontwikkeling in lewenswaardes van ons skoolgaande jeug. Hierdie lewenswaardes moet die morele aspirasies van ons toekomstige Suid-Afrikaanse bevolking tipeer.
Die "Manifesto on Values, Education and Democracy" ontwikkel die lewenswaardes van die "Werksgroep op Waardes in Onderwys" verder deur die volgende tien "fundamentele" waardes te ondersoek: demokrasie, sosiale geregtigheid en regverdigheid, gelykheid, nie-rassisme en nie-seksisme, ubuntu (menswaardigheid), n oop samelewing (kritiese denke en debat), verantwoordbaarheid (verantwoording), die oppergesag van die reg, respek en versoening. Die Manifes aanvaar hierdie tien waardes as fundamenteel om die Grondwet van Suid-Afrika, insluitend die Handves van Menseregte, deel te maak van die kurrikulum, in die klaskamer gestalte te gee, en om op te neem in programme en beleid van opvoeders, administrateurs, beheerliggame en amptenare.
1. Waarom Waardes?
Om n nuwe Suid-Afrika te laat herrys uit die verdeeld-hede van die verlede moet daar n strewe na eenheid kom met die doel om verbintenisse te laat ontstaan waar daar voorheen verdeeldheid was en om spanninge uit die stryd van die verlede te ontlont. Hierdie strewe is vasgelê in die Grondwet en die Handves van Menseregte. Die aanleer van waardes om hierdie strewe te verwesenlik moet begin by die onderwys op skool en aan kolleges en ander instellings, wat gesamentlik die kweekhuis van waardes is. (Manifesto 2001:5)
Ons onderwysers, ouers, amptenare of leerders het nog nie geslaag om die waardes in die Grondwet ons eie te maak nie, soos blyk uit n sewetal waarnemings uit die onderwyspraktyk, wat die Manifes (Manifesto 2001:5,6) aanhaal. Waardes bepaal elkeen se lewenshouding en ons onderlinge verbintenisse, en is daarom essensieel vir n lewe volgens normatiewe beginsels (Manisfesto 2001:9). Die primêre doel van onderwys moet wees om elke persoon te verryk en om daardeur die breë gemeenskap en die werksomgewing te dien. Die nege jaar van verpligte onderwys moet leerders toerus met kennis, vaardighede en waardes wat hulle in staat stel om betekenisvol in die samelewing deel te neem en om produktief en verantwoordelik op te tree in werksverband (Manifesto 2001:10).
Beoordeling: Geen samelewing kan sonder waardes sinvol funksioneer nie en daarom is dit nie n vraag of daar waardes in die onderwys moet wees of nie. Die vraag is: wie se waardes word in die onderwys bevorder? Die waardes wat hier genoem word is egter alleen waardes wat vanuit n staatkundige raamwerk verwoord word met die bedoeling om die onderwys te gebruik om sekere staatkundige waardes by elke kind te vestig, om uiteindelik elke leerder te ontwikkel tot n goeie burger van die staat. Dit sluit aan by die inleidende paragraaf, wat die doel van die Manifes baie duidelik stel om deur die onderwys aan die "Suid-Afrikaanse" visie van nasiebou gestalte te gee.
Vir ons as Christene is die Bybel die rigsnoer van ons hele lewe. Daarom is dit vir ons ononderhandelbaar dat in die eerste plek Bybelse waardes in die onderwys as verbondsopvoeding in die huis, die kerk en die skool aan Christenkinders oorgedra moet word. Ons behoort as Christengelowiges aan God en nie aan die staat nie. Ons moet daarom in gehoorsaamheid aan God ons kinders volgens die eise van die verbond van God opvoed. Die oppergesag lê in God en alle mense moet voor sy gesag buig. Die Woord van God en nie bloot die Grondwet van n land nie moet my gewete bind en my optrede bepaal. Hierteenoor het die waardes wat in die Manifes bepleit word, hul oorsprong in n humanisties-gebaseerde Grondwet en Handves van Mensregte en nie in God se Woord se Openbaring aan die mens nie.
