|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 1 Januarie 2004
GKSA - MIDDESTADBEDIENING IN PRETORIA
Die Gereformeerde Kerk Pretoria is in 1859 gestig. Hierdie kerk was lank die enigste Gereformeerde gemeente in die hoofstad totdat Pretoria-Oos in 1930 afgestig het. Van Pretoria-Oos het afgestig Pretoria-Brooklyn (1949, Pretoria-Sunnyside (1958) en Pretoria-Meintjeskop (1963). Die paar dekades na die Tweede Wêreldoorlog was dus 'n bloeitydperk in die lewe van die kerk in hierdie deel van Pretoria. Vanaf die sewentigerjare van die vorige eeu het daar egter 'n verandering begin intree - groot uitbreidings in die verre oostelike dele van Pretoria het plaasgevind en meenthuiskomplekse het daar baie gewild geword. Die gevolg was dat daar sedert 1980 baie min nuwe woonstelgeboue in Sunnyside en Arcadia opgerig is.
Daar was 'n tyd dat Pretoria-Oos drie predikante gehad het en Sunnyside twee. Vanweë die baie studente is daar tans lank reeds twee predikante in Brooklyn werksaam. Sedert die afskaffing van die Groepsgebiedewet sowat 'n dekade gelede, het die bevolkingsamestelling in Sunnyside en Arcadia drasties verander. Behalwe vir die bejaarde lidmate (meestal dames) in die geboue van die Residentia Stigting, is daar maar ongeveer vyftig lidmate in Pretoria-Oos oor, waarvan die meeste ook maar senior lidmate is. Slegs enkele broeders is nog beskikbaar om as ouderlinge te dien.
As gevolg van hierdie bedieningsnood het die Klassis 'n reëling probeer tref waarvolgens die ander gemeentes in die klassis broeders beskikbaar sou gestel het wat as ouderlinge in Pretoria-Oos kon dien. Pretoria-Sunnyside se lidmatetal het ook drasties afgeneem. Lidmate woon verspreid oor die hele Pretoria en Centurion. Lidmate wat binne die amptelike gemeentegrense woon, is tans ongeveer honderd. Die meerderheid van hulle is ook vroulik. Slegs drie ouderlinge woon binne die grense van die gemeente.
Ten einde die kerk van die Here nie te laat skade ly met gebrekkige bediening nie, het 'n hele reeks broederlike gesprekke plaasgevind tussen Pretoria-Oos, Sunnyside, Brooklyn en Waterkloofrand. Verskeie moontlikhede is sorgvuldig oorweeg. Uiteindelik is daar besluit, met goedkeuring van Klassis Oostelike Pretoria, dat Pretoria-Oos en Pretoria-Sunnyside op 23 November 2003 as gemeentes sal ontbind. Tensy lidmate dit anders verkies, sal hulle lidmate word van Brooklyn. Ds Pieter Kurpershoek van Sunnyside het ondertussen 'n beroep na Postmasburg aanvaar. Ds Paul Geertsema sal bevestig word as predikant van Brooklyn. Daar sal nog steeds eredienste by Pretoria-Oos gehou word. In Sunnyside gaan die Engelstalige erediens Sondae voort. Daar sal ook nog soggens 'n erediens in Afrikaans gehou word.
Alhoewel die ontbinding van hierdie twee (voorheen) sterk gemeentes vir baie lidmate 'n emosionele en hartseer saak is, is die vertroue tog daar dat almal 'n geestelike tuiste sal vind, omdat ons weet dat die Here ons God sy kinders, sy kerk, nie onversorgd sal laat nie.
Isak Vorster. In: DIE KERKBLAD, November 2003, bl 25