|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 1 Januarie 2004
KERKLIKE JOERNAALDIE HERSIENING EN HERDRUK VAN DIE 1936-TOTIUSBERYMING PSALMBOEK
JJ Malan van Pietersburg vra in Die Kerkblad van Januarie 2004 (bl 49) of die opdrag nog bestaan aan die Deputate van die Sinode 2003 ten opsigte van die Cloete/Buysomdigting en hersiening respektiewelik van die Totiusberyming. Dié Sinode het tewens aanvaar om 'n nuwe ongewysigde oplaag te te laat druk van Psalmboeke volgens die laaste hersiene uitgawe om te voorsien in die aanvraag van kerkrade en lidmate, omdat die voorraad van die Administratiewe Kantoor totaal uitgeput was. Ds LP Bingle, Voorsitter Deputate Liturgiese Sake, beantwoord br Malan soos volg:
Die navraag oor die Buyshersiening van die 1936-Totius-beryming is baie tersake. Dit gee die geleentheid om duidelikheid te bring oor 'n saak waaroor ander dalk ook nie duidelikheid het nie. Die Handelinge bevat ongelukkig nie die besluit nie.
Ter wille van die agtergrond en verloop van die saak, verwys ek eers terug na die opdrag van die vorige Sinode (2000). Die Deputate vir Liturgiese Sake het van Sinode 2000 die opdrag gehad om die revisie wat deur wyle prof PW Buys gedoen is, vir kommentaar na die kerke uit te stuur. Dit is gedoen (alhoewel nie onmiddellik ná die Sinode nie as gevolg daarvan dat die Handelinge van Sinode 2000 eweneens nie 'n besluit wat die opdrag gee, weergee nie - dit is eers later deur kontrolering met die oorspronklike notule bevind dat dit wel as 'n opdrag gelees moes word). Die kommentaar wat ontvang is, is deur die Deputate deurgewerk, maar die aanbeveling van die Deputate aan Sinode 2003 was dat daar van die projek om aan die Totiusteks te wysig, afgestap word (Acta 2003:665; 1.2.1). Dié aanbeveling is egter nie deur Sinode 2003 aanvaar nie.
'n Nuwe opdrag is toe aan die Deputate gegee. Daar is besluit: "1. Dat met beperkte hersiening van die Totiusteks (1936-beryming) met inagneming van die voorstelle van wyle prof PW Buys en andere voortgegaan word. 2. Dat die hersiene Totiusteks sal voldoen aan die riglyne gestel vir psalm-omdigting met inagneming van werk reeds gedoen 16.1 (vergelyk bylaag A van Deputaterap-port)."
In die Acta kan nie opgespoor word dat dit (hierdie opdragformulering wat op kommissierapporte-bladsy 188 as punt 3.3 staan) 'n besluit van die Sinode geword het nie, maar die besluit is volgens die notule wel geneem. Dit word verder onder andere daardeur ondersteun dat die Sinode by die aanwys van deputate voorsiening ge-maak het vir deputate wat spesifiek hierdie opdrag tot beperkte hersiening gekry het - Acta 2003:761;7. Die deputate wat saam met die volle deputate hiervoor be-noem is, is egter in die Acta ook verkeerd aangegee: ds BC Smit en br Dirk en sr Mione du Toit is as deputate met hierdie spesifieke opdrag saam met die ander depu-tate vir Liturgiese Sake aangewys, en nie ds SD de Kock nie.
Die sub-deputategroep wat dan uit ds Smit en br Dirk en sr Mione du Toit bestaan, het gedurende 2003 aandag aan die wysigings gegee en stel ook verdere wysigings voor wat nou deur die Deputate oorweeg moet word. Daarna sal eers rapport aan Sinode 2006 gelewer moet word, wat dan eers oor die hersiene 1936-beryming 'n besluit sal moet neem. Intussen is die opdrag om die nuwe Psalmboek uit te gee, nie 'n opdrag wat impliseer dat daar tot ná die Sinode van 2006 gewag moet word vir die publikasie om te verskyn nie.
Hierdie verloop van sake bring mee dat daar ná 2006 (beperkte) wysiging aan die 1936-omdigting (beryming - PvdK) mag wees, wat dan by herdrukke van die Psalmboek so aangebring sal word. Dit behels natuurlik net tekswysigings en het geen musikale implikasies nie.