2. Onderwysstrategieë
In November 2000 is n Ministriële Projekkomitee daargestel onder die voorsitterskap prof Linda Chisholm met die opdrag om Kurrikulum 2005 vaartbelynd te maak. Sy het opgemerk dat "die struktuur van K2005 onderwysers n vrye keur laat in die keuse van inhoud. Dit beteken dat inhoud ewegoed rassisties as anti-rassisties gekies kan word. Die keuse berus uitsluitlik by die onderwyser. ... Dit bevat ook nie n voldoende streng verbintenis tot waardes wat die kurrikulum bevorder en nie bevorder nie". Hierdie Projekkomitee om K2005 te vernuwe, het dan ook "sterk klem gelê op sowel die opstel van duidelike riglyne as die ingieting van hierdie riglyne in K2005 uitgaande van beginsels en praktykmaking van menseregte, van inklu-siwiteit en van sosiale geregtigheid. Duidelike riglyne sal nie al Suid-Afrika se kurrikulumprobleme oplos nie, maar behoort meer onderwysers in staat te stel om met oortuiging te onderrig. n Strenger beklemtoning van menseregte, inklusiwiteit en die waardes van sosiale geregtigheid, sal verseker dat die kurrikulum sake soos rassisme, seksisme, ongeskikheid en ander diskriminerende vorme meer regstreeks sal aanspreek". (Manifesto 2001:35,36 en verwysings 73 en 74, Manifesto 2001:80)
Die resultaat van die werk van die Ministeriële Projekkomitee was die vrystelling van die "Draft Revised National Curriculum Statement for Grades R 9" op 30 Julie 2001 deur die Minister van Onderwys. Agt van die tien boekdele van bykans 1400 bladsye behandel elk een van die agt leerareas. Die ander twee boekdele is die "Overview" en "Qualifications Framework". In Mei 2001 het die Minister gestel dat "Curriculum 2005, if successfully implemented, represents the most liberating element of our education system ". Die sestien onderwysstrategieë in die Manifes moet verseker dat die bogenoemde Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring vir grade 0 tot 9 suksesvol in werking gestel word.
Die sestien onderwysstrategieë is geskryf om aan die tien fundamentele waardes wat moet verseker dat die Grondwet deel is van die kurrikulum, in die leeromgewing van jong Suid-Afrikaners beslag te gee. Elke strategie word voorsien van n aantal kantaantekeninge, wat deur onderwysinstellings gebruik kan word vir waardeverklarings en om werksplanne vir gestaltegewing van waardes op te stel.
Volgens die Manifes moet die tien fundamentele waardes van die Grondwet en die lewenswaardes van prof James se "Werksgroep op Waardes in Onderwys" betekenis aan die lewe en aan normatiewe beginsels gee, waardeur n gemeenskaplike bestaan aan almal verseker sal word. Hierin speel ubuntu ("Ek is mens omdat jy mens is" n Afrikaspreuk) ook n belangrike rol, omdat ubuntu wedersydse begrip en aktiewe waardering van menslike verskille bevorder. Dit beteken dat jy ander sal ken soos jy jouself ken en dat jy jou plek in n multikulturele omgewing sal verstaan.
Beoordeling: Die mens kan nie die werklike betekenis van sy lewe en van sy denke, handelinge en opvoeding bepaal as hy nie uitgaan van God se Openbaring deur sy Woord nie. In plaas van n opvoeding volgens Bybelse norme en Bybelse lewens- en wêreldbeskouing, wil die staat sy waardes in Kurrikulum 2005 inbou sodat dit op verskeie maniere aan leerders oorgedra kan word, om sodoende van elke leerder uiteindelik n goeie burger van die staat te maak.
