|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 1 Januarie 2004
DEFORMASIE? 'NUWE REFORMASIE'? REFORMASIE?
Hervormingsondag 2003:
32 Stellings oor die stand van die gereformeerde teologie in Suid-Afrika
- Victor E d'Assonville (uittreksel uit 'n referaat, gelewer in Pretoria, 25.10 . 2003 -
1 INLEIDING
Die laaste Sondag van Oktober heet Hervormingsondag, só genoem ter gedagtenis aan die deurbreek van die Reformasie. Vanjaar val Hervormingsondag op 26 Oktober. Maar ‘n Sondag sonder Christus is geen ware Sondag nie. En Hervorming sonder Christus is geen ware Hervorming nie.
Toe Martin Luther sy beroemde 95 Stellings op 31 Oktober 1517 aan die kerkdeur van die Schloßkirche te Wittenberg vasslaan, was dit 'n bekende manier om 'n diskussie oor akademiese sake te inisieer. In sy wese was dit ook 'n vorm van Woordbediening. Dit was nie die eerste keer dat hy stellings opgestel en só vasgeslaan het nie; teologies gesien was dit ook nie sy mees uitgesproke stellings nie. Pas die vorige maand, op 4 September 1517, het Luther die destydse gangbare manier van teologie-beoefening op 'n nog meer radikale wyse vanuit die Skrif die stryd aangesê, toe ook by wyse van sulke Disputatio-stellings.
Die 95 Stellings van 31 Oktober 1517 ken egter in terme van hulle "Wirkung" (uitwerking en gevolge) geen gelyke in die geskiedenis nie. Die onbybelse praktyk van aflate (deur met geld jou saligheid te koop) is by uitstek aangespreek in hierdie stellings. Tog het vele ander teologiese kwessies ook by implikasie aan die orde gekom: veral kerklike gesag, die gehoorsaamheidsvraagstuk, die Skrifgesag (die gesag van die Skrif teenoor die gesag van mense) ensovoorts. Soos met 'n blitsstraal het die Here hierdie gebeurtenis beskik om die gesag van Christus en sy Woord teenoor menslike standpunte en redenasies (verskuil agter sogenaamde kerklike gesag) na die middelpunt toe te ruk.
Die doel van Luther se 95 Stellinge word uitdruklik in sy opskrif gestel: "Uit liefde en ywer vir die Waarheid wat aan die lig gebring moet word, gaan die volgende Stellings in Wittenberg onder die leiding van die eerbare dr Martin Luther bespreek word." Behalwe die algemene gebruik deur teoloë om stellings diskussie as doel op te stel (dit is trouens vandag nog dikwels in Europa binne akademiese en universitêre kringe die geval), was 'n bykomstige doel van sulke stellings in Luther se tyd dat dit 'n middel was om die waarheid te dien. Dit was verder ook nie ongewoon om sulke stellings op eie inisiatief, so te sê as 'n verrassing, bekend te maak nie. Die stellings kon veral die geleentheid bied om bepaalde probleme uit te lig, met die doel om by oplossings te kan uitkom.
Vandag, 486 jaar later, is en bly dit hoogs aktueel om nogeens te besin oor die vraag, wat die Reformasie was, wat Reformasie ís en wat Reformasie nié is nie. Juis in 'n tyd waarin daar baie aansprake en appèlle op die begrip en die idee en die impak van die Reformasie van die 16de eeu gemaak word, in ‘n tyd waarin 'n begrip soos "Hervorming" gereeld misbruik word en Hervormingsondag daarvoor ingespan word, is dit nie net sinvol nie, maar is dit 'n roeping in verantwoordelikheid teenoor ons hemelse Vader in Jesus Christus, dat ons ons oor Reformasie verantwoord. Aan die een kant kry 'n mens in Suid-Afrika 'n teologie sonder die Christus van die Bybel, soos beoefen deur die sogenaamde "Nuwe Hervorming", wat in sy volste konsekwensies alle sentrale geloofstukke van die christelike geloof verwerp. Aan die ander kant kry 'n mens teoloë, wat reken hulle is 'bydertyds‘ en wat boonop ook 'n beroep op die gereformeerde erfenis maak, terwyl hulle inderwaarheid in die hande van bogenoemde teologie speel, deur op 'n soortgelyke Skrifbeskoulike grondslag, in die woorde van die evangelie op sand in plaas van op Christus hulle (teologiese) huis te probeer bou. Sommige van hierdie teologiese uitgangspunte en oortuigings in die breëre hedendaagse SA teologie, maar ook binne gereformeerde geledere is vir baie lidmate verwarrend en vir die uitdra van die evangelie skadelik. Hierteenoor word die kerk van Christus net geroep om getrou te bly aan Hom en sy Woord.
Vervolgens word kortliks stilgestaan by een van Luther se stellings asook belangrike uitsprake deur Calvyn, waarin die gees van die Reformasie as 'n teruggryp na die Woord weerspieël word. Dan word sommige aspekte van die huidige teologie in Suid-Afrika ook by wyse van 'n aantal stellings uitgelig.
2 UITSPRAKE VAN LUTHER EN CALVYN
"Die regte ware skat van die kerk is die allerheiligste Evangelie van die heerlikheid en die genade van God." (Luther, 1517, 62ste Stelling.)
Eenheid van die kerk
In sy brief aan die Roomse Kardinaal Sadoletus, waarin Calvyn die gereformeerde godsdiens, gereformeerde teologie en gereformeerde kerke verdedig, skryf Calvyn in 1537: "U probleem, meneer die Kardinaal, is dat u nie die stryd van die gewete ken nie ..., u het maar 'n gemoedelike idee van kerkwees en teologie ..." (1537, Responsio Sadoleto, OS I,477).
