Vorige Uitgawes

Soek deur  Die Kerkpad


Inhoud

REDAKSIONEEL

HOOFARTIKEL:
Norme vir samebinding en vir verdelingslyne

AKTUEEL: Geloftedag of Versoeningsdag? 

SKRIFOORDENKING:
2 Konings 2 God is heilig....

Die drie formuliere van eenheid

Deformasie? 'Nuwe reformasie?' Reformasie? 

Die stryd rondom die suiwer Psalmboek

26 Oktober 2003: Dag van beslissing in die GKSA

GKSA-Middestadbediening ....

KERKLIKE JOERNAAL: 
Hersiening en herdruk van 1936-Totiusberyming Psalmboek

Skrifhantering in die brandpunt

Mededeling van kerkraad "Die Kandelaar", 30 November 2003

OPVOEDING EN ONDERWYS:
Onderwys as instrument tot nasiebou

Die PU vir CHO se amalgasie met die UNW

KERK, STAAT EN MAATSKAPPY:
Lesse uit die onststaansgeskiedenis van die GKSA

'n Brief uit Ierland ....

PERSRUBRIEK: 
Ons enige troos

'n Besinning oor die doleansie van vroeër.... en nou

KOMMENTAAR: 
Prof Amie van Wyk oor die kerklike verdeeldheid .....

GESPREK MET LESERS: 

MEDIESE ETIEK: 
Die probleem van biblisisme.

INTEKENING

REDAKSIE

Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Jaargang 8  No 1 Januarie 2004

Prof Amie van Wyk oor die kerklike verdeeldheid soos ons dit vandag ken

In In die Skriflig van September 2003 (bl 557 vv) lug prof van Wyk sy hart oor die saak van die kerklike verdeeldheid in die algemeen en - soos ons hom ken - in die besonder oor dié van oor die kleurgrens heen. Hy doen dit in die aanbieding van 'n voordrag wat hy op 22 April 2002 aan die Universiteit van Pretoria, tydens die herdenking van die 350-jarige reformatoriese erfenis in Suid-Afrika, gelewer het. Dit verskyn onder die titel: "350 jaar gereformeerd: gestaltes en uitdagings - 'n blik vanuit die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA)".

"Dit is 'n gemeenplaas om na die Suid-Afrikaanse samelewing as 'n diep verdeelde samelewing te verwys. As daar een 'samelewingsverband' is wat genesend, helend en versoenend in so 'n samelewing kan inwerk, dan is dit die kerk van die Here - maar dan 'n verenigde en nie 'n onenige kerk nie! ... Die kerklike verdeeldheid soos ons dit vandag ken en met gelatenheid aanvaar, is totaal vreemd aan die Nuwe-Testamentiese beskouing. ... 'n Verdeelde kerk is volgens die Nuwe Testament 'n kontradiksie in terme, 'n vierkantige sirkel. Verdeeldheid tussen kerke val buite die voorstellingswêreld van die Nuwe Testament. ... Ons moderne kerkbeskouing is byna volledig gesekulariseer en as daar een plek is waar kerkhervorming broodnodig is, dan is dit ten opsigte van ons kerkbeskouing" (bl 567).

Prof van Wyk verwys ook na die GKSA wat - "as kerk van die 'afskeiding' - van meet af 'n groot ekumeniese belangstelling geopenbaar het en steeds doelgerig in hierdie rigting gewerk het". Hy noem vier voorbeelde waaruit die "ekumeniese entoesiasme van die GKSA" na sy mening duidelik sigbaar word (bl 560vv). Die eerste handel oor die interkerklike gesprek tussen die drie Afrikaanse kerke. "Die GKSA was vanuit die staanspoor diep betrokke by die gesprek, met die uitdruklike standpunt dat kerklike verskeurdheid niks anders as sónde is nie en dat gevolglik die eenheid van die uitwendige kerk 'n goddelike eis en opdrag is." Die tweede voorbeeld verwys na die ontstaan van die Gereformeerde Ekumeniese Sinode (later genoem Raad). "Dat die GKSA egter vanweë (debatteerbare) verskilpunte sy deelname aan die GES in 1991 onttrek het, was 'n baie pynlike gebeurtenis. Ek is egter daarvan oortuig dat die GES 'n blywende invloed (ten goede) op die GKSA uitgeoefen het, veral ten opsigte van kerk- en rasseverhoudings". As derde voorbeeld word die ontstaan van die Algemene Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suidelike Afrika genoem, wat in 1965 saamgestel is uit die vier nasionale/etniese sinodes van die GKSA (een wit, twee swart en een bruin sinode). "(Ongelukkig het die [swart] Sinode Soutpansberg sy deelname in 1988 gesuspendeer en het die laaste [buitengewone] algemene sinode in 1992 laas vergader)", sê prof van Wyk. As vierde en laaste voorbeeld van kerkeenheid verwys hy na die eenwording van die drie teologiese skole in 1995 [Potchefstroom, Hammanskraal en Heidelberg], as gevolg waarvan alle swart en wit Gereformeerde predikante gesamentlik opgelei en toegerus word.

