Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Norme vir samebinding en vir verdelingslyne

AKTUEEL: Geloftedag of Versoeningsdag? 

SKRIFOORDENKING:
2 Konings 2 God is heilig....

Die drie formuliere van eenheid

Deformasie? 'Nuwe reformasie?' Reformasie? 

Die stryd rondom die suiwer Psalmboek

26 Oktober 2003: Dag van beslissing in die GKSA

GKSA-Middestadbediening ....

KERKLIKE JOERNAAL: 
Hersiening en herdruk van 1936-Totiusberyming Psalmboek

Skrifhantering in die brandpunt

Mededeling van kerkraad "Die Kandelaar", 30 November 2003

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Onderwys as instrument tot nasiebou

Die PU vir CHO se amalgasie met die UNW

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Lesse uit die onststaansgeskiedenis van die GKSA

'n Brief uit Ierland ....

PERSRUBRIEK: 
Ons enige troos

'n Besinning oor die doleansie van vroeër.... en nou

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van biblisisme.

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 1 Januarie 2004

26 OKTOBER 2003:  DAG VAN BESLISSING IN DIE GKSA

-  DR PE VAN DER DUSSEN  -

Die skrywer erken met dank die insigte wat deur talle preke, redes en geskrifte aan hom verskaf is. Dit is onmoontlik om elke sodanige insig uitdruklik te erken, veral wanneer dit by preke kom. Daar word vertrou dat predikante en ander wat van hulle gedagtes herken, die erkenning wat daarin geleë is, sal aanvaar.

Agtergrond

In die kerkgeskiedenis van Suid-Afrika staan ‘n nuwe datum skerp afgeteken: Sondag 26 Oktober 2003.

Maarten Luther het op 31 Oktober 1517 sy 95 stellinge op die deur van die Rooms-Katolieke kerk te Wittenberg vasgespyker. Dit was die begin van die Kerkhervorming van die 16e eeu. Luther het veral die Roomse aflaatstel-sel bevraagteken wat deel van die Roomse verdienstelikheidsleer tot saligheid was. Verlossing deur die bloed van Jesus Christus deur genade alleen is met menslike dinge vervang. Luther het tot die insig gekom dat die Roomse Kerk Christus nie meer sien en daarom geen redding meer aan sondaars bied nie (vergelyk Joh 14, veral vers 19).

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika herdenk elke jaar op die Sondag voor 31 Oktober die Kerkhervorming wat met Luther begin het. Op Sondag 26 Oktober 2003 het die GKSA dit gedoen deur feestelik ‘n nuwe Psalm-omdigting in gebruik te neem, die Cloete-omdigting met bydraes van enkele ander persone. Die omdigting het doelbewus Christus uit alle Psalms gehaal. In openbare verklarings deur hoofomdigter TT Cloete is dit gedoen op advies van veertig teoloë wat hulle op "nuwe navor-sing" beroep het waarvolgens selfs die uitdruklike Chris-tuspsalms soos Ps 2, 45, 107, 110 en andere, nie op Chris-tus self gerig is nie. Die GKSA se Nasionale Sinode van Januarie 2003 het besluit dat voetnote (wat uiteraard nie gesing kan word nie) hiervan melding moet maak.

Die Sinode het dus van die doelbewuste weglating van Christus uit die omdigting geweet maar nogtans die omdigting vir kerklike gebruik goedgekeur. Daarmee het die GKSA hom met die "nuwe navorsing" vereenselwig en dit bo die oorspronklike Woord gestel. Dit bring artikel 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis in gedrang, wat leer dat gelowiges, dus ook die Kerk wat gelowiges saambind, slegs die kanonieke boeke as heilig en kanoniek aanneem en sonder enige twyfel alles glo wat daarin vervat is "omdat die Heilige Gees in ons harte getuig dat hulle van God is". Let op: Slégs die kanonieke boeke word erken, dus geen navorsingsbevindings en vertolkings nie, wat alles maar menslike gedagtes is.