Die mens is nie na die beeld van n dier gemaak nie (deur ewolusionistiese en materiële prosesse), maar na die beeld van God (Gen.1:26-28). Beeld van God beteken onder andere om in die regte verhouding tot God te staan en sy wette te gehoorsaam. As verteenwoordiger van God moet die mens voor (die aangesig van) God en tot eer van God lewe. Dit beteken om elke dag na sy beeld vernuwe te word (Kol. 3 :10). Hiervoor is die leiding van die Heilige Gees en die insig wat God se wette bied noodsaaklik. "Om God se beeld te vertoon, beteken dus dat ek met al my gawes, talente, tyd, kragte en middele God se gebooie (saamgevat in die liefdesgebod) moet uitleef en so my medemens en die hele skepping dien." (B.J. van der Walt, 1995, Bybelse Perspektiewe op die Mens, bl.13). Dit verwag God van ons, ook van ons ouers en onderwysers in die verwesentliking van onderwysstrategieë deur onderrig en opvoeding van verbonds-kinders tot verheerliking van Sy heilige naam en tot die koms van sy koninkryk. Ons mag daarom nie toelaat dat Christenkinders tot die humanistiese en liberalistiese beeld van die burger van die staat deur Suid-Afrika se nuwe onderwys gevorm word nie.
Onderwysstrategie 1: Verkry n kultuur van kommunikasie en deelname in skole
Gesonde dialoog tweegesprek - word beskou as n noodsaaklike waarde om konsensus te bevorder en om verskillende standpunte te verstaan. Verskille moet ondersoek word in die verwagting om gemeenskaplike perspektiewe te ontdek en te vestig. Ook moet deur dialoog weersydse respek en begrip tussen ouers en onderwysers en tussen onderwysers en amptenare gevestig word. Deur dialoog word demokratiese waardes (wat die tien fundamentele waardes van die grondwet is) gevestig. Dit bevorder weer goeie burgerskap. Dit is daarom noodsaaklik dat hoofde opgelei moet word om skole te bestuur.
Onderwysstrategie 2: Opvoeders as rolmodelle vereis toewyding en bevoegdheid
In die Manifes word die volgende uitspraak van mnr Nelson Mandella aangehaal: "One of the most powerful ways of children and young adults acquiring values is to see individuals they admire and respect exemplify those values in their own being in conduct" ("Een van die mees kragtige wyses om waardes in kinders en jong volwassenes te vestig is dat individue, waarvoor hulle agting het, hulle lewe laat bepaal deur die waardes wat hulle verkondig"). Dit beteken dat opvoeders se hele lewe, hulle doen en late, moet getuig van die nakoming van die tien fundamentele waardes van die Grondwet. Dergelike opvoeders is rolmodelle vir leerders. Daarom dat ouers en onderwysers se voorbeelde baie belangrik in die opvoedingsproses is.
Beoordeling: As dit wat in die ouerhuis as voorbeeld gestel word, verskil van dit wat in die klaskamer gebied word, verwar dit die kind en lei dit tot onsekerheid. Voorbeeldige Christenouers en Christenonderwysers behoort die tien Grondwetlike waardes te beoordeel en dit in die lig van die Bybel aan die kind oor te dra. Op die wyse sal Christenleerders leer om Christus na te volg en sy koninkryk te dien met die wet en Woord van God as vertrekpunt en nie bloot die mensgemaakte Grondwet van die RSA nie.
Onderwysstrategie 3: Verseker vir elke Suid-Afrikaner lees-, skryf-, tel- en dinkvaardighede
Dit is verblydend dat die regering erns daarmee wil maak om ongeletterdheid binne vyf jaar (?) uit te roei. Soos met baie ander inisiatiewe, gaan hierdie aspek ook gepaard met politieke retoriek en vertoon. Die oplossing van ongeletterdheid lê nie daarin om ongeletterdheid (soos HIV/VIGS) as die "vyand" te sien wat aangeval en vernietig moet word nie. Daar behoort meer van die intrinsieke wil te wees om na binne te kyk, leemtes te identifiseer en planne te maak. Groot veldtogte soos die "Year of the Book", waarna in die Manifes verwys word, kos baie geld en bereik uiteindelik n beperkte teikengroep.
Die veldtog van vrywillige diens om basiese onderwys vir volwassenes te steun, soos voorgestaan deur Minister Asmal, kan goed werk en moet verwelkom word. Basiese geletterdheid is n voorvereiste vir enige persoon om produktief deel te wees van die samelewing. Ook op kerklike terrein was dit een van die basiese uitgangspunte van ons sendingaksies om mense geletterd te kry.
Die positiewe verwysings na moedertaalonderrig in die Manifes is baie bemoedigend en die uitbou van moeder-taal op skole word ondersteun.