"Uit bostaande kan maklik (en tereg) die afleiding gemaak word dat daar by Suid-Afrikaanse kerke 'n veel groter bewoëndheid ten opsigte van die eenheid van die kerk behoort te wees (soos by Calvyn die geval was), veral ten opsigte van die swart en wit kerke. Die drie Afrikaanse kerke voer al etlike dekades 'n gesprek oor eenheid en verdeeldheid, maar dit word hoe langer hoe meer 'n futiele gesprek indien die áárd daarvan nie grondig gewysig word nie. Net so ondenkbaar as wat dit sou wees indien die swart NGKA met die swart Gereformeerde Kerke oor kerkeenheid in gesprek sou tree (en vroeër die bruin NGSK en die bruin Gereformeerde Kerk), net so sinloos is dit vandag dat die wit NGK en die wit GKSA onveranderd met 'n eenheidsgesprek voortgaan. Die áárd van die gesprek moet grondig verander en uitgebrei word sodat die NGK-familie met die GK-familie in gesprek tree. En as in hierdie proses daarin geslaag kan word om ook die wit NHKA en die swart HKSA by so 'n ekumeniese gesprek te betrek, kan dit die verhouding tussen hierdie twee kerkgemeenskappe ten goede beïnvloed. Die Konvent van Reformatoriese Kerke in Suid-Afrika is al 'n goeie oefenlopie in hierdie verband, maar die vraag na die verhouding tussen hierdie Konvent en die SARK sal ook vorentoe groter aandag moet ontvang", aldus die professor. "Indien ons van mening is dat die kerk van Christus werklik 'n genesende rol in die samelewing behoort te speel, sal ons veel meer erns moet maak met die gesprek oor eenheid, oor gesamentlike optrede en 'n eenparige profetiese getuienis" (bl 568).

Terwyl die tema van sy voordrag handel oor die 350 jarige bestaan en uitdagings van die Gereformeerde Kerke in ons land, gaan prof van Wyk verby aan die geskiedenis daarvan. Hy verwys glad nie na die konfessionele en kerkordelike ontstaan- en bestaansredes van die Gereformeerde Kerke nie. Hy gaan daaraan verby sonder om die "sónde van die kerklike verskeurdheid" te kwalifiseer. Die belydenisskrifte, besonder die NGB, artikels 27 tot 35, word nie daarby betrek nie. Dit pas nie by sy beskouing en behandeling van die kerksaak nie. Hy verwys met geen woord na die heersende leerstellige en kerkordelike - oënskynlik onoorbrugbare - geskille tussen die kerke nie. Vir hom is die kerk allereers die middel tot 'n doel, wat hy sterk voorstaan en wil bevorder, naamlik om die samelewing te verbeter. "Soos talle ander lande ter wêreld word die Suid-Afrikaanse samelewing gekenmerk deur 'n groot kloof tussen armes en rykes, welvarendes en kreperendes - by ons veral tussen swart en wit. ... Daar kan teologies en kerklik veel (en vrugteloos) getwis word oor die vraag of God 'n 'God van die armes' is, maar daar behoort duidelike konsensus daaroor te wees dat God 'op 'n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en verdrukte is' (Belhar). En ook dat die kerk van God dáár behoort te wees waar God is: by mense in die nood. ..." (bl 569). Verbetering van die wêreld verwag prof van Wyk ook met die "uitdaging ten opsigte van die profetiese getuienis van die kerk in die samelewing". ... "Die kerk is die sout vir die aarde, die lig vir die wêreld en die suurdeeg vir die samelewing. Daarom sal die kerk in sy profetiese getuienis oor belangrike samelewingsvraagstukke moet praat.

Maar dit moet op 'n kérklike wyse gedoen word, dit wil sê vanuit die evangelie van Jesus Christus. Dit geld dan vraagstukke soos korrupsie, misdaad en vigs, waar die regeringsoptrede tans wisssel van onvoldoende, tot ondoeltreffend, tot uiters onverantwoordelik." As voorbeeld verwys hy na enkele resente kerklike getuienisse, "na die Rustenburg-beraad 2 van Februarie 1999 asook na dié van die Konvent van Reformatoriese Kerke in Suid-Afrika van Maart 1999. Nog meer resent is die verklaring wat die Wes-Kaapse Alliansie van Reformatoriese Kerke (WARK) in Maart 2002 in verband met vigs uitgereik het."

Prof van Wyk se beywering vir ekumeniese betrekkinge en die eenheid van die kerk spruit nie voort uit suiwer skriftuurlike, konfessionele oortuiging nie. Dit is eerder moralisties, irenies en sosiologies gemotiveerd. Sy etiese opvattings vind geen leerstellige aansluiting by die Gereformeerde dogmatiek nie maar by die menslike 'goeie wil' en gewaande positiewe beantwoording van die gewete. Sy kerkbeskouing word nie gestaaf deur onweerlegbare Skrifbewys nie. Vir hom gaan dit om verandering van gesindheid, veral ten opsigte van die bevolkingsverhoudinge in ons land. Tog het Christus ons geen heilstaat op aarde belowe nie maar wel 'n ewige toekoms van heerlikheid in die aanskouing van sy Goddelike majesteit. Die kerk is die resultaat van die verlossingswerk van Jesus Christus, soos die Heidelbergse Kategismus dit beskryf (Sondag 21, vr/antw 54): "Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou en dat ek daarvan 'n lewende lid is en ewig sal bly." Prof Amie van Wyk bepleit egter 'n "omvattende aksie van alle kerke in Suid-Afrika om in bewoëndheid en liefde uit te reik na mense in nood, 'n grootse poging om die probleem van armoede in die land planmatig, doelgerig, verbeeldingryk en konkreet te hanteer - waar nodig in samewerking met regeringsinstansies. - Die kerk moet God se diaken in Suid-Afrika wees", sê hy.

Ons wil DV in die volgende uitgawe verder hierop antwoord en oor polemiseer.