|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 1 Januarie 2003
"EWIGE RUS IN SKADU VAN VOORTREKKERMONUMENT KOM GOU"
Die Redakteur BEELD
Die berig en foto in u koerant van 2 Oktober 2002, onder die opskrif "Ewige rus in skadu van Voortrekkermonument kom gou", verwys.
Die aankondiging van "projekbestuurspan van die Voortrekkermonument-gedenktuin" onder leiding van genl.maj. Gert Opperman dat daar n gedenktuin by n plek soos die Voortrekkermonument, wat vir die Christen-Afrikaner as n soort van "heilige grond" beskou word, aangebring gaan word, is weer eens n bewys van hoever die Afrikanervolk en diegene wat hom dikwels op die hoogste vlak verteenwoordig, verdwaald geraak het in die moeras van n heidense samelewing en beginsels.
Waarom n plek soos die Voortrekkermonument se terrein juis vir so-iets gebruik moet word, terwyl daar reeds talle ander plekke vir dié doel bestaan, gaan enige nugter mens se verstand te bowe. Al wat dit kan beteken is dat dit maar net weer n verdere poging is om die Afrikanervolk se volkseie simbole en erfenisse verder te kommersialiseer en geld daaruit te maak. Afgesien daarvan dat die gedagte van n gedenktuin waarin die lyke van mense wat hulself laat veras het in nisse geplaas word, indruis teen die Afrikanervolk se Christelike beginsels in verband met lykverbranding, kom dit in werklikheid ook neer op die ontheiliging van die Afrikanervolk se kultuurhistoriese erfenisse en die terugkeer na die ou heidense beginsels van die Grieke, Romeine, Kelte, Germane, ensovoorts.
Nêrens in die Bybel word lykverbranding geregverdig nie en ek daag enigiemand wat dit sou wou bewys, uit om die nodige Skrifgronde daarvoor aan te toon. Inteendeel, verbranding word juis in die Skrif aangehaal as teken van God se toorn en straf op die sonde. Hoe kan enige Christen-Afrikaner sy liggaam laat verbrand terwyl God se Woord dit veroordeel? En om dan nog te bepaal of te eis dat jou verstorwe liggaam in die vorm van verbrande as, by n plek soos die Voortrekkermonument gebêre word, is om die Here God se toorn oor hierdie sonde uit te daag. Geen wonder dat dit reeds vir n geruime tyd so sleg met ons Afrikanervolk op feitlik alle sfere van die volkshuishouding gaan nie en dat ons dit nie kan verstaan nie. Ek wens derhalwe graag deur middel van u koerant wat die berig daaroor geplaas het, n beroep op genl.maj. Opperman en sy projekspan te doen om hierdie aangeleentheid ernstig in heroorweging te neem.
Die uwe
(Get.) Gert Kruger
Verwoerdburg, 4 Oktober 2002
Geplaas op versoek met die vermelding dat hierdie brief nie in BEELD verskyn het nie (Red - PvdK)