Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Norme vir samebinding en vir verdelingslyne

AKTUEEL: Geloftedag of Versoeningsdag? 

SKRIFOORDENKING:
2 Konings 2 God is heilig....

Die drie formuliere van eenheid

Deformasie? 'Nuwe reformasie?' Reformasie? 

Die stryd rondom die suiwer Psalmboek

26 Oktober 2003: Dag van beslissing in die GKSA

GKSA-Middestadbediening ....

KERKLIKE JOERNAAL: 
Hersiening en herdruk van 1936-Totiusberyming Psalmboek

Skrifhantering in die brandpunt

Mededeling van kerkraad "Die Kandelaar", 30 November 2003

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Onderwys as instrument tot nasiebou

Die PU vir CHO se amalgasie met die UNW

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Lesse uit die onststaansgeskiedenis van die GKSA

'n Brief uit Ierland ....

PERSRUBRIEK: 
Ons enige troos

'n Besinning oor die doleansie van vroeër.... en nou

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van biblisisme.

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 1 Januarie 2004

KERKLIKE JOERNAAL

SKRIFHANTERING IN DIE BRANDPUNT

ONS GLO GOD SE WOORD

'n Getuienis van die Reformator-konferensie te Witfield op 16 en  17 September 2003

Ons, deelnemers aan die konferensie oor Skrifhantering in die brandpunt, wil ‘n duidelike getuienis aangaande die Bybel lewer. Ons lewer dit in ‘n tyd waarin die Bybel in die wêreld en kerk onder verdenking geplaas word.

Ons is oortuig dat die korrekte Skrifbeskouing noodsaaklik is vir die korrekte verstaan van die evangelie van verlossing in ons Here Jesus Christus. ‘n Afwyking van die gereformeerde Skrifbeskouing lei noodwendig tot ‘n afwyking van die gereformeerde belydenis.

Ons uitgangspunt is dat die gereformeerde Skrifbeskouing gegrond is op die selfgetuienis van die Skrif. Laat ons dit onomwonde stel: Ons glo onvoorwaardelik wat die Bybel oor homself sê!

In die lig van bogenoemde wil ons sekere waarhede duidelik teenoor die wêreld en ons mede-Christene bely. Ons is egter ook bewus daarvan dat elke belydenis aangaande die waarheid met hom die verpligting meebring om die dwaalleer te bestry. Om hieraan gestalte te gee, wil ons ons getuienis in die volgende vorm giet:

Die Bybel is God se geopenbaarde Woord

1.1 Ons bely dat die Bybel die selfopenbaring van God Drie-enig is. Alhoewel mense die verskillende boeke van die Bybel geskryf het, is dit ten diepste God wat aan die woord is. Daarin is vir ons ‘n diep geheimenis geleë. Ons bestry elke standpunt dat ons in die Bybel slegs met geloofsinsigte en -getuienisse van mense aangaande God te doen het.

1.2 Ons bely dat God se openbaring progressief was. Hy het Homself en sy Raadsplan stelselmatig deur die loop van eeue op baie verskillende maniere al hoe duideliker aan die mens bekend gemaak. Die teboekstelling van Sy openbaring is daarom deur verskillende skrywers in verskillende tye en bedelings van die heilsgeskiedenis gedoen. Ons bestry die gedagte dat latere openbarings vroeëre openbarings weerspreek of regstel.

Die Bybel is God se geïnspireerde Woord

2.1 Ons bely dat God in Sy selfopenbarende werk mense deur sy Heilige Gees geïnspireer het om sy Woord korrek en betroubaar neer te skryf. Wat geskryf moes word, het Hy aan die mense geopenbaar. Die Bybel het sy oorsprong dus in God – Hy is en bly die groot Outeur. Ons bestry elke poging om die menslike karakter van die Bybel so sterk te beklemtoon dat God se outeurskap daardeur in gedrang kom.

2.2 Ons bely dat die Heilige Gees sodanig van die Bybel-skrywers besit geneem het dat nie net die boodskap nie, maar ook die vorm waarin en die woorde waarmee die boodskap deurgegee is, die geïnspireerde Woord van God is. Daarmee bely ons die verbale inspirasie van die Bybel. Ons bestry elke gedagte dat ons in die Bybel met ‘n dualistiese inspirasie te doen het, naamlik dat sekere dele onmiskenbaar deur die Heilige Gees ingegee is, maar ander dele op feilbare manier deur mense geskryf is.

2.3 Ons bely dat God in sy inspirerende werk ten volle gebruik gemaak het van die unieke persoonlikheid en literêre vermoëns van elke menslike skrywer van die Bybel. Ons bestry die gedagte dat die Bybelskrywers op meganiese wyse maar net neergepen het wat God gedikteer het.

2.4 Ons bely dat inspirasie, streng gesproke, net betrekking het op die oorspronklike teks van die Bybel (die outographa). Alhoewel ons nie meer die oorspronklike teks het nie, kan ons dit uit beskikbare manuskripte deur noukeurige navorsing bepaal. Ons bely verder dat vertalings van die Bybel die Woord van God is na die mate wat dit die oorspronklike teks betroubaar weergee. Ons bestry die gedagte dat die afwesigheid van die oorspronklike teks van die Bybel die foutloosheid en betroubaarheid daarvan ongeldig of irrelevant maak.

Die Bybelse kanon is afgesluit

Ons bely dat net die 66 kanonieke boeke, volledig en alleen, die Woord van God is. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie, maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Ons bestry elke gedagte dat die kanon nie afgesluit is nie en dat die Here, na die vasstelling van die kanon, nog besondere openbarings buite die Skrif om gee.