Hierdie geskrif draai sterk om die Cloete-omdigting, 'n wesentlike saak wat elke lidmaat raak. Dit is die uitputting van die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling waarin Christus uit onder meer die Psalms wegvertaal is en wat volgens TT Cloete se eie erkenning die grondslag van sy omdigting is. Die NAV het die weg tot Christuslose Psalms voorberei. Dit pas ook op die nuwe hermeneutiek waarmee onder andere die vrou-in-die-amp en die vervanging van die beker by die Nagmaal geregverdig word.

Meningsverskil – of wesensverskil?

Op ‘n byeenkoms van die Vereniging vir Gereformeerde Lewenswandel het ‘n spreker op 25 Oktober 2003 dit so verwoord: " ‘n Psalm sonder Christus is geen Psalm nie. 'n Hervormingsfees sonder Christus is geen Hervormingsfees nie." Prof J H van Wyk, redakteur van Die Kerkblad, wys in die uitgawe van Desember 2003 op die algehele en onweerlegbare teenstelling tussen die gees op die byeenkoms van die Vereniging vir Gereformeerde Lewenswandel 24/25 Oktober 2003 en die fees op 26 Oktober 2003 in die Stadsaal van Pretoria.

Gaan dit om ‘n blote meningsverskil, of is hier sprake van ‘n radikale verskil wat die wese van die GKSA as "Kerk" raak? Síén die GKSA Christus nog ooreenkomstig Johannes 14, of loop die GKSA eerder agter "nuwe navorsing" aan wat Christus uit sy blikveld laat verdwyn of dit al moeiliker maak om Christus in die blikveld te hou? Hierdie vraag is van radikale betekenis. Jesus Christus die Here is die Hoof van die Kerk. ‘n Kerk wat Christus nie meer sien nie, is soos ‘n liggaam sonder hoof. Die sewe gemeentes in Openbaring, en bepaaldelik Laodicea, staan as ernstige vermaning en waarskuwing hieromtrent.

Wat beteken dit om Christus te sien? Johannes 14 en ander Skrifgedeeltes stel dit eenvoudig en duidelik: Om Christus te sien, is om Hom lief te hê, sy gebooie te doen en Hom onvoorwaardelik na te volg en gewilliglik onder sy juk te buk. Hy is die vleesgeworde Woord en daarom beteken onvoorwaardelike navolging van Christus onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan die Woord, aan die Skrifte. Maar die GKSA omhels die Psalmomdigting waaruit die vleesgeworde Woord doelbewus uitgehaal is. As die vleesgeworde Woord uit die Skrifte gehaal word, staan niks meer vas nie. Wanneer die mens die vleesgeworde Woord uit die Bybel verwyder, ontken hy die normatiwiteit, die finale en absolute gesag van die Woord. Inderdaad plaas die mens hom sélf in die middelpunt van waaruit hý besluit wat reg en goed is en in die Bybel tuishoort. Sy "kennis en insigte uit sy navorsing" word die norm wat die plek inneem van die getuienis van die Heilige Gees. As "die Kerk" hierdie dinge goedkeur, plaas hy hom sélf buite die moontlikheid om ware kerk te wees. Kan hy die Woord suiwer predik as hy die vleesgeworde Woord verwyder? Kan hy die Sakramente suiwer bedien as hy die Insteller daarvan verwyder? Kan hy die tug toepas as hy die norm wegneem waaraan gelowiges gemeet moet word?

Met die mens in die middelpunt kom daar meningsverskil in "die Kerk", ja ‘n vloedgolf meninge oorspoel "die Kerk". Dit staan elkeen vry om na eie sin sy mening in "die Kerk" te verkondig sonder dat hy getug kán word. So ontstaan volslae vrysinnigheid en doen elkeen wat goed is in sy eie oë. As "die Kerk" hieraan erkenning begin gee, plaas hy sy voet onherroeplik op die weg van die valse kerk waarvan volgens Art 29 NGB die eerste eienskap is dat hy aan homself en sy ordinansies meer mag en gesag toeken as aan die Woord van God, en die Sakramente na eie goeddunke bedien. Hoe kan dit anders: "Die Kerk" matig hom immers aan om self die inhoud en samehang van die Woord te bepaal. Nou is dit nie meer meningsverskil nie, maar wesensverskil of so ‘n Kerk nog "Kerk" is.

