|
Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)
Jaargang 8 No 1 Januarie 2004
KERKLIKE JOERNAALMEDEDELING VAN KERKRAAD "DIE KANDELAAR", 30 NOVEMBER 2003
- KERK EN WOORD, DESEMBER 2003, BL 14 -
Met droefheid deel die kerkraad u mee dat geen beswaarskrif of beskrywingspunt insake ernstige probleme in die kerkverband wat die Klassis Pretoria Moot op 16 November 2003 by die Partikuliere Sinode Pretoria ingedien het, inhoudelik behandel is nie. Verskillende pleidooie in hierdie verband kon die partikuliere sinode nie beweeg om 'n buitengewone sinode aan te vra nie. Daarom ag die kerkraad dit nodig om die volgende ... mee te deel:
Die kerkraad konstateer dat die partikuliere sinode nie ons en die klassis se Skrifbewyse en -argumente geweeg of weerlê het nie. Die kerkraad sal die redes hiervoor soos aangevoer deur die partikuliere sinode oorweeg onder meer in die lig van die artikels 31 en 46 van die kerkorde.
Die kerkraad het die opdragte aan 'n daarvoor aangewese kommissie van die kerkraad gegee om deur verdere ondersoek die kerkraad en die gemeente so gou as moontlik te adviseer oor die weg vorentoe.
Die kerkraad wil ook die volgende ... meedeel:
Dat dit die kerkraad se prioriteit bly om ons eie gemeente met volgehoue en ook met groter effektiwiteit herderlik te versorg.
Dat die kerkraad die kerke van die Klassis Pretoria Moot saam met wie ons die betrokke sake by die partikuliere sinode aanhangig gemaak het, sal nader om saam te besin oor die Skriftuurlike manier van optrede.
Dat die kerkraad steeds sy verantwoordelikheid ten aansien van die eersvolgende nasionale sinode 2006, wil nakom deur die voorbereiding van beswaarskrifte, appèlle en beskrywingspunte. ...