Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Norme vir samebinding en vir verdelingslyne

AKTUEEL: Geloftedag of Versoeningsdag? 

SKRIFOORDENKING:
2 Konings 2 God is heilig....

Die drie formuliere van eenheid

Deformasie? 'Nuwe reformasie?' Reformasie? 

Die stryd rondom die suiwer Psalmboek

26 Oktober 2003: Dag van beslissing in die GKSA

GKSA-Middestadbediening ....

KERKLIKE JOERNAAL: 
Hersiening en herdruk van 1936-Totiusberyming Psalmboek

Skrifhantering in die brandpunt

Mededeling van kerkraad "Die Kandelaar", 30 November 2003

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Onderwys as instrument tot nasiebou

Die PU vir CHO se amalgasie met die UNW

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Lesse uit die onststaansgeskiedenis van die GKSA

'n Brief uit Ierland ....

PERSRUBRIEK: 
Ons enige troos

'n Besinning oor die doleansie van vroeër.... en nou

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van biblisisme.

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 1 Januarie 2004

DIE DRIE FORMULIERE VAN EENHEID

-  SH SALOMONS,  IN: KERK EN WOORD, AUGUSTUS 2003, BL 13  -

Die Nederlandse Geloofsbelydenis

Dit is opmerklik dat die Nederlandse Gereformeerde Kerke (in die verlede) nie klakkeloos die reeds bestaande belydenis van die Switserse en Franse Gereformeerde Kerke oorgeneem het nie, maar dat 'n spesifiek Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) opgestel en deur dié kerke aanvaar is. Die hoofrede hiervoor is dat die Nederlandse kerke hulle in 'n heeltemal ander politieke situasie bevind het as die Switserse en Franse kerke. Dit het die Nederlandse kerke aangespoor om hulle op spesifieke punte duideliker te verantwoord.

Die Nederlandse owerhede het die Gereformeerde Kerke oor een kam geskeer met die rewolusionêre doperse beweging wat 'n groot aanhang in Nederland gehad het. Dit was in dié spesifieke omstandighede noodsaaklik om, veral ten opsigte van die owerhede, die posisie van die Gereformeerde Kerke duideliker daar teenoor te markeer. In artikel 36 word daarom ondubbelsinnig ten aansien van die gehoorsaamheid aan die owerhede die volgende gestel:

"Hierin verfoei ons die Wederdopers en ander oproerige mense en in die algemeen almal wat die owerheidsgesag en regeerders wil verwerp en die regsorde omver wil stoot, terwyl hulle die gemeenskaplike besit van goedere invoer en die eerbaarheid wat God onder die mense ingestel het, versteur."

Terwyl die brandstapels gerook het en baie kinders van die Here medoënloos vervolg is, word terselfdertyd bely dat dit God is wat konings, vorste en owerhede aangestel het en dat elkeen verplig is om hom aan die owerhede te onderwerp! Die outeur van die NGB, Guido de Bres, het by die opstel daarvan sterk geleun op die Franse gereformeerde belydenis waarin Calvyn self 'n sterk hand gehad het. Verder het Guido de Bres onmiskenbaar ook gebruik gemaak van die Institusie van Calvyn. Met 'n begeleidende brief aan Koning Philips II van Spanje, word dié konfessie in die nag van 1 op 2 November 1561 oor die muur van die kasteel in Doornik gewerp.

Die bedoeling was dat die koning van dié geskrif kennis sou neem en daardeur 'n milder houding teenoor die vervolgde gereformeerde Christene sou inneem. Of die koning uit van hierdie konfessie kennis geneem het, is te betwyfel. Die vervolgings het onverpoos voortgegaan. Guido de Bres het self in 1576 aan 'n marteldood gesterf.

Die Heidelbergse Kategismus

Die Heidelbergse Kategismus (HK) het deur historiese omstandighede in Nederland beland. Calvyn het self ook 'n kategismus opgestel waarvan Petrus Datheen, as leerling van Calvyn, seker kennis gedra het. Dit was egter hy wat daarvoor gesorg het dat juis die HK in Nederlands vertaal en as leerboek gebruik is.

Petrus Datheen was vanaf 1562 'n tydlank predikant van die Nederlandse vlugtelinggemeente in Frankenthal, Duitsland. Dié stadjie is digby Heidelberg geleê. Waarskynlik was Datheen nog sydelings betrokke by die opstel van die HK. Gedurende 1563 verskyn die HK in druk en nog dieselfde jaar word dit opgevolg met 'n Nederlandse vertaling daarvan, deur Datheen.

Deur sy invloed het die HK steeds meer bekend geraak in Nederland. Alreeds op die Konvent van Wezel in 1568, die eerste gesamentlike vergadering van die Gereformeerde Kerke in Nederland, word besluit dat die HK en die Kategismus van Genéve beide gebruik kan word as leerboeke om die jeug te onderrig. Mettertyd het die Kategismus van Genéve in onbruik geraak. later het die HK die status van 'n belydenisskrif gekry.

Hierdie gereformeerde kategismus het wyd en syd ingang gevind. Reeds kort na die verskyning daarvan is dit feitlik oor die hele Europa versprei. Dit het die mees vertaalde belydenisskrif van alle tye geword.

Die Dordtse Leerreëls

Die Dordtse Leerreëls (DL) het in Nederland ontstaan as gevolg van die stryd tussen die Gereformeerde Kerke en die Remonstrante. Hulle is vasgestel op die groot sinode wat in die jare 1618/1619 in Dordrecht gehou is. Op dié sinode was daar ook afgevaardigdes van Gereformeerde Kerke uit ander lande teenwoordig. Hulle is aktief betrek by die opstel van hierdie belydenisskrif. Wat dit betreffende, kan dit dan ook as 'n Gereformeerde ekumeniese belydenisskrif beskou word. Sover my kennis strek is hierdie belydensisskrif egter nooit deur enige ander kerke buite die Nederlandse Gereformeerde Kerke en daaruit afstammende kerke in ander lande, aanvaar nie.

Die DL is seker die mees omstrede en minste geliefde van die gereformeerde belydenisskrifte. Die leer van die Goddelike uitverkiesing en verwerping is veral vir die metodisme en vandag se "evangeliese" strominge 'n steen des aanstoots. Vir hulle is hierdie leer 'n gruwel. Die belydenis van die totale bedorwenheid van die menslike natuur en die verlossing uit vrye guns alleen, sonder enige verdienste van die mens se kant, word ook as 'n wanklank, as 'n valse akkoord, in die huidige humanistiese denkwêreld ervaar. Die Gereformeerdes val daarmee vandag uit die toon, waar algemeen optimisties uitgegaan word van die mens wat in wese goed is. Dit is die mens wat uit eie krag tot soveel goeie en groot dinge in staat is en eintlik sonder 'n genadige God kan klaarkom.