Onderwysstrategie 4: Besiel elke les met n kultuur van menseregte
In die geheel gesien, is die gedeelte oor menseregte suiwer humanisties gekleur. Elke leerder moet tot die respektering van ander se regte as die hoogste goed en ideaal gelei word. Menseregte word nie gesien as voorregte wat God aan die mens voorsien om sy roeping op aarde na te kom nie. Respektering van mekaar se regte word nie vanuit die Bybelse liefdesgebod en dan spesifiek vanuit die liefde tot God benader nie.
Die kommentaar wat van onderwysers gekry is, en wat aangehaal word in die Manifes, is insiggewend. Dit is duidelik dat onderwysers in die eerste linie begin ly onder die oordrewe klem op menseregte. Die gebrek aan dissipline wat dit by leerders tot gevolg het, is rede tot kommer vir baie onderwysers. Die Manifes gee geen oplossing vir die probleem nie. Die onderskeid wat in die Manifes getref word tussen verskillende vorme van respek, is n akademies-teoretiese oefening wat (weer eens) die onderwysers in n swak lig probeer stel deur te impliseer dat sekere eise om respek van onderwysers "authoritarian" is.
Christene sal respek, waardigheid, nie-diskriminasie en gelykheid op n ander wyse bevorder as wat voorgestel word in die Manifes. Die rede waarom een mens n ander mens moet respekteer, kan nie vanuit die mens self gekry word nie, aangesien alle mense geneig is tot sonde. Vir solank as wat dit nie toegelaat word dat Bybelse riglyne gebruik word om menswaardigheid en respek mee te onderrig nie, sal dit nooit suksesvol onderrig kan word nie.
Onderwysstrategie 5: Maak kuns en kultuur deel van die kurrikulum
In hierdie onderwysstrategie word verskillende redes aangevoer waarom kuns en kultuur n integrale deel van die skoolkurrikulum moet wees en nie net n toevoeging vir gegoede skole soos voorheen nie. Die onderskeie redes word saamgevat in die stelling dat hierdie leerarea essensieel is tot die ontkieming en groei van die tien Grondwetlike waardes. Daarom is dit die staat se verantwoordelikheid om te verseker dat alle Suid-Afrika-ners opgevoed word om kuns en kultuur in sy verskei-denheid te waardeer en dit skeppend te beoefen deur musiek, drama, dans en beeldende kunste. Dit is een van die kurrikulum se primêre take om Suid-Afrika se "erfenis van kulturele onverdraagsaamheid" aan te spreek deur hulle bloot te stel aan Suid-Afrika se verskeidenheid van kulture. Leerders moet geleer word om die waarde van Afrikakulture te waardeer teenoor die sterk beïn-vloeding van "internasionale kulture" in die verlede.
Beoordeling: (1) Die Afrikaner se kultuur word blykbaar ingesluit by die "internasionale kulture". (2) Beoordeling van kuns en kultuur is n verwaarloosde onderwerp in die Suid-Afrikaanse skole van die verlede. Kuns en kultuur moet vanuit die normatiewe in die Bybel beoordeel word. Behalwe die verstandelike en sintuiglike gawes het God aan die mens op n hoër vlak ook n vermoë gegee om te kan onderskei tussen mooi en lelik, die estetiese (skoonheids-) kenvermoë. Dit is hierdie kenvermoë wat ons vanuit die Bybel moet ontwikkel om inhoud te kan gee aan hierdie uiters belangrike leerarea Kuns en Kultuur. Kultuur sluit weer aan by die mandaat wat die mens van God ontvang het om te heers oor God se skepping, dit te bewerk en te versorg (Gen 1:26-28 en Gen 2:15). Daarvoor is die mens na die beeld van God geskape en het hy die opdrag ontvang om te vermeerder en die aarde te vul.