Laodiceaanse Sinodes

‘n Terugblik op die GKSA se sewe Nasionale Sinodes sedert 1985 toon hoedanig die GKSA op die bogenoemde pad gevorder het. Sinode-1985 aanvaar die Nuwe Afrikaanse Vertaling vir gebruik in die Kerke naas die Ou Afrikaanse Vertaling en skep met hierdie lou besluit verwarring en onsekerheid in die Kerke. Elke Sinode daarna toon onsekerheid, teenstrydigheid en wanordelikheid. Daarvan getuig die wanordelike hantering van die vrou-in-die-amp met besliste besluite wat geneem en onmiddellik deur ‘n teenstrydige besluit opgevolg word; die onttrekking van die GKSA in 1994 aan die nuwe Psalmberyming en sy terugkeer daarheen in 1997; die slepende wanorde rondom die Nagmaalskwessie; ensovoorts. Sinodes het praatplekke geword wat nie ondubbelsinnige besluite kon neem nie. Inderdaad kan daar van Laodiceaanse Sinodes gepraat word – soms warm soms koud maar meestal lou en onseker. Is dit ‘n wonder dat independentisme in GKSA-verband algemeen geword het? Geen tug kan toegepas word as menslike oorwegings die oorhand kry en die absolute gesag en normatiwiteit van die Woord vervang word met mooiklinkende clichés soos "middelmatigheid" en "selfstandigheid van die plaaslike Kerk" en uiteindelik deur die goue kalf genaamd "navorsing" nie.

Dag van skeiding in aantog?

So het ‘n menslik onoorbrugbare kloof in die GKSA ontstaan wat noodwendig in die praktyk na vore moes kom. Art 28 NGB bely dat elke gelowige verplig is om hom by die ware kerk te voeg. Die gereformeerde kerkgeskiedenis in Europa en Suid-Afrika toon dat diegene wat aan die waarheid vashou, baie versigtig en met groot verdraagsaamheid hierdie belydenis nagekom het. Dit geld ook vir die GKSA se stigting in 1859. Uiteindelik is dit telkens vir beswaardes onmoontlik gemaak om langer aan die bestaande kerklike strukture vas te hou en het ‘n dag van skeiding onherroeplik opgedaag.

Dat hierdie dag ook binne die GKSA op pad is, op 26 Oktober 2003 dalk reeds gekom het, staan vas. In Die Kerkblad van Desember 2003 word vir eerste keer openlik na die moontlikheid van skeiding verwys. Die Redakteur prof J H van Wyk skryf: "Indien [sy kursivering – PEvdD] ‘n skeiding van die weë dan moet plaasvind, moet met groot vrymoedigheid en beslistheid gesê kan word: Dáár is die valse kerk (NGB Art 28)!" Hiermee kan in beginsel saamgegaan word, mits erken word dat die laaste gedeelte wederkerig is: Elke skeidende party moet die ander party as "valse kerk" kan aandui.

Ware en valse kerk

Wanneer word ‘n skeiding van weë in die kerk onontkombaar? Die Nederlandse Geloofsbelydenis stel die saak in Artikels 27, 28 en veral 29. Artikel 27 bely die algemene Christelike kerk as instelling van God van alle tye af en tot die einde toe. Artikel 28 bely die verpligting op elke gelowige om hom by die ware kerk te voeg en leer uit die Woord dat almal wat hulle van die ware kerk afskei of nie daarby aansluit nie, teen die ordinansie van God handel. Artikel 29 onderskei tussen die ware en die valse kerk, en saamgelees met artikel 28 spreek dit vanself dat geen gelowige hom met die valse kerk mag vereenselwig nie. Daar moet goed opgelet word dat dit oor die valse kérk gaan. Die valse kerk gee hom uit as kerk maar die gelowige moet hom uitken.

Die ware kerk het drie eienskappe: Die suiwere verkon-diging van die Evangelie, die suiwere bediening van die sakramente soos Christus dit ingestel het, en die ge-bruik van die kerklike tug om die sondes te straf. Die Evangelie verkondig die vleesgeworde Woord en daar is tevore aangetoon dat die GKSA die verwydering van die vleesgeworde Woord uit die Psalms, amptelik goedgekeur het. Die Psalms is liturgies deel van die Woordverkondiging. Deur die vleesgeworde Woord doelbewus daaruit te haal, word die suiwere bediening van die Woord deurbreek. Hierby moet gevoeg word die aanvaarding van die nuwe hermeneutiek deur die GKSA dat Skrifverklaring histories-sosiologies gedoen moet word, ‘n werkswyse wat die toelating van vrou-in-die-amp moontlik gemaak het ten spyte van die duidelike Skrifgetuienis daarteen. Wat die sakramente betref, laat die GKSA al jarelank die afwyking van kelkies by Nagmaal toe en word kerkrade wat hulle nie daaraan steur nie, nie aangespreek nie. Wat dadelik die derde eienskap, naamlik die toepassing van die tug, in gedrang bring.

Voldoen die GKSA in die lig van die voorgaande nog aan die eienskappe van die ware Kerk? Indien nie, mag ‘n gelowige hom nog by die GKSA voeg of moet hy die GKSA verlaat? Artikels 27 en 28 NGB verskaf die antwoord. Die kerk is ‘n heilige instelling van God en moet daarom as heilig eerbiedig word deur elke gelowige. Die heilige kerk is daargestel om aan elke gelowige ‘n geestelike tuiste op aarde te verskaf waarin hy saam met alle ander gelowiges God moet/kan dien ooreenkomstig sy Woord. Elke gelowige is daarom verplig om hom by die ware kerk te voeg en by implikasie daarin te bly tensy daardie kerk van die eienskappe van die ware kerk afwyk. Omgekeerd mag ‘n gelowige hom nie by ‘n kerk voeg of daarin bly wat nie die eienskappe van die ware kerk vertoon nie.

Maak afwyking van die eienskappe van die ware kerk so ‘n kerk valse kerk? Art 29 NGB laat hieroor geen twyfel nie: ‘n Nie-ware kerk is valse kerk.

Daar is tevore aangetoon dat die GKSA se aanspraak op die benaming "ware kerk" ten opsigte van aldrie die eienskappe van die ware kerk nie die toets deurstaan nie. Inteendeel openbaar die GKSA met sy erkenning van navorsing bó die Woord die eerste eienskap van die valse kerk. Dit geld ook vir sy toelating van willekeurige bediening van die Nagmaal volgens menslike insigte. Minstens toon die GKSA die eienskappe van die valse kerk. Dit is genoeg grond vir elke gelowige om lidmaatskap van die GKSA ernstig in beskouing te neem, in die lig van die talle waarskuwings van die Here Jesus self teen valse leraars en wolwe in skaapsklere, van Paulus se gedurige opskerping om die geeste te beproef, van onder meer Johannes se uitsprake teen die valse Christene wat van die kerk uitgegaan het maar nie van die kerk is nie. Volgehoue verblyf in ‘n nie-ware kerk bring die gelowige mens met sy natuur wat tot die sonde geneig is, in versoeking. En dit mag nie!

Wat staan lidmate van die GKSA te doen?

Dit is duidelik dat lidmate van die GKSA wat na Skrif en Belydenis onvoorwaardelik en ondubbelsinnig die ware kerk soek, al hoe meer voor keuses te staan kom en gaan kom. Die moontlikheid van skeiding van weë word nou selfs in ander kringe besef en openlik genoem. Dit is geen geringe saak nie. Skeiding van weë in die Kerk is soms noodsaaklik om die ware Kerk in stand te hou en teen valshede te beskerm. Aan die ander kant mag die Kerk van die Here nooit geskeur word nie en moet afskeiding en skeuring duidelik in die praktyk van mekaar onderskei word. In ‘n volgende artikel trag ons om die praktiese optrede van beswaarde lidmate te beskou en die moontlikhede daarvan te oorweeg.