Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Norme vir samebinding en vir verdelingslyne

AKTUEEL: Geloftedag of Versoeningsdag? 

SKRIFOORDENKING:
2 Konings 2 God is heilig....

Die drie formuliere van eenheid

Deformasie? 'Nuwe reformasie?' Reformasie? 

Die stryd rondom die suiwer Psalmboek

26 Oktober 2003: Dag van beslissing in die GKSA

GKSA-Middestadbediening ....

KERKLIKE JOERNAAL: 
Hersiening en herdruk van 1936-Totiusberyming Psalmboek

Skrifhantering in die brandpunt

Mededeling van kerkraad "Die Kandelaar", 30 November 2003

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Onderwys as instrument tot nasiebou

Die PU vir CHO se amalgasie met die UNW

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Lesse uit die onststaansgeskiedenis van die GKSA

'n Brief uit Ierland ....

PERSRUBRIEK: 
Ons enige troos

'n Besinning oor die doleansie van vroeër.... en nou

KOMMENTAAR: 
Prof Amie van Wyk oor die kerklike verdeeldheid .....

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van biblisisme.

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 1 Januarie 2004

Hoofartikel

NORME VIR SAMEBINDING EN VIR VERDELINGSLYNE

Die eerskomende maande gaan die aandag in die openbare media asook in die omstandighede van ons bestaan besonder toegespits wees op die verkiesing wat volgens grondwetlike bepaling eersdaags gehou gaan word. Ons wil nie daaraan verbygaan sonder om dit in die lig van die Skrif te oorweeg nie. In die besef dat dit 'n sensitiewe saak is, bespreek ons dit oordragtelik in die gees van Paulus se woorde in Romeine 14: 2 en 3: "Die een glo dat 'n mens alles mag eet, maar hy wat swak is, eet groente. Hy wat eet, moet hom wat nie eet, nie verag nie; en hy wat nie eet, moet hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem." Daarbenewens vermaan Paulus in Kolossense 3: 17: "En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom."

As gelowiges, as kinders van die Here, lewe ons in twee wêrelde: die koninkryk van God, wat in die kerk(e) vergestalting vind en die staat wat op die burgerlike terreine die septer swaai. Tog staan hierdie twee wêrelde vir Christene nie los van mekaar nie. Albei staan onder die beskikking van God se almag en op albei terreine geld die aanspraak met betrekking tot die Goddelike gesag. Al glo die merendeel van die onderdane in die staat nie in die enige en lewende God wat Hom in sy Woord, die Bybel, geopenbaar het nie, is hulle nogtans aan sy regering van alle dinge onderworpe. Andersins is dit ook so dat Christengelowiges onderwerp is aan die wêreldlike gesag, die owerheid, die magte wat oor hulle gestel is (Rom 13:1-7).

Die Republiek van Suid-Afrika is 'n sekulêre staat. Dit beteken dat hy op 'n rasionele wyse regeer word. Dié rasionaliteit is kommunisties en demokraties georiënteerd: Kommunisties op die basis van die ANC-Vryheidsmanifes en demokraties met die aanvaarding van die Handves van Menseregte. Hierdie fondament is puur menslik, liberaal, sonder God en sy gebod. Dit vind geen aansluiting by die Woord van God nie. In die offisiële bestaan en handelinge is die RSA geen Christelike staat nie, maar multi-kultureel en multi-religieus op die grondslag van die Franse en Russiese rewolusies met die leuse: Vryheid, Gelykheid en Broederskap. Dit weerklink ook in die simbole van die staat: die vlag, heraldiek en volkslied wat met die oog hierop aangepas en aanvaar is.

Volgens demokratiese reëls word regerings elke vyf jaar tot verantwoording geroep deur middel van verkiesings. Dit is wat binnekort weer plaasvind. Binne die raamwerk van die Grondwet bestaan die vryheid tot party-organisasie en werwing van ondersteuning en stemme vir die stembusse in die onderskeie dele van die land.

Vir ons is dit belangrik om te besluit oor deelname aan die verkiesing al dan nie. Daar is argumente ten gunste daarvoor maar net so ook daarteen. Waaroor gaan dit in die demokratiese opset van die verkiesing? As dit slegs bedoel om die regering te herkies of 'n alternatiewe een daar te stel, dan is deelname dalk 'n opsie wat ernstig oorweeg kan word. As dit sou gaan oor volksverteenwoordiging volgens diverse volkseie idealismes en politieke doelwitte, kon dalk daaraan deelgeneem word. Maar die "demokrasie" van die ANC strek veel verder. Hulle beskou dit as deelnemend aan 'n staatsbestel en nasiebou wat onder dreunsang en toy-toy tot stand gekom het. 'n Veelkleurige eenheidstaat, 'n nasionale eenheid, 'n samebinding van individue deur middel van 'n een-mens, een-stem-bedeling. Dit vertolk die rewolusionêre gees van Vryheid, Gelykheid en Broederskap wat staan teenoor die gees van vryheid en geregtigheid wat die Bybel leer. Dit staan antiteties teenoor die Christelike geloof en die uitlewing daarvan. Die inhuldiging met intergeloofs- en afgodsaanbidding en die huidige wetgewing aangaande multi-religieuse onderrig op skole is 'n sprekende voorbeeld van die karakter en resultate van parlementêre debatvoering.

Daar is geen voorskriftelike bepaling in die Bybel om aan 'n demokratiese bestel deel te neem nie. Christus het tydens sy verblyf op die aarde gebid vir sy kinders (Johannes 17): "Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld" (vers 11) en voorts: "Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar" (vers 12). Daarna: "Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie" (verse 14 - 16).

Daarenteen is die Bybel juis wél voorskriftelik oor die samebinding van gelowiges: "... dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het ..." (Joh 17:21). Vergelyk ook die NGB, art 28: "Ons glo - aangesien hierdie heilige vergadering (die algemene Christelike Kerk wat in die voorafgaande artikel beskryf is) 'n versameling is van hulle wat verlos word en daarbuite geen saligheid is nie - dat niemand, wat sy stand en status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie; inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle almal - as lede van een en dieselfde liggaam ...".

Waar lê die kriterium vir samebinding en verdeling, sowel op die kerklike as op die wêreldlike domeine? In hoeverre is daar samewerking moontlik tussen Christengelowiges met ongelowiges, met die Jode se verwerping van Christus as Saligmaker, of met die religies en godsdienstige gewoontes van die Islam, Hindoe's, Boeddhiste, Afrika-voorouerverering, ensovoorts? Is dit moontlik om in die praktyk van die daaglikse bestaan te verkeer met die Anglikane, Rooms-Katoliekes en ander wat voorgee om Christelik te wees maar nie buig voor die geïnspireerde en geopenbaarde Woord en wil van die Here nie? Kan ons gesamentlike besluitneming en politieke party-organisasie saam met hulle onderneem? Wat leer die Bybel met die oog hierop? Het die gereformeerde belydenisskrifte slegs betekenis vir die kerklike samelewing en nie vir die persoonlike en maatskaplike bestaan nie? Is dit so dat dit wat ons glo en bely slegs betrekking het vir die sieleheil en nie vir die heil van die breë samelewing nie? Is die heerskappy van God beperk tot die terreine van die kerk en die persoonlike bestaan maar kan ons daarbuite, met betrekking tot die staat en samelewing, maar saamloop met ketterye en religies wat die bestaan en almag van God betwyfel, relativeer of in sy geheel verwerp?

As daar geen ooreenstemming in die geloof van die bestaan en voorsienigheid van die enige God, die Vader, Seun en Heilige Gees is nie, dan ontbreek die eensgesindheid en vaste basis vir samewerking. Ons kan saam in 'n diensbetrekking staan en ons daaglikse werk verrig, maar as dit daarop aankom om 'n geestelike en idealistiese eenheid te vorm is dit beslis onmoontlik. Wat oorbly vir Christengelowiges is om selfstandig in die staatsbestel te getuig van die almag, gebooie en beskikking van God. Partyformasie gaan noodwendig gepaard met die betrekking van en samewerking met andersdenkendes. En dan word maar alte maklik pragmatiese kompromieë aangegaan.

Daarteenoor is daar geestelike verdelingslyne wat in ag geneem moet word. Die Bybel vermaan om nie 'n buit te word van en weggevoer te word deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie "volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie. Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag ..." (Kol 2: 8-10). Met die oog daarop is deelname aan die parlementêre debatte in velerlei opsig nutteloos. Die verteenwoordigers in die parlement kom nooit tot dié punt nie. Die tyd word in beslag geneem deur rasionele en emosionele gesprekke oor die sake van die dag, onder leiding van die speaker, sonder belangstelling vir - wat ons betref - Bybels begronde motivering. Sonder die samewerking van nie-gereformeerdes is selfs die getalle-ondersteuning te gering om setels in die parlement te kan wen. Dus bestaan die wesentlike gevaar van water by die wyn te voeg en die grondslag van skriftuurlike denke oor en beoordeling van ons land en sy regering te materialiseer met verbygaan van die goddeloosheid wat van dag tot dag gepleeg word, veral deur middel van die wetgewing in ons land. Hoe lank kan 'n gereformeerde parlementariër in die minderheid (demokraties!) aan die meerderheid konformeer sonder om sy Christelike gewete geweld aan te doen?

"Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? ... Daarom gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; ..." (2 Kor 6:14-17).

Die Bybel lei ons normatief met die oog op samebinding op die vlakke van die ongetwyfelde Christelike geloof maar ook met die oog op noodsaaklike verdelingslyne in die breë samelewing.

Romeine 13, die verse 1 tot 7 is duidelik met die eis van onderwerping aan die owerheid van die dag. Maar daar is perke aan dié gehoorsaamheid wat betoon mag word. Die hoofsom van die wet van die Here is om God lief te hê bo alles en die naaste soos jouself. In die wetgewing van ons land is die liefde tot God afwesig omdat Hy nie in die staatsbestel geëer en volgens sy Woord aanbid word nie. Die naaste (die onderdane van die staat) word in alle wetgewing slegs utilisties-pragmaties benader en oor besluit. Maar in die amp van die gelowiges skenk God aan ons die ruimte om in eie kring, in die verband van die geloofsgemeenskap, te besin oor die politiek van ons land en getuienis te lewer tot op die hoogste vlakke van die landsregering, asook plaaslik en provinsiaal.

Deelname aan die verkiesing al dan nie? Dié wat kans sien daarvoor, laat hulle dit doen tot eer van die Here, sonder om dááraan te kort te doen. Dié wat nie kans sien vir die multi-kulturele en multi-religieuse eenheidstaat en politiek in verband daarmee en dus nie gaan deelneem nie, laat hulle hul daarvan onthou - óók tot verheerliking van God.

"Wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom" (Kol 3:17).