Onderwysstrategie 6: Plaas geskiedenis terug in die kurrikulum
Die onderrig van geskiedenis word as sentraal beskou in die bevordering van alle menslike waardes, insluitend dié van verdraagsaamheid. Argeologie word aanvaar as n wesentlike deel van geskiedenis, want dit belig deur die evolusionêre prosesse ons gemeenskaplike afstamming, wat tot verdraagsaamheid tussen alle kulture bydra. Verder word deur geskiedenis ons waardes en mora-liteit geslyp want daardeur word menslike mislukkings en sukses oor millenniums bestudeer. Deur geskiedenis kan nie alleen die kronologie van gebeurtenisse en die dinamika van veranderinge in die tyd bestudeer word nie, maar leerders kan daardeur ook self bepaal wat goed en sleg is, en wat reg en verkeerd is. Dit sal jongmense help om hoër vlakke van morele beoordeling te bereik. Sodoende verkry lewe betekenis en word normatiewe beginsels afgelei waarvolgens almal kan lewe.
Beoordeling: Die vertrekpunt van hierdie Manifes is onteenseglik n lewensbeskouing van uit die mens, deur die mens en tot die mens. Van die onderwys word verwag om leerders te vorm tot die staat se humanistiese visie van nasiebou. Verder moet die mens se evolusionistiese en aardse herkoms as aansporing vir die mens dien om deur eie insigte, deur eie krag en deur natuurkragte tot verdere intellektuele en geestelike hoogtes te vorder. Die mens moet uit sy foute leer en daaruit etiese en morele kodes aflei. Die mens is daarom bepaler van en regter oor sy lewenskodes. Hierdie bevordering van n skaamtelose humanistiese etiek en moraliteit staan ver verwy-derd van die Bybelse lewens- en wêreldbeskouing.
Onderwysstrategie 7: Voer godsdiensopvoeding in die skole in
(Vervang Godsdiensonderrig / Bybelonderrig met godsdienste-onderrig)
Hierdie onderwysstrategie begin met die volgende stelling (Manifesto, 2001:43): Since "religion ..is a matter of choice in cons-cience ..there is no place in the classroom for an education that promotes any one creed or belief over any other. Yet there is every reason for schools to expose learners to the diversity of religions that impel and inspire society, and the morality and values that underpin them"
Hierdie benadering verteenwoordig n klein minderheidstandpunt in die Suid-Afrikaanse samelewing. Waarom word slegs n multi-geloofsbenadering voorgestel? Waar-om kan Christene nie in ooreenstemming met die Grond-wet en volgens hulle geloofsoortuiging n keuse gebied word tussen n enkelgeloofsbenadering en n multi-religieuse benadering nie? n Enkelgeloofsbenadering beteken nie noodwendig bevordering van een geloofsoor-tuiging ten koste van n ander of vooroordeel teenoor die medemens nie.
Geen onderwys kan neutraal aangebied word nie, ook nie Godsdiensonderwys nie. Neutraliteit as vertrekpunt is alreeds n lewensbeskoulike vertrekpunt en n ongodsdienstige oortuiging. Die bestudering van verskillende godsdienste moet in elk geval vanuit n bepaalde lewens- en wêreldbeskouing, of waardestelsel, benader word, in hierdie geval vanuit die mensgerigte benadering van die staat tot nasiebou. Dit word bevestig deur die volgende aanhaling:
"As has been noted, the Constitution guarantees the right to equality, to non-discrimination on the basis of religion, and of freedom of belief, thought and conscience. Schools can reinforce the Constitution by using 'religion education' to affirm the values of diversity, tolerance, respect, justice, compassion, and commitment in young South Africans" (Manifesto, 2001:44).
Die Christen benader norme vir "nasiebou" vanuit die Woord van God. Sy eer moet gesoek word en nie bloot die belange van die staat of van mense of van n nasie nie. Die soek van die Koninkryk van God staan vir die Christen-landsburger voorop.
Die Manifes onderskei tussen Godsdiensonderrig en Godsdienste-onderrig: Eersgenoemde moet in die huis en kerke gedoen word (die privaatdomein) terwyl dit die skool (die openbare domein) se taak is om kennis by leerders te vestig omtrent verskillende godsdienste in hulle verskillende vorme, wat n belangrike dimensie van menslike ervaring is. Dit is die taak van die godsdienste-onderrigprogram om leerders aan te moedig om in terme van nasionale eenheid te dink. (Manifesto, 2001:43,44)
Waarom geld hierdie argument slegs na een kant toe? Indien daarvan verskil word is die ander persoon se oortuiging per se foutief en ongeldig. Dit is tog seker nie Grondwetlik verdedigbaar nie.