Na aanleiding van die beskuldiging dat die gereformeerdes die kerk sou skeur, sê Calvyn aan Sadoletus: "As dit enigsins waar sou wees dat die gereformeerdes die Bruid van Christus sou verskeur, dan verdien ons tereg om verwerp te word, máár, ..." só vervolg Calvyn oor kerklike eenheid, "die kerk is slegs één in soverre dit in God die oorsprong en in Hom die doel vind, dit wil sê na Christus se stem luister, sy Woord gehoorsaam ..." (OS I,488; vgl. Link, 342).
Woord en Gees
En dan kom Calvyn met 'n greep wat hy maak op die diepste probleem van daardie tyd en eintlik van alle tye (nog altyd aktueel, veral vandag); hy wys daarop dat die gereformeerdes met die opponente uit twee rigtings (die Roomse kerk en die dwepers, die wederdopers) in wese, met een en dieselfde probleem te kampe het. 1) Die Roomse kerk luister nie na die Skrif as Woord nie, want volgens hulle het die kerk die finale sê; 2) die Wederdopers op hulle beurt luister ook nie na die Skrif as Woord nie, want volgens hulle sê die Gees binne-in jou, wat die waarheid is of wat jy moet doen. Beide kante beledig die Gees met hulle ongehoorsaamheid aan die Woord, deurdat hulle die Gees en die Woord van mekaar losmaak. Dit is nie moontlik om te sê die kerk word regeer deur Christus, terwyl die Woord intussen begrawe word nie. Die Gees Self het Homself onlosmaaklik aan die Woord gebind. (Vgl. OS I,465 vv.)
**********
Hier word die vinger op seker die grootste dwaling in die teologie (ook vandag) gelê - om nie rekening te hou met die Bybelse verhouding tussen die Heilige Gees en die Woord van God nie.
STELLINGS OOR REFORMASIE EN DIE GEREFORMEERDE BELYDENIS
1 Die gesag van die Woord
In die sestiende-eeuse Reformasie was die vraag oor die gesag van die Woord van God in die brandpunt - die hele stryd oor die regverdiging en alle ander vraagstukke waaroor geworstel is, het berus op die sentrale aspek: Word die gesag van Christus soos wat Hy Hom in sy Woord openbaar, aanvaar of nie? Vandag gaan dit ten diepste steeds oor dieselfde vraag: Aanvaar ons die gesag van Christus soos wat Hy Hom in sy Woord openbaar of nie?
2 Alleen die hele Skrif
In die hele aanpak van die Reformasie, soos trouens ook in die vroeë kerk, was die uitgesproke uitgangspunt: God openbaar Homself in die Skrif. In die gereformeerde teologie het die sola Scriptura (alleen die Skrif) as finale Skrif- en hermeneutiese uitgangspunt nog altyd die tota Scriptura-beginsel (die hele Skrif) veronderstel (art 3 NGB). Die gereformeerde belydenisse hanteer ook die Skrif as Woord van God konsekwent volgens hierdie beginsel. Enige afwyking van die tota Scriptura-beginsel verlaat nie net die fondament van die Reformasie nie, maar is wesentlik in stryd met die Formuliere van Eenheid.
3 Christus se gesag
Met die invoering van die 2001-omdigting is in die GKSA die eerste keer in die geskiedenis, bewustelik of onbewustelik, 'n (onderliggende) Skrifbeskouing formeel aanvaar, wat in sy wese afwyk van die gereformeerde belydenis. Só is verskillende sinodebesluite almal simptome van ‘n dieperliggende probleem wat grotendeels met Skrifbeskouing verbandhou.
'n Keuse vír die 2001-Psalmomdigting is (wetend of onwetend) noodwendig 'n keuse vir 'n Skrifbeskouing, waarby nie net die Bybelse openbaring oor God self en ons belydenis daaroor in gedrang kom nie, maar boonop 'n streep deur Jesus Christus se gesag getrek word. Dit kan soos volg verduidelik word:
Wanneer die hele problematiek met die 2001-omdigting ontleed word, en al die kritiek en knelpunte en al die argumente ten gunste van en teen die omdigting geanaliseer word, dan kom die hart van die vraag waaroor dit gaan op een saak neer: Glo ons Jesus Christus wanneer Hy sê dat Dawid onder leiding van die Heilige Gees van Hom in Ps 110 geprofeteer het (Mat 22:43,44 en Mark 12:35,36)? Of, om dit van 'n ander hoek te benader: Profeteer die profete van die Ou Testament (waaronder Dawid en die Psalms) onder leiding van die Heilige Gees van Christus, soos Hyself sê, of nie? Dit raak die grondliggende beginsel van die Reformasie. By die antwoord op hierdie vraag kan ons (in die woorde van Luther) sê, staan of val die kerk. By hierdie vraag gaan dit nie bloot oor 'n "verskil in interpretasie" (Die Kerkblad, April 2003) of verskillende aksente, soos wat sommige sê nie. Want as ons nee op hierdie vraag sou antwoord (soos wat offisieel gedoen is by sowel die 2001-omdigting en soos wat die sogenaamde "Nuwe Hervorming" ook doen), dan maak ons óf die Nuwe-Testamentiese uitsprake (waaronder dié van Christus) oor die Ou-Testamentiese profesie tot leuen (daarby kom die Heilige Gees direk ter sprake, Mat 22:43, Mark 12:36 - 'n mens sidder), of, op sy mees geraffineerde, verlaag ons die Nuwe Testament tot 'n vorm van „Gemeinde-theologie" (soos wat Die Bybel in Praktyk , bl 756, dit doen; en soos wat een van die adviseurs van die 2001-omdigting ook in ‘n skrywe sê: "Die aanhaling [van Ps 31:6 deur Luk 23:46] dien Lukas se teologiese oogmerke. ... Ons weet nie of Jesus dit self aangehaal het en of dit deur die Lukas-skrywer in die mond gesit is nie."). Daarom kan die voetnote by die 2001-omdigting nie verder kom as om hoogstens aan te dui waar die Nuwe Testament die Psalms "gebruik" nie, in plaas daarvan om te buig voor Christus se gesag, waar Hy sê Dawid profeteer onder leiding van die Heilige Gees van Hom.
