Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Norme vir samebinding en vir verdelingslyne

AKTUEEL: Geloftedag of Versoeningsdag? 

SKRIFOORDENKING:
2 Konings 2 God is heilig....

Die drie formuliere van eenheid

Deformasie? 'Nuwe reformasie?' Reformasie? 

Die stryd rondom die suiwer Psalmboek

26 Oktober 2003: Dag van beslissing in die GKSA

GKSA-Middestadbediening ....

KERKLIKE JOERNAAL: 
Hersiening en herdruk van 1936-Totiusberyming Psalmboek

Skrifhantering in die brandpunt

Mededeling van kerkraad "Die Kandelaar", 30 November 2003

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Onderwys as instrument tot nasiebou

Die PU vir CHO se amalgasie met die UNW

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Lesse uit die onststaansgeskiedenis van die GKSA

'n Brief uit Ierland ....

PERSRUBRIEK: 
Ons enige troos

'n Besinning oor die doleansie van vroeër.... en nou

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van biblisisme.

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 1 Januarie 2004

GESPREK MET DIE LESERS

REDAKSIONEEL

REDAKSIONEEL

Die opeenvolging van seisoene en jare is so natuurlik en vanselfsprekend dat dikwels vergeet word om dit aan die voorsienigheid van ons almagtige Skepper-God toe te ken. Tog is dit Hy wat alles in stand hou volgens sy wil en beskikking. Daarom twyfel ons nie oor die toekoms nie. Ook nie oor die jaar 2004, wat ons so juis begin het nie.

Die Here sorg vir sy kinders en ook vir sy kerk. Ons besef maar alte goed dat daar nood heers op talle vlakke van die bestaan. Wanneer ons dit in die gebed aan Hom opdra, kan ons rustig daaroor wees. Dit is die hemelse Vader wat vir ons in alle omstandighede sal sorg. Ons moet van die hemelse majesteit van God nie aards dink nie en kan van sy almag alles verwag wat ons vir ons liggaam en siel nodig het (HK, Sond 46, vr/antw 121). Dit geld onder alle omstandighede, van stryd, kommer, benoudheid, siekte en gevaar. Dit geld ook vir alles wat gebeur in die kerklike en maatskaplike bestaan. Laat ons daarmee getroos wees en daaruit die krag put om die toekoms tegemoet te gaan.

Dit is die boodskap wat die redaksie van ons blad graag wil oordra aan die lesers met die oog op die jongste jaarwisseling wat plaasgevind het. Dit geld ook tewens as ons eie besieling vir die voortsetting van ons werk aangaande die verskyning van ons blad.

Hierdie uitgawe is sterk toegespits op die saak van die stryd in die GKSA, maar ook daarbuite, oor die nuwe Psalm- en Liedboek, met die onderliggende oorsaak van die vertaling en eksegese van die Bybel. Die aangevoerde argumente toon aan dat daar 'n geraffineerde aanslag op die kerk(e) gedoen word om hulle te sekulariseer, 'n proses wat reeds vér gevorder het.

Met die oog op die komende verkiesing het ons probeer antwoord te verskaf aan baie lesers wat onseker is oor hul deelname daaraan. Dit is nie voorskriftelik gestel nie, maar spreek wel die saak aan waar dit oor gaan. Ons staan by ons beleid om nie party-politiek te bedryf nie maar om wél die saak van die politiek in prinsipiële lig te stel en indien nodig te polemiseer.

Ons wil ook nou weer, by die verskyning van die agtste jaargang, die intekenaar-lesers wat ons die afgelope jare getrou ondersteun het en van finansiële middele voorsien en ook andersins, moreel met hulle boodskappe van waardering ondersteun het, heel hartlik daarvoor bedank met die hoop om dieselfde gesindheid ook vir die jaar wat voorlê, te ondervind.

Graag doen ons 'n dringende versoek op die lesers om ons te voorsien van inligting oor sake waar bekendstelling in ons blad aan verleen kan word. Dit betref nie net kort berigte nie, maar ook ten opsigte van dié wat kán, om ons van interessante artikels te voorsien. Ons sal graag die aktualiteit van ons blad daarmee bevorder en verbeter. Help asseblief ook om nuwe intekenare te werf!