|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 1 Januarie 2003
NIE VERSKUILDE AGENDAS NIE!
Prof GJC Jordaan besluit sy redak-sionele artikel in Die Kerkblad van 20 November 2002 af met die volgende vermaan met die oog op die komende Nasionale Sinode GKSA, Januarie 2003.
Die voorneme om God se Woord in besluitneming na te volg, plaas 'n ...verantwoordelikheid op die kerk. Dit plaas 'n verbod op alle verskuilde agendas waarmee mense na kerklike vergaderings kom. Enige vooraf gekoukus of blokstemmery is 'n sinode nie waardig nie. Ons kan die Here net dank vir die mate waarin GKSA-sinodes van sulke praktyke bewaar is.
Terselfdertyd moet die kerk daarop bedag wees dat verkeerde persepsies nie ontstaan nie. Sulke verkeerde persepsies kan maklik gevoed word wanneer vermoed word dat sekere lede van 'n vergadering heimlik aan vertroulike of semi-vertroulike organisasies verbonde is. Ek verwys na organisasies soos die Afrikanerbond, voorheen bekend as die Broederbond.
Uiteraard staan dit elke mens vry om aan verenigings of klubs van sy belangstelling te behoort. Die kerk kan ook geen probleem daarmee hê as kerklidmate aan buite-kerklike organisasies behoort nie, op voorwaarde natuurlik dat so 'n organisasie hom nie met onheilige dinge ophou nie. Maar sodra 'n organisasie onder 'n dekmantel van vertroulikheid saamsnoer, skep dit ten ene male maar die indruk - ten regte of ten onregte - van onbekende groepvorming, verskuilde agendas en 'n agter-die-skerms gekoukus.
In die lig hiervan behoort kerklidmate wat lede van (semi-) vertroulike of geheime organisasies is, miskien weer oor hulle betrokkenheid by so-iets te dink. Selfs al is jy as lid oortuig dat die organisasie niks verkeerds doen of beplan nie, mag jy nie vergeet dat jou blote betrokkenheid by so 'n organisasie aanleiding mag wees tot slegte persepsies oor die kerk en kerklike vergaderings. ...