Dit gaan oor niks minder nie as die "hoop" wat deur Paulus in Hand 26:7 verkondig word, die enigste hoop (vgl. Hand 23:6), die hoop wat in die Ou Testament geopenbaar is (Hand 24:14,15) - by implikasie word hierdie hoop offisieel in beginsel en by voorbaat deur die 2001-omdigting ontken; die hoop op die opstanding (Hand 24:21); die hoop waarvoor Paulus bereid was om in kettings gebind te wees (Hand 28:20); die hoop op dít wat ons nie kan sien nie (Rom 8:24), die hoop wat die Heilige Gees (deur sy Woord, deur die Ou Testament reeds, deur die Psalms) in ons wek (Rom 8).
Hoe sou die eerste martelaar van die NT-kerk, Stéfanus, ook met die woorde van Ps 31:6 (en met die belydenis van Christus as sy Here) op sy lippe kon sterf, as hy die standpunt van 'n adviseur van die 2001-omdigting moes onderskryf, dat die "aanhaling [van Luk 31:6 in Luk 23:46] Lukas se teologiese oogmerke dien … Ons weet nie of Jesus dit self aangehaal het en of dit deur die Lukas-skrywer in die mond gesit is nie …"
Die verskille wat uitmond op verskillende beoordelings van die 2001-Psalmomdigting berus nie bloot op "uiteenlopende menings en gemengde gevoelens" (Die Kerkblad, Oktober 2003) nie; dit berus ook nie op 'n eksegetiese misverstand (Die Kerkblad, Maart 2003) nie; ten diepste hou dit in dat Nuwe-Testamentiese uitsprake (onder andere deur Christus self en die apostels) nie as gesaghebbend aanvaar word nie - 'n verskuiwing in Skrifbeskouing wat afwyk van die gereformeerde Skrifbeskouing, soos uitgedruk in ons belydenisskrifte. Daarom is daar nie, soos gerieflikheidshalwe in kerklike kringe gesê word, slegs met 'n paar Psalms (bv. 2, 22, 110, ensovoorts) in die 2001-omdigting 'n probleem nie. Die Skrifbeskouing ten grondslag van die hele 2001-omdigting is problematies. Die verskuifde Skrifbeskouing wat as grondslag van die 2001-Psalmomdigting dien, toon meer gemeenskaplike trekke met die Skrifbeskouing van die sogenaamde „Nuwe Hervorming" as met die Skrifbeskouing soos ons dit bely in die Nederlandse Geloofsbelydenis en in die Heidelbergse Kategismus. Daarom is dit nie houdbaar om in die voorwoord van die 2003-Psalmboek (p XIII) melding te maak van die Hoofskap van „Jesus Christus die Here" oor die kerk, terwyl hierdie Hoofskap in die totstandkoming van die 2001-omdigting eksegeties opsygeskuif is (met verwysing na Christus se eie beroepe op die Psalms wat van Hom getuig). Christus se Hoofskap kan immers nie daarvan losgemaak word dat Hy ons hoogste Leraar en Profeet (So 12, HK) en Middelaar (vgl. So 6, vr 19) is nie, ook in sy uitsprake oor die Psalms.
4 Ons geloof in Christus en Christus se gesag
In die Suid-Afrikaanse en in die besonder in die gereformeerde teologie is niks minder nie as die belydenis van ons geloof in Christus en Christus se gesag self tans in gedrang.
Ons het hier nie bloot met 'n akademiese paradigmaverskuiwing à la Kuhn te doen nie. Ons het nou te doen met 'n ander, Skrifvreemde Skrifbeskouing en hermeneutiek wat ten grondslag van talle standpunte, ook sommige sinodebesluite, lê; 'n Skrifbeskouing wat in sy diepste grondmotief afwyk van die gereformeerde belydenis oor die Skrif as Woord van God en wat, weens sy belydenisafwykende karakter deur ‘n biblisistiese tekshantering reggedokter moet word.
Om dit baie eenvoudig te sê - dit gaan nie hier oor iets gering, oor iets middelmatig nie, dit gaan oor Christus self en oor sy gesag, dit gaan oor die vraag of ons dit wat Hyself sê in Matteus 22:43 of Markus 12:35,36 en elders, glo, of ons Hom glo. Ons glo ín Christus het direk te doen met of ons Hom glo.
5 Skrifvreemde Skrifbeskouing
Die goedkeuring van die 2001-Psalmomdigting is die één grootste, offisiële daad van deformasie (kerkverval) in die geskiedenis van die GKSA, deurdat 'n sinode 'n keuse vir sowel 'n Skrifvreemde Skrifbeskouing gemaak het, asook 'n keuse vir 'n ongereformeerde hermeneutiek. Dat dit wel nie 'n nuwe Skrifbeskouing is nie, is waar. Hierdie ander Skrifbeskouing is maar 'n ou dwaling, deels in 'n nuwe kleed, deels met nuwe ywer verkondig. Wat ook nuut is, is die poging om hierdie Skrifbeskouing onder gereformeerde vaandel te probeer bevorder. Die Heilige Gees word losgemaak van die Woord. Daar word, op grond van sogenaamde sosio-historiese interpretasies besluit om in die eksegese van die Psalms met die oog op die omdigting die eenheid van die Woord (tota Scriptura) in te ruil vir 'n buite-Bybelse uitgangspunt, naamlik. "... deur die Psalms te verstaan soos die eerste hoorders dit sou verstaan het."
6 Grondbeginsel vir 'n Gereformeerde erediens
Met die goedkeuring van die 2001-Psalmomdigting is ook een van die basiese grondbeginsels (Woord as enigste maatstaf) vir 'n gereformeerde erediens (KO art 69) verlaat, deurdat die sinode ten spyte van sy eie vorige besluite in dié verband, nie die afsonderlike omdigtings aan die Woord getoets het nie.