Die afgrensing van huisgesin en kerk tot enkelgeloof en -godsdiens teenoor die skool as die terrein van die staat waar verskillende godsdienste onderrig word, is strydig met die Bybel en die doopsbelofte wat Christenouers aflê. Die Christen se hele lewe is godsdiens. Opvoeding en onderwys by die huis, die kerk en die skool (Sinode van Dordrecht 1618 -1619) is vir Christene n onskeibare eenheid. Die drieënige God se heerskappy strek oor die hele lewe en die volle kurrikulum. Indien onderrig oor verskillende godsdienste gegee word behoort dit vir die Christenleerder vanuit n Christelik-Bybelse benadering gegee te word.
Deur die stelling "Religion education can teach students about a world of religious diversity, and at the same time, encourage them to think in terms of a new national unity in South Africa." (Manifesto, 2001:44) word die multi-kulturele "eenheid in Suid-Afrika" verweef met multi-religieuse onderwys. Dit tipeer ook die benadering en taal van die Hersiene Nasionale Kurrikulumverklaring van grade 0 tot 9.
Saalopeninge:
"According to the constitution, schools may be available for religious observance so long as it is outside of school hours, association is free and voluntary rather mandatory, and the facilities are made available on an equitable basis to all who apply." (Manifesto, 2001:44)
Hierdie stelling is n foutiewe interpretasie van die Grondwet. Die grondwet bevat nie die woorde "so long it is outside of school hours" nie. In hierdie benadering word die gewetensvryheid en keusevryheid van ouers en beheerliggame misken en dit is strydig met artikels 15(1) en 15(2) van die Grondwet. Indien die woorde "so long as it is outside of school hours" geskrap word is dit aanvaarbaar.
Dat saalopeninge geensins vir godsdienstige doeleindes aangewend mag word nie, is eweneens strydig met die Grondwet en hierdie standpunt word afgewys. In hierdie opsig oorskrei die staat sy bevoegdheid. Oor so n belangrike saak behoort (die ouers in) die beheerliggaam volgens die belanghebbendes se geloofsoortuiging te kan besluit.
Ekumeniese gebede:
"School governing bodies and principals need to be empowered with ways of transforming assemblies from being occasions for imposing religious uniformity to being forums where diversity is celebrated along with the values of our Constitution" (Manifesto, 2001:45).
Beoordeling: Sinkretisme en intergeloof word hierdeur bevorder. Vergelyk die doelstellings van die Wêreldparlement van Godsdienste en "The World Conference on religion and peace", wat in Suid-Afrika gehou is.
Christene mag nie aan sodanige ekumeniese multi-godsdienstige byeenkomste deelneem nie, want dit bete-ken meedoen aan afgodery, wat in die eerste gebod verbied word. Slegs die ware God: Vader, Seun en Heilige Gees mag aanbid word. In die tweede gebod word "beeldediens" afgekeur. Christene mag God nie eiewillig aanbid of dien nie. God wil slegs op dié wyse gedien word soos wat Hy in sy Woord beveel. Aanbidding moet in Gees en waarheid geskied (Joh. 4:23). Deur deelname aan sodanige ekumeniese multi-godsdienstige byeenkomste word die drieënige God verloën en dit kom neer op die aantasting van die heilige majesteit van die lewende God.
Ten einde hulle doopbelofte na te kom, behoort ouers Christelike onafhanklike skole ernstig te oorweeg. Ouers wat egter kinders in staatskole het, behoort hul verantwoordelikheid op plaaslike vlak nougeset na te kom.
Saam met Christen-onderwysers en beheerliggame behoort ouers alles in hul vermoë te doen sodat die Christelike geloof en Christelike onderwys nie uit die skool verdwyn nie. Ekumeniese gebede / saalopeninge (Manifesto,2001:44,45) soos in die vooruitsig gestel, behoort ten alle koste afgekeur en vermy te word, aangesien dit strydig met die Bybel en die Christelike godsdiens is. (Word vervolg)