Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Die glybaan af ... òf die reformasiepad op?

AKTUEEL: Geweldskultuur in SA       

SKRIFOORDENKING:
Die enige ware God (Deut 6:4)

Die wyse manne uit die Ooste

Die vrou in die kerklike ampte?

Wat is 'n Lewenbeskouing?

Die Apostoliese Geloofsbeleidenis teenoor die Nuwe Hervorming

KERKLIKE JOERNAAL: 
Sake op die Agenda Sinode GKSA

Regeringsplan Tersiêre Onderwys

Vroue in die GKSA in ampte?

Beskrywingspunt PS Bosveld oor toekenning PU vir CHO eredoktorsgraad aan biskop Desmond Tutu

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Kommentaar op die manifes oor waardes, opvoeding en demokrasie

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Valse gelykheid

PERSRUBRIEK: 
Nog 'n parafraserende Bybel 

Kerklike besinning oor die persoon van Jesus Christus

Nie verskuilde agendas

Die "Israel-visie" - 'n verwronge Skrifbeskouing

Ewige rus in skadu van Voortrekkermonument

GESPREK MET LESERS: Evolusie en die Bybel

MEDIESE ETIEK: 
Gesondheidsrisiko en mediese fondse

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 7  No 1 Januarie 2003

SKRIFOORDENKING

DIE ENIGE WARE GOD
Deuteronomium 6:1-19

-DR CFC COETZEE  -  POTCHEFSTROOM  -

Oorgeneem uit Die Kerkblad, 17 Junie 1972

Een van die verklaarders maak die stelling dat ons hier 'n deklarasie  van Monoteïsme het in dié sin dat daar net een God is en dat hierdie God waarlik een is. Verskillende vertalings van die oorspronklike teks wat moontlik is, kan die klem laat val op óf die eenheid van die God van Israel teenoor die veelgodedom van die heidene, óf die enigheid van God teenoor die afgode. Ons kan en mag hierdie twee beklemtonings nie teenoor mekaar uitspeel nie. Dit gaan hier inderdaad om die eenheid en die enigheid van die HERE onse God. As Hy een sou wees, maar nie noodwendig die enigste nie, watter troos en watter krag sou daarin vir ons wees? Maar as daar inderwaarheid net een God is, spreek dit vanself dat Hy ook een moet wees.

Israel en die veelgodedom

Hierdie fundamentele waarheid moes die volk Israel hoor (sjema), met gespanne aandag daarna luister, met die oog op hulle intog en vestiging in die land Kanaän. Dit is iets wat hulle nooit mag vergeet nie. Vir veertig jaar het die volk in die woestyn grootliks in afsondering geleef. Maar nou sou hulle soos vroeër in Egipte weer in aanraking kom met die vele gode van die heidene: Baäl en Astarte, Molog, Dagon en talle ander. Israel sou voortdurend in versoeking kom om tog ook an-der gode te erken. En daarom moet hulle hoor en dit inskerp by hulle kinders en daaroor praat in die huis en op die pad, as hulle gaan lê en as hulle opstaan. Dit moet hulle ganse lewe beheers, in hulle harte, op hulle hande en voorhoofde, deurposte en poorte. Die HERE onse God is 'n enige HERE. Dit is die kortste Joodse geloofsbelydenis. Saam met ander Skrifgedeeltes (Deut 11:13-21; Num 15:37-41) het dit die bekende sjemagebed geword wat die Jode in die oggend en aand gebid het.

Met hierdie waarheid van ons teks word alle afgodery afgewys en verbied. En op die verloëning van hierdie waarheid volg die straf en oordeel van die enige ware God. So lees ons in Deuteronomium 6, verse 14 en 15: "Julle mag nie agter ander gode aanloop uit die gode van die volke wat rondom julle is nie - want die HERE jou God is 'n jaloerse God by jou - sodat die toorn van die HERE jou God nie teen jou ontvlam en Hy jou van die aarde verdelg nie".

Net 'n Ou Testamentiese woord?

Geld hierdie waarheid nou ook vir ons? Het ons hier met Ou Testamentiese etiek te doen wat vandag nie meer geld nie? Nee. Christus self noem dit in Markus 12:29 in antwoord op die vraag van die Skrifgeleerde, die "eerste van alle gebooie". En Paulus stel dit in 1 Korintiërs 8:4-6 in die duidelikste taal dat daar geen ander God is nie, behalwe Een, die Vader uit wie alles is en ons tot Hom; en een Here Jesus Christus deur wie alles is en ons deur Hom. Die HERE van Deuteronomium 6:4 is ook ons God. Dit is die onbeskryflike voorreg van sy genade dat ons Hom so mag ken en bely deur die geloof in die enigste en volkome Middelaar, Jesus Christus. So sê Hy self in Johannes 17:3: "en dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God en Jesus Christus wat U gestuur het".

Ons en die veelgodedom

Daarom moet ons ook hierdie waarheid hoor, met gespanne aandag daarna luister. In ons teologie, prediking en getuienis moet dit onvervals verkondig word. Ons moet dit nooit vergeet nie. Dit moet ons ganse bestaan beheers in 'n tyd waarin die stryd hom opnuut toespits op die leer aangaande God. In 'n tyd dat die antitese sterker as ooit gestel moet word, neem die sinkretisme juis toe. Vir sovel mense is Hy, die HERE ons God, hoogstens nog een van vele gode. En daarmee saam kom die eksklusiwiteit en unieke karakter van die Christelike geloof en godsdiens al hoe meer in die gedrang.

In ons land is die debat oor godsdiensvryheid voluit aan die gang namate die kerk en Christelike godsdiens al hoe meer sy bevoorregte posisie verloor. En dit is 'n tragiese feit dat onder godsdiensvryheid dikwels eintlik godsdiensgelykheid verstaan en gepropageer word. Calvyn sê by ons teks dat God van sy majesteit gestroop word sodra Hy saamgegooi word met 'n menigte ander gode.

In die teologiese en filosofiese wêreld van die New Age word 'n nuwe wêreldgodsdiens bepleit waar nie een godsdiens en een God uniek en die enigste ware godsdiens of God sal wees nie.

In die aanspraak van valse godsdienste dat ook hulle sogenaamde gode God is, word die waarheid van ons teks verwerp en bestry.

Waarheid en gehoorsaamheid

Dan moet dit ons nie verbaas dat die wêreld lyk soos hy tans lyk nie. Want saam met die verloëning of verwerping van die waarheid dat die HERE ons God die enige HERE is, verdwyn ook die boustene van 'n Christelike lewe en samelewing. Op die indikatief van ons teks rus die imperatief van ons gehoorsaamheid. Uit die fundamentele waarheid van vers 4 volg die fundamentele gebod van vers 5: "Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag".

Jy kan mense nie roep tot gehoorsaamheid, ook nie in die prediking, sonder die indikatief van ons teks nie. Dit is nie groter verdraagsaamheid teenoor afgodery en valse godsdienste wat die vooruitsig bied op vrede en voorspoed nie, maar alleen gehoorsaamheid aan die enige ware God.

Die vraag is nie of hierdie waarheid die krisis van ons tyd gaan oorleef nie. Daar is net een God, die drieënige, die enige ware en ewige God aan Wie toekom eer en heerlikheid. Die vraag is alleen of ons uit hierdie waarheid leef en dit verkondig. Daarvan hang inderdaad die lewe af, nou en tot in ewigheid.