Net soos met die invoering van die Gesangboek byna twee eeue gelede (1812/1814) is ook die inhoud van 2001-omdigting, dié keer sowel in die geval van die NG-Kerk as die GKSA, nie deur ‘n sinode getoets nie: by die NG-Kerk is dit deur hulle Algemene Sinodale Kommissie goedgekeur en in die geval van die GKSA is daar kon-sekwent geweier dat die afsonderlike Psalms se omdigtings beoordeel word (vgl. die Minderheidsrapport); die taak is aan sogenaamde. „kundiges" oorgelaat - 'n praktyk wat aansluit by die beginsels en werkswyse van die Roomse kerk (vgl. Sadoletus in sy Epistola, OS I,449, 1537).
7 Voetnote en gemeenteteologie
Die poging om die teologiese probleme met die 2001-omdigting met voetnote te probeer regskaaf, het die werklike probleem waaroor dit gaan (Stelling 3), naamlik 'n ander, Skrifvreemde Skrifbeskouing, verder bevestig. Dit impliseer dat die gereformeerde belydenis oor die Skrif as Woord van God ingeruil word vir "gemeenteteologie" as verklaring vir die oorsprong van die Skrif, deurdat dit nie Jesus Christus se eie uitspraak erken dat die hele Ou Testament (waaronder die Psalms) van Hom getuig nie (vgl Luk 24), of aanvaar dat die Heilige Gees vir Dawid gelei het om in Psalm 110 van Hom te profeteer nie. Nee, volgens die voetnote „gebruik" die Nuwe-Testamentiese skrywers die Psalms en „gebruik" (sic!) Jesus Psalm 110:1 „met verwysing na Homself". Om hierdie „gebruik" van die voetnote in die 2003-Psalmboek te verstaan, hoef 'n mens maar net na ander kontemporêre Afrikaanse verklarings by Psalm 110 te kyk, dan word duidelik dat hier met 'n ander Skrifbeskouing as die een van ons gereformeerde belydenis geopereer word.
Die voetnote maak die omdigting nie meer aanvaarbaar nie, inteendeel – dit lê juis die Skrifbeskouing, grondliggend aan die 2001-omdigting bloot, naamlik. 'n beskouing dat die Ou-Testamentiese profete nie deur die Gees gelei van die Messias getuig en oor Hom gepro-feteer het nie, soos Jesus Christus trouens Self gesê het (Mat 22:43; Mark 12:35,36). Hierdie ander (in werklikheid verouderde en uitgediende „Gemeindetheologie"-) Skrifbeskouing hou in dat die Nuwe-Testamentiese skrywers (hoogstens) die Psalms „gebruik" (vgl. voetnote in 2003-Psalmboek; Bybel in Praktyk). Só 'n uitspraak is uitdruklik lynreg teen die direkte uitspraak van Jesus Christus, dat die Heilige Gees Dawid gelei het in die profesie van Psalm 110.8 Opvallend is dan ook die vermyding van die erkenning van die hele Skrif as Woord, waarvan die oorsprong by God is en die vermyding daarvan om die rol van die Heilige Gees te verreken in die uitleg wat aan Psalm 110 gegee word, sowel in Die Bybel in Praktyk asook in Die Bybellennium Eenvolumekommentaar. In plaas daarvan om Jesus se woorde doodeenvoudig te glo, dat Dawid deur die Heilige Gees gelei is, word dít verswyg en word volstaan daarmee dat Jesus Christus, met verwysing na Psalm 110, 'n „derde interpretasie aan die psalm geheg" het" (Bybellennium, 682). Die implikasie van hierdie siening is dat Jesus Christus se opmerking oor Dawid en die Heilige Gees nie ernstig opgeneem hoef te word nie; dit word nie as waar aanvaar nie en hoef dus geen rol te speel in die uitleg nie. Die verskuiwing na die ander, Skrifvreemde Skrifbeskouing word nog duideliker geïllustreer wanneer bogenoemde twee uitgawes met Die Bybel met Verklarende Aanteke-ninge van 1958 vergelyk word, waarin die gereformeerde Skrifbeskouing (erkenning van die Skrif as Woord van God; erkenning van die rol van die Heilige Gees in die totstandkoming van die Skrif) nog sentraal staan.
Wanneer Christus se uitsprake oordie profesieë van die Ou Testament (waaronder die Psalms) nie meer aanvaar word nie, is die implikasie dat nie net die gesag van sy uitsprake oor sy soendood en almag, ensovoorts ook in die gedrang is nie, maar kom inderdaad die hele evangelie en die gesaghebbende openbaring daarvan deur Christus (vgl. Heb 1) uiteindelik in die gedrang - soos wat die "Nuwe Hervorming" dan ook die konsekwensie trek deur ook die opstanding ensovoorts te verwerp. Soos in die sestiende eeu gaan dit hier nog steeds oor die vraagstuk van die aanvaarding van die Woord van God as die enigste gesaghebbende bron van ons geloof en van die teologie en oor die Skriftuurlik-begronde verhouding tussen Gees en Woord.
8 Implikasies vir ons hele geloofsbelydenis
Die implikasies daarvan, dat 'n mens Jesus Christus se Woord nie as gesaghebbend neem nie, is op verskillende vlakke onberekenbaar groot - ons hele geloofsbelydenis kom in gedrang (vgl "Nuwe Hervorming"); dit bring mee dat ook die grondslag vir sending wegval, soos reeds offisieel deur die Intergeloofbeweging (waaronder die sg "Nuwe Hervorming") verkondig en bevorder word.
9 'n Teologie sonder Christus
'n Oppervlakkige teologie (sonder die Woord, ook sonder die primêre bronne) sekulariseer die gemeente. Wanneer die Woord sy primaat in die teologie verloor, verdwyn Christus uit die prediking, uit die kerklied, uit die kerk.
10 'n Gereformeerde Kerk moet altyd reformeer - terug na die Bron, die Woord
Die misbruik van die begrippe "reformasie" of "gereformeerd" (gereeld in verskillende kerklike blaaie soos Die Kerkblad, Die Kerkbode, ens.) of van die slagspreuk "ecclesia reformata semper reformanda" as blote emosionele appèl vir onskriftuurlike veranderings, getuig nie net van 'n gebrek aan dogmahistoriese insig nie, dit is ook lynreg in teenspraak met die oorspronklike gebruik van die uitdrukking asook in stryd met die gees, bedoeling en taal van die Reformasie. Om te praat van "reformeer" sonder om te sê volgens watter maatstaf, is dus nie trou aan die gebruik van die begrip Reformasie/ reformeer nie.
Ook die uitdrukking ecclesia reformata semper reformanda kan nooit losgemaak word van die begrip Reformasie soos gebruik in die sestiende eeu nie. Die begrip Reformasie op sy beurt was direk verbind aan die terug "na die bronne" (ad fontes). By die Reformatore het "ad fontes" spesifiek na die Skrifte, dit wil sê, die 66 kanonieke boeke van die Bybel, die Heilige Skrif (Scriptura) verwys. Dis nie eers 'n vraagstuk nie: vir die Reformatore sou daar nie so iets wees soos "reformare/ reformanda" indien dit nie direk op die Skrif betrek is nie.
Tot hiertoe verskyn hierdie artikel in hierdie uitgawe van DIE KERKPAD. Wat hierna volg word gepubliseer in die volgende uitgawe. Ter wille van beskikbaarheid op Internet publiseer ons dit hier in sy geheel. Neem asseblief kennis daarvan dat dit in sy geheel reeds gepubliseer is WAARHEID EN DWALING, Jaargang 9, no 7 - Nov/Des 2003
3.2 SKRIFBESKOUING EN HERMENEUTIEK
Wanneer Jesus Christus vir die Fariseërs sê dat Dawid van Hom getuig, dan sê Hy dit nie in ‘n voetnoot nie; Hy noem die karakter van Dawid se profesie baie duidelik: Dawid is deur die Gees gelei.
Jesus sê ook nie aan die Fariseërs dat hulle as eerste "hoorders" van sy woorde, op grond van hulle sosiologiese omstandighede kan besluit of hulle sy woorde net as "gebruik" van die Ou Testament, net as ‘n verdere interpretasie addisioneel by hulle voorvaders se (veronderstelde) interpretasie van die Psalm kan voeg nie. Hy sê uitdruklik en duidelik dat dit hier oor die Gees se bedoeling gaan … reeds by die profesie deur Dawid.
11 Die oorsprong van die Skrif
By die eksegese is dit uiteindelik ‚n geloofsvraag of ‚n mens die oorsprong van die Skrif as Woord by God sien (m.a.w. openbarings-histories) en of dit slegs histories gesien word. Geen antwoord op hierdie vraag is méér of mínder wetenskaplik nie; voorstanders van die sosio-historiese eksegese, wat in 'n meerdere of mindere mate die oorsprong van die Skrif histories en nie openbarings-histories wil verstaan nie, is in hierdie aanname nie méér wetenskaplik as diegene wat die oorsprong van die Woord by God bely nie. Inteendeel, die sogenaamde "Nuwe Hervorming" en die hele intergeloofbeweging bewys hoe onwetenskaplik ‘n mens is wanneer jy nie wil erken (of dalk nie eers besef) nie, dat jy met vooropgestelde vertrekpunte werk. Met wetenskaplikheid het hierdie vertrekpunte opsigself nie te doen nie, met geloof in Christus wat Hom deur sy Woord openbaar wel.
12 Skrifbeskouing as geloofsantwoord
Die geloofsantwoord op die vraag wáár die oorsprong van die Skrif is, bepaal byvoorbaat met watter vrae na die Skrif gegaan word en is van deurslaggewende betekenis vir die antwoorde wat op die vrae verkry word. As die vraagstelling verkeerd is, kan die antwoord nooit reg wees nie.
13 Skrifverklaring teen die agtergrond of vanuit die agtergrond
Waar die Skrif binne 'n gebalanseerde verband teen die agtergrond van die sosio-historiese konteks verklaar word, as een van verskillende aspekte wat by die eksegese in ag geneem moet word in die ontsluiting van 'n teks, sou dit een saak wees. Volgens alle aanduidings egter word die sosio-historiese metode op só 'n absolute wyse as dié belangrikste „metode" uitgelig, dat nie net die sosio-historiese omstandighede van die eerste lesers belig word nie, maar dat die sosio-historiese konteks as konstitutief by die totstandkoming van 'n Bybelse geskrif geag word.
Die sosio-historiese eksegese wil nie die Heilige Skrif teen die kultuur-/sosio-historiese agtergrond verklaar nie, maar vanuit daardie agtergrond. ‘n Onvermybare implikasie van só ‘n benadering is doodeenvoudig die oplewing van die ou „religionsgeschichtliche" skool van byna 'n eeu gelede. Dit hou in dat 'n godsdiensvergelykende verklaring gebied word vir sowel Israel se godsdiens (een van vele soortgelyke ontwikkelings tussen al die buurvolke) asook vir die Christelike godsdiens wat bloot as Joodse sekte sou ontstaan het - presies dít wat deur die sg. „Nuwe Hervorming" gepropageer word (vgl. Muller, P., red. 2002. Die Nuwe Hervorming. Pretoria: Protea.) Dít op sy beurt lei noodwendig tot die propagering van intergeloof; Jh 14:6 word sosio-histories gerelativeer (sien ibid., Spangenberg, p 107).
14 Onbybelse skeiding tussen vorm en inhoud
Die sprong tot 'n uitleg van 'n Bybelse skrywer se (sosio-historiese) motiewe as verklaring vir sy (tydgebonde) uitsprake, waarby die deurlopende openbaring van God (die openbaringshistoriese aspek) nie tot sy reg kom nie, doen gewis afbreuk aan die Skrifgesag. Veral waar buite-Bybelse gegewens (dikwels heeltemal onkrities) as deurslaggewend gebruik word by eksegese, selfs téén die ooglopende strekking en sin van ‘n Skrifgedeelte in (soos uitgelê deur die grammaties-historiese verklaring), kan die gebalanseerdheid van die sosio-historiese metode bevraagteken word.
Terselfdertyd is ‚n mens in die toepassing van hierdie metode maklik maar net weer terug by Kuitert van die 60-er-jare en sy onderskeiding tussen „verpakking" en „Sache" (vorm en inhoud), terwyl die betrokkenheid van die Heilige Gees by sowel die totstandkoming van die Skrif as by die eksegese daarvan nie genoegsaam geloofsmatig en teologies verreken word nie.11
15 Kontekstuele teologie as ontkenning van God se openbaring
Wanneer nie net die sosio-historiese agtergrond van die eerste lesers in ag geneem word nie, maar ook die sosiologiese omstandighede van die huidige lesers (bv die Grondwet van die RSA of huidige tendense in die samelewing) as finale maatstaf geneem word by die uitleg van 'n teks, het 'n mens nie net te doen met kontekstuele teologie wat 'n ideologiese baadjie aan het nie, maar is dit ook in stryd met die gereformeerde belydenis, art 7 NGB, en uiteindelik met die gesag van Christus soos wat Hy Homself in sy Woord openbaar.
16 Die Skrif as Woord van God en die Heilige Gees
Die gereformeerde teologie maak erns met die belydenis, dat die Heilige Skrif die Woord van God is (art 3 NGB); dít veronderstel dat die oorsprong van die Heilige Skrif by God is, met ander woorde 'n bepaalde, primêre rol van die Heilige Gees by die totstandkoming van die Heilige Skrif. Daarom word as uitgangspunt die eenheid van die Woord van God bely wat bepaalde hermeneutiese implikasies het, waarvan 'n belangrike een die eksegetiese beginsel sacra Scriptura sui ipsius interpres is (die Heilige Skrif is vir homself sy eie verklaarder) en 'n keuse vir die openbaringshistoriese eksegese, i.p.v. die sosio-historiese eksegese. Hierdie eksegetiese beginsel staan lynreg in teenstelling met 'n benadering, dat die finale maatstaf van die eksegese van 'n bepaalde teks(-te) buite die Skrif gesoek moet word, bv in die sosio-historiese konteks.
17 Biblisistiese teologie met die skyn van sola Scriptura
Die losmaak van die sola Scriptura-belydenis van die tota Scriptura-belydenis (vgl. ook una Scriptura) lei na 'n biblisistiese, ongereformeerde hantering van Bybeltekste, wat die indruk van sola Scriptura skep, maar in werklikheid met die reformatoriese sola Scriptura niks in gemeen het nie. Só 'n Skrifhantering maak die Gees los van die Woord deur wel met uitsprake (bv „volgens Skrif en belydenis") die skyn van sola Scriptura te hê, maar in die praktyk die Skrif op biblisistiese wyse hanteer (waar teksgedeeltes/boeke doelbewus sonder inagname van of lynreg téén die strekking van die breër Skrifverband in hanteer word).
‘n Biblisistiese hantering van die Skrif is ook op sy beste oorgelaat aan menslike willekeur. Dit kan kortliks geïllustreer word: Dieselfde Sinode wat sê ons kan nie die Nuwe-Testamentiese-uitsprake (waaronder Christus se uitsprake oor bv Ps 110) as uitgangspunt neem nie, maar dat die Psalms omgedig moes word "soos die eerste hoorders dit gehoor het" (wat dikwels moeilik onderskeibaar is van "soos huidige teoloë dit graag sou wou hoor"), illustreer hoe, op ‘n biblisistiese (skyn van sola Scriptura) wyse, die Vierde Gebod nou skielik anders as die ander nege gebooie verstaan moet word, want, so sê die Sinode (Acta, p 486, vgl punte 14 en 15): "Die eis van die Sabbatgebod ontbreek in die Nuwe Testament". En wat van die eis van Christus oor die Psalms wat op Hom wys - 'n uitspraak wat eksplisiet in die Nuwe Testament, by herhaling, gestel word? Dít is die probleem van biblisisme - die erns met en gehoorsaamheid aan die Bybelse verhouding tussen Ou Testament en Nuwe Testament ontbreek. (Vgl daarteenoor Calvyn, Inst. 2.10.2: In die Ou en die Nuwe Testament het ons één Evangelie, twee bedienings).
Nog ‘n praktiese voorbeeld waar biblisisme ook in "gereformeerde geledere" sy intog geneem het: Die "leer" kan volgens die Skrif nooit losgemaak word van die woord van die verkondiging en van die evangelie en van die eksegese nie. Hierdie onlosmaaklike eenheid tussen "leer" en "verkondiging" bied nie net ‘n Bybelse perspektief op die eis na ‚n tweede (of meer) erediens(-te) per Sondag nie, maar fundeer ook Skriftuurlik op 'n organiese (gereformeerde) wyse die "leerprediking" (of liewers "onderrigprediking") tydens die tweede diens op Sondag (vgl. die Dordse Kerkorde art. 68) - spesifiek as wyse waarop die kerk opgebou word. Die beweerde teenstelling tussen vrye-stof-prediking en Kategismusprediking blyk dan 'n valse teenstelling te wees; en die argumente, as sou daar nie Skrifgronde vir twee (of meer of inderdaad so veel as moontlik) eredienste op 'n Sondag wees nie, blyk biblisistiese antwoorde te wees op die verkeerde vraagstelling.
18 Uiteindelike resultate van die sosio-historiese metode
Wanneer die sosio-historiese metode tot sy volle konsekwensies deurgevoer word, lei dit uiteindelik noodwendig tot die resultate van die sogenaamde "Nuwe Hervorming" (dit is die verwerping van die Apostoliese Geloofsbelydenis), soos wat die artikels van Spangenberg en Wolmarans onder meer bewys. Só het prof John Dominic Crossan (Fellow van die Westar Institute, wat onder meer die Jesus Seminar aanbied - waarna die sogenaamde "Nuwe Hervorming" terug te voer is) presies dieselfde uitgangspunt vir sy eksegese, as wat die Deputate vir die 2001-omdigting gehad het. „Wat hy probeer doen, sê Crossan, is om met eerste-eeuse ore te probeer luister wat Die Bybel sê. Hy probeer vertolk hoe Jesus van Nasaret se tydgenote die boodskappe sou verstaan ..." (Beeld, 17 April 2002, p 13?) Die Deputate sê: „Die kommissies het besluit om die grondteks te volg deur die Psalms te verstaan soos die eerste hoorders dit sou verstaan het" (p 280, Agenda, Sinode 2003).
Die Skrifbeskouing grondliggend aan van die advies by die 2001-Psalmomdigting deel die benadering van navorsers wat verbind word aan die sogenaamde "Nuwe Hervorming", in dié opsig dat aanhalings van Jesus Christus in die Nuwe Testament by geleentheid beskou word as woorde wat by nabaat deur die betrokke skrywer vir Jesus in die mond gelê is.
Die implikasies van die sosio-historiese eksegese as belangrike, konstitutiewe skakel tot die ontstaan en uitleg van 'n teks lei uiteindelik onder andere ook daartoe dat byvoorbeeld 1 Korintiërs 15 bloot teen die agtergrond van die Joods-Christelike denke van Paulus gelees en verklaar moet word - daarmee kom die historiese opstanding van Jesus Christus in gedrang, soos reeds by Wolmarans e.a. Met ander woorde, as nie aanvaar word dat die Skrifte (1 Kor 15:3,4), waaronder ook die Psalms, histories oor Christus geprofeteer het nie, waarom moet die res van 1 Kor 15:3,4, Jesus Christus se sterwe vir ons sondes (wat reeds deur Wolmarans verwerp word) en sy opstanding aanvaar word, waarom moet sending gedoen word, die Woord verkondig word?
3 KERK
19 Die ware kerk
Wanneer nie meer erns gemaak word met belydenis van die kenmerke van die ware kerk (art 29 NGB) nie, het deformasie (kerkverval) reeds begin intree.
20 Sending
Die eerste kenmerk van die ware kerk (art 29 NGB), dat die Woord suiwer bedien moet word, veronderstel dat elke kerk (d.w.s. elke gemeente), 'n sendende gemeente is en moet wees.
21 Eenheid slegs rondom en onder die Woord
Sinodebesluite wat nie volgens die Woord is nie, verskeur die bruid van Christus, sy kerk. Skeuring vind nie net plaas binne dieselfde tydsgewrig en binne geografiese gebied nie; skeuring kan ook plaasvind oor die eeue heen en oor lands- en kontinentsgrense – met die kerk van ander tye en oor die wêreld heen. (Vgl. R Schlenzka: "… die kerk van [Christus] mag nie breek met die kerk van ander tye en op ander plekke deur homself hoër as die Woord en die uitdruklike gebooie van die Here te stel nie." Vgl. ook art 29 NGB: Die valse kerk „skryf aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe as aan die Woord van God; dit wil homself nie aan die juk van Christus onderwerp nie; dit bedien die sakramente nie soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar neem weg en voeg by na eie goeddunke; dit vertrou meer op mense as op Christus, en dit vervolg hulle wat volgens die Woord van God heilig lewe en wat die valse kerk oor sy euwels, gierigheid en afgodery bestraf.")
Wanneer besluite op kerklike vergaderings geneem word sonder om dit deeglik en grondig met die Skrif en belydenis te toets, en dit dan verder bloot op grond van die meerderheid afgedwing word, word die eenheid van die kerk sistematies afgetakel. (Vgl. R. Schlenzka, 1995.)
22 Eis van gehoorsaamheid
Die (meestal) ongefundeerde en onbybelse onderskeiding van wesentlike en middelmatige sake waar dit verbandhou met leer, diens en tug, het vernietigende gevolge vir die plaaslike kerke en vir die geloofslewe van individuele gelowiges. (Ook vele beroepe op Calvyn in hierdie verband is ongegrond en hou wetenskaplik-histories nie water nie.) Die eis van gehoorsaamheid verdwyn heeltemal op die agtergrond; intussen is verskillende sinodebesluite, waarvan die belangrikste die aanvaarding van die 2001-Psalmomdigting is, nie middelmatig van aard nie, maar raak die hart van ons geloofsbelydenis, die tekens van die ware kerk (art 29 NGB) en die wese van gereformeerdwees.
23 Die Roomse idee van „kundiges" versus die gereformeerde belydenis van die verstaanbaarheid van die Skrif
Die gedagte dat sogenaamde "kundiges" kerklike sake moet beoordeel en daaroor moet besluit, hetsy op sinodes of andersins, is uit en uit Rooms.
Daarteenoor glo en bely ons die duidelike verstaanbaarheid van die Skrif (perspicuitas), die eenvoud van die evangelie.
24 Ouderlinge as opsieners, nie kundiges nie
Die Here het ouderlinge as herders en as opsieners oor die gemeente aangestel (Hd 20:28), nie sg. kundiges nie, ook nie sg. sinodale kundiges nie.
25 Fundamentalistiese misbruik van die Kerkorde
Die kerkorde (bv Art 31 KO) word in baie gevalle op ‚n fundamentalistiese wyse uitgelê, met verwaarlosing van die konfessionele en historiese, deurdat ons belydenis in art 7 NGB verwaarloos word en die begrip "tensy" van art 31 KO verkeerdelik as „totdat" geïnterpreteer en verabsoluteer word. Hiermee is ons terug by ‚n Roomse dwaling wat die gesag van die kerk (al is dit net tydelik, tot 'n volgende sinode) hoër ag as dié van Christus in sy Woord. - dit dui op ‘n institusionalisering van die kerk (waarteen W.D. Jonker waarsku). Daarom is daar 'n toenemende frustrasie by lidmate, omdat beswaarskrifte ensovoorts, slegs "tegnies" hanteer word, sonder dat geluister word na die saak. Daar is dus 'n toenemde onkunde en onwilligheid in die GKSA om met die kerkorde die Woord te bedien.
26 Onordelike hantering van art 69 KO
Sinode 2003 het art 69 KO met die aanvaarding van die 2001-omdigting de facto genivelleer, nie net deurdat die afsonderlike omdigtings nie aan die Woord getoets is nie (in stryd met staande sinodebesluite hieroor) maar ook deur die invoering van die "vrye lied" onder die skynnaam van Psalmomdigting.
27 Sogenaamde kampe of groepe in die GKSA en die Negende Gebod
In werklikheid is daar nie sprake van twee groepe of strominge in die GKSA soos wat allerweë voorgegee word nie (dikwels met etikette wat toegedig word, in stryd met die Negende Gebod), maar sou dit meer korrek wees om eerder (algemeen beskou) drie groeperinge te onderskei. Twee groepe bestaan naamlik uit onderskeidelik die (bewuste of onbewuste) voorstanders van twee verskillende, teenstrydige Skrifbeskouings (met variasies tussenin), en verder 'n (groot) groep lidmate, ouderlinge en predikante wat óf nie self bereid is om te beoordeel nie óf nie besef dat die gereformeerde Skrifbeskouing self en daarmee die hele gereformeerde belydenis (insluitende die ekumeniese belydenisse) op die spel is nie, en wat hulle deur ander faktore laat lei (byvoorbeeld die meerderheid op kerklike vergaderings, of buitekerklike druk, of sogenaamde "kundiges", ensovoorts). Die twee Skrifbeskouings wat mekaar grotendeels uitsluit is aan die een kant die gereformeerde Skrifbeskouing volgens art 3-7 NGB, waarvolgens die Skrif as geheel die Woord van God is, en, aan die ander kant 'n Skrifbeskouing wat die eenheid van die Woord losgelaat het deur die uitsprake deur Christus self, asook ander uitsprake in die Nuwe Testament oor die Messianiteit van die Psalms nie as gesaghebbend te aanvaar nie. Die voetnote wat by nabaat bygevoeg is en alle rasionalisasie daarmee saam, neem nie die onderliggende Skrifbeskouing wat as grondslag vir die 2001-omdigting gedien het weg nie, dit bevestig inteendeel sowel prinsipieel as materieel lg. Skrifbeskouing.
28 Sing tot die Here 'n „nuwe lied" - slegs moontlik in Christus
Die "nuwe lied" (Ps 98) van die gereformeerde kerke, wat slegs in Christus nuut is (en op geen ander wyse nie), word deur die aanvaarding van die 2001-omdigting ingeboet vir die ou lied wat hoogstens in 'n sinagoge of moskee kan deug, omdat dit sonder Christus is. Wat sou die rol wees van die druk vanuit "intergeloof"-kant (soos in die onderwys) op sienings in ons kerke?
29 Die bevraagtekening van ons geloofsbelydenis
Die bevraagtekening deur die Nuwe Hervorming van geloofs- en historiese waarhede (soos Christus se geboorte "uit die maagd Maria" wat ook op die onlangse NG-Streeksinode N Tvl bevraagteken is; die bevraagtekening van Christus se soendood asook sy opstanding "uit die dood", soos wat dit met die Apostoliese Geloofsbelydenis bely word) is glad nie nuut nie. Wat wel nuut is daaraan, spesifiek in Suid-Afrika, is die radikale, openlike verwerping van sentrale geloofsartikels onder die skyn van wetenskap, en die groot nuuswaardigheid wat daaraan verleen word. In gesekulariseerde state soos byvoorbeeld in Wes-Europa is die kritiek teen hierdie geloofsartikels, om die waarheid te sê, lankal "ou nuus". Die wortels daarvan kan sover teruggevind word as in die agtiende eeu (vgl. die werk van Sigmund Jakob Baumgarten, 1706-1757 en Johann Salomo Semler, 1725-1791) en die negentiende eeu (vgl. Ferdinand Christian Baur, 1792-1860 en David Friedrich Strauß, 1808-1874).
30 Teologie en die kerk
Wat vandag in die teologiese lesinglokaal geleer word, word môre van die kansels af verkondig. Teologie as sodanig is nie slegs teoreties of iets wat nie direkte gevolge vir die kerk van Christus het nie. Gereformeerde teologie as Woord-teologie is niks anders en wil niks anders wees as Woordbediening nie. Daarom kan en mag daar nooit ‘n skeiding tussen kerk en teologie wees nie.
31 Gees en Woord
Die Gees mag nie uitgeblus word nie; die profesieë (Woord) mag nie geringskat word nie (1 Tess 5:19,20). Die dag as 'n gemeente nie meer voor die Woord van God alleen buig nie, die dag as die kerk van Christus nie meer die Woord alleen gehoorsaam nie, die dag as die Woord alleen nie meer verkondig word nie, is só 'n kerk nie net nie meer gereformeerd nie, maar dood. Só 'n kerk wat ongehoorsaam is aan die Woord en daarom die gloeiende kole van die Gees uitblus, is inderdaad 'n dooie kerk, "al het hulle die naam dat hulle lewe" (vgl. Openbaring 3:1,10).
3.4 SLOT
32 Christus se opdrag
Ons Here Jesus Christus is nie net Hoof van sy kerk nie, Hy is ook die goeie Herder (Jh 10) wat almal wat vermoeid en belas is na Hom toe uitnooi. Hy het ons met sy kosbare bloed vrygekoop. En Hy eis dat ons mekaar sal vind en dat ons rondom sy Woord één sal wees. Daar is nie 'n ander opsie nie. Dit is 'n opdrag van ons Koning. Eenheid slegs in Christus en sy Woord, niks minder verwag Hy van ons nie. En Hy beloof sy teenwoordigheid deur sy Gees, daar waar sy Woord is. Totdat Hy weer kom.