|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 7 No 1 Januarie 2003
REDAKSIONEEL
'n Nuwe jaar wat voorlę. Maar die Here, ons God is en bly dieselfde tot in ewigheid. Daaraan hoef ons nie te twyfel nie. Verlede, hede en toekoms is in sy hand. Daar gebeur niks per toeval nie. Ons glo, ook met die oog op die jaar wat voorlę, in die voorsienigheid van God, soos die Heidelbergse Kategismus dit in Sondag 10, vr/antw 27 bely: "Die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles ons nie per toeval nie maar uit sy vaderhand toekom."Hierdie belydenis skenk ons krag en moed om die toekoms tegemoet te kan gaan. Dit skenk ons vrede in die hart. Dit maak ons ryk in die denke. Besef ons die ontstellende verval van die geloofslewe as God se Woord betwyfel word? Ervaar ons die armoede van dié mense wat die almag en voorsienigheid van God betwis?
Die jare wat sedert die eerste verskyning van ons blad, Maart 1997, verbygegaan het, staan in die teken van toenemende Skrifkritiek wat gepaard gaan met geloofsbetwyfeling en versaking van die geloof. Die kerke kies al meer 'n koers van sekularisering. Die neiging word al hoe sterker om aan te pas by die omstandighede van die dag. Dit betref die persoonlike, kerklike en maatskaplike bestaan. Die Bybel word beskou as kultuur-gedrewe en nie as geďnspireer deur die Heilige Gees van God nie.
Die jaar wat voorlę sal ook hierdeur getipeer word. Dit gaan gepaard met 'n stryd om die geloof te behou en fisies voort te bestaan. Mag die Here ons die krag en wysheid skenk om vas te staan in die ongetwyfelde, Christelike geloof.