Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Norme vir samebinding en vir verdelingslyne

AKTUEEL: Geloftedag of Versoeningsdag? 

SKRIFOORDENKING:
2 Konings 2 God is heilig....

Die drie formuliere van eenheid

Deformasie? 'Nuwe reformasie?' Reformasie? 

Die stryd rondom die suiwer Psalmboek

26 Oktober 2003: Dag van beslissing in die GKSA

GKSA-Middestadbediening ....

KERKLIKE JOERNAAL: 
Hersiening en herdruk van 1936-Totiusberyming Psalmboek

Skrifhantering in die brandpunt

Mededeling van kerkraad "Die Kandelaar", 30 November 2003

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Onderwys as instrument tot nasiebou

Die PU vir CHO se amalgasie met die UNW

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Lesse uit die onststaansgeskiedenis van die GKSA

'n Brief uit Ierland ....

PERSRUBRIEK: 
Ons enige troos

'n Besinning oor die doleansie van vroeër.... en nou

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van biblisisme.

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 1 Januarie 2004

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY

'N BRIEF UIT IERLAND;  "WAT MAAK JY HIER?"

-  JL du Toit  (Dublin, Eire  -  28 Desember 2003)  -

Na vier jaar in die buiteland gebeur dit steeds soms op een van die tipies Ierse wintermisreëndae, dat ek daaraan dink hoe dankbaar al die boere sal wees as ek met een groot wens al die oortollige water van hierdie Groen Eiland na ons dors Boereland kan oorwens.

Ek kom gewoonlik gou tot my sinne, maar die klimaatskontras versterk nogmaals die feit dat ek net nie hier tuis is nie. Dan simpatiseer ek ook opnuut met die uitgeweke sekretarisvoël wat Leipoldt in ‘n Europese dieretuin teëgekom het:

Sekretarisvoël met jou lange bene, Met jou penne agter die ore styf, Met jou stadige stappies, wat maak jy hier?
Sekretarisvoël met jou lange bene, Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf, Met jou groot, groot oë, wat maak jy hier?

Anders as wat sake met dié arme skepsel gesteld was, was my ballingskap aanvanklik sélfopgelegd. In die tussentyd het onregstellende aksie ons land so deursuur dat uitgewekene-status vir die Boere- Afrikanerman dalk nou in meeste beroepe verpligtend geraak het!

Ek vermoed dat daar ‘n persepsie by sommige volksgenote bestaan dat die buiteland, indien nie die Paradys nie, ten minste baie naby daaraan moet wees. Die werklikheid is eerder dat mens oral hier op aarde, iewers "wes van Eden" woon. Behoudendes veral word van alle kante gestenig in Suid-Afrika: Daar is die ekonomiese en geweldsaanslae, en die verskeie vorme van kulturele aftakeling wat dikwels ook uit blanke Afrikaanse kringe kom. Dit alles is klaar genoeg om enigiemand te laat wonder oor "groener gras".

Feit is, die gras in Ierland is inderdaad groener as in Suidelike Afrika – soveel skakerings van groen kry jy nie sommer getel tuis nie – maar dit is ook al. Die verskil tussen besteebare inkomste en lewenskoste is klein – jy kán spaar, maar dan moet jy bereid wees om ‘n lae lewenstandaard vir ‘n uitgestrekte periode te aanvaar.

Natuurlik bly die Nuwe Suid-Afrika haar eie wêreldrekord in misdaad en geweld oor en oor breek – en ja Ierland se misdaad-statistiek (alhoewel dit ‘n toenemende vlak van geweldsmisdaad aandui) hou dankbaar geen tred hiermee nie. As buitelander is mens tog meer blootgestel aan misdaad as die gemiddelde inboorling, bloot omdat jy nie die instinktiewe wysheid en omstandigheidsgedrewe agterdog besit wat met plaaslike ervaring eie word nie.

Wat wel salig is hier – en hiervoor is ek oneindig dankbaar – is die sluier van stilte wat neerdaal oor die onophoudelike afbrekende kritiek teenoor die Boere-Afrikaner, sy Godsdiens, sy taal en sy geskiedenis, veral deur mede-blanke Afrikaanssprekendes – dit is altyd wat tuis die ergste krap.

Emigrasie kan nie eerstens spruit uit ‘n soeke na ‘n verbetering in lewensomstandighede nie – nee, so ‘n motief kan net op ontnugtering uitloop. Ek skryf egter hierdie brief, steeds wonende in die Republiek van Ierland, en in die hoop om DV steeds in die toekoms hier te woon. Uitsluitend patologiese masogisme, wát op die aarde besiel mens dan om huis en haard, vriende en familie, en sonskyn te verlaat en te emigreer?

Die antwoord is in een woord: PROTES. Toegegee, weerstand kan baie verskillende vorme aanneem; meestal sonder die nodigheid vir vrywillige ballingskap. In my geval is vrywillige uitgewekenheid ‘n natuurlike instrument tot lydelike verset teen ‘n onderdrukkende régime, wat onregmatiglik oor die Boere-Afrikaner heerskappy voer. Ek weerhou sodoende my regerings-wettigmakende burgerskap van die Nuwe Suid-Afrika.

Lesers moet my nie op hierdie punt verkeerd verstaan nie. Ek bepleit nie ‘n Boere-Afrikaner-diaspora uit die NSA wat ons in geheel en permanent uit Afrika sal ontwortel nie. Die emigrasieverset is maar een van baie pyle in ons proteskoker.

Ek was op die onlangse Geloftedagherdenking bevoorreg om ‘n erediens, behoudend Gereformeerd en in Afrikaans in die Waltham-stow-voorstad van Londen by te woon. Die diens was waargeneem deur Ds Gideon Grobler van die Afrikaanse Protestantse Kerk, wat saam met sy gesin onlangs na Londen verhuis het. Ds Grobler was tot en met sy vertrek uit Suid-Afrika predikant van die AP Kerk in Lydenburg.

Ds Gideon se preek het Psalm 91 as kernteks gehad. Die Psalm waarin God met soveel deernis Homself aan sy kinders beloof. Die prediker het ook die diepsinnige punt gemaak dat God wel sy werk om ‘n volk vir Hom te stig aan die suidpunt van Afrika, nie sal laat verlore gaan nie – God maak nie foute nie! Daar is egter ‘n voor-waarde: ons moet God werklik lief hê, Hom dien en sy gebooie bewaar. Vergelyk Ps. 91: 14-15 (1953-vertaling):

Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red;

Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken.

Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor;

in die nood sal Ek by hom wees;

Ek sal hom uitred en eer aan hom gee.

Ek is dus beslis nie ten gunste van die disintegrasie van die Boere-Afrikaner as volk nie – die einddoel moet steeds wees om wanneer en soos dit God behaag te woon in ons eie land, sonder vreemde heidense onderdrukking en met ons eie regering, waaróór Christus, ons ewige Koning, heers.

In die tussentyd vertroos ek my daaraan dat ook hier in Roomse Ierland, ek met Dawid in Psalm 8, kan sing (1936-beryming):

Ja, daar’s geen land so ver of woes geleë, geen strand, o Heer, of wilde waterweë, geen hemelsfeer in die oneindigheid – of orals blink u Naam